Marlies Taljard: Anfortas se Wond

Parzival voor die Graalsburg

Parzival voor die Graalsburg

 

In die Augustus 2011-uitgawe van die Canadian Medical Association Journal kritiseer Michael Susmoy Sanatani, MD ‘n sekere hospitaal in Kanada wat ‘n ruk gelede besluit het om nie meer die “bedside history” persoonlik op te teken elke keer wanneer ‘n pasiënt tot die hospitaal toegelaat word nie. Hulle beoog om dié gegewens wat op die rekenaar beskikbaar is, eenvoudig op die nuwe toelatingskaart te plak. Sanatani se argument berus hoofsaaklik op die verhaal wat in ‘n dertiende-eeuse teks vervat is. Hy voer aan dat Wolfram (von Eschenbach) se epiese gedig Parzival die beste voorbeeld verskaf van wat nie deur dokters, verpleegsters en ander versorgers gedoen behoort te word nie. Parzival het naamlik, weens sy opleiding as ridder wat bepaal dat hy nie persoonlike vrae aan onbekendes mag rig nie, versuim om die siek koning Anfortas te vra wat makeer. Daardeur het hy ‘n geweldige verlies gely wat eers dekades later reggestel kon word.

Sedert die vroegste tye was siekte en herstel ‘n belangrike tema in gesproke en geskrewe verhale. Dink maar aan Job, aan die gestremde man by die Bad van Bethésda en aan Achilles. Steeds word dié tema verbind met argetipiese handelinge en behoeftes wat eie is aan die mens as sodanig. Baie Middeleeuse verhale is eweneens geskoei op dié tema, soos byvoorbeeld Hartmann se Grogorius, Gottfried se Tristan und Isolde en Wolfram se bekende epiek Parzival.

Wolfram was ‘n minnesanger wat van 1170 tot 1220 geleef het en Parzival aan die begin van die dertiende eeu geskryf het. Benewens hierdie grootse gedig, het hy ook liriese poësie geskryf. Parzival is waarskynlik, met die uitsondering van Dante se Goddelike Komedie, die mees komplekse Middeleeuse gedig. Eenvoudig gestel wentel die sentrale problematiek van dié gedig rondom die vind van ‘n balans tussen wêreldse en ‘n spirituele waardes wat uiteindelik kan lei tot verligting (wat in die Boeddhistiese tradisie satori genoem word). Baie mense beskou dit ook as ‘n poging om harmonie te bewerkstellig tussen die Oosterse en die Westerse kulturele en spirituele tradisies. Wat seker is, is dat Parzival tussen tekste van sy tydgenote uitstaan weens sy omvangrykheid, sy kompleksiteit en sy tekstuele koherensie, asook weens die statige register waarin dit geskryf is.Die verhaal van Parzival verenig die ridderlike tradisie met die graal-tradisie. Die plot val gedeeltelik saam met die Arthur-verhale en die verhale van die Ronde Tafel. Die eintlike verhaal begin ‘n geslag voor die geboorte van Parzival, met die lotgevalle van sy vader Gahmuret en dié se reis na Bagdad en Afrika. Daar trou hy met die heidense koningin Belacane en verwek ‘n seun, Feirefiz. Met die verskoning dat huwelike tussen Christene en heidene ongeldig is, verlaat hy Belacane egter nog voor die geboorte van hulle seun en trou later met Herzeloyde, ‘n Spaanse koningin. Parzival is hulle seun. Gahmuret verlaat haar egter ook om te gaan oorlog voer, maar sterf in die stryd. Herzeloyde neem Parzival saam en gaan woon diep in ‘n verlate woud, omdat sy bang is dat hy haar ook ontneem sal word. Eendag sien hy egter die ridders van koning Arthur, dink hulle is hemelse wesens en dring by sy ma aan om hulle te volg. Hulle belowe om hom na die hof van koning Arthur te neem. Herzeloyde trek Parzival soos ‘n gek aan met die hoop dat hy deur almal wat hom sien, gespot sal word en na haar sal terugkeer. Daarbenewens het sy hom nooit vertel wie hy is nie, en ook nagelaat om hom enige iets van die wêreld daar buite vertel – met die hoop dat hy nie dieselfde ideale as sy vader sal najaag en te vroeg sal sterf nie. Kort na Parzival se vertrek, sterf sy van verdriet.

Intussen beleef Parzival die een bloedige avontuur na die ander, verslaan die ridder Ither en verneem wat sy ware identiteit is. Hy word deur Arthur tot ridder geslaan en vertrek om verdere avonture na te jaag en sy ridderlike pligte na te kom.

Tydens sy omswerwinge ontmoet hy Gurnemanz de Graharz by sy kasteel. Gurnemanz leer Parzival om die kruis te slaan en hoe om as Christen op te tree. Hy word ook onderrig in die fynere kunste van die ridderorde. Een van die belangrikste lesse wat Gurnemanz hom leer is: “im sult niht vil gefrâgen” (“Moenie te veel vrae vra nie!”) Nadat hy Gurnemanz verlaat het, word Parzival die redder van koningin Condwiramurs. Hy trou later met haar en word koning van haar koninkryk. Parzival se reislus laat hom egter nie toe om lank stil te sit nie, en gou is hy weer op pad.

Op ‘n dag bereik hy ‘n groot meer waar hy verskeie vissers by hulle skuit sien staan. Die sogenaamde “Visserkoning”, Anfortas, laat nooi hom na sy wonderbaarlike kasteel Munsalvaesche. Dit blyk dat Anfortas Herzeloyde se broer is. Die aand word daar ‘n luisterryke fees gehou, maar die ridders is almal bedroef en terneergedruk. Die rede blyk die siekte van koning Anfortas te wees. Voordat die ete bedien word, word die siek koning op ‘n draagbaar die saal ingedra. ‘n Hofknaap loop voor hom uit met ‘n swaard druppend van bloed. Agter hulle loop die koningin met die Graal – in hierdie verhaal is dit ‘n wondersteen (iets soos ‘n robyn) wat sowel kos en drank as die ewige lewe van dié wat in sy teenwoordigheid leef, verseker. Gedagtig aan die opdrag van Gurnemanz, vra Parzival egter nie vir Anfortas wat hom makeer nie – onbewus daarvan dat dié vraag die koning van sy siekte sou genees het en Parzival die opvolger van sy koninkryk sou maak. Parzival slaap onrustig. Toe hy die volgende oggend wakkerword, is hy alleen in die woud – die hele hofhouding het verdwyn. Slegs een dienskneg waak by Parzival en lees hom die leviete voor oor sy hartelose optrede teenoor die siek koning.

Parzival en die Graal

Parzival en die Graal

 

Parzival is buite homself van skaamte en hartseer. Hy neem hom voor om die res van sy lewe aan die soektog na die Graal te wy en om God, wat hom versaak het, se diens te verlaat. Weer eens volg talryke avonture wat vervleg is met die avonture van Arthur se Ridders van die Ronde Tafel – talle vroue word uit aanhouding gered, booswigte word verslaan en Parzival verwerf al hoe meer wêreldse aansien. Ongeveer vier en ‘n half jaar sedert hy uit die Graalskasteel uitgeskop is, treur Parzival steeds omdat hy koning Anfortas en die Graal nie kan opspoor nie. Op ‘n koue oggend in vroeg-Mei ontmoet hy ‘n stokou ridder, Gabenis, wat hom aanraai om die kluisenaar Trevrizent op te soek.

Hy vind die kluisenaar in sy grot en verwyl etlike weke daar. Trevrizent verwys na Plato, maar ook na die reinheid van Christus. Uiteindelik laat vaar Parzival sy verbittering teenoor God. Trevrizent vertel hom die antieke verhale oor die Graal en sy wonderbaarlike eienskappe. Hy vertel Parzival ook dat ‘n mens nie die Graal kan vind as jy nie geroepe is deur die Graal self nie. Parzival rep niks oor sy vorige ontmoeting in Munsalvaesche nie. Trevrizent vertel dat die Graal die hele gemeenskap wat daarmee in kontak is, onderhou en dat geen mens wat in die teenwoordigheid daarvan is, kan sterwe nie. Dit is die éintlike lot van Anfortas. Toe hy in sy jeug sy kasteel verlaat het om wêreldse plesier na te jaag, is hy deur ‘n Moslem met ‘n giftige pyl aan sy geslagsdele verwond. Omdat die pylpunt bly steek het, sweer dit aanhoudend. Die teenwoordigheid van die Graal verhoed hom egter om te sterf. Dit vertel Trevrizent vir Parzival en waarsku hom teen egosentrisme, want Anfortas se wond is die gevolg van sy beheptheid met liggaamlike liefde. ‘n Ridder moet genoeg selfbeheersing aan die dag lê om balans in alle aspekte van sy lewe te vind.

Later vra Trevrizent Parzival se identiteit, en wanneer hy verneem wie hy is, vertel hy hom dat sy moeder Herzeloyde haar doodgetreur het toe haar seun haar verlaat en nie teruggekeer het nie. Hy vertel hom ook dat daar jare gelede mistieke woorde op die Graal verskyn het wat die verlossing van die siek koning deur die simpatieke vraag van ‘n jong ridder geprofeteer het. Die ridder het wel gekom, maar het skandelik nagelaat om die siek man te vra wat makeer. Parzival besef dat hy in sy naïwiteit baie pyn en hartseer veroorsaak het en kwel hom geweldig daaroor.

Weer eens swerf Parzival wyd en syd, totdat hy jare later as ouer, wyser man ‘n tweede keer die kasteel van Anfortas bereik. Hierdie keer weet hy wat om te doen, en nadat hy die verlossende vraag gevra het, sterf Anfortas. Parzival, wat intussen sy belangstellings na binne en na spirituele doelwitte gewend het, word die nuwe Graalskoning.

 

Hierdie verhaal bevat ‘n groot verskeidenheid argetipiese temas en simbole en is byna onuitputlik in terme van literêre toepassingsmoontlikhede. Die afgelope jare het daar ook in die Afrikaanse poësie verskeie gedigte (en selfs digbundels) verskyn waarin die tema van pyn en siekte en die mens se omgang daarmee, belig word. Die verhaal van Anfortas is vir my een van die sterkste moontlike intertekste wanneer die tema van siekte en dood aangeraak word. Dit lewer sosiale kommentaar wat in ons tye steeds sinvol is, naamlik dat deernis en simpatie steeds, ten spyte van moderne kommunikasietegnologie, spirituele energieë genereer wat fisieke, geestelike en spirituele genesing kan bewerkstellig. Dié waarheid geld nog deur alle eeue, naamlik dat die eenvoudige vraag: “Hoe gaan dit?” ‘n mens wat in pyn, vrees en siekte verkeer, kan verlos deurdat dié persoon as medemens geag word en nié as pasiënt – dus as objek van mediese belangstelling – nie!

Die Anfortas-wond dui sterk op ‘n siekte van ons tyd, naamlik die verslawing aan “love” en gepaardgaande oppervlakkighede. Ironies genoeg, kan “love” niks en niemand gesond maak nie. “Ware liefde” – simpatie, deernis en meelewing met die mensdom as sodanig – is egter ‘n wondermiddel teen negatiwiteit en depressie wat dikwels voortspruit uit ‘n gebrek aan ware medemenslikheid en mens-tot-mens-kontak. In die moderne praktyk behels kontak egter nie altyd teenwoordig-wees nie. Ek lees in die Parzival-verhaal veral die storie van die moderne mens se gebrek aan luistervaardigheid en opregte bemoeienis met die medemens in nood. Geen selfoon, geen e-pos en geen twitter kan opregte belangstelling in mekaar se (geestelike en fisieke) gesondheid simuleer nie. Prestasie bepaal nie die vlak van ons menswees nie. Om mens te kan wees, moet ons leer om om te gee – en ja, dit kán aangeleer word, soos die epiek van Parzival tereg aantoon!

Ten slotte lees ek in Parzival egter ook die verhaal van wedersydse genesing. Soos die verhaal ontvou, val die klem in die hooffiguur se lewe al hoe meer op ‘n verkenning van die binne-ruimte. Die held vra al hoe meer: “Wie is ek?”, ten einde by die antwoord op die vraag: “Wie is God?” uit te kom. Die soeke na spirituele waardes word die éintlike doel van sy lewe, en wanneer hy ryp en wys genoeg is, word hy weer deur die Graal geroep. Hierdie keer maak dit nie meer saak wat die wêreld van hom dink nie, en hy beleef dat die vraag wat Anfortas uit sy leed bevry, ook vir hom tot seën word. Dit is dus inderdaad waar dat opregte deernis en omgee na beide kante toe werk. En dít kan ons as moderne mense wat ons geloof soms blindelings in die mediese wetenskap plaas, van hierdie oeroue verhaal (wat waarskynlik al millenniums lank in die volksmond bestaan) leer: dat menslike belangstelling, teenwoordigheid en simpatie hulle plek langs medikasie en wetenskaplike genesingsmetodes kan inneem. Die mediese wetenskap kon tot op datum nog niks uitvind wat die mens se rol in genesing kon vervang nie. En watter moderne medisyne maak ook die dokter wat dit toedien, gesond …?

 

 

 

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Marlies Taljard: Anfortas se Wond”

  1. Leon Retief :

    Marlies, alhoewel ek van jou verskil mbt die konsep van “spirituele energie” moet ek ongelukkig saamstem dat moderne medisyne besig is om al meer koud en meganisties te word. Pasiente bestaan ter wille van protokolle en nie andersom nie. Dit is oa die gevolg van die wurggreep wat administratiewe personeel, mense met MBA’s en dies meer, begin uitoefen. Dokters en verpleegpersoneel is natuurlik nie onskuldig nie, dis makliker om net nog ‘n ondersoek of twee aan te vra as om tyd met ‘n pasient te spandeer, te luister na sy/haar vrese en vertwyfelinge.
    Medisyne het ook emosioneel meer uitputtend geword as se maar 100 jaar gelede. Met die uitsondering van sommige chirurgiese ingrepe was daar nie veel wat dokters vir hul pasiente kon doen nie – dit was, om nou heeltemal te vereencvoudig, ‘n kwessie van diagnose en prognose en nie veel meer nie. Met die huidige terapeutiese armamentarium tot ons beskikking is die las op mediese personeel se skouers deesdae veel swaarder. Afsydigheid in plaas van engagement is net makliker.
    Jy mag dalk belangstel om te weet dat die tweede beweging van die komponis John Adams se werk “Harmonielehre” die titel dra van “The Anfortas Wound”.
    Laastens, sommer net uit nuuskierigheid, hoe het jy afgekom op ‘n artikel in Kanadese mediese joernaal?

  2. Leon, dankie dat jy so slim is om my titel onmiddellik op te spoor! Ja, Adams se tweede beweging verloop ongelooflik stadig en bereik uiteindelik ‘n skrikwekkend dissonante hoogtepunt, wat die voortdurende lyding van Anfortas suggereer. Die titel van sy werk, “Harmonielehre”, is natuurlik ontleen aan die bekende boek van Schönberg.
    Ek is op die oomblik besig met navorsing oor die raakpunte van siekte, die mediese wetenskap en die poësie – dis maar hoe ek op die Kanadese mediese tydskrif afgekom het. En dan het ek ook ‘n swaer wat ‘n bekende pediatriese chirurg is en een van die min dokters wat sy pasiëntjies in sy hande en in sy hart koester – hy gee my hoop vir die mediese wetenskap!

  3. Desmond Painter :

    Marlies, iets oor die soort kontak waaroor jy dit in jou bloginskrywing het, herinner my nou aan ‘n aanhaling wat ek toevallig net vanoggend nog op my Facebook profiel geplaas het: “The practical orders of life, while purporting to benefit man, serve in a profit economy to stunt human qualities, and the further they spread the more they sever everything tender. For tenderness between people is nothing other than awareness of the possibility of relations without purpose…” — Theodor Adorno. Die mediese verhouding kan natuurlik nooit heeltemal ‘n verhouding sonder “purpose” wees nie; en plekke soos hospitale kan nie finansiele oorwegings oorboord gooi nie, maar nogtans… wanneer die winsmotief alle ander motiewe en belange verplaas, sit mens met verontmenslikende gevolge. Dankie vir jou interessante blog!

  4. Dankie vir die besielende aanhaling, Desmond – wat kan ons wat klein is nog daartoe byvoeg …? Geniet jouo dag!

  5. Leon Retief :

    @Desmond: Ek het ondervinding van die mediese opset in drie lande in die opsig dat ek daar werk of gewerk het: SA (privaat sowel as staat), Engeland en Kanada, en ek dink ek het ‘n goeie idee van wat in die VSA aan die gang is. As mens nou die VSA buite rekening laat want dis nou weer ‘n perd van ander kleur daai, dan is dit nie Mammon wat in SA, Engeland en Kanada verantwoordelik is vir die toenemende onpersoonlikheid van mediese praktyk nie. Die redes hiervoor is veelvuldig en kan gevind word in die toenemende penetrasie van tegnologie – niks met tegnologie as sulks verkeerd nie, maar dit moet ‘n brug vorm tussen pasiënt en dokter en nie ‘n kloof nie.

    ‘n Groot deel van die blaam kan geplaas word voor die deur van die administratiewe opset waarbinne mediese personeel moet werk. Die NHS in Engeland is byvoorbeeld die grootste enkele werkgewer in daardie land en tot onlangs was daar ‘n daling in die aantal beddens terwyl die aantal administratiewe personeel steeds toegeneem het. In so ‘n monster word enige pasiënt noodwendig ‘n gesiglose nommer en niks anders nie. Terwyl enige mediese sisteem grotendeels in die hande is van mense wat self nog nooit die verantwoordelikheid vir pasiënte se gesondheid in hul eie hande gehad het nie sal hierdie toedrag van sake voortduur en sal mens gedemoraliseerde en gefrustreerde dokters en verpleegpersoneel kry soos wat ek in Engeland gesien het en soos wat ook in toenemende mate hier aan die gebeur is. Sulke mediese personeel lewer dalk uit ‘n tegniese oogpunt goeie sorg, maar menslike interaksie raak iewers langs die pad verlore.

    En dan (nie dat ek dokters van alle blaam onthef nie soos mens uit my vorige kommentaar kan sien) moet mens nie die bydrae van pasiënte self, hul familie en die heersende regsmediese situasie buite rekening laat nie. Opspraakwekkende en onakkurate beriggewing oor mediese aangeleenthede skep onrealistiese verwagtinge by mense wat niks van medisyne of hul eie liggame af weet nie. Ek meen, baie mense weet darem so ietsie van hoe ‘n kar se binnegoed werk, en meeste mense het wel ‘n kar, maar elkeen het ook ‘n liggaam en ek word steeds na meer as dertig jaar verbaas hoe min mense van hul eie liggame weet. Wanneer sulke mense wat nie die verskil ken tussen diarree en disdiakochokinese nie jou opstry oor hul behandeling (omdat die internet dit of dat sê – moenie die bydrae van die internet vergeet nie!) dan is dit natuurlik om gatvol te raak. Dit val my die afgelope tyd op dat baie van die mediese kongresse wat ek bywoon ‘n voordrag het oor “The Difficult Patient” – iets wat ‘n par jaar gelede onbekend was.

    Ek sien hierdie kommentaar word nou te lank. My bottom line is: alhoewel daar aspekte soos die tegnologie is wat ‘n rol speel in wat deesdae met medisyne aan die gang is, word die oorsake meestal gesoek buite die milieu waarin mediese personeel hul dagtaak moet verrig en waar hulle met pasiënte moet interreageer. Dis daar waar die oplossing tot ‘n groot mate gevind moet word, nie in die heersende ekonomiese situasie nie.

  6. Andries Bezuidenhout :

    Leon, dalk het ek al gevra, maar het jy Denys Arcand se “Barbarian Invasions” gesien?

  7. Leon Retief :

    Andries nee, ek het nog nooit eers daarvan gehoor nie – ongelukkig het ek baie min tyd vir fliek en behalwe vir die uitsendings vanuit die Metropolitan Opera wat ons soms hier te sien kry kan ek nie eers onthou wat die naam van die fliek is wat ons laas gesien het nie. Ek het dit darem gaan google en so min of meer die storielyn agtergekom, maar as jy bereid is om meer te vertel sal ek dit waardeer.

  8. Desmond Painter :

    Leon, dankie, interessante antwoord. Ek verskil nie; en ‘n analise, soos jy suggereer, sal ‘n bestudering van die hele milieu benodig, en nie gereduseer kan word tot ekonomie of winsmotief nie. Ek sou ‘n student wat so eendimensioneel soos ek hier bo hipoteses formuleer summier stuur om die navorsingsvoorstel oor te doen! Terloops, ek’s bietjie besig, maar ek SAL nog gaan protes aanteken teen jou uitbeelding van die Occupy Movements!! 🙂

    Jy moet jouself ‘n groot, groot guns doen en The Barbarian Invasions sien. Dit is ‘n briljante fliek. Selfde regiseur wat Jesus of Montreal gemaak het.

  9. Leon Retief :

    Desmond, ek besef al te goed dat mens nie in ‘n multidimensionele en goed beredeneerde antwoord kan gee in die bestek van ‘n antwoord op wat dalk ‘n goeie inskrywing op ‘n blog is nie en dit sou onredelik wees om so iets te verwag. Ding is net dat ek al ‘n geruime tyd bekommerd is oor die rigting wat medisyne nou besig is om in te slaan en daarom gevoel dat ek dalk ‘n bietjie perspektief kan gee met die dat ek een van diegene is wat in die soutmyne werksaam is.
    Ek sien uit na jou respons op my stuk oor die Occupy Movement, hou asseblief net in gedagte dat dit grotendeels te doen het met die situasie in Kanada en nie die VSA nie.

  10. Ek dink Barbarian Invasions skets ‘n skrikwekkend akkurate prentjie oor wat tans in die hele wêreld aan die gang is. Ek bekommer my toenemend oor my studente se miniskule verwysingsraamwerk (en word al hoe minder deur my jonger kollegas ondersteun en/of verstaan). Volgens my beskeie mening is ons dikwels self verantwoordelik vir die wyse waarop ons deur ander bestuur word: ons superspesialiseer sodanig dat ons van niks buite ons spesialisrigting kennis neem nie. Die letterkundige hou hom enkel en elleen besig met die letterkunde en waag hom nie op die terrein van die taalkunde nie. Die ginekoloog sal nie daarvan droom om iets vir griep voor te skryf nie (so lyk dit dikwels vir my). Op hierdie manier verloor ons kontak met die geheel – ‘n mens is mos immers meer as ‘n versameling organe wat almal apart gedokter kan word. En soos ons almal weet, is die sielkundige faktor wat die mens as eenheid en geheel sien, dikwels ‘n belangrike faktor in die herstelproses. Dit is in die aard van die menslike kondisie om ‘n behoefte aan simpatie te voel as ons siek is of pyn verduur. En dié konneksie tussen die orgaan wat siek is en die mens wat in sy geheel siek voel, gaan dikwels tussen al die administrasie en spesialisasie verlore. Ek bedoel: as jou arm gebreek is, voel dit mos nie vir jou asof dit darem goed gaan met die res van jou liggaam nie!
    Wat ek eintlik wil sê, is dat ‘n breë verwysingsraamwerk die mens in staat stel om meer holisties te dink en op te tree. Die dag toe universiteite (en skole!) besluit het om alle “oorbodige” modules uit hulle studierigtings uit te haal, was ‘n kwade dag vir die mensdom, want dit was die begin van spesialisasie ten koste van die groter, holistiese prentjie. Ek beleef toenemend dat mense jou begin etiketteer as jy die woord “holisties” gebruik … hulle verwag dat jy enige oomblik ‘n klomp kruie en boomwortels uit ‘n sak gaan pluk en dit fynkou vir jou verkoue …