Egonne Roth. Van Israel na Jakkelsfontein

Ek het baie vakansies as kind in die Hermanus-Onrus-gebied deurgebring en was eindeloos lief vir daai kus met sy wilde storms and groot see. Vir ‘n paar jaar was ons bevoorreg genoeg om selfs ‘n huisie by die see op Onrus te besit en as gesin het ons wonderlike vakansies daar deurgebring. Maar toe kom die mense en die rus op Onrus word al hoe minder rustig en al hoe minder veilig. Verlede jaar verkoop ek my huisie by die see en koop … ja, dis ‘n ander storie vir ‘n ander dag.

My huisie by die see

My huisie by die see

 

Tydens my besoek aan Suid-Afrika vroeër hierdie jaar, het my liewe vriendin, Santa, my genooi om by haar dogter op Jakkelsfontein te kuier en ek het sodoende my hart op die lang oop strand met sy wit sand en geselsende seemeeue verloor. Dis winter. Die see is groot en met tye kwaai, maar die voëls speel en skater in die branders en ek spandeer ure alleen met net my kamera en die eindelose blik van niks.

Jakkalsfonteinstrand en seemeeue

Jakkalsfonteinstrand en seemeeue

Die konsep van niks, van nêrens waaroor ek vantevore geskryf het – The Meaning of Nowhere soos Jan Morris dit beskryf – spook weer by my.  My tweede aand daar ontdek ek op my gasvrou se boekrak Die Versamelde Werk van Jacques Brel en ek lees na baie jare weer die woorde van sy beroemde lied ‘Marieke Marieke’. Dit voel vir my hy moes al langs die see aan die Weskus gestap het.

Zonder liefde warme liefde
Waait de wind c’est fini
Zonder liefde warme liefde
Weent de zee déjà fini
Zonder liefde warme liefde
Lijdt het licht tout est fini
En schuurt het zand over mijn land
Mijn platte land mijn Vlaanderland

Terug in Israel woon ons die Haifa Film Festival by. Laat een aand gaan kyk ons die nuwe film van Sophie Schoukens, Marieke Marieke. Dit is die storie van ‘n jong vrou, Marieke, op soek na liefde en heling – ‘n soeke wat  haar dikwels in die arms van ouer mans dryf sonder dat ons ooit hoef te voel dat sy die slagoffer van hulle begeertes is.

Die Brel-liedjie speel ‘n kritieke rol in die fliek. Die kinematografie weerspieël die woorde in die swaar donkergrys hemel wat ‘n skadu oor alles gooi. Die gebruik van kleur is uiters simbolies en minimalisties sodat wanneer die sleutel tot Marieke se soeke geopenbaar word, dit die kleur soveel as die beeld is wat die storie en betekenis dra. Daar is een aangrypende toneel waar sy in die arms van ‘n ouer man dans en hy die liedjie Marieke vir haar sing. Dit is ‘n kritiese oomblik in haar ontwikkeling en daardie woorde “Zonder liefde warme liefde  /Weent de zee déjà fini  /Zonder liefde warme liefde  /Lijdt het licht tout est fini” Ek sal nie weer maklik na die woorde kan luister sonder dat ek weer dink aan daardie beeld van die jong vrou en ou man, elk met sy-haar pyn, wat in die verlate kamers van haar kindertydwoning dans nie. Dit is ‘n rolprent wat u maar gerus voor op die uitkyk kan wees.

 
 
 

 

stormsee

stormsee

Maar ek kan ook nie na die lied luister sonder om die strand by Jakkalsfontein aan die Weskus te sien nie. Die twee seemeeue wat met mekaar gespeel het in die water wat oor die sand spoel onder ‘n donker swaar grys hemel, op maat van hul eie lied, bly dans voor my. Dis asof die beelde van die fliek en die beelde van die Weskus by my verstrengel geraak het tot een verlange. Verlange na my land van herkoms? Na my huisie by die see? Na iets sonder naam? Is dit nie maar uiteindelik waarna soveel van ons soeke is nie – na die betekenis van nêrens en niks, na iets wat nie ‘n naam het nie, om sonder naam en sonder verlange een met die see en die wind en die groot grys hemel te word.

Donker hemel

Donker hemel

En dan sonder dat ek kan verduidelik hoekom, begin die aangrypende klein gebed-gedig van Hanna Szenes, die Joodse vryheidsvegter wat deur die Nazi’s in 1944 vermoor is, deur my gedagtes spoel:

 

Eli, Eli                                                               My God, My God

Shelo yigamer le’olam:                                       May these things never end:
Hachol vehayam                                                The sand and the sea

Rishrush shel hamayim                                      The rustle of the waters
Berak hashamayim                                            The lightning in the heavens

T’filat ha’adam.                                                   The prayer of Man

http://www.youtube.com/watch?v=QkjsqUQSrhE&feature=related

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Egonne Roth. Van Israel na Jakkelsfontein”

  1. Alysia :

    Ja Egonne, so verlang ons maar almal na mense wat ons nie eens ken nie en plekke wat ons nie eens gesien het nie… dalk ‘n weerspieëling van ons geestesverlange na ons Ware Tuiste!