Vat vyf, Leon de Kock: Wenner van die SALA-toekenning vir vertaling

Leon, ten eerste: Veels geluk met die SALA-toekenning wat jy pas ontvang het vir Intimately Absent (2010: Protea Book House); gedigte van Cas Vos wat jy na Engels vertaal het. Hierdie prys is welverdiend en gee inderdaad ook erkenning aan die enorme bydrae wat jy as vertaler lewer om die Afrikaanse letterkunde aan ‘n groter publiek bekend te stel. Ook is dit nie die eerste prys wat jy met jou vertaalwerk inpalm nie. In welke mate verskil dié een vir jou van die vorige bekronings wat jy vir jou vertaalwerk ontvang het?

Hierdie prys is baie PC! Dit kom van die regering se kant af, en is polities baie inklusief, met ‘transparent’ prosesse van beoordeling ens. ens. Die geld kom ten minste deels van die departement Arts & Culture, and my, do they dish it out! R30,000! Goeie genugtig! Ek wou ‘n nuwe motorfiets koop, maar weereens – soos altyd – sal die geld gebruik word vir die opvoeding van my twee wonderbaarlik-slim en kreatiewe kinders, wat daarop aandring dat hulle op UK studeer!

Volgens die onderhoud wat vroeër met Cas Vos gevoer was, bestaan daar ‘n besonder affiniteit tussen jou as vertaler en sy gedigte. Wat in hierdie spesifieke digkuns is dit wat tot jou as vertaler spreek?

Omslag

Omslag

Cas en ek is baie anders: hy is ‘n mooi, sagte ou, en ek is ‘n harde bliksem. Maar hy verstaan. En hy gee nie om nie wanneer ek sy gedigte ‘n rowwe tekstuur gee nie. Ek maak sy beelde meer wrang. As ek sy liefdesverse vertaal, gooi ek so klein bietjies asyn by … en hy hou daarvan! Die man is vriendelik en oop. Hy is ‘n uitstekende medewerker. Ons twee se aanslag is fundamenteel anders. Dis hoekom ons so goed saamwerk. Hy laat my onthou hoe dit voel om ‘n goeie mens te wees! Hy is religieus. Ek is ‘n volstrekte ateïs. Hy glo in die liefde … Ons trek mekaar se werk skeef, en ons doen dit aspris. Ek en Cas het nou begin met ‘n boek-projek getiteld ONTROU / FAITHLESS, waarin ons mekaar se gedigte doelbewus ‘ontrou’ omdig/vertaal. Dit gaan interessant wees! Ons het reeds begin, maar my huidige vertaalwerk aan Ingrid Winterbach se Benederyk het dit op die waglys laat beland, waar dit borrel en kook, in afwagting …

Vir ‘n vertaler is daar sekerlik altyd bepaalde woorde (of frases) wat aan hom of haar ‘n besonderse gevoel van dankbare tevredenheid bied. Is daar spesifieke “vondse” van hierdie aard wat jy bereid is om met ons te deel?

Die grootste uitdaging vir my was Cas se rymende gedigte. Ek het besluit die Engelse omdigtings móét ook rym. Ek is dankbaar vir die ‘vondse’ wat uit hierdie proses gekom het. Ek wil twee voorbeelde gee. Die eerste gedig kom uit Intimately Absent, en die rymende Engelse omdigting bly vir my ‘n besondere mooi gedig:

 

Visit to the grave of Abelard and Heloise

at Père Lachaise, 12 June 2009

 

Sombre clouds mass as I sink to my knees,

tongue-tied, in this holy place.

Here, the dead are held in darkest sleep,

folded in shadows like lace.

 

In a remote corner

a tree holds up its shaky throne.

There lie Abelard and Heloise

cast for centuries in stone.

 

Their hands clasp intimate prayers –

candle-smoke in shades of grey.

On a bed of rock,

cradled in song, the lovers sway.

 

***

 

Besoek aan Abélard en Héloïse se graf

Père La Chaise, 12 Junie 2009

 

Onder vlae grys wolke kniel

ek tongstom op ‘n heilige plek

waar skadu’s se voue dooies

in hulle diep slaap bedek.

 

In ‘n verlate uithoek

waar ‘n boom wortelskiet

lê Abélard en Héloïse

eeuelank in klip gegiet.

 

Hul hande vou intiem –

‘n melodie van kerslig.

Op ‘n bed van klip

wieg geliefdes innig.

 

Die tweede voorbeeld kom uit Duskant die Donker / Before it Darkens. Om ryme te vertaal, moet ‘n mens vryelik interpreter, om sodoende groter ruimte vir verskillende woordklanke te maak; maar dan moet jy seker voel dat jou ‘interpretasies’ in die kol is. Kyk hieronder, eers na die Afrikaanse gedig, en dan na die rymwoorde in die Engelse weergawe. Kyk hoe die Engelse omdigting soms verder gaan as die Afrikaans, en ‘n soort poëtiese ‘interpretasie’ skep van die oorspronklike gedig:

 

See

 

In Cannes se inham lê rykmansbote, ‘n vloot gedwee

soos ligkastele, snoete raak weg in oksels van die see.

 

Jong lywe het hier verbygegaan, mekaar gesoen

dobberende borste, voete soos perlemoen.

 

Sy verkyk haar in Portofino aan die son se seine

en die akrobatiese vernuf van waaghalsige dolfyne.

 

Saans sink die son sonder takelwerk

maak wind op haar lyf onsigbaar ‘n merk.

 

Sy moet my in die oog hou

en my styf teen haar vashou

 

voor ek – van alles gestroop –

op die rotse loop.

 

***

 

Sea

 

Rich men’s yachts bob in the cove of Cannes, a fleet set free,

castles of light, their snouts in the armpits of the sea.

 

Young bodies pass by here, kisses unfurl,

breasts like buoys, feet like mother of pearl.

 

In Portofino, the dolphins’ reckless, acrobatic pluck,

the play of light, fill her with a sense of luck.

 

In the evening, as the sun sinks free of yachts’ tackle,

the wind marks her body, an invisible shackle.

 

She must keep me reined in,

hold me tight against her skin

 

before I – stripped to the bone –

wash up on the rocks, alone.

 

Jy is natuurlik self ‘n uiters bedrewe digter van drie digbundels: Bloodsong (1997: SnailPress), Gone to the edges (2006: Protea Book House) en Bodyhood (2010: Umuzi). Vind jy dat jou vertaalprojekte die skryf van eie verse inhibeer of dalk juis stimuleer?

Dit is baie maklik om te vergeet dat jy ‘n ‘digter’ is. Selfs om te sê, ‘ek is ‘n digter’, voel vir my nog steeds uiters verwaand. Ek sukkel om daardie woorde te uiter. Maar as jy gedigte vertaal, dan onthou jy dat gedigte skryf eerder ‘n werkwoord as ‘n naamwoord is. Dis ‘n lekker, speelse proses. That’s the whole point! So ja, dit stimuleer eerder as inhibeer. As ek ‘n paar van Cas se verse lees, dan wil ek sommer onmiddellik ‘n swartgallige, bitter gedig skryf! Maar ten spyte daarvan, bewonder ek die gees waarin hy sy verse skryf. Hy inspireer my! Ek is besig om nagraadse studente by vertaalprojekte te betrek, en veral studente in die kreatiewe skryfkuns. Mense besef nie hoeveel ‘n mens oor kreatiwiteit leer as jy vertaal nie. Dit is vir my, op die keper beskou, die grootste leermeester. Ek het by Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden (en nou, by Ingrid Winterbach) geleer hoe om fiksie te skryf, deur hulle werk te vertaal. Ek wil nagraadse studente op US (of waar ook al) oorreed om Van Wyk Louw en Eugene N. Marais en Mqhayi en Kunene en Delius en Butler en Breytenbach en Ruth Miller en Wopko Jensma en Adam Small en … en … en …  oor en weer, oor verskeie tale heen, te vertaal, om hulle dan so te laat leer hoe om te skryf. Om hulle so hulle talent te laat slyp in die tradisies van skryf in hierdie land – tradisies wat al hoe meer vergeet word ten gunste van post-dissiplinêre ‘diskoers’-tipe navorsing, wat besig is om die studie van letterkunde, die goed wat skrywers skryf, stelselmatig te ondermyn in ons akademiese ‘letterkunde’ departemente.

Robert Frost het by geleentheid gesê: “Poetry is what gets lost in translation.” Wat is jou mening omtrent hierdie ietwat uitdagende stelling? Hoe benader jy die vertaalproses?

 As dit waar is, dan is die dubbele verlies van vertaling ‘n groot fonds! Tradure, tradire! Lees Pieter Odendaal se knap artikel op LitNet Akademies oor ‘betekenaar vertaling’ (die klassieke tipe vertaling waarin jy die ‘signifiers’ self trou probeer vertaal), teenoor ‘betekende vertaling’ (die tipe wat Odendaal in Breyten se self-vertalings bespeur, waarin die losse ketting betekendes – signifieds – losgemaak word van die betekenaars, en die vertaling soos ‘n warrelwind nuwe, verrykte, wydlopend en ander ‘betekenis’ skep).

Maar lees ook my kommentaar op Odendaal se artikel (ook op LitNet Akademies) – hierdie losse vertaling kan maar net gebeur in spesifieke gevalle van groot vertroue (of ‘n spesifieke ooreenkoms) tussen vertaler en skrywer, of wanneer skrywers hulle eie werk vertaal, soos in BB se geval.

***

Nota: Meer inligting oor Leon de Kock se werksaamhede as akademikus, skrywer en vertaler kan op sy persoonlike webblad gevind word.

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Vat vyf, Leon de Kock: Wenner van die SALA-toekenning vir vertaling”

  1. Rene Bohnen :

    Baie geluk Leon!

  2. Barend Vos :

    Hierdie blad is altyd ‘n vreugde; die (te kort!) onderhoud met Leon de Kock insgelyks. Maar ai, kan iemand dan nie ‘n woordeboek nader trek vir die korrekte spelling van “vonds(e)” nie! Of is digters en vertalers en woordmense oor die algemeen só gepla deur die gebrek aan fondse dat hulle dit oral indruk? Is dit dus ook hier ‘n freudiaanse glips?
    Groetnis

  3. Louis :

    Hemel, Barend! Hierdie is ‘n grusame flater wat my in alle skakerings van pers laat bloos … Jammer daaroor. En ek stel dit summier reg.
    Ook – dankie vir die vriendelike woorde.
    Louis

  4. maria :

    Wonderlike artikel – wonderlike insigte – vertaling in hierdie land behoort ‘n mal besige bedryf te wees – Leon se idees met sy studente klink absoluut wonderlik! Partykeer kan ‘n PC-aksie ook raak ‘vertaal’ lyk dit my – met taal (en letters) is enige iets mos moontlik!