Abraham de Vries. Adam Small – hoe gemaak met swye?

Adam Small

Hoe gemaak met swye?

My belangstelling in swye – ook Adam Small s’n – is aangeblaas deur ‘n aanhaling uit Heidegger in ‘n boek van Joseph Parry; dit lui soos volg: “Falling silent is neither the absence of speech nor the impossibiity of speech, but rather a mode of speaking, of making understood…” 

As enigiemand, ook ‘n digter,  verkies om te swyg,  moet dit gerespekteer word. Selfs van die vraag “Waarom?” is nie altyd ter sake nie. Ek vermoed die oorsprong van skepping en die oorsprong van swye lê baie na aan mekaar.  Ek weet ook maar te goed daar is dinge waarvoor daar moeilik woorde te vinde is. Is dit hoekom soveel digters ook skilders is, om die onsegbare minstens sigbaar te maak?

Natuurlik is wat digters betref swye relatief: ek is, soos seker almal van ons, bly dat so lank Afrikaans bestaan, enige doemanie sy sê en sy doen sal moet ken oor Small se Doemanie met sy woera-warra op die pulpit so duidelik uitwys wat pretensie sê oor belydenis en manewales oor manel. Natuurlik sal Adam se Kanna en sy Moses en sy kitaar telkens weer vertel hoe diep die verlange is na ‘n leidsman-redder.

Die hele problematiek oor die swye van die instrument teenoor die swye van die instrumentemaker daar gelate,  dit is waarskynlik Adam se swye wat my laat raakhoor het dat daar in Iris Bester se hoorbeeld wat op 15 September 2011 uitgesaai is (met argiefmateriaal tot 1995 waarin Small self aan die woord is) twee gedigte voorkom wat hy self lees en wat na my wete nog nie voorheen iewers gepubliseer was nie.

Die eerste gedig  ( sonder titel) sluit aan by die afdeling “Swart landskap” in Sê Sjibbolet.  Dis dié afdeling waar die digter sonder satire die menslike behoeftes aan geluk, troos, bevryding, vrede binne historiese maar ook kosmiese verband bring.

 

Daar bly die troos:

God sal uiteindelik bevry

En maak weer Grensloos

Die turksvy, aalwee, my

En die wilderoos.  ( “Aalwee en wilderoos”)

 

Hier volg die onbekende gedig waarin ‘n teisterende en swygende God sy rug gekeer het nie net die mens nie maar op die aarde self tot dit in die pragtige slot die berge is wat die hande word waarmee die sinkende aarde uitreik na die sterre:

 

Dan sal ons dors met die slyk geslaan word

Sal ons hyg en weet hoe God kan kyk en swyg

Dan sal ons sien hoe breed is God se rug dan dreun die lug

En myle aaneen sal ons lande graan se gruwel

Wuif in die rooi oog van die maan

Een sal wonder hoe bak mens brood met roes

‘n ander in sy akker wurms oes

Dan, die aarde sak, kyk die berge

Die hande, die groot hande by die sterre

 

Die tweede gedig is ‘n omdigting van “Doemanie “uit Kitaar my kruis.  Met die transkripsie het ek by “Doemanie” se indelings probeer hou. Die  “Doemanie” word nou

 

HIGHPRIEST VAN DIE SOCIALISM

 

‘n Profit van die liberation djy?

‘n socialist?

djy met djou hys-palys

met djou lang slap mouterkar

djy met daai kamma sed bek van djou oorie plight van die oppressed

met djou tears

en djou woera warra oppie stage

met djou skorrelsvol yt daai plush hotels ennie first class vannie jets

djou spiritual hys oppie level vannie people? nou sal mens djou verbeel!

En hoe lyk dit met ordinary living vi’ daai five star style

Hoe lyk dit met djou blink suits vir overalls en soe

Hoe lyk dit met djou skorrelsvol vir take away fish ‘n chips?

 

Small kon die gedigte nie bedoel het as boodskappers uit die swye nie.  Kom ons aanvaar hy moes (haastig selfs) net gedigte kies wat tog ‘n aanduiding gee van wat hy self in sy digwerk as belangrik beskou. Die ander gedig wat hy voorlees, is “Wie’s hy?” uit Sê Sjibbolet handel ook oor die digterskap.

Die patroon wat deur dié twee gedigte geaksentueer word, is bekend in sy werk: die minagting ( “laughter administered in fear and trembling” – Kierkegaard) vir, satirisering van,  skynheiligheid, die glansryke omkoopbaarheid van ‘n “hoëpriester” van die nuwe orde,  met as rugsteun by Small ‘n intens persoonlike, maar ook “ons” – en die hele natuur se – uitreik na God.  

Hierdie heilige verontwaardiging oor skynheiligheid en oneerlikheid in hul verskillende gedaantes, hierdie  eenwees met die geteisterde onderdruktes – dis twee eienskappe wat Small se werk laat meespreek in nie net Sestig nie maar ook in Sewentig en Tagtig en tel maar voort.

Het dit nie hierdie afgelope week weer saamgepraat in die redes vir een van die merkwaardigste en hopelik mees rigtinggewende woedeuitbarstings van ons tyd nie? Is die redes vir Emeritus Aartsbiskop Tutu se woede oor die heersende party se onwil om eie beginsels te handhaaf en oor hul knieval voor die tirannie van handelsnulle nie ook herkenbaar in Small se heilige verontwaardiging oor hoe die Doemanie en die Highpriest verword het nie?

“Die gesigte  is nuut, maar die substans, die menslike tragedie as jy dit so wil noem,”sê Small, “bly dieselfde.”   

 – Abraham de Vries –  

{Hierdie herwaardering is ‘n hersiene mini-lesing gelewer deur dr de Vries by geleentheid van die seminaar oor Adam Small aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Die twee gedigte hierin is ook voorgelees tydens Iris Bester se huldigingsprogram op RSG. 15 September 2011.  – Red.}

 

 Lees meer oor Adam Small in sy gedigtekamer op Versindaba.

 

 

Abraham H. de Vries

Abraham H. de Vries

Abraham Hermanus de Vries (gebore op die plaas Volmoed in die distrik Ladismith, KP) behaal in 1962 Kandidaats en Doktoraal Litt et Phil aan die Gemeentelijke Universiteit, Amsterdam, Nederland, en in 1986 die DLitt van die Universiteit van Stellenbosch. Braam was van 1963 tot 1965 kunsredakteur van Die Vaderland in Johannesburg en is sedertdien ‘n gerekende akademikus. Hy is die skrywer van ‘n groot aantal bundels kortverhale, ‘n roman, ‘n digbundel, reisverhale, speurverhale, en televisiereekse. Pryse ontvang: die Nederlandse Reina Prinsen-Geerlig-prys, Eugène Marais-prys, Perskor-prys, eerste prys in die De Kat-Potpourri-wedstryd, Artes vir die televisiereeks Die Klein Karoo, en die RAU-prys vir skeppende werk. Hennie Aucamp se Kort voor lank, WA de Klerk se As die reier noord vlieg en Alan Paton se Ah, but your land is beautiful is aan hom opgedra.

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.