Leon Retief. Die Occupy Movements

Met die dat Wysneus se opvattings oor die politieke ekonomie deur Desmond as “vreesaanjaend” bestempel is kan ek nie anders as om ʼn klip in die bos te gooi oor die “Occupy Movements” nie, deels omdat ek vermoed dat Wysneus grootliks met my gaan saamstem en dat Desmond (onder andere) gaan verskil. En dis beslis ʼn versoeking wat ek nie kan weerstaan nie.

Soos almal weet het die “Occupy” bewegings min of meer dwarsdeur die Weste versprei nadat dit in New York begin het. Gesien die aard van die Amerikaanse ekonomiese stelsel het die besetters daar beslis ʼn paar geldige punte beet en dat hul motiewe suiwer is betwyfel ek nie, maar helaas, hul greep op die werklikheid is maar swak en hulle mik beslis soms op die verkeerde teikens, alhoewel ek met hulle eens is oor die onverantwoordelike optrede van Amerikaanse banke. En nou moet ek byvoeg – was ek ʼn 20-jaar-oue student sou ek na alle waarskynlikheid ook iewers op ʼn plein of park gaan plak het, nie noodwendig omdat ek saamstem met die protesteerders se agenda nie, maar omdat ek ʼn gulde geleentheid sou sien om my slaapsak met ʼn mooi jong dingetjie te deel.

Die Amerikaanse occupy movement is die gevolg van ʼn sisteem waar baie mense (jong mense nogal!) ʼn diep en geregverdige kommer het oor hul toekoms, oor hul kanse om ooit weer ʼn voltydse werk te hê en of hulle ooit eendag met rus in hul harte sal kan aftree. Amerikaanse bankiers verdien deur middel van doodgewone swendelary reuse-bedrae geld terwyl die werkloosheidsyfer in die VSA die hoogste in dekades is. Als heeltemal geregverdige klagtes teen die huidige sisteem.

Terwyl baie van die besetters se klagtes oor die vrye mark soos dit in die VSA gesien word geregverdig is spreek dit nie tot sommige van die heel fundamentele gebreke in die Amerikaanse finansiële sisteem nie. Om net een voorbeeld te noem, korporatiewe belasting in die VSA is van die hoogste in die Westerse wêreld, voorts word Amerikaanse maatskappye ook belas op winste wat hulle buite die VSA maak. Na die beste van my wete is dit nie die geval in enige ander land nie. Dit beteken dat geen Amerikaanse maatskappy geld wat hulle buite die VSA verdien na Amerika kan bring sonder om ook daarop belas te word nie en die logiese gevolg hiervan is dat sulke maatskappye hul geld maar doodeenvoudig in die buiteland hou en daardeur werk verskaf aan mense in Indië, Mexiko of waar ook al en dat Amerikaners daardie werk kwyt is.

Als goed en wel, maar wat is die situasie in Kanada? Die Occupy movement het natuurlik ook hier posgevat. Toronto, Ottawa, Vancouver en Halifax se parke word tans beset deur protesteerders wat hul tente opgeslaan het, luidkeels hul misnoeë met die Kanadese ekonomiese opset te kenne gee en een of ander ongedefinieerde Utopia voorstaan wat op en of ander ewe ongedefinieerde wyse tot stand gebring moet word.

Als goed en wel, maar gesien die hemelsbreë verskille tussen Kanada en die VSA, het die Kanadese occupy movement hoegenaamd ʼn punt beet? Ek dink nie so nie. Trouens, ek dink die Kanadese occupy movement is plein en simpel… wel, simpel.

Om mee te begin. Kanada het nie ʼn “housing bubble” gehad soos wat in die VSA gesien is nie. Kanadese banke het nie hulp van die regering benodig nie en is in der waarheid tans van die sterkste banke ter wêreld. Werkloosheid in Kanada is al die afgelope twee jaar besig om te daal en is tans laer as byna enige tydperk sedert die 1960s. Wanneer mens na armoede in Kanada kyk is die situasie dieselfde – ten spyte van die feit dat die inkomsteperk waar iemand amptelik as arm beskou word die afgelope paar dekades voortdurend opwaarts aangepas is, word slegs ongeveer 10% van Kanadese huishoudings as arm beskou, die laagste syfer in byna veertig jaar. Die mediane inkomste het tussen 1993 en 2008 met 21% gestyg nadat vir inflasie aangepas is.

Saam met die verhoging in mediane inkomste het vanselfsprekend ook ʼn verhoging in lewenstandaard gekom. In 1980 het slegs 30% van Kanadese huishoudings ʼn skottelgoedwasser besit, vandag is die syfer ongeveer 60%, terwyl die eienaarskap van mikrogolfoonde toegeneem het van 10% tot meer as 90%, terwyl dieselfde tendens gesien kan word by alle ander elektroniese apparate soos grootskerm TV’s, selfone en wat ook al.

Die groot en groeiende gaping in inkomste tussen die boonste een persent van die bevolking, die sogenaamde superrykes, en gewone burgers, die 99% soos die occupiers hulself noem, is natuurlik vir hulle ʼn groot bron van ergenis. Byna elke keer wanneer daar televisiedekking van die protes is sien mens ʼn plakkaat wat die regte van die 99% bepleit.

Om in Kanada as lid van die een persent te kwalifiseer moet iemand meer as Kanadese $170 000 verdien het. Hierdie syfer is verkry by Statistics Canada en dateer uit 2007. Dit sluit weliswaar nie inkomste wat uit kapitaal winste verkry is in nie. Die vergelykbare syfer in die VSA is sowat $400 000.

In die VSA verdien die top een persent sowat 20% van al die inkomste in daardie land terwyl daardie groep in Kanada ongeveer 11% van alle inkomste in hul sakke steek. Dit is naastenby dieselfde persentasie as in 1945.

Hierdie groot gaping tussen die inkomstes van die top een persent en die ander 99% word gewoonlik met groot verontwaardiging aangehaal, so asof dit vanselfsprekend skandalig is dat sommige mense sulke groot bedrae geld verdien. Daar word egter baie selde gekyk na hoe hierdie mense hul geld verdien en wat hulle daarmee maak. Soos Paul Wells tereg opgemerk het, as die aandeelhouers van ʼn maatskappy besluit om die direkteure van die betrokke maatskappy ʼn stewige salaris te betaal dan is dit ʼn saak tussen die aandeelhouers en die direkteure en niemand anders nie – die salarisse van die direkteure kom per slot van rekening uit die aandeelhouers se sakke.

Voorts betaal die top een persent in die VSA sowat 38% van alle persoonlike inkomstebelasting, in Kanada nagenoeg 25%. As die bevolking volgens inkomste verdeel word in groepe van 20% sal mens vind dat die presentasie inkomste wat deur die boonste 20% verdien word gestyg het van 45% in die vyftigerjare van die vorige eeu tot ongeveer 52% tans. Dertig jaar gelede was die bruto inkomste van die boonste 20% naastenby 33 keer meer as dié van die onderste 20%, maar wanneer die effek van belasting nou in 2011 in ag geneem word dan is die verskil nie naastenby so groot nie en is die salaristjek van ʼn lid van die top 20% nege keer groter.

Wanneer mens hierdie top 20% se inkomste verder ontleed kom mens op ʼn interessante verskynsel af: die groei in inkomste het byna uitsluitlik in die boonste een persent van daardie 20% plaasgevind, oftewel, die onderste 19% se sny van die koek het min of meer konstant gebly. Die ekonoom Mike Veall het hierdie groepie mense verder bekyk en gevind dat die toename in inkomste meestal by die boonste 0,1% lê, oftewel diegene wat meer as nagenoeg $600 000 per jaar huis toe neem. En in daardie 0,1% is weer ʼn meer uitgelese groepie. Te wete die heel boonste 0,01% wat meer as $1 800 000 per jaar verdien. Oftewel, daar is in Kanada geen sprake van ʼn bevolking wat in twee groot groepe, naamlik die haves en die have-nots verdeel is nie – daar is bloot ʼn paar duisend besonder stinkryk mense wie se inkomste baie meer is as die ander 34 miljoen Kanadese, daardie groep hoi polloi wat 99,99% van die bevolking beslaan.

Wie is hierdie mense? Sonder twyfel is daar heelwat sakemanne en vroue (onder andere Arlene Dickinson, ʼn Suid-Afrikaans gebore bemarkingsdeskundige), maar daar is vanselfsprekend ook ʼn hele aantal sportsterre (veral yshokkiespelers) en natuurlik popsangers.

Dit is natuurlik nie net in die VSA en Kanada waar ʼn klein presentasie mense wegstap met ʼn oënskynlik buitensporige deel van die bevolking se totale inkomste nie – dieselfde situasie word gevind in baie lande met ander ekonomiese en politieke omgewings, selfs ook in Swede.

Iets wat wel anders is as ʼn aantal dekades gelede is dat mense wat hierdie hoë inkomstes het dit uit salarisse verdien. Veall se navorsing toon dat welgestelde Kanadese van sestig of sewentig jaar gelede die meeste van hul inkomste verkry het uit die besit van kapitaal terwyl meer as 70% van vandag se superrykes se inkomste uit salarisse afkomstig is.

Nog ʼn bevinding deur Veall toon dat Franssprekende Kanadese se salarisse nie so vinnig gestyg het as dié van hul Engelssprekende landgenote nie. Trouens, daar is ʼn wêreldwye tendens dat salarisse in lande waar Engels algemeen gepraat of verstaan word oor die algemeen hoër is as elders, waarskynlik omdat mense wat hierdie taal magtig is makliker tussen verskeie lande kan beweeg en oral werk kry. Wat dit eintlik beteken is dat daar strawwe kompetisie in die sakewêreld is vir die kundigste Engelssprekendes. Oftewel, meritokrasie. Is daar iets verkeerd wanneer die VSA die beste mense in verskeie vakgebiede lok – hetsy die natuurwetenskappe, ekonomie, die sakewêreld en ja, selfs die geesteswetenskappe?

Die volgende vraag wat natuurlik opduik is: wat kan mens daaromtrent doen, dit wil nou sê as mens van mening sou wees dat dit onaanvaarbaar is vir ʼn klein groepie mense om soveel geld te verdien. Moet die superrykes (en selfs die wat nie so superryk is nie maar wat nog in die boonste twintigste persentiel val) meer belasting betaal? Die occupiers in Kanada vind hierdie opsie natuurlik baie aantreklik. Maar teen hierdie tyd is die gevolge van ʼn buitensporige hoë belastingkoers al goed bekend. Die huidige marginale belastingkoers hier 44%, wat federale belasting, Provincial Sales Tax (PST) en General Sales Tax (GST insluit, alhoewel PST verskil van provinsie tot provinsie. Na my mening is dit omtrent so hoog as wat ʼn regering kan hef sonder om inisiatief te onderdruk. Die hoogste marginale koers was veertig jaar gelede twee keer hoër as tans en toe het die superrykes inderdaad minder belasting betaal as nou. Stephen Gordon het bereken dat ʼn 10% toename in die marginale belastingkoers op inkomste van meer as $500 000 hoogstens $4 biljoen aan die staatskas sal lewer en waarskynlik minder. Dit is in terme van die Kanadese begroting as geheel in baie klein bedrag.

Ek begryp steeds nie waarom soveel mense so ontsteld daaroor is dat ʼn klein aantal mense so baie geld maak nie. Mens het net nodig om sowat $70 000 te verdien om as een van die top 10% in Kanada gereken te word, en ek het geen twyfel nie dat baie van die joernaliste wat simpatiek staan teenoor die occupiers jaarliks soveel geld verdien nie, en ook dat heelwat van die protesteerders en beslis ook hulle ouers in daardie groep val.

Ek ontken nie dat daar baie ongelykhede in die Kanadese samelewing is nie, ook nie dat baie meer gedoen kan word om hierdie ongelykhede uit te wis nie. Maar die Kanadese occupiers se standpunte is doodeenvoudig nie gegrond op enige rasionele begrip van die harde werklikhede nie. Na my mening is hulle oningelig – en dan stel ek dit baie sag.

Baie van die informasie het ek verkry van artikels deur Paul Wells en Andrew Coyne, sowel as uit die webwerf van Statistics Canada.

 

You can talk about the pain and the struggle
You can discuss hard times or life in a nutshell
Or (a hunger) because Momma took the welfare (and bailed?)
Then you don’t know how it is.
They are fighting addiction while providing for four kids
The definition of a true man,
He never let the world get in the way of him being a dad
So tell me where have you been?
I’ll tell you right now,
Until you crawl under that bridge and huddle up against the wall
Take off them busted-ass shoes, feet riding the railroad
Then you don’t know what I been through or where I’ve been
Knowing that tomorrow I’ll be in the same place again
Dry my tears in the wind
You say you feel my pain
But you don’t even know what pain is.

© Louis Cameron Rodriguez

[‘n Transkripsie van ‘n gedig wat Rodriguez weergegee het tydens die Occupy OKC rally.]

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Leon Retief. Die Occupy Movements”

  1. Wysneus :

    Leon, geen fisikus of meta-fisikus was nodig om te voorspel hoe ek en Kameraad Desmond onderskeidelik hieroor sou voel nie. Ek kan ‘n boek skryf hieroor, maar ek sal die mensdom dit nie aandoen nie want dit sou skraal wees aan oorspronklikhede.

    Nietemin, ‘n paar opgesomde gedagtes:
    – Die protesteerders is reg oor publieke fundering van onmisbare banke. Dit privatiseer wins en sosialiseer verliese. Dit moedig banke aan om onmisbaar te word en te bly. Dit bevoordeel leviataanse besighede bo hul kleiner mededingers (besighede se grootste vrees is effektiewe kompetisie, want dit gee mag oor korporatiewe lewe en dood aan kliënte wat nie met bydrae aan die Party of voorkeuraandele omgekoop kan word nie).
    – Die protesterendes se oplossing is verkeerd. Hulle wil ook ‘n bailout hê. Maar ander mense se geld sal gou opraak.
    – Die proteste is fundamenteel (a) geweldadig en (b) immoreel.

    (a) Om te “occupy” inisiëer konflik deur fisiese ruimte ekslusief en onregmatig in te neem met die doel om geweldadige verskuiwing te ontlok of toegewings te verkry uit ander se vrees vir geweld.
    (b) Dit is immoreel (in die Joods-Christelike tradisie waarin ons deel) om te sê: Ons is baie en jy is min, staan opsy dat ons onsself kan help tot die vrugte van jou arbeid. Toegegee, as jou Jerusalem in Moskou gesetel is, is dit nie vir jou immoreel nie. Maar dis die kern van die stryd, is dit nie?
    – As sulks is die okkupaaiers afsate van die Franse rewolusie (gee ons meer!), terwyl die sge. Tea Party afstam van die Amerikaanse rewolusie (Los ons uit!). Ek verkies 235j plus se ongekende welvaart en vryheid bo tien jaar se bloed en chaos met Napoleon as uitroepteken. Desmond sal verskil but there’s no accounting for taste.
    – Politieke mag (wat die dromslaners najaag) is werklik ‘n zero-som spel — daar bly altyd ‘n 1% oor; ekonomiese aktiwieteit is nie.
    – Ten slotte beveel ek die volgende klaarklinkende verduiliking van hoe die 1% ons skade aan doen: http://www.nypost.com/p/news/opinion/opedcolumnists/why_we_must_lose_the_darn_percent_cfz8wKQQgEymfuZ58OImVO

  2. Leon Retief :

    Wysneus ja, ek is dit met jou eens oor banke in die VSA, maar met die dat my inskrywing meer oor die Kanadese besetters gehandel het dink ek dat hulle in daardie opsig geen punt beet het nie. Kanadese banke het nie dieselfde kriminele onverantwoordelike dinge aangevang as die Amerikaanse bankiers nie en sou ook nie die geleentheid gegee word om dit te doen nie. Maar die okkupaaiers soos jy hulle noem… ja kyk, daar is geen meer vokale verdediger van eiendomsreg as ‘n linkse antikapitalis wat iemand anders se eiendom beset nie: “Whose park? Our park!” is hul slagkreet, terwyl Zucotti Park soos jy seker weet privaat eiendom is…..

  3. Wysneus :

    Daar het jy my, Leon. Mens sou namens die Kanadese onvergenoegdes wou aanvoer dat hulle dit teen die globale stelsel van kapitalistiese uitbuiting het, maar in daardie gloob is hulle in die 1%. En, rotsgeribde eiendomsregvegter wat ek is, sal ek anderkant toe kyk as hulle iphones, ipods, en imacs geökkupeer word en na Afrika toe herverdeel word. Wys jou net hoe gevalle die wêreld is.