Amanda Lourens. Repos ailleurs

 Ek het in ’n vorige inskrywing probeer besin oor my onverwagte reaksie op Tant Miem Fischer se kampdagboek.  Dit is eers na die oplaai van die inskrywing dat ek besef het dat ek ook iets sou kon sê oor die gedig wat agter in die teks opgeneem is, en waaraan ek aanvanklik nie veel aandag gegee het nie. 

Die gedig lui soos volg:

 

Vertrouwen

 

Wel hem die op God vertrouwd

En in donk’re dagen

In de onzek’re verte schouwt

Zonder angst of klagen

 

Is hier moeite en veel verdriet

In dit korte leven

Och! de Heer toch doet ons niet

Naar wy reeds misdreven

 

Gy dan ook die lyd en treurd

Wil toch meer bedenken

Ieder zegen was verbeurd

Dien ons God wou schenken

 

Nam Hy weder wat hy gaf

Nochtans Hem geprezen

Die by zegen en by straf

Wil dat wu Hem vreezen

 

Is het dan voor uw gezicht

Soms een angstig duister

Uit het duister schept Hy licht

Met vernieuwden luister

 

Achther wolken schuilt een poos

‘t Licht van Gods ontferming

Wie Hem zoekt vindt toch altoos

By den Heer bescherming

 

Hy weet wie daar op Hem wacht

Hoop op zyn genade,

En zoo donker is geen nacht

Of Hy slaat hen gade

 

Wel hem die op God vertrouwd

En in donk’re dagen

In de onzek’re verte schouwdt

Zonder angst of klagen. 

Volgens die nota (Fischer 1964:140) is hierdie gedig uit ’n krygsgevangenekamp ontvang en is dit in die oorspronklike Fischer-dagboek opgeneem.  Die outeur is egter onbekend.  Interessant dan, dat die outeur van die gedig waarskynlik manlik was, gesien die oorsprong daarvan in ’n krygsgevangenekamp.

Hierdie gedig is weliswaar eenvoudig, maar is klaarblyklik tog met toewyding gekomponeer om die rymskema streng te handhaaf en ook om ’n betoog op te bou. Die eerste deel van die gedig (wat volg op die eerste strofe wat in die slot herhaal word en wat reeds die tema van berusting voorspel) verteenwoordig ’n soort klag of rou, maar dan ’n getemperde uiting van lyding, meer konstatering daarvan, anders as die bitter en verwytende trant van die Fischer-dagboek.  Byna in die tradisie van die elegie, vind ons dan ’n berusting of consolatio in die tweede deel van die gedig, waar die leser meegedeel word dat God steeds betrokke is by die menslike wêreld, en as’t ware opnuut lig uit die duister skep, maar nou met “vernieuwden luister”. (Die digter se poging tot vakmanskap blyk dan uit byvoorbeeld die rympaar “duister” en “luister”.)  Die sikliese slot met die spreuk “Wel hem die op God vetrouwd” vestig die tema van volkome vertroue in ’n God met ’n soms onbegryplike raadsplan, wat gee en neem, maar weer troos bied aan diegene wat sonder vrees of klag op Hom wag.

 

Die spreker se klaarblyklike volkome oorgawe aan ’n groter raadsplan is opvallend, veral gesien teen die agtergrond van die fel vroulike reaksie in die Fischer-teks, en haar eksplisiete bevraagtekening van ’n God wat gebede beantwoord en uitkoms bied – vergelyk haar woorde op p.120:  “Kan dit wees dat die God wat ons vaders uit soveel ellende gehelp het, nou nie meer barmhartig wil wees nie?  Wat van al die gebede, die smekinge wat al die maande opgestuur is, al die bloed en trane, al die ellende in hoop en vertroue op ’n séker verlossing?  Niks, niks van dit alles.”

 

Ek het dus besluit om weer van die ouer gekanoniseerde (en manlike) gedigte uit die eerste helfte van die twintigste eeu te lees, om te probeer agterkom of hierdie soort berusting in ’n goddelike plan miskien ’n algemene tema is, in teenstelling met die ontnugtering van byvoorbeeld Fischer.  Totius het eerste in my gedagtes opgekom, aangesien hy immers bekend is as die “religieuse digter” van die Eerste Geslag. 

 

Wat volg, is geensins ’n wetenskaplike studie van Totius en die religieuse in sy poësie nie, maar eerder my eie indrukke hieroor na aanleiding van sekere bekende en minder bekende Totius-gedigte uit twee van sy bundels. 

 

Dit is betekenisvol dat die openingsgedig van Totius se eerste bundel (By die monument, 1908) reeds die gedagte van ’n Goddelike raadsplan aktiveer.  In hierdie gedig word die Boerekinders, in hulle vrees vir die aankomende vyandige magte, deur hulle moeder verseker dat ’n groter plan hulle lotgevalle bestuur.  Die moeder beroep haar hier dus op ’n skynbaar logiese argument: Haar kinders het niks te vrees nie, omdat die vyand se aksies deur ’n groter mag bestuur word.  Hierdie wete moet dan ook hulle troos wees:   

 

Moeder:

My kinders kom binne

 en wees nie meer bang;

 Die Vader daarbowe

 bestuur hulle gang.

 Ten spyte van hierdie gerusstelling, ondermyn die gedig hierdie boodskap deur die ironiese slotreëls, wat veral gerealiseer word deur die leser se na-kennis van die gebeure:

 Kindertjies:

Maar, moeder, hier is hul!

O, Hoor die gedrang!

 

Moeder:

Wees stil maar, hul sal mos

Geen kindertjies vang!

 Ook skemer ontnugtering deur wanneer die realiteit in die kampe waargeneem word, soos blyk uit die dialoog van kind en moeder in “In die kamp” uit dieselfde bundel:

 Kind:

Ek kan nie meer wag nie van honger, my moeder;

Maar waarom tog so? Het die Heer ons verstoot?

 

Moeder:

Nee, liefste, verstoot sal die Vader ons nimmer,

maar hier in die tent is g’n krummeltjie brood.

 Die moeder beroep haar steeds op abstrakte vlak op Goddelike versorging, maar op praktiese vlak is die selfondermynende aard van haar antwoord onmiskenbaar, en ’n consolatio dus uitgesluit.   Dit laat die leser natuurlik met vrae oor die digter se “bedoeling” met hierdie gedigte, in soverre dít veronderstel kan word.

 Waar Totius veral die pyn van die Anglo-Boereoorlog in By die monument hanteer, is persoonlike pyn die tema van ’n latere bundel.  In die welbekende Passieblomme (1934) ervaar die leser hoedat die spreker sy eie pyn probeer verwoord en deurgrond na die dood van sy kinders in 1920. Die bundel is naamlik verdeel in drie afdelings: “Onheil”, “Onrus” en “Berusting”, wat moontlik vir die digter ’n “logiese” ontwikkeling vanaf trauma deur die fase van intense rou tot by berusting aandui.

 In bekende gedigte soos “Ek wou my ganse digkuns waag” (uit “Onrus”) en “o Die pyn-gedagte” (“Onheil”) wend die spreker hom tot God, maar opvallend genoeg eindig beide hierdie gedigte slegs met die mededeling van sy pyn aan God, sonder ’n egte consolatio.  Klaarblyklik is sy enigste troos dat God weet wat hy deurmaak, soos hy ook skryf in die slotreëls van “Ek wou my ganse digkuns waag”:

 Nee, ’k sal nie waag om ’t uit te sê.

Nee, ’k gaan tot God wat weet, en lê

Vas op my hart my regterhand

En snik: “o God, dit brand?”

 In ander gedigte in Passieblomme is daar tekens dat die spreker wat geloofsvrae begin stel, maar hom probeer oortuig om sy twyfel daar te laat en te berus in die geloof dat God goed is. Die consolatio – wat wel hier teenwoordig is –  behels dus ’n bepaalde waarheid wat hy hom probeer wysmaak, maar sonder dat daar enige aantoonbare logiese gronde is.  In die gedig “Ek graaf met my gedagtes” (in “Berusting”) lees ons:

 Ek graaf met my gedagtes

in die geheimenis,

en soek of daar geen antwoord

op al my raaisels is.

 

Ek graaf nes in ‘n sandhoop

met my: Waarom? en Hoe?

By elke nuwe poging

dan val die plek weer toe.

 

Ek graaf; maar elke môre

begin my werk van voor;

ek graaf; maar as ek weg is,

skuif snags die sand daaroor.

 

  Dus – hou maar op met grawe,

 berusting is so soet;

 net een ding te gelowe,

 en dit is: God is goed!

 

Die argument waarop die spreker hom beroep om sy soektog te staak, klink nie baie oortuigend nie.  Hy wys naamlik op soekendes in die geskiedenis, maar impliseer dat hulle soektogte weinig of geen resultate gehad het nie.  Daarom kies hy in ’n skynbare cop out ten opsigte van sy eie argument die “soet” berusting van “God is goed”; oftewel, God is goed, so moenie verder vra nie. 

 In die bekender gedig “Die Godsbesluit” (in “Onrus”) word daar weer eens van ’n beeld gebruik gemaak om die subjek se soeke na antwoorde voor te stel: die “wag­­-‘n-bietjiebos” word hier treffend aangewend om die spreker se verstrengeldheid in sy eie prosesse van vraagstelling en soeke uit te beeld.  Dit gee reeds ’n aanduiding van ’n toenemend meer komplekse siening van die mens in sy verhouding tot die religieuse, al is dit in die afdeling “Onrus” opgeneem wat moontlik aandui dat die digter hierdie gedig as behorende tot die middelstadium in die rouproses beskou het (en dus nie bedoel is om “antwoorde” te verskaf nie). Vir die moderne leser kom hierdie gedig egter veel meer gesofistikeerd voor, en oorreed dit ook veel meer effektief as “Ek graaf met my gedagtes”.  Hier skyn die spreker nie te berus in ’n finale “Godsbesluit” nie, maar “gryp … in die dorings vas”, met ander woorde, worstel met die ingewikkelde struktuur van wat hy as die Goddelike raadsplan beskou en bereik nie ’n punt van vertroosting via die gedig nie.  Ook erken hy sy aksies van “dieper kyk en dink / as wat ’n sondaar pas”.    

 Die vraagstellende houding en soekende ingesteldheid van die subjek is ook die boustof vir die gedig “Hul moes na die hemel” (in “Berusting”):

Ek het baie gesoek,

gevra na ’n teken;

ek het baie gepeins,

geraai en gereken;

 

maar niks wat vir my

die raaisel ontvou nie …

Hul moes na die hemel,

en niks kon hul hou nie. 

 In hierdie gedig verklaar die spreker dus sy soekende ingesteldheid, tesame met sy geloofswens dat die “raaisel” van die tragedie vir hom uitgelê sal word.  Hy erken egter dat hy geen sulke antwoorde kon vind nie, maar maak dan die ietwat ongeloofwaardige sprong na aanvaardende geloof in ’n vooropgesette plan.  Dieselfde aanvaarding van die geloofsgegewe, in die aangesig van die afwesigheid van empiriese bewyse, word gesien  in die gedig “Geloof”, ook in die afdeling “Berusting”.   Hier sien hy geloof as die rigtinggewende instrument wat die gelowige na sy bestemming sal neem:

 Ons leef hier sonder oogbewys;

en as ons “hofsaak” hier moet dien,

dan is daar geen getuienis;

want niemand van wie lewend is,

kan sê: “Ek het gesien.”

 

[…]

 

Tóg leef ons voort, gewis en vas,

al het ons ook geen oogbewys;

tog seil ons voort op ons kompas:

die kusland sál ons oog verras

as’t uit die golwe oplaas verrys.

 

Dit is egter in die gedig “Geen stem en geen antwoord” (uit “Onrus”; ook opgeneem in Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte) wat die spreker se ontnugtering wel deurskemer. 

 Elke aand wanneer dit stil is,

as geen stem meer die aarde ontstyg,

wag ek buite: of daar geen wil is,

of geen wese omlaag wil neig

wat op vleuels van stilte en duister

my van hul iets toe wil fluister.

 

’n Sien die verste ster wat flonker

deur die nag van stilte en donker;

maar ’n stem wat fluister, dié

hoor ek deur die donker nie.

 

 ’k Gaan weer langs hul liefste plekkie;

‘k gaan die tuinpad oor en oor;

’k wag weer by die tuin se hekkie

of ’k haar voetstap nie sal hoor …

 

Hoeveel aardse stemme vlieg nou

draad- en klankloos deur die nag!

blye en droewe boodskap wieg nou,

langs die etergolwe, sag.

 

En – van húl is niks bekend nie!

En – ek wag so stil en lang!

Is daar dan geen instrument nie

Wat die onhoorb’re klank kan vang? …

 

*

 

Maar geen stem of ritseling

wat deur stilte en donker dring.

 Dit is stellig die treurende vader hier aan die woord, op soek na metafisiese spore van sy gestorwe kinders.  Daar word moontlik ook verwys na die stemme van diegene wat besig is om te bid, maar sonder dat daar ’n instrument is wat hierdie gebede kan opvang of beantwoord.  Net so bly die spreker alleen en wagtend, gekonfronteer met die stilte van die natuurlike ruimte om hom, sonder enige spoor van metafisiese boodskappe – hetsy van geliefdes of ’n Goddelike stem .  Die gedig sluit dus af met ’n gevoel van oneindige leegheid, met die afwesigheid van berusting of antwoorde.  As sodanig is dit ’n verbasend moderne blik wat aandui dat Totius waarskynlik ’n besondere insig gekry het in die komplekse aard van die mens se metafisiese soeke, voordat hy by wyse van soms resepmatige spronge en gebrekkige argumente by die punt van “berusting” aangekom het. 

 Wat my punt is?  Miskien ’n kontensieuse een, maar wat daarop neerkom dat ’n consolatio of “berusting” in sekere gevalle gevaarlik na aan ’n om-die-bos-lei kom; oftewel, ’n gevaarlike retoriese sprong kan behels.  Die sielkunde sal waarskynlik kan help met insigte oor die aard en funksie van berusting: of dit dalk ’n punt is wat nagestreef word, ongeag die “feite” voor jou, juis omdat dit ’n punt van ekwilibrium weer moontlik maak, ’n gaping waardeur jy kan glip ten einde voortbestaan moontlik te maak. 

 En hiermee is ek nou midde-in ’n wag-’n-bietjiebos: Tant Miem se fel ironiese uitsprake en nie-berusting het my ontstel, maar ook vind ek onberedeneerde berusting in ’n groter plan verdag.  Die vraag is dus: Hoe nou gemaak?  As die (be)rus(ting) elders is, waar vind ons die roete daarheen?

  

Bronne

Fischer, M. 1964.  Tant Miem Fischer se kampdagboek.  Kaapstad: Tafelberg.

 

Hartmann, E. Totius se lewensbeskouing soos weerspieël in sy gedigte.
(Vervolg en slot.) 1931. Die Nuwe Brandwag: Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1931
. Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren [Internet].  Beskikbaar  http://www.dbnl.org/tekst/_nuw001193101_01/_nuw001193101_01_0048.php. [2011, 13 November].

 

Venter, H. (red.) 1977. Totius versamelde werke 10: gedigte en prosa.  Kaapstad: Tafelberg.

Bookmark and Share

Comments are closed.