Philip de Vos. Die Land van Melk en Heuning en MacDonalds

 

 DIE LAND VAN MELK EN HEUNING EN MACDONALDS
 
 
Ons was skaars ’n week met vakansie uit die land uit, toe ek skielik besef my Muse is dalk vir goed weg. Nooit weer gaan sy slim dinge in my oor fluister nie. ’n Paar jaar tevore het ek dit tog alreeds voorspel:
 
Na ’n diepte analise
oor die wese van die Muse
besef ek sy’s ’n mite
of by Hambidge op visite.
 

En daar sukkel-sukkel ek toe in New York te voet oor die Brooklyn Bridge met die besef dat ek binne ’n tydperk van 7 dae Museloos in ’n ou man verander het. Hinke-pink is ek verder en kon ek my alreeds voorstel met ’n kierie en grys klosse hare wat by my oorholtes uitpeul. En waar is al die diep gedagtes van my verlede dan heen?

Ek het gehoop dat daar ’n inspuiting met allerhande nuwe uitinge op my wag. Miskien êrens – by Mount Rushmore waar een van die President se klipkoppe vir my sal sê: Jy is ’n uitverkorene of ’n dobbelmasjien in Las Vegas, sal voorspel hoe die geld vir my gaan inrol, maar helaas toe onthou ek wat ek êrens gelees het:

Rhyme doesn’t pay

En selfs rympies klink vir my op die oomblik slegs soos iets uit my ryke en veelbewoë verlede.

Dis die probleem van skryf: na ’n paar maande van stilte, weet ek sowaar nie waar om te begin nie.

Miskien, soos die Bybel sê: In die begin was die Woord, of anders soos onse Julie Andrews in The Sound of Music kweel: Let’s start at the very beginning. A very good place to start.

Maar waar begin ek presies? Na meer as ’n jaar van bloginskrywings, het ek wel besef dat ’n blog my eintlik forseer om te dink. Ek kan tog seker nie die heeldag sit en luister na die Andrews Sisters of my geliefde Little Lulu comics lees nie.

En watter gerespekteerde skrywer sal ooit durf erken dat sy mees geliefde film The Wizard of Oz en nie The Discreet Charm of the Bourgeosie is nie – sekerlik nie my gewese vriend Karel Schoeman nie.

Oor The Wizard of Oz sal ek wel in ’n latere bloginskrywing ’n bietjie aandag gee, want ja, ek het toe sowaar Dorothy se ruby slippers in die Smithsonian-museum in Washington DC gesien en later die nuwe Lloyd Webber-produksie van Wizard of Oz in die Palladium-teater in Londen. En ek moet erken die ruby slippers het nou wel ’n bietjie van hulle 1939 glans verloor, en in plaas van op my knieë voor hulle neer te sak, kon ek maar net wonder hoekom hulle nie meer so mooi lyk nie, maar helaas, daardie ruby slippers is presies so oud soos ek, en selfs ek het al ’n bietjie Polyfilla nodig voor ek in die openbaar wil verskyn.

 

 

Waarheen hierdie blog presies heen lei, weet ek steeds nie.

Maar om te begin by die begin: die eerste drie weke was op ’n bustoer met ’n vrag van 53, meesal Australiërs wat by elke rus-halte behoorlik uit die bus geval het om eerste by ’n stalletjie uit te kom om poskaarte te koop van ’n plekkie in die grammadoelas waarvan hulle nog nooit van gehoor het, of ooit weer sal hoor nie. En natuurlik ’n T-hemp om hulle later aan hierdie onvergeetlike oomblik te herinner. Ja, want dit is so lekker goedkoop om as Australiër deur Amerika te toer, terwyl ek en Peter, as die enigste twee Suid-Afrikaners alle pryse met sewe moes vermenigvuldig en aanskou hoe die Australiërs hulle elke paar uur vergryp aan Triple Hamburgers en double thick malts ( en ja sowaar, daar was ’n paartjie saam met ons op toer. Hulle was op hulle wittebrood. Hy ’n aantreklike skepsel – tall dark and handsome – en sy – alreeds so groot soos ’n tenk. Hoe lank daardie huwelik gaan hou, weet ek nie, maar ek het haar tog hoor sê: As soon as ’n get back home, I am going on a diet of water for the next six months.

En om van vettes te praat. Ek het gereken dat al die Amerikaners gaan lyk soos Tom Cruise of onse eie Charlise Theron. Maar, helaas …

My ma het altyd gesê ’n mens spot nie met siekte nie. En nee, ek spot nie, maar soveel enorme waggelendes het ek nog in my hele lewe nie aanskou nie.

 

 

En dis regtig nie ’n gespot met siekte nie, want ek het my eie oë by Disneyland aanskou, hoe ’n vet pa en vet ma hamburgers en icecream by hulle kinders se keelgatte (of is keelgaaie ’n beter woord) af forseer presies soos daardie arme foi grass-ganse.

 

 

 

En by Mount Rushmore – die Mekka waarna ek op pad was – om my verlore Muse te gaan soek, en waar die dikkes met hul kameras en selfone na daai klippresidente gemik het, het ek met my eie kamera eerder onbeskaamd in die rigting van die bultende boeppense gemik, want as ek rêrig ’n foto van Mount Rushmore wou hê, kon ek net sowel ’n poskaart daarvan gaan koop – en ek het dit toe wel gedoen, maar dit was een van Mount Rushmore se agterkant – ’n gedeelte wat minder bekend is aan die gapende toeriste.

 

 

 

En, moet ek byvoeg – my Muse was glad nie daar te kry nie, maar daar was gelukkig ’n paar digitale beelde wat ek huis toe kon terugneem.

 

 

 

Ek het toe gedink sy wag dalk geduldig vir my in die dieptes van die Grand Canyon, maar selfs in daardie yslike donga was sy nie te kry, en al wat Old Faithful kon regkry, was om haar gereelde spoeg te spoeg, en that was that.

En toe reken ek, Las Vegas (die plek van drome – meestal helaas plastic) is miskien die plek waar sy vir my by ’n roulettetafel sit en wag. Maar al wat ek van Las Vegas oorhou, is dat daar minder vettes was, want mens moet tog mooi lyk as jy strakkies hier vir jou ’n man kom soek.

 

 

Van vetsug gepraat – volgens die jongste statsitieke van die National Health and Examination Survey kom die volgende

About one-third of U.S. adults (33.8%) are obese.

Of these approximately 17% (or 12.5 million) of children and adolescents aged 2 – 19 are obese.

 

 

 

 

En ek glo nie dis geneties nie, en het my eie oë gesien hoe hulle eet en soos iemand êrens gesê het: What goes through your lips will sit on your hips.

En in een van my versies sê ek juis:

 

Coca-Cola

bier

en

vleis

oliebolle

room

en

rys

kabeljou

en

kreef

en

snoek

hot dogs

Russians

Krismiskoek

macaroni

pienk polonie

tjips

spaghetti

Hallo, Vettie!

 

illustrasie: Piet Grobler

 

En nou na 2½ maande oorsee is ek terug in ons land van die minder dikkes, en deur die skrywe van my eerste bloginskrywing het ek agtergekom my Muse sit miskien nog altyd die hele tyd vir my hier en wag – en soos Dorothy juis in Wizard of Oz sê: There’s no place like Home.

En alleen ’n ware Friend of Dorothy sal ooit werklik hierdie wyse woorde verstaan.

 

 
 
  
 
  

 

 

 

 

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Philip de Vos. Die Land van Melk en Heuning en MacDonalds”

  1. Eduard :

    Ai ek’s bly jy is terug. En danksy jy en die Muse lees ek weer heerlik.
    Skryf my lief vriend skryf…..jy mag maar!!

  2. francois swanepoel :

    welkom terug aan julle twee
    ons is terug van kuba af….. befokte plek met ‘n selfaangestelde regering, herinner my aan ons tuisland……
    ek en joe het gewig verloor van al die sosialistise verbeeldinglose fiedel che en raul kos, aangepor deur konstante sosialistiese propoganda
    ons moes ook baie rondloop na bouvallige “art deco” geboue of weghardloop van swendelaars of metaan gasse wat orals uit stukkende pype op straat uitborrel….. gelukkig rook ek nie meer nie
    kuba het nie goeie toilet geriewe nie, mens moet jou agterent afvee en dan die papier/e in ‘n emmertjie langs die toilet gooi……. jy kan jou indink hoe daardie emmertjie en vertrek na ‘ n paar uur/dae ruik…… en dit verg nogal behendigheid (aanvanklik) om nie mens se vingers te bemors nie…
    ons het egter leer ram en kouk drink (dis nou ‘n vervalste nagemaakte teen die amerikaanse wet coca cola) en ook mogieTOS
    al die soet sal ons en die kubane uiteindelik in ‘n permanente suiker stupor laat in elk geval, ‘n pragtige land met baie mooi mans en vrouens
    groete
    f

    PS- moenie vergeet dat suid afrika na beswering die derde vetse land in die wêreld is nie, kyk net na al die “fat cats” in parlement en al die vet mense wat verslaaf is aan die-eet koeldranke

  3. Danie Garner :

    Dankie vir die lekker lag. Ek wonder net of dit is hoe ek van ager lyk toe ek jou stoel in sy moer gesit het! Die uur of twee elke dag op jou blikbrein in die kamer.

  4. Damaris Loubser :

    Lank gewag vir ‘n lekker lag, en hier is dit. Baie lekker om julle weer terug te he en al die vet boude en rimpelende bobene en seluliet het my teruggebring na my eie wedervaringe in die land van melk en double decker toebroodjies en pizzasnye sommer so in die loop in Sewende Laan in New York. Ag en sommer al die ander lekker dinge wat ek ervaar het. Dankie dat jy my gedagtes weer laat gaan het……

  5. Haai, Philip, raai, jy lyk so maer soos ‘n kraai!

  6. Leon Retief :

    Bly jy’s weer terug! Ai ja, daai vetties – nie dat ek nou eintlik onskuldig is nie, maar die situasie hier in Kanada is maar dieselfde. Ek het onlangs ‘n pasient gehad, 5 2″ en 256 kilogram! sug….

  7. Andries Bezuidenhout :

    Welkom terug Philip! Ek wou nog sit om die blog te lees, toe sit ek al.

  8. lona gericke :

    Sjoe! Dankie Philip, daar is net een jy! Ek dink ek moet ‘n paar van die prentjies op my yskas plak; hier stap die jare ook aan met my.

  9. Johnnie :

    Welkom terug!!! Lekker om jou weer te lees – sien vir julle binnekort!!

  10. Juliana Kruger :

    Ja, ou neef! Kanada lyk darem beter, né! Maar ai, jou sus se heerlike kos kan nie die krediet daarvoor kry nie!

  11. Leon Retief :

    @Juliana – is jou kommentaar vir my bedoel? Indien wel, hoe ken jy my sus? Sommer net nuuskierig…