Danie Marais. Tjorts!

Tjorts!

 

Die wêreld is alles
wat die geval is
het Wittgenstein gesê
maar ek en die gevalle alles
het mekaar verkeerd opgevryf jare lank
het ek my swart hart
kinderlik soos ‘n vuis
vir revolusie gebal my tande
vir ‘n ander wêreld
geslyp.

 

Maar op hierdie uitgewasde somerdag
met die stad wat soos opdrifsels
teen ‘n Tafelberg vol littekens lê loop
my beker oor drink ek
van ‘n dakkamer in Woodstock
op Het van Verlangekraal
en alles wat geval het.
Want o, hierdie bedroë wêreld met sy kleinlike oorloë
liefdesverklarings Klopsekore en skelm pastore
ís my vervalle woning
hierdie stukkende lewe met sy
Verspeelde lente sy Rain Dogs en daai honde wat blaf
by die hekke van paradise, ja, net hierdie lewe
met sy Madame Bovary’s horries bergies
en botteltjies blou gee ons
‘n perverse meesterstuk
ons daaglikse brood –
die groot onheilige mis voor
die son.

 

© Danie Marais, 2012

(‘n Vertaling van die gedig in Engels deur die digter kan hier gelees word.

Die gedig, wat as aanknopingspunt gebruik word vir kunstenaars,  sal ook voorgelees word deur Marais in beide tale by ‘n kunsuitstalling van 16  Januarie tot 10 Februarie 2012 by die Visual Arts Gallery in Kaapstad).

Bookmark and Share

Comments are closed.