Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Desmond Painter)

 

Kopskuif is ʼn inisiatief waarvolgens ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies wil fokus deur ʼn stel vrae aan spesifieke kommentators te stuur vir hul insette. As eerste “kopskuif” het ons gedink om op die belangrike kwessie van openbare diskoers te fokus aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ʼn verdagmakery as wat daar konstruktief oor ʼn bepaalde aangeleentheid besin word.

As volgende bydrae plaas ons Desmond Painter (foto) se reaksie.

***

Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent, Desmond?

Hierdie is nie ʼn maklike vraag nie. Suid-Afrika het verskillende openbare domeine (‘publics’) wat naas mekaar bestaan, en mens kan nie sonder meer veralgemeen oor die vlak en produktiwiteit van diskoers in hierdie verskillende domeine nie. Dinge gaan soms beter in een domein as in ʼn ander – die openbare diskoers mag dalk meer gesond wees in die politieke as in die letterkundige domein; meer gesond in Afrikaans as in Engels; of wat die geval ook al mag wees.

Openbare diskoerse is ook seisoenaal, as ek dit so kan stel: elke nou en dan kristaliseer daar uit die chaos van menings en verbygaande skermutselinge wat die media-industrie aan die gang hou ʼn outentieke, belangrike gesprek. In Suid-Afrika is hierdie soort gesprekke nie skaarser as elders nie, en daar word dikwels vreesloos en indringend gepraat oor dinge waaroor daar in baie ander lande eerder maar geswyg word. Besoekende buitelandse kollegas is dikwels verbaas oor die openhartige en selfs ironiese wyse waarop ons, ten spyte van al die bagasie, slaggate en bymotiewe, dit tog soms regkry om oor dinge soos ras en rassisme te praat.

Wat die ‘vlak’ van openbare diskoers betref: die fenomenale uitbreiding van aanlyn-interaktiwiteit (blogs soos hierdie, waar mense direk kan deelneem aan gesprek; elektroniese uitgawes van koerante, waar lesers onbelemmerd kommentaar kan lewer op nuusberigte; geselsprogramme op TV, waar menings wat per SMS gestuur is deurgaans aan die onderkant van die skerm verbyrol; inbelprogramme op radio, ens.) skep soms die illusie van ‘openbare debat’, wanneer dit eintlik maar net die eensydige uitblaker van ‘opinies’ is. Dit mag dus lyk na ʼn vervlakking en banalisering van die openbare diskoers, maar ʼn mens moet jou ook nie hieraan blind staar nie. Interaktiewe forums skep nie net geraas nie, dit verryk ook die openbare diskoers op baie maniere: meer outonome ruimtes, meer stemme, meer ruimte om ʼn gesprek verby die blote daarstel van opinies te voer…

Verwysings na die ‘lae vlak’ van openbare diskoers of spesifieke debatte (oor taal of oor kapitalisme, byvoorbeeld) kan ook die doel dien om moeilike gesprekke te probeer demp en ongewilde menings te diskrediteer. Daar word soms uit die perspektief van ʼn soort liberale verontwaardiging geoordeel oor diegene wat dit durf om standaard-standpunte (dikwels maar veilige middelklas-menings ingekleur as onaanvegbare sekerhede) vanuit ‘reaksionêre’ of ‘onrealistiese’ posisies te bevraagteken. ʼn Mens moet dus ook maar oplet deur wie, onder watter omstandighede en vir watter retoriese doeleindes die ‘vlak’ van diskoers of debat bevraagteken word.

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

Weereens, ek dink dit hang af van die bepaalde konteks of diskoersdomein. ʼn Regeringsamptenaar wat deur ʼn wit joernalis aangevat word oor korrupsie mag die kwessie dalk verpersoonlik deur die joernalis ʼn rassis te noem – of, as dit ʼn swart joernalis is, haar ‘outentieke swartheid’ of politieke lojaliteit aan die ‘revolusie’ te bevraagteken. Ons ken daardie strategieë; dit is voorspelbaar en al hoe minder steur hulle daaraan. Seker die dat die regering hulle geheime nou wetlik wil beskerm!

In die Afrikaanse letterkunde word meningsverskille ook soms ‘persoonlik’, selfs venynig. Hier geld ander redes: spesifieke persoonlikhede, gevestigde belange, oorvleuelende rolle (beide skrywer en resensent), die feit dat die gemeenskap klein is (amper almal ken mekaar op ʼn manier) maar terselfdertyd ook oorbevolk (min forums, klein mark, slegs enkele uitgewers, 98% woon in een land en waarskynlik 80% in slegs twee of drie stede, ens.).

En dan is daar ook ʼn mark in Afrikaans vir ʼn goeie twisgesprek: ek kan nie dink dat ʼn Engelse koerant soveel ruimte sou afstaan aan ʼn relletjie tussen twee plaaslike Engelse skrywers as wat Die Burger byvoorbeeld afgestaan het aan die oor-en-weer tussen Kannemeyer en Van Coller nie. Ek kla nie: dis nie asof hierdie soort goed geen vermaaklikheidswaarde het nie! ʼn Mens kan in die proses selfs iets leer…

Soms, soos die vraag impliseer, word produktiewe gesprek wel in die wiele gery wanneer ego’s en persoonlike vetes die oorhand kry. Maar iets anders gebeur ook soms. Ons skram soms te maklik weg van potensieel interessante literêr-teoretiese (of ‘kunsbeskoulike’) gesprekke bloot omdat dit ‘persoonlik’ opgeneem kan word – iets wat nie die geval sou gewees het as die Afrikaanse gemeenskap, en die boekwêreld, nie so ʼn klein en intieme ruimte was nie. Omdat ons mekaar ken, en met mekaar moet saamwerk, is dit moeilik om sekere soorte kritiek en bedenkinge in die openbaar uit te spreek. In privaat gesprekke hoor ʼn mens soms wonderlike alternatiewe oordele oor onlangse boeke of hele oeuvres, maar min van hierdie robuuste kritiek vind neerslag in resensies en analises. Dit is jammer!

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

Eerlikheid, integriteit, respek vir die opponent (of ten minste vir die onderwerp onder bespreking), geregverdigde woede (soms), humor (altyd), die moed van jou oortuiging, die bereidwilligheid om ʼn goeie punt toe te gee. Ons moet, in die letterkunde sowel as in die politiek, ook ontslae raak van ons verknogtheid aan ʼn konsensus model van diskoers. Die doel van debat hoef nie konsensus te wees nie, en diegene wat konsensus onmoontlik maak hoef nie gemoraliseer, gesensureer, of gepolisieer te word nie. Wanneer ek met ʼn opponent argumenteer, doen ek dit dikwels om die aard van die verskil tussen ons beter te artikuleer en te begryp, nie om tot ʼn vergelyk te kom nie. Daar’s ʼn soort wedersydse respek hierin: die gesprek het nie die uitwis van verskille as oogmerk nie, maar die kreatiewe, produktiewe omgaan daarmee. Die stelling “Let’s agree to disagree” moet die gesprek voorafgaan, nie beëindig nie!

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

Daar’s heelwat. Die Boetman-debat. Die debat oor homoseksualiteit en die kerk. Die debat laasjaar oor resensieruimte in die Afrikaanse koerante. Enige debat, eintlik, wat nuwe idees, nuwe subjektiwiteite, nuwe beweegruimtes, nuwe wegkruipplekke, en nuwe beginpunte moontlik maak.

 

  • – Desmond Painter

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Desmond Painter)”

  1. Melanie Grobler :

    Baie dankie!