Jaco Barnard-Naudé. Poësie en abstraksie: Paul Valéry se Zaharoff-lesing*

Paul Valéry

Paul Valéry

Hierdie lesing, wat die digter in 1939 aan die Universiteit van Oxford lewer, behels ‘n problematisering van die onderskeid tussen wysbegeerte en digkuns (of dan die abstrakte teenoor die konkrete). Valéry het dit teen ‘n representasie van hierdie onderskeid spesifiek as ‘n binêre teenoorgestelde: “We say ‘poetry and abstract thought’ as we say good and evil, vice and virtue, cold and hot.” (208) Hierdie voorstelling van die verhouding tussen filosofie en poësie is oorbekend in die konteks van die Afrikaanse digkuns. Dit geniet wye aanvaarding, slaafse navolging, selfs. Dit is geen toeval nie dat die onderskeid onlosmaaklik gekoppel word aan die naam van DJ Opperman – ‘n nom du père in ons digkuns – wat, so word tot vandag toe vertel, in die Letterkundige Laboratorium op Stellenbosch aspirant-digters gewaarsku het om van die filosofie / abstraksies weg te bly. Die waarskuwing is ook opgeteken in Opperman se oorsigtelike artikel in Tydskrif vir Letterkunde, 1978, geskryf ter gedenking van die Laboratorium se twintigste bestaansjaar.

Valéry beskou bogenoemde onderskeid as geheel en al oorvereenvoudig, ondeurdag en net te gerieflik: “I believe we have learned and accepted this contrast without forethought and find it firmly established in us to the stage of argument, as if it represented true, clear relation between two well defined notions.” (208) Valéry gaan voort en maak die volgende (moontlik kontroversiële stelling): “if the logician could never be anything but a logician, he would not and could not be a logician; and if the other were never anything but a poet, without the least hope of abstracting and reasoning, he would leave behind him no trace of poetry. I sincerely feel that if every man were not able to live a number of other lives than his own, he would not be able to live his own life.” (213) Voorts maak Valéry ‘n bruikbare onderskeid tussen die digterlike toestand (“state of poetry”) en die digter as sodanig. Die digterlike toestand is abnormaal, van verbygaande aard, willoos en breekbaar. En dit is hoegenaamd nie genoeg om ‘n digter op te lewer nie: “no more than it is enough to behold a treasure in our dreams and later find it, on waking, glittering at the foot of our bed.” (215) Valéry definieer die digter in terme van die leser: die digter is iemand wat nie soseer in die poëtiese toestand verkeer as wat dit iemand is wat die poëtiese toestand in die leser kan veroorsaak nie, met ander woorde, die digter is vir Valéry iemand wat die leser deur die gedig kan inspireer. Ooreenkomstig hierdie onderskeid beskryf hy dus die gedig as die voertuig waardeur die digterlike toestand in woorde tot stand kom.

Bogenoemde onderskeid tussen die digterlike toestand en die gedig as totstandkoming van hierdie toestand deur woorde is kritiek in Valéry se besinning oor die rol van abstrakte denke in die digkuns. Vir Valéry kan die digter die digterlike toestand slegs in woorde (die gedig) verteenwoordig deur hom te beroep op abstrakte denke. Die rede hiervoor is dat daar ‘n temporale en ruimtelike gaping tussen die digter se inspirasie en sy komposisie bestaan en hierdie gaping kan slegs oorbrug word indien die digter hom tot denke keer. Hier gebruik Valéry die beeld van die digter as argitek: “as often as I have worked as a poet, I have noticed that my work demands from me not only that pretense of the poetic universe which I mentioned, but many reflections, decisions, choices, and combinations without which all possible gifts of the Muse or Chance would remain like valuable materials at a construction site without an architect. But an architect is not necessarily made of valuable materials himself. A poet, insofar as he is an architect of poems, is quite different from what he is as a producer of those precious elements which compose all poetry but whose composition is distinctive and requires a different mental effort.” (231-232) Valéry argumenteer dat die onmiddellike sensasie wat as inspirasie vir die gedig dien restant word in die geheue. Die gedig is die hertotstandkoming van daardie oorspronklike sensasie in die woordvorm en in hierdie sin kan die digter nie anders as om hom op die abstrakte (die nie-fisiese of nie-teenswoordige) te beroep nie en daardie abstrakte bestaan in denke. Soos Valéry skryf: “thought is the activity causing the non-existent to live in us; lending it, whether we desire it or not, our actual powers; causing us to accept the part for the whole, image for reality; and giving us the illusion of seeing, acting, submitting, or possessing, independently of our good old body, which we leave in its armchair with a cigarette while waiting to recover it abruptly at the call of the telephone or at the no less strange command of our stomach which needs subsistence.” (226)

In hierdie sin is poësie onlosmaaklik verbonde aan abstrakte denke. Die digter benodig die abstrakte denke op minstens twee wyses: eerstens, ten einde die oorspronklike sensasie wat as inspirasie vir die gedig dien deur die geheue daarvan in sy verbeelding op te roep; en tweedens, in die komposisie van die gedig waartydens ‘n magdom besluite geneem moet word ten einde klanke en woorde te orden tot ‘n betekenisvolle geheel wat daardie oorspronklike sensasie oordra. Dit is veelseggend dat ‘n digter hier aan die woord is ter verdediging van die abstrakte denke. Maar Valéry is weliswaar nie die enigste skrywer wat geglo het dat die poësie abstrakte denke benodig nie. Heidegger, byvoorbeeld, gaan so ver as om te argumenteer dat die ware denke slegs digterlik moontlik is, dat die metafisika die denke geparaliseer het. Om Valéry ten slotte aan te haal: “I said, however, that the poet has his abstract thought and, if we will, his philosophy; and I said that they are exercised in his very act as a poet. I said so because I have noticed it, both in my- self and in a few others. I do not have, here or anywhere else, any other reference, pretense, or excuse than recourse to my own experience or the most common observation” (230)

Digters wat (in ‘n dogmatiese navolging van tradisie) nie oor abstraksie te spreke is nie, moet dalk weer gaan dink.

 

*Paul Valéry “Poetry and abstract thought” (1954) 16(2) The Kenyon Review 208-233.

Prof Jaco Barnard-Naudé is verbonde aan die Universiteit van Kaapstad.

 

Bookmark and Share

20 Kommentare op “Jaco Barnard-Naudé. Poësie en abstraksie: Paul Valéry se Zaharoff-lesing*”

  1. Ek neem kennis, Jaco!

  2. Johann :

    Jaco, Opperman se raad was gemik op die jong digter, die beginner, & is nog steeds báie goeie advies. Later, wanneer die digter sy land-bene het, kan hy natuurlik skryf soos sy temperament hom lei. Van Wyk Louw is maar één figuur wat bewys dat daar uit abstraksies groot poësie te haal, is. Maar in die hande van onervare digters het dit dikwels rampspoedige gevolge. Opperman het sélf ook nie heeltemal abstraksies vermy nie, maar hy was bedrewe genoeg om hulle te integreer.

  3. Wyse woorde, Johann!

  4. Jaco :

    Dankie vir die kommentaar. Ek is bly jy praat van abstraksies, Johann, want daar is weliswaar nie net een soort abstraksie nie, is daar? Ek skaar my by Valéry se punt dat ‘n soort abstraksie deel is van die digproses. Dit beteken nie dat Valéry geargumenteer het ten gunste van abstraksie as inhoudelike element in die digwerk nie en dit is ook nie waarvoor ek geargumenteer nie.

  5. Jaco :

    ‘geargumenteer’ moet wees ‘argumenteer’ in die laaste sin hierbo

  6. Charl-Pierre Naude :

    Dis ‘n interessante en goed geargumenteerde artikel, hierdie.

    ‘n Digter wat vorme van abstraksie en die verhouding abstrahering/konkretisering waarby Valery aansluit, op veelvoudige maniere verteenwoordig, is juis vanjaar se Nobelpryswenner, Tomas Transtromer.
    Terloops, Transtromer is briljant in Nederlands vertaal deur H. Bernlef, onder die titel De wilde plein. Dis ‘n vertaling wat enige van die Engelse vertalings oortref.

    Dankie vir die artikel, Jaco.

  7. Charl-Pierre Naude :

    Korreksie: HET Wilde Plein.

  8. Louis :

    Ek stem saam oor die Bernlef-vertalings, Charl-Pierre. ‘n Kragtoer, inderdaad. Nog ‘n Nederlandse vertaling wat vir my ligjare beter is as enige Engelse ekwivalent is die Szymborska-vertalings “Uitzicht met zandkorrel” wat deur Gerard Rasch vertaal en deur Meulenhoff uitgegee is …

  9. Jaco Barnard-Naudé :

    “There is nothing outside the text.” Wie het dit nou weer gesê? In Opperman se 1978-artikel in die Tydskrif vir Letterkunde staan die volgende teks: “Die kunswerk is ‘n sintuiglike aanbod en dit word bedreig deur -ismes, die wetenskap, die heerskappy van die abstrakte, bv. die filosofie.” En: “die raad aan die laboriete is: weg van abstraksies”. Ek dink Heidegger sou hiermee heelhartig saamgestem het, gegewe sy verwerping van die metafisika en sy pleidooi vir ‘n teugkeer na denke in digterlike taal – met ander woorde, ‘n ontdekking van die abstrakte in die konkrete.

  10. Jaco Barnard-Naudé :

    Ek het nagelaat om waardering vir die positiewe terugvoer uit te spreek. By die lees van Transtromer het ek presies dieselfde indruk gehad as wat C-P N hierbo beklemtoon. Dankie.

  11. Johann de Lange :

    jaco, ek kan maar net aanneem dat moedswillig Derrida kwansuis vergeet & sy uitspraak verkeerd oordra. Hoe ookal, DJO se raad is pertinent aan sy laboriete gerig, & hy het dit verder ingedril deur te beklemtoon dat sintuie ook werktuie is, dat die jong digter moet leer om waar te neem voordat hy verb’y die gewone kyk probeer kyk, voordat hy die “rhododendrons ágter die rhododendrons” probeer raaksien & gestalte gee. Sélf was hy nie wars van die metafisika nie (hoe kán hy wees?). In ander sin moet sulke uitsprake ook gesien word binne die konteks van die (gesonde) wedywering tussen hom & VWL wat die teenoorgestelde ars poetica gehad het (& onvermydelik vereenvoudig ek hier). William Carlos Williams het in sy lang gedig “Paterson” geskryf “No ideas but in things”, & daarmee saam die slagkreet van die Imagiste-beweging onder die aanvoering van Pound – always treat the thing directly. Dis ook binne hierdie konteks dat DJO se uitlating gesien behoort te word. Dis was nie absolutisties bedoel nie, maar as handige leiding vir beginnerskrywers. Sy eie skryfwerk het veel wyer & groter & verder gereik as wat ‘n fokus op daardie stukkie advies laat blyk.
    Valery se uitspraak dat ‘n gedig nooit voltooi is nie, maar net versaak, word ook heeltemal te letterlik opgeneem. As hy bloot bedoel het dat jy altyd kan terugkeer na ‘n gedig & daaraan kan verbeter, dan sou dit ‘n netjiese epigram gewees het, in stede van die grondslag van ‘n hele manier van kyk na skryf & na die generasie van betekenis.

  12. Jaco Barnard-Naudé :

    Johann, ek vergeet beslis nie Derrida se uitspraak ‘kwansuis’ nie. Ek dra sy uitspraak ook nie verkeerd oor nie – onthou, ons beweeg hier in die Derrideaanse verwysingsveld waarin ‘verkeerd’ en ‘reg’ oorspronklik deur mekaar gekontamineer word. Jou oordeel dat ek die boodskao verkeerd oordra is reeds fallogosentries. Wat bedoel jy daarmee? Ek bedoel met die aanhaling in die kon-teks (“pas de hors-texte”) dat navorsers met teks werk, nie met hoorsê-uitsprake oor wat meer as dertig jaar gelede gesê is of nie gesê is in die Letterkundige Laboratorium nie. En in die gepubliseerde teks (die openbare brief) spreek Opperman, soos Kannemeyer dit stel, herhaaldelik sy voorkeur uit vir die sintuiglike vers en tref hy ‘n ongenuanseerde onderskeid tussen die abstraksie en die konkrete.

  13. Jaco Barnard-Naudé :

    Terloops, Johann, ek is dit met jou eens dat die Ding altyd direk hanteer moet word (Pound) – dit is dan juis Heidegger se pleidooi: die idee (abstraksie) is in die ding (konkrete). Waaroor verskil ons?

  14. Johann de Lange :

    Jaco, jou spel met die Derrida wat jy retories ‘vergeet’ is weinig meer as ‘n fasiele intellektuele speletjie lyk dit my (full of sound and fury signifying nothing). Op jou weersprekings wil ek nie hier ingaan nie – jou amendasies is genoeg bewys dat jy dit gaandeweg sélf agterkom. Wanneer dit kom by die kreatiewe werk & teoretiese uitsprake van Opperman, hoeveel van sy bundels, & sy opstelbundels het jy deeglik bestudeer? Het jy sy proefskrif deurgewerk & die verreikende insigte daarvan vir literêre teorie begryp? Hoeveel artikels & tesisse oor sy werk het jy deurgewerk? Met hoeveel mense het jy gesels wat by hom studeer het of onder hom promoveer het? En Kannemeyer se oorsigtelike opsommings tel nie, dis naslaanwerke & literêre geskiedenis. Waarop ek afstuur, is die volgende: As ek my sou begewe op die terrein van die regswetenskap sou jy my met reg op my plek kon sit want jy weet meer daarvan as wat ek ooit sal weet of sou wou weet. Wel, wanneer dit kom by skryf, by die Afrikaanse literêre tradisie & teorie, is jy in dieselfde situasie. Die kort kursus in kreatiewe skryf begin nie eers die vernis van die Mona Lisa afkrap nie, & jy dink jy’s reg om vir haar ‘n snor op te skilder.

  15. Jaco Barnard-Naudé :

    Johann, waar om te begin? Ek het eenvoudig ‘n artikel geskryf waarin ek Valéry se posisie oor die digkuns en abstraksie in verband gebring het met ‘n tema in die Afrikaanse letterkunde waaroor ek gelees het (en, vir die rekord, ja, ek het Opperman se proefskrif en vele van sy opstelbundels bestudeer, insluitend die sekondêre bronne ie Kannemeyer) en skielik word ek daarvan beskuldig dat ek ‘n snor op die Mona Lisa wil skilder. Nêrens het ek aangedui dat ek jou ‘op jou plek’ wou sit of dat ek ‘meer weet’ as jy nie. Die skaars verbloemde ontmoediging (hekwagtery?) om in / oor die Afrikaanse letterkunde te publiseer (en die gepaardgaande intellektuele verdagmakery) vind ek verstommend om die minste te sê. Vir my gaan dit om die idee, die gesprek, nie oor wie die reg het om wie se bek toe te klap nie. As ek oor ‘n onderwerp gelees het, dit bestudeer het en daaroor wil skryf is dit my goeie reg. Dit is ook my goeie reg om ‘n opinie uit te spreek waarmee jy kan saamstem of nie. As jy in die ‘regswetenskap’ gestudeer het en ‘n opinie oor ‘n regsaak uitgespreek het en dit gepubliseer is, sou dit steeds my goeie reg wees om met jou saam te stem of nie – mits ek ook daardie onderwerp in die regte bestudeer het. Ek stap nou van hierdie onderwerp af.

  16. Jaco Barnard-Naudé :

    Johann, net ‘n laaste iets wat my sopas bygeval het. Toe ek Die Algebra van Nood destyds verdedig het teen Ampie Coetzee se onverteerbare resensie het ek jou nie gehoor / gesien galbraak oor my onkundigheid / ongeletterdheid / ongekwalifiseerdheid om my mening daaroor uit te spreek nie. En toe wen die bundel die Hertzogprys.

  17. Desmond Painter :

    Om die “uitsluitingsmeganismes” (lack of a better word…) wat in die professies geld (wat bepaal wie wanneer mag praat en wat hulle legitiem mag s^e) van toepassing te maak op die “kunste”, is dalk selfondermynend: die openbare diskoers oor die letterkunde, die musiek, die skilderkuns en rolprente sou gewoon doodloop (geprivatiseer word, en beperk tot akademiese forums) as die reg om daaroor te praat deur ‘n “professionele klas” opgeeis word. Of Jaco se argument oortuigend is of nie, daaroor kan mens debat voer; maar of hy die reg het om oor Opperman te skryf? Ansoluut. Net soos hy die reg het om oor Tarantino of Michael Jackson of Derrida te skryf. Om in die openbaar oor Opperman of enige ander kultuurgoed te praat, is gewoon nie dieselfde ding as om ‘n mediese prosedure te mag uitvoer of om in ‘n hof uitspraak te mag lewer nie. Dink ek.

  18. Johann de Lange :

    Jaco, ek gaan regtig nou hiervan afstap. Ek weet nie of jy & Desmond my opsetlik verkeerd verstaan & of ek my net nie duidelik uitgedruk het nie. Natuurlik het jy die reg om ‘n opinie uit te spreek oor DJO, ek dink net dat jou afleidings verkeerd is omdat jy jou onderwerp nie goed genoeg verstaan nie. En dit is my opinie, waarop ek darem seker ook die reg het.
    Hoewel ek jou verdediging van Algebra destyds op prys gestel het & steeds waardeer beteken dit nie dat ek nou elke uitspraak wat jy maak onkrities moet aanvaar nie. Maar ek sal die tweede beste doen, & dit is om al my opinies vir myself te hou, of dit privaat te toets aan ‘n klompie mense wat meer weet as ek oor sommige literêre aangeleenthede.

  19. Desmond Painter :

    Nie doelbewus nie, Johann, maar dit is moontlik dat ek jou verkeerd verstaan het. Ek is natuurlik verdedigend ingestel, want my eie deelname is as amateur!

  20. Joan Hambidge :

    Digters wat nie oor abstraksies te spreke is nie, moet weer gaan nadink. Wel ek het.

    1 Ek had die voorreg om in Opperman se laboratorium te sit en na sy wyshede te luister. Sy siening van dig oor die konkrete of liewers, jou oopstel vir die konkrete, was ‘n wegwyser vir die jong digter. Voed jou sintuie en bly weg van -ismes. Terselfdertyd was hy ‘n liefhebber van Eliot en het hy my voorgestel aan Wallace Stevens. Dit was sy raad aan jong digters wat ek steeds as geldig ag. Gaan kyk na alle groot digters wat nou werksaam is: hier te lande en buitelands en die konkrete beeld wat ‘n abstraksie vergestalt, laat ‘n vers werk. Opperman self het op sy beste, soos in “Vuurbees” die abstrakte konkreet vergestalt. Vanaf Heilige beeste verstaan hy hierdie spanning.
    2 Natuurlik het die digter uiteindelik die abstrakte denke nodig om die gedig te orden of te “vertaal” in ‘n vorm. Niemand ontken dit nie. Alle goeie digters weet wat vorme en die eise van vorm behels. En die groot digter steek sy vorme weg soos die rondeel, villanelle, of watookal.
    3 Groot digters is denkers. Hulle gebruik egter konkrete beelde om ‘n abstraksie uit te beeld. “Groot ode” van Van Wyk Louw is waarskynlik hier die beste voorbeeld van ‘n gedig wat sowel oor die abstrakte as konkrete besin.
    4 Opperman het dit binne die konteks van werkswinkels vir sy jong studente geleer wat suksesvolle en uiteindelik gepubliseerde digters is: Lina Spies, Leon Strydom, Charles Fryer, Antjie Krog, Fanie Olivier, e.a.
    5 Dit gaan om die gesprek. Kyk onder andere ook na die Britse digkuns wat daar as gesaghebbend en goed beskou word. Ms. Duffy as voorbeeld. Of Paul Muldoon. Jo Shapcott.

    Digkuns, ‘n meditasie

    Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry
    en sy worsteling met die groot stiltes.
    Hoe verwoord ‘n mens dit, die grootste Abstraksie?
    Vir bykans twintig jaar, word vertel, geen woord
    op papier na die dood van sy mentor, Mallarmé.
    Stilte en dood sou my mentor waarsku,
    is die vyand van hierdie gedig; dus, wis uit.
    Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry
    se worsteling met sy sonderlinge stilstuipe.
    Die groot beoefenaar van die Simbolisme
    se kondisie word ‘n skelm, sikkeneurige stillewe.
    Stilaan begin die vers uit stilte stoel,
    ‘n stolrots ontspruit immer uit ‘n stimulans.
    In Louis Eksteen se Afrikaanse Sinoniem-
    Woordeboek (met antonieme) sketter ‘n motto:
    “All that lives must die
    passing through nature to eternity.”
    Pampoengeel-boek van J.L. van Schaik,
    helaas nou onbekombaar, gepubliseer in 1981.
    Voor daardie groot Stilte my doodsmoor,
    gee ek my oor aan konkrete beelde
    – vermy abkrete en luister na konstraksies –
    hier laatnag in Chicago, my kind of town,
    in fyn afwering én balans met die groot Abstraksie.