Carina van der Walt. Nasr reageer: Mauro moet terug! Of nie? (09-11-11)

 Foto: Koel van Weel / EPA

 Aflewering 4           

In die laaste week van Oktober 2011 het die bom rondom die asielaansoek van die jonge Mauro Manuel (18) uit Angola gebars. Op 10-jarige leeftyd het hy alleen en verskrik van die vliegtuig op Schiphol af gestap in die arms van sy liefdevolle pleegouers. Sedertdien het hy sonder ‘n verblyfsvergunning volledig aangepas. Hy praat goed Nederlands, speel sokker, volg ‘n ITC-opleiding en is geen moeilikheidmaker nie.

Maar omdat Mauro nou volwasse is, moes hy volgens die maatstawwe van die Nederlandse politiek teruggaan Angola toe. Hy kry geen verblyfsvergunning nie. Minister Gert Leers van die Christen-Democratisch Appèl (CDA) moes verantwoordelikheid vir hierdie besluit neem. Naasteliefde, as deel van Christen-wees, ontbreek. Dit maak die publiek kwaad, want dis ook algemene kennis dat die bevolking vergrys en dat Nederland jongmense nodig het. Eintlik is die CDA deel van ‘n minderheidsregering en magteloos in die wurggreep van die PVV van Geert Wilders. Wilders is anti-immigrant. Hy is die stert wat tans die politieke hond in Nederland swaai.

Tussen 26 Oktober en 3 November het daar meer as tweehonderd koerantartikels in die Nederlandse pers hieroor verskyn, waarvan ‘n kwart opiniestukke was. Minstens drie groot besprekingsprogramme op televisie het Mauro uitgenooi om sy saak te kom stel. Mauro the Musical speel op die verhoë. Die regeringsbesluit was lekker materiaal vir al wat spotprenttekenaar is. Die internasionale pers by monde van die Die Welt, die BBC, die Irish Times en die Amerikaanse tydskrif Forbes het die Nederlandse regering vir hulle besluit uitgehaal. Hieroor skryf Abigail Esman van Forbes:

“Niet zo lang geleden kwamen Duitse Joden naar dit land om aan de Holocaust te ontsnappen. Velen waren jonge kinderen die alleen in Nederland aankwamen. Hadden jullie hen ook teruggestuurd, wanneer ze achttien waren geworden? Hebben jullie helemaal niets geleerd?” (NRC-Handelsblad, 2 Nov.)

Daarteenoor verskyn ‘n berig in die pers wat Nederland aantoon as die derde beste land ter wêreld om in te woon. Die maatstawwe van die United Nations Development Programme (UNDP) was inkomste, gesondheid en lewensverwagting. Die UNDP stel duursaamheid in die menslike lewensstyl as ‘n belangrike prioriteit, maar dit is iets wat die huidige politiek in Nederland net vir hulle eie burgers wil afskerm. Die aantal kinders in Nederland wat met dieselfde probleem as Mauro worstel, word tussen 75 en 1500 geskat. Wat is dit nou in vergelyking met ‘n totale bevolking van sestien en ‘n half miljoen?

Op die vooraand van Oujaar 2011 het Mauro ‘n studievisum gekry. Hy kan nog ‘n jaar bly. As hy verder studeer, geld dit miskien vir nog ‘n jaar of wat meer.

Nasr het so daarop gereageer met:

 

Wiegelied

 

slaap sag my land

vannag gaan ek nie weg nie

 

die hoeke van jou drome

sal ek kraak vir ons twee

 

my tongval moddersag

haak hom klaar vas, daar

 

sal ek wag, daar net

as jy vas slaap jou opsoek

 

skuilhou saam fluister

sokker speel ure aaneen

 

en dan pap en vleis met sous

hierdie nag steel ons tyd

 

sal ons slaap, tuis

soos vroeër sonder skaam kry

 

bly ons jonk, bly

asemhaal nie weggaan nie

 

geen wakker word nie

ek en my eensame land

 

gaan roerloos vaar

byna onbeman, dus slaap

 

met mag en mening slaap soet

in my, net die nag

 

bied genoeg plek

vir ons vrye swartgat

 

© vert. Carina vd Walt

 

Hieronder die skakel na Nasr se webwerf toe en waarheen die nuuskierige vertaler kan deurkliek om my Afrikaanse weergawe met die oorspronklike Nederlandse weergawe te vergelyk. 

http://www.ramseynasr.nl/web/Dichter-des-Vaderlands.htm

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Carina van der Walt. Nasr reageer: Mauro moet terug! Of nie? (09-11-11)”

  1. McAlester :

    Geagte Carina

    Heel duidelik vind jy die gebeure rondom Mauro, hoogs onrusbarend. Hiermee by implikasie is niks fout nie en is daarvolgens prysenswaardig. Die natuurlike verpligting van menslike welwillendheid is veronderstel om ‘n instinktiewe en inherente impuls vir die hele mensdom te wees. Dit is presies hierdie gees van universele ontferming wat ek nie by jou sien, ontbreek nie.

    Desondanks hierdie goeie gebare is daar tog die dubbelsinnige, of dalk naïewe, vertolking van dit wat jy in alle erns aan ons probeer stel. Die passievolle pleidooi wat jy voorlê is, vir my, totaal verduister en oorheers deur die induktiewe ondertoon deurgaans jou beredenering vanuit ‘n persoonlike politiese oortuiging.

    In kort: Laat ons nie aanhou om in die slaggat te trap waarby ons onrealistiese propagandistiese veralgemenings maak, deur telkens so halsoorkop na die onderliggende uitsondering te wil verwys nie. Die verarmde en verkragte individue, vanaf ontwikkelende lande, verdien baie meer as die ou paternalistiese gedenktekens van afgevallene Westerse ideologie, wat tans maar net deur verskeie politiese agendas gedryf word.

    Groete

  2. Carina :

    Beste McAlester,

    Ek het geen “persoonlike politiese oortuiging” gehad by die skryf van hierdie stuk nie. Ek gee bloot weer wat in die Nederlandse samelewing gebeur. Jou klag van “halsoorkop” is ook nie korrek nie, want Mauro se eerste asielaansoek is al in 2007 afgekeur. As ‘n welvarende samelewing hom nie steur aan sy “onderliggende uitsondering” nie, is hy behoorlk siek. Dit is dus hier nie die geval nie. Om maar een voorbeeld te noem: op 20 Des. is 32000 handtekeninge in ‘n petisie versamel om jong buitelanders soos Mauro in Nederland te hou. As jy met “passievolle pleidooi” die gedig bedoel, dis ‘n vertaling van die Vaderlandsdigter (Ramsey Nasr) se gedig Wiegielied.

    Met vriendelike groete.

  3. McAlester :

    Dankie Carina,

    Ek wil, voor ek begin, uitwys dat ek opreg jou ontroering aangaande hierdie saak raaksien, en wil dit hoegenaamd nie ontmoedig of goedkoop maak nie. Nietemin, ek is jammer om aan jou te stel dat, volgens my, jou hoë opinie in jou waterdigte objektiwiteit jou ongelukkig so stuk-stuk in die steek laat. Let wel, dit is nie ‘n negatiewe opmerking nie, maar net die onverbloemde feite van mensheid. Ons almal bring tog iets “persoonlik” na die tafel. Nie waar nie?

    In die konteks van bogenoemde, wil ek weer beklemtoon dat, volgens my, ons almal ‘n daadwerklike verpligting het om met medelydende altruïsme die kwesbares van die mensdom te ondersteun en bekragtig. Tog, ek is goed bewus hoe ‘n aktivistiese poging die simboliek, te vinde in die voorwerp van ‘n relatiewe minderheid, gebruik om veralgemenings te maak; soos, die beskuldiging dat die meerderheid van Nederlanders kwansuis ‘n sonde teen die mensdom pleeg deurdat hulle, volgens jou artikel, alle “duursaamheid in menslike lewensstyl” vir hulleself wil hou. Hierdie standpunt is mos onvermydelik gesuggereer met jou eie politiese interpretasie?

    In ander woorde Carina, die individualistiese en persoonlike saak van 75 tot 1500 asielsoekers is ongetwyfeld hartseer en tragies, maar dit gee jou nie die vrystelling om die demokratiese reg (in die konteks van jou veralgemeende aanklag) van sestien en ‘n half miljoen Nederlanders te verontreg of ontken nie – So gepraat van die stert wat die hond probeer swaai.

    Die laaste eeu het onverpoosde eksponensiële groei in die wêreldpopulasie voortgebring, wat in beurt onweerlegbare ekonomiese, sosiale en verskeie ander vorme van etiese druk, oftewel uitdagings, op die internasionale gemeenskappe geplaas het. Dit is ‘n onderwerp wat veels te wyd is om hier te bespreek, maar dit is ook die einste onderwerp waarop jy, wetend of onwetend, uitlatings gemaak het; en dus nie net op die blote individuele saak van arme Mauro nie. Die gevaar is immers (met geen verwysing na jouself) dat moontlike naïewe skrywers nie die poppekas van geopolities opvoerings verstaan nie, en maar net soos onskuldige marionette saamspeel.

    Laastens, dankie vir die omskrywing van die gedig: Wiegelied, maar ek kan jou verseker dat dit nog nie deel van my bespreking was nie.

    Ek hoop en glo dat bogenoemde verduideliking sin sal maak.

    My beste wense en alle sterkte met jou welsynswerk.
    McAlester