Joan Hambidge. ‘n Besinning van die konkrete

 

A momentary stay: Charl J.F. Cilliers (ISBN 978 0 620 51249 7, Malgas Publishers 2011, 123 bladsye sagteband

Resensent: Joan Hambidge

charl FJ Cilliers

Charl FJ Cilliers

A Momentary Stay van Charl J.F. Cilliers het waarskynlik een van die mooiste omslae in ‘n lang tyd. Dit bevat ‘n pragtige waterverf tekening van Marlise Joubert wat ‘n belangrike gedig in die bundel aktiveer “Last Days Watching The Old Tree”, 75. Cilliers is ‘n behendige digter en ander gesiene kritici soos Henning Snyman en Ridley Beeton word tereg op die agterblad aangehaal. Snyman wys daarop dat hierdie digkuns se eenvoud dikwels misleidend mag wees en dat ons in die The Journey van die allermooiste metafisiese gedigte te lese kry.

Die digter ondersoek die kortstondigheid van ons menslike bestaan in verskillende vorme soos die moeilike Japannese tanka-vorm, die haikoe en herhalende refreine wat die rondeelvorm naboots.

By die lees van hierdie genoeglike bundel kom die leser onder die indruk van die digter se vermoë om die beeld voorop te stel soos by die Imagists. Daar is eweneens gesprekke met William Carlos Williams en Wallace Stevens (“Nine Wintry Outlooks”, 13) bekend om sy digterlike uitspraak dat die ding-heid in die gedig voorop moet staan:”not ideas about the thing but the thing itself”.

Die klein momentopname, die skerf, is dit waarin die digter uitmunt:

 

VI

 

pebbles are like sounds

of tiny ice cubes clinking

in an empty glass

 

Die motto van Robert Frost klink in vele verse op:”…a momentary stay against confusion”. Die ouerwordende mens sal immers iets skryf oor die verganklikheid van die lewe. Dit word egter met soveel vaardigheid gedoen in ‘n digterlike proses waar dit gaan om die toevallige waarneming. Die digter draai dikwels weg van mitologie of metafisika juis om die dinglikheid te ondersoek soos in die vers “Drawing to an End” (16). Maar, soos ons weet uit die Boeddhisme (en die Sufi’s wat die digter hier betrek): die waarheid is binne-in ons en dit word vergestalt deur die dinge óm ons.

 

Huiwering, onsekerheid, wegbeweeg, dra die meeste van die gedigte in hierdie bundel. Die digkuns is beperk in die besegging van emosies en die verbeeld-ing van die werklikheid daarbuite soos ons aflees uit “Still life”, 21. Die volgende vers is eweneens ‘n kode vir die begryp van die bundel as sodanig:

 

So Much Depends Upon An Apple Tree

 

There is an object

hanging in a tree.

 

To whom is it some

thing if not to someone

 

who may see

it there?

 

That object

in a tree.

 

Its image

once in the mind

 

resounds within with ripples

from the genesis of humankind.

 

Once seen

can there then

 

be

still  

 

just a tree

in which there is

 

an object

hanging free?

 

(23)

 

Hy laai verse met implikasie, ofskoon die digter tereg wegskram van die mitologie en eerder die beeld (“image”) vertrou. Geslaagde digkuns werk immers deur konkrete beelde. En wanneer daar oor stiltes en die ónmoontlikheid van besegging gedig word (soos in “Encounter”, 26), tref dit eweneens.

Nie die idee nie, maar die ding op sigself. Wat jammer dat hierdie digter nie deur ‘n gesiene uitgewershuis gepubliseer word nie; hy verdien beslis groter respek.

 

II

Henning Snyman, een van die mees gedugte en skerpsinnige lesers van die digkuns, verwys na die bundel The Journey as “van die allermooiste metafisiese verse” in die Suid-Afrikaanse digkuns. Snyman se studies oor die digkuns waarin hy verwys na die werking van die digterlike beeld, is waardevolle studies. Cilliers skryf oor filosofiese, metafisiese onderwerpe – dus oor abstraksies – maar hy gebruik konkrete beelde om dit te bewerkstellig. Dit is ook iets wat ek by ‘n digterlike mentor, D.J. Opperman geleer het. Opperman het nie die metafisika ontken nie; daarvoor kan ‘n mens net na sy gedigte kyk soos “Vuurbees” en Dolosse weer lees. Johann Lodewyk Marais, wat nie hierdie laboratorium bygewoon het nie, skryf sinvol oor wat Opperman wou regkry in hierdie letterkundige laboratorium. Hy wou die jong digter leer dig en om te kan dig, moet jy ook kritikus wees. Die jong digter moet dus sy emosies, angste, gevoelens oor die liefde, die dood, en dies meer in konkrete beelde vertaal. In hierdie klas, wat ek bygewoon het en dus as gesaghebbende kan praat oor presies wat gesê is, anders as vele wat hul interpretasies op tweedehandse inligting baseer, het die digter as begeleier die jong digter geleer om weg te bly van Vae Abstraksies. En deur die abstraksie in ‘n konkrete beeld te vertaal, moet die leser dus die abstraksie(s) of metafisika interpreteer!

Daar word dus vele uitsprake aan Opperman toegedig, veral deur mense wat nie daar was nie. Opperman se gedigte kan die leser deur etlike filosofiese interpretasies neem. Maar sy bedoeling was as leermeester om die jong digter te leer om die troebel gedagtes te ver-beeld. Opperman die mentor is dus nie plots gelyk te stel aan Opperman die digter nie. Net soos wat die skeiding tussen abstraksie en konkreetheid nie ‘n absolute is nie. Johan Degenaar het immers op sy dag gedigte gebruik om filosofiese konsepte te verduidelik. Opperman had dit oor die jong digter wat moet leer skryf.

Die digter benodig abstrakte denke om te besluit watter woorde word gekies (sinonieme, antonieme), klankpatrone, intertekste – maar dit gebeur dikwels eers nadat die gedig in inspirasie uit die digter te voorskyn kom. Dan kom die abstrakte selfkritikus na vore en torring met beelde en patrone. Nou onlangs het ek ‘n dokumentêr oor Jacques Derrida gesien. Die filosoof maak die relevante opmerking dat ‘n mens se oë en hande nooit verander nie. Dus, ‘n poëtiese opmerking. Sy analises in Sovereignties in Question handel oor Paul Celan, ‘n merkwaardige digter.

Die sub-titel is: The Poetics of Paul Celan. Derrida wys hoe die digter se beelde oordra (portée):”Die Welt is fort, ich muss dich tragen” is vir ons doeleindes tersaaklik. Die digter moet die wêreld oordra in die gedig. En Derrida beklemtoon ook dat ‘n mens luister na ‘n gedig: dat dit klanke is. En klanke of die klankmatige van die gedig neem jou tydens die skryf- en leesproses terug na die chora of dit wat dikwels voor abstraksie is.

In vele skryfhandleidings, soos in Ottone M. Riccio se The Intimate Art of Writing Poetry uit 1978 staan dieselfde beginsels opgeskryf. Ruth Padel konsentreer op die akoestiek van die gedig in The Poem and the Journey (2007).

Sy wys op die eiesoortige wyse wat die gedig funksioneer, juis omdat dit van binne kom. En die filosoof is volgens haar nie die enigste leser van ‘n gedig nie. Robert Frost het immers beweer dat ‘n goeie gedig jou tref, nee verwond (“mortal wound”, 4). En goeie gedigte beweer sy ook is nie oor-eksplisiet nie. Jy moet dink, beelde ontdek, uitmekaar haal…

Opperman se belangrike opmerkings was vir vele digters van onskatbare waarde: Antjie Krog, Lina Spies, Charles Fryer, Leon Strydom, Fanie Olivier, e.a.

Sy beklemtoning van beelde, en spesifiek konkrete beelde, is iets wat ‘n mens by alle geslaagde digters vind regoor die aardbol in alle tale. Die digter gebruik abstraksies ja; die gedig egter moet die konkrete vooropstel en deur die beelde die boodskap oordra.

Om hierdie rede sou ‘n mens A Momentary Stay vir jong digters kon aanbeveel as verpligte leesstof, juis omdat die digter die beeld vertrou. Hy weet sy leser sal die abstrakte konneksies kan maak. Hy skryf immers:

 

Semantics

 

Will we someday find

the meaning of it all

beyond these prison walls

of words in which we are confined? (112)

 

En as die digter hierdie balans tussen abstraksie(s) en konkrete dinge begryp, kom hy uit by die nuwe blik op die werklikheid waarvan Wallace Stevens praat in sy beroemde gedig.

 

 

Joan Hambidge Professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.

 

Bestel hierdie digbundel hier.  

Endnote:

Poemhunter.com afgetrek 12/11/2011  

 

Not Ideas About the Thing But the Thing Itself

 

 

At the earliest ending of winter,
In March, a scrawny cry from outside
Seemed like a sound in his mind.He knew that he heard it,
A bird’s cry, at daylight or before,
In the early March wind.
The sun was rising at six,
No longer a battered panache above snow…
It would have been outside.
It was not from the vast ventriloquism
Of sleep’s faded papier-mache…
The sun was coming from the outside.
That scrawny cry–It was
A chorister whose c preceded the choir.
It was part of the colossal sun,
Surrounded by its choral rings,
Still far away. It was like
A new knowledge of reality.

Wallace Stevens
 
 
 
 
 
 
 

 

Submitted Date

Friday, January 03, 2003

 

 

 

 

 

                                                                                                                                                      

Bronne

Jacques Derrida. 2005. Sovereignties in Question. The Poetics of Paul Celan. New York: Fordham University Press. 

Die dokumentêr is in 2002 gemaak: Kirby Dick & Amy Ziering.

Johann Lodewyk Marais. Die Letterkundige Laboratorium van die Universiteit van Stellenbosch (1960-1984), STILET 13(3), Sept. 2001: 92-108. 

Ruth Padel. 2007. The Poem and the Journey. Londen: Chatto & Windus. 

Ottone M. Riccio. 1978. The Intimate Art of Writing Poetry. Londen: Prentice Hall.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.