Melanie Grobler. Wue aan die Parfuumrivier

Wue aan die Parfuumrivier

 

ons drom saam onder die sambreel van ‘n banyanboom

toe neem ‘n gids ons na die soom van ‘n vervalle franse kolonie

saam stap ons deur digtheid van tyd, na die mark waar bome

 

regop teen die rug van die middag staan.  dis donker hier

‘n spinnekophaal tot by die sesde reël van die gedig

en die poort van porselein – anderkant die rivier ‘n sitadel

 

‘n toegeslikte fort en ‘n draketand. voëltjieroepers koer

om die digter se vervalle koloniale huis

sy berg van gebed en rysvelde lê anderkant die geroep

 

in die dagboek van huisarres hoor ons die mot se dreunsang

ook die neerslag van vlugtende voete oor die hangbrug

alles om ons heen vergaan en hoor ons weer hoe stil is die lig.

 

© Melanie Grobler. 2011

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Melanie Grobler. Wue aan die Parfuumrivier”

  1. Elizabeth Miller-Vermeulen :

    Hou van die atmosfeer wat jy in hierdie gedig skep en hoe die stilte amper sigbaar word.

  2. Melanie Grobler :

    baie dankie Elizabeth!