Andries Bezuidenhout. Die skuifelende kerke van Cradock

Oosgrens, het hulle dit genoem. Die Oos-Kaap ís frontier country. Dis ook deksels mooi. Hier was nie verniet ʼn hele aantal oorloë oor waar die grens moes lê nie. My voorsate, daardie skarminkels van die Slagtersnekrebellie, se grafte lê juis net anderkant Cookhouse, of Kookhuis, soos sommige mense dit noem. Na die oorlewende Bezuidenhouts uit die distrik verban is, het Thomas Pringle se mense hulle plaas gekry. Soms wonder ek of daai oorloë al verby is. Meer as die helfte van die 1980s se necklaceteregstellings het in die Oos-Kaap voorgekom. Op van die plaaspaaie is deesdae toegangsbeheer met sekuriteitskameras en dubbelhekke. Dis die vreemde kombinasie van indrukwekkende kerkgeboue en ʼn geweldadige geskiedenis wat jou oor hierdie dinge laat wonder, veral as jy vir ʼn paar dae in ʼn dorp soos Cradock vertoef.

Andries Stockenström, die einste een wat die Bezuidenhouts tot orde moes roep, het in 1812 ʼn fort hier opgerig om ʼn hof – ʼn drosdy – op die been te kan bring. In vandag se taal was dit dalk eerder ʼn afdelingshof, of ʼn streekshof. In 1814 is die dorp geproklameer en vernoem na Sir John Cradock, die destydse goewerneur van die Kaapkolonie. In die meer onlangse geskiedenis is Cradock bekend, of dalk eerder berug, vir die “Cradock Vier” – Fort Calata, Matthew Goniwe (in die foto hier bo), Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto – wat op 27 Junie 1985 deur die destydse Veiligheidspolisie vermoor is; of, in die woorde van die opdrag van Brigadier Joffel van der Westhuizen, wat “permanent uit die samelewing, as ʼn saak van dringendheid, verwyder” is. Aan die vier liggame is meer as vyftig meswonde toegedien, hulle is geskiet en is toe saam met die motor, waarin hulle van die pad af gedwing is, aan die brand gesteek. Vandag kan ʼn mens die vier aktiviste se grafte, ʼn gedenktuin en ʼn galery wat aan hulle toegewy is by die plaaslike museum besoek.

Matthew Goniwe was ʼn onderwyser wat aan Fort Hare studeer het. Weens sy aktivisme in Cradock is hy Graaff-Reinet toe oorgeplaas. Hy het die oorplasing van die hand gewys en is tronk toe gestuur – Polsmoor toe. Met sy vrylating was Goniwe werkloos. Hy het voltyds vir die United Democratic Front (UDF) begin werk en baie vinnig daarin geslaag om UDF-strukture in bykans elke klein dorpie in die Oos-Kaap te stig. Dit het die outoriteite nog meer ontstel as sy politieke aktiwiteite as onderwyser. Sy einde was tragies – ʼn ware Suid-Afrikaanse verhaal uit die 1980s.

Die storie van die Cradock Vier Galery by die plaaslike museum behels ook ʼn onderwyser wat ʼn oorplasing geweier het. Ek en Irma het hom ʼn paar jaar gelede by die museum ontmoet, maar kan hom nou nie meer opspoor nie. Hy kom uit heel ander omstandighede as Goniwe. Hy was die liggaamsopvoeding onderwyser by ʼn plaaslike “wit” skool, asook die rugbyafrigter. As deel van besnoeiings in onderwys in die 1990s is sy pos oortollig verklaar. Hy is ʼn verplasing elders heen aangebied, maar wou Cradock nie verlaat nie. As alternatief is ʼn betrekking by die plaaslike museum aan hom beskikbaar gestel, waar hy begin het om op te lees oor die geskiedenis van die dorp. Die gevolg hiervan, asook moeilike onderhandelinge met familielede en owerhede, is die Cradock Vier Galery in ʼn nuwe gebou langs die bestaande museum wat oor die Trekboere se geskiedenis in die streek handel.

Cradock is Toast Coetzer se dorp, maar die toerismeborde noem ongelukkig nie hierdie feit nie. Die Cradock Vier, Oliver Schreiner en die kerkgebou in die middel van die dorp word egter duidelik as toerismebesienswaardighede bemark. Die Cradock Vier het ek nou al genoem. Naby die dorp, op die plaas Buffelskop, is Oliver Schreiner se graf. Sy het in haar jeug, van 1868 tot 1870, op die dorp gebly. Dan is daar die Nederduitse Gereformeerde Moederkerk, waarvan die ontwerp op die “St Martin-in-the-fields” kerk in Londen gebaseer is. Dis op die perseel opgerig waar die ou kerk – die Kruiskerk, in 1823 gebou – eens gestaan het. President Paul Kruger is in 1826 in die Kruiskerk gedoop. Die museum met die Cradock Vier Galery is in die Kruiskerk se ou pastorie. Ek moet byvoeg dat die gebou wat in die Kruiskerk se plek opgerig is se dak deur Britse troepe as ʼn uitkykpunt tydens die Anglo-Boereoorlog gebruik is. Kerke is selde verhewe bo oorlog en geweld. Soms is hulle die oorsaak daarvan. In hierdie geval was die een se doop die ander se kraaines.

NG Moederkerk, Cradock, 1866

NG Moederkerk, Cradock, 1866

Moederkerk, oggendson

Moederkerk, oggendson

Moederkerk, vooraansig detail

Moederkerk, vooraansig detail

Moederkerk, syaansig

Moederkerk, syaansig

Moederkerk, syaansig detail

Moederkerk, syaansig detail

Vandag staan die NG Kerk van 1866 steeds as die mees prominente baken in Cradock. Dalk sê dit iets oor die aspirasies van die destydse gemeente – ʼn tipe imperiale, Britse respektabelheid? So van Britse respektabelheid gepraat; Cradock se kerke het my weer aan Philip Larkin se gedig “Church Going” laat dink:

Once I am sure there’s nothing going on
I step inside, letting the door thud shut.
Another church: matting, seats, and stone,
And little books; sprawlings of flowers, cut
For Sunday, brownish now; some brass and stuff
Up at the holy end; the small neat organ;
And a tense, musty, unignorable silence,
Brewed God knows how long. Hatless, I take off
My cycle-clips in awkward reverence.

Cradock se Engelse inwoners het minder oordadige kerke as die Afrikaners opgerig. In Breëstraat, die dorp se oudste straat, staan die oorspronklike Anglikaanse – en Metodiste kerkgeboue vandag nog. In beide gevalle is nuwer kerke op dieselfde perseel as die oorspronklike kerke opgerig. Die eerste Anglikaanse kapel, die een met die pragtige klipwerk, is in 1869 opgerig, die nuwer een in 1893. Die Metodiste se oorspronklike gebou is in 1849 gebou en die latere een (van klip) in 1870. Miskien het die Metodiste gevoel die Anglikane se klipkerk is mooier as hulle s’n; daarom die bou van hul tweede kerk skaars ʼn jaar na die oprigting van die Anglikaanse kapel. Keeping up with the Anglicans? (Miskien het ek dit verkeerd. Volgens een van die inligtingsbrosjures in die gastehuis kom die Anglikaanse klipkerk uit 1858. Ek vertrou egter eerder hoekstene vir datums as gefotokopieerde inligtingsbrosjures.) Ek sukkel om goeie kameraskote van die Metodistekerke te kry. Dis regtig jammer hulle so ʼn lelike staalheining om hul twee kerke laat plant. Deesdae is selfs kerkgangers bang vir misdaad en vele kerkgeboue word deur sekuriteitsmaatreëls ontsier. Weer Larkin:

Move forward, run my hand around the font.
From where I stand, the roof looks almost new –
Cleaned, or restored? Someone would know: I don’t.
Mounting the lectern, I peruse a few
Hectoring large-scale verses, and pronounce
‘Here endeth’ much more loudly than I’d meant.
The echoes snigger briefly. Back at the door
I sign the book, donate an Irish sixpence,
Reflect the place was not worth stopping for.

Cradock Anglikaanse kerk, 1869

Cradock Anglikaanse kerk, 1869

Cradock Anglikaanse kerk, 1893

Cradock Anglikaanse kerk, 1893

Cradock Metodistekerk, 1849

Cradock Metodistekerk, 1849

Cradock Metodistekerk, 1870

Cradock Metodistekerk, 1870

Dis jammer die Engelse se Afrikanerbure het nie die gebruik om nie die ouer kerk te sloop vir ʼn groter, nuwer een gevolg nie, want dan sou ons vandag dalk nog kon sien hoe die Kruiskerk gelyk het waarin Paul Kruger gedoop is.

Nietemin, verder in die straat af, langs ʼn kettingwinkel, staan die kerkgebou van die Congregational Church uit 1853. Dis as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar, maar staan klaarblyklik en vergaan. Die perseel is só vol onkruid en vullis en stink só na frank alkohol en menslike uitwerpsel dat ek nie naby genoeg kan kom om ʼn behoorlike foto van die hoeksteen te neem nie (My “All Stars” is ongelukkig nie gumboots nie). Dis werklik jammer dat niemand na hierdie gebou omsien nie. Steeds Larkin:

Yet stop I did: in fact I often do,
And always end much at a loss like this,
Wondering what to look for; wondering, too,
When churches will fall completely out of use
What we shall turn them into, if we shall keep
A few cathedrals chronically on show,
Their parchment, plate and pyx in locked cases,
And let the rest rent-free to rain and sheep.
Shall we avoid them as unlucky places?

Cradock Congregational kerkgebou, 1853

Cradock Congregational kerkgebou, 1853

Die ou Union Church, wat in 1893 gebou is, is darem onlangs deur die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se Cradockgemeente oorgeneem. So die gebou word na omgesien. Dan het die Katolieke ook ʼn kerk in 1930 opgerig, selfs nederiger in ontwerp as die Union Church se gebou van drie dekades vroeër.

Union Church uit 1893, nou die NH Kerk

Union Church uit 1893, nou die NH Kerk

Cradock Katolieke kerk, 1930

Cradock Katolieke kerk, 1930

Nou sit ek met ʼn tameletjie. Ek wil eintlik, met my draai deur die geskiedenis en Larkin se gedig, by ʼn kerk uitkom wat in 1971 gebou is. Dis ʼn storie wat (deels) oor modernisme en nasionalisme gaan, maar soveel het tussenin gebeur. Die dele tussenin loop deur kerkbanke in Cradock se twee townships – Lingelihle en Michausdal – asook ʼn nuwer voorstad van die “wit” dorp.

Laat ek maar met die Nederduits Gereformeerde Gemeente Cradock-Oos se nuwe kerkgebou uit 1952 begin. Die Nasionale Party met hul apartheidsbeleid is reeds vier jaar in die saal en die Afrikaners is heel selfversekerd. Die kerkgebou wat hulle nou in Cradock oprig wil nie meer soos ʼn Engelse kerk in Londen lyk nie. Dit het strakker lyne en verskillende kleure siersteen word gebruik om die lyne met detail te breek. Die ontwerp is reeds modernisties, dalk effe deur die Nederlandse De Stijl-beweging beïnvloed. Die loodglasvensters is meer geometries en veral blou en oranje word gebruik vir afwisseling. Tóg is dit ʼn imposante gebou, wat van bouvakmanskap getuig. Die hoeksteen noem helaas nie die argitek se naam nie. Dis ʼn kerk wat sê: Ons verklaar ons teenwoordigheid en dat ons hierdie landskap besit, “op gesag van die Hoogste se hand.” Waar die Moedergemeente se gebou Engeland toe gekyk het vir respektabelheid, kyk hierdie een na Nederlandse wortels as alternatief.

Cradock-Oos NG Kerk, 1952

Cradock Oos NG Kerk, 1952

Cradock Oos NG Kerk, detail

Cradock Oos NG Kerk, detail

Cradock Oos NG Kerk, loodglaswerk

Cradock Oos NG Kerk, loodglaswerk

Cradock Oos NG Kerk, detail

Cradock Oos NG Kerk, detail

ʼn Sprong terug in die verlede. Op die kant van Lingelihle, naby aan die ou “wit” dorp, kom ons op ʼn kerk af wat in 1942 gebou is. Daar is geen aanduiding van denominasie nie – nie hoeksteen of inligtingbord met dienstye nie. Dit staan net daar. Dit lyk of dit nog in gebruik is, maar van die vensters is gebreek. In 1942 het die Tweede Wêreldoorlog nog voort gewoed. Wie het hierdie kerk gebou en waarom is dit in hierdie spesifieke styl? Dit herinner aan van Herbert Baker se pogings om ʼn inheemse Suid-Afrikaanse argitektuur daar te stel deur byvoorbeeld die Kaaps-Hollandse gewel by neo-klassieke geboue te inkorporeer. Van die skoolkoshuise in Cradock is in daardie styl gebou, maar hierdie kerk lyk meer soos ʼn meer bekostigbare namaaksel van die styl as ʼn voorbeeld daarvan. Tog, ten spyte van die gebreekte vensters en die geroeste sinkdak, het die geboutjie nie sleg verouder nie. Daar sit ʼn tipe sjarme in die onbeholpe lyne van die gewels.

Cradock, skoolkoshuis met gewels

Cradock, skoolkoshuis met gewels

Naamlose kerk in Lingelihle, 1942

Naamlose kerk in Lingelihle, 1942

Naamlose kerk, detail

Naamlose kerk, detail

Dít in teenstelling met die kerk wat die Nederduits Gereformeerde Kerk vir hul “swart” lidmate in 1961 teen ʼn bult in Lingelihle oprig. Dis ook ʼn tipe namaaksel, maar ʼn baie slegte, afskeepweergawe van die NG Gemeente Cradock-Oos se gebou. Die ooreenkomste is daar, maar daar is geen van die siersteenwerk en loodglas detail om die lyne te breek nie. Die gebou sê: Hier is vir julle ʼn namaaksel, ʼn tweederangse gebou vir tweederangse Christene. Die hoeksteen is op Kersdag 1961 deur Ds. A.G. Kellermann gelê. Volgens ʼn kennisgewing is dit nou die kerk van die Uniting Reformed Church in Africa, die samesmelting van die NG Kerk se drie apartheidstakke, en die leraar is Rev. L.L. Plaatjie.

Lingelihle NG Kerk in Afrika, 1961

Lingelihle NG Kerk in Afrika, 1961

In 1963 het die Anglikane ook ʼn kerk in Lingelihle gebou, ook nie juis ʼn wafferse stuk argitektuur nie. ʼn Paar jaar later, in 1965, het die Metodiste dalk ʼn bietjie meer moeite met ontwerp gedoen, maar nie véél meer nie.

Lingelihle Anglikaanse kerk, 1963

Lingelihle Anglikaanse kerk, 1963

Lingelihle Metodistekerk, 1965

Lingelihle Metodistekerk, 1965

Die Metodistekerk is in 2006 as die Skweyiya Church herdoop, ter ere van “Oom Gili”, oftewel Alfred Sithethi Skweyiya, wat ʼn belangrike rol gespeel het om die ouer, konserwatiewe gemeenskap van die township by die stryd teen apartheid te betrek. Hiervoor het hy van 1986 tot 1988 tronkstraf uitgedien en was werkloos tot en met sy dood in 2006. Hy was nogtans by die gemeenskap betrokke en is verkies as die eerste voorsitter van die ANC se plaaslike tak na die organisasie wettig verklaar is in 1990. Dis jammer die kennisgewingbord buite die kerk met hierdie inligting is so swak versorg. Die laaste paragraaf word twee keer herhaal, beide in Engels en IsiXhosa.

In Michausdal blyk die meeste kerkgeboue uit die 1970s te dateer. Daar’s die Katolieke Kerk van Sint Johannes die Evangelis, wat in 1974 gebou is, asook ʼn Afrikaanssprekende Metodistegemeente, waarvan die kerkgebou in 1976 opgerig is. Wat toe nog die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk was se gebou kom uit 1978 – die NGS Kerk Immanuel, volgens die hoeksteen. Dis ʼn dienlike gebou van klinkersteen, met ʼn sinkdak en ʼn losstaande kloktoring. Die gebou se geskiedenis sit in die vorm, maar die boumateriaal is 1970s.

Michausdal NG Sendingkerk Immanuel, 1978

Michausdal NG Sendingkerk Immanuel, 1978

So die meeste kerke in Lingelihle is in die 1960s gebou en Michausdal s’n in die 1970s. Die kerkgebou in Cradock wat ek die interessantste vind, is een waaroor daar andersins min bohaai gemaak word. Dis deur die argitek A.P.S. Conradie ontwerp en is vir die Cradock-Noord NG Gemeente gebou, in 1971 – ʼn jaar wat min of meer in die middel van die 60s en die 70s ingewig sit. Die gebou is ook, anders as die NG Moedergemeente en die NG Gemeente Cradock-Oos se geboue, minder imposant. Om die waarheid te sê, die gebou se vertoon sit in die ontwerp, eerder as die grootte daarvan. Waar die Moedergemeente Engeland toe kyk en die Cradock-Oos-gebou Nederland toe (al is dit dalk skuins, oor die skouer), kyk hierdie een na die VSA toe – Frank Lloyd Wright om presies te wees. Die argitek is een van die meer interessante modernistiese ontwerpers van Afrikanerkerke.

Albertus Petrus Snyman Conradie is op 16 November 1925 gebore en is op 26 Desember 1999 oorlede, ʼn dag na Kersfees en ʼn paar dae voor die aanbreek van die nuwe millenium. Sy argitekpraktyk – Ateljee APS Conradie Argitektuur, in Durbanville – is in 1952 geregistreer en is eers op 25 Februarie 2000 formeel gesluit. Sy werk het onder my aandag gekom na ʼn gesprek met die argitek Jaco-Ben Roos, asook twee foto’s deur David Goldblatt van ʼn kerkgebou wat Conradie ontwerp het by Op-die-Berg in die Koue Bokkeveld. Goldblatt het vervolgens ʼn skriftelike onderhoud met hom gevoer, wat in Engels vertaal is en in die boek South Africa: The Structure of Things Then (The Monacelli Press, 1998) gepubliseer is. Goldblatt skyf só oor die kerkgebou by Op-die-Berg: “Of the many triumphant churches built in the 1960s perhaps none expressed the spirit of the times with greater conviction and clarity than Conradie’s Op-die-Berg. Dominant over the unyielding landscape, it celebrated the ascendancy of the volk and its faith.”

Op Goldblatt en Conradie se gesprek oor argitektuur, modernisme en nasionalisme wil ek nie nou weer ingaan nie; ek het voorheen ʼn blog daaroor geskryf en ʼn aangepaste weergawe word binnekort in die nuwe uitgawe van Pomp gepubliseer. Ek wil egter elemente van die Cradockkerk hier dokumenteer, aangesien ek nou al lank na nog voorbeelde van Conradie se werk op soek is. Dis heel toevallig dat ek daarop afgekom het, net ʼn straatblok van ʼn gastehuis in Cradock waar ek en Irma tuisgaan. Ek het die gebou dadelik, tot my vreugde, as ʼn Conradie herken.

Eers ʼn kykie na die vooraansig van Conradie se gebou by Op-die-Berg:

NG Kerk Op-die-Berg, 1966

NG Kerk Op-die-Berg, 1966

En hier is die een in Cradock:

Cradock Noord NG Kerk, 1971

Cradock Noord NG Kerk, 1971

ʼn Mens kan sien dat daar sterk ooreenkomste is – beide is pure Frank Lloyd Wright. Wat ek van Conradie bewonder is sy vermoë om deurgaans met dieselfde patrone te werk. Hy is besonder lief vir ruit- en driehoekpatrone. Hy skenk ook baie aandag aan detail. Sy belangstelling in houtwerk kom van sy pa af en dit word in sy geboue weerspieël. Let op hoe hy vorm gebruik in die voordeur, die voordeur se handvatsels, asook ʼn sydeur:

Cradock Noord NG Kerk, voordeur

Cradock Noord NG Kerk, voordeur

Cradock Noord NG Kerk, voordeur detail

Cradock Noord NG Kerk, voordeur detail

Cradock Noord NG Kerk, sydeur

Cradock Noord NG Kerk, sydeur

Hout word ook aan die buitekant gebruik in dele wat van reën beskut is:

Cradock Noord NG Kerk, vooraansig detail

Cradock Noord NG Kerk, vooraansig detail

Ek moes op my tone staan en my kamera teen vensters hou om ʼn idee van die kerk se binnekant te kry. Ek kon ongelukkig nie die koster of ʼn dominee opspoor nie – ek neem aan dis weens die vakansietyd. Op die web vind ek egter uit dat die kerk in 2010 ʼn nuwe orrel laat installeer het, so dit kan nie te sleg met die gemeente se finansies gaan nie. Die dominee is klaarblyklik self ʼn kranige orrelis. Ek hou van hoe Conradie die vorm aan die kerk se vooraansig binne in die gebou herhaal. Let op die detail bo die balkon, asook die kerkbanke se kante in die foto’s:

Cradock Noord NG Kerk, balkon

Cradock Noord NG Kerk, balkon

Cradock Noord NG Kerk, banke en orrelpype

Cradock Noord NG Kerk, banke en orrelpype

Cradock Noord NG Kerk, detail

Cradock Noord NG Kerk, preekstoel en orrelpype

Cradock Noord NG Kerk, balkon en plafon

Cradock Noord NG Kerk, balkon en plafon

Ek wil nou afsluit. Dis laat en môre vroeg ry ons Graaff-Reinet toe. Wat kan ʼn mens sê oor Cradock se kerkgeboue en die plek se traumatiese geskiedenis? Conradie se modernisme is gekoppel aan Afrikanernasionalisme. In die sestigs en sewentigs is vele ander kerke met soortgelyke lyne gebou, maar met baie minder elegansie, helaas. Die gebou blyk ook minder te wil bewys as die geboue uit 1866 en 1952. In 1971, toe dit gebou is, het min mense verwag dat die stelsel se bene sou knak. Toe, in 1973, breek stakings reg deur die land uit en in 1976 kom Soweto se jeug in opstand. Die trauma wat daarop gevolg het – o.a. die dood van die Cradock Vier – laat steeds letsels op hierdie landskap. Aan alle kante het mense in kerke aanbid, waarskynlik ook mense wat ander mense se lewens in die geweld geneem het.

Hoe sou die gebou lyk as ʼn NG Gemeente vandag ʼn nuwe gebou in Cradock moes oprig? Ek kan nie help om te wonder nie. Vir eers is daar steeds verskeie gemeentes – drie in die ou dorp en een in Michausdal. Ek weet nie of Lingelihle se NG Gemeente nog bestaan nie. Miskien moet ek vir eers maar net sê: “Here endeth.” Die laaste woorde aan Philip Larkin:

Or, after dark, will dubious women come
To make their children touch a particular stone;
Pick simples for a cancer; or on some
Advised night see walking a dead one?
Power of some sort will go on
In games, in riddles, seemingly at random;
But superstition, like belief, must die,
And what remains when disbelief has gone?
Grass, weedy pavement, brambles, buttress, sky,

A shape less recognisable each week,
A purpose more obscure. I wonder who
Will be the last, the very last, to seek
This place for what it was; one of the crew
That tap and jot and know what rood-lofts were?
Some ruin-bibber, randy for antique,
Or Christmas-addict, counting on a whiff
Of gown-and-bands and organ-pipes and myrrh?
Or will he be my representative,

Bored, uninformed, knowing the ghostly silt
Dispersed, yet tending to this cross of ground
Through suburb scrub because it held unspilt
So long and equably what since is found
Only in separation – marriage, and birth,
And death, and thoughts of these – for which was built
This special shell? For, though I’ve no idea
What this accoutred frowsty barn is worth,
It pleases me to stand in silence here;

A serious house on serious earth it is,
In whose blent air all our compulsions meet,
Are recognized, and robed as destinies.
And that much never can be obsolete,
Since someone will forever be surprising
A hunger in himself to be more serious,
And gravitating with it to this ground,
Which, he once heard, was proper to grow wise in,
If only that so many dead lie round.

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die skuifelende kerke van Cradock”

  1. Desmond Painter :

    Dankie Andries, epiese inskrywing! Ons het net na Kersfees uit Grahamstown in die rigting van Cradock gery — om te kyk of ons diere kan sien, en ongelukkig nie al die pad tot in Cradock nie. Volgende keer sal ek gaan!

    Wat NG-kerke betref: dis altyd vir my interessant om te sien wat in die noordelike voorstede van Kaapstad, waar ek grootgeword het, gebeur het (seker elders ook). Gemeentes wat weens struwelinge of groei in die 1980’s afgestig het van die Moederkerke (wat dikwels nog soos lelike weergawes van die Conradie gelyk het) in gebiede soos Brackenfell, het geboue opgerig met ‘n baie pragmatiese soort “skuur”-ontwerp, deurgaans sonder toring.

  2. McAlester :

    Geagte mnr. Bezuidenhout

    Baie dankie vir hierdie unieke blik op ‘n tipe geestelike sinkretisme, gevleg heen en weer, en oor, tydsgewrig, plek en geloof.

    Ek voel die onomstootlike uitbeelding van leë monumente aan, wat amper skynheilige die stories van gister probeer vertel. Dié stories, amper soos die geboue self, het immers meer as een dimensie of sykant.

    Geboue, net soos met die menslike stelsels waarin daar eens geglo is, verkrummel en bring die onvermydelike foute van menswees na vore; en daarvolgens die konkrete lyne, wat eers so duidelik en strak was, verloor aanstons hulle onaantasbaarheid.

    Derhalwe word ‘n teenswoordige grondslag gelê, waarby die versteekte waarhede, ingemessel in gister, in kwesbaarheid moet wag vir iedere skrywer om dan as ‘t ware sy imprimatur van morele vertolking te kom gee.

    Wonde en letsels van persoonlike ongeregtigheid is ongetwyfeld deel van SA se verouderende boustyl, maar ondanks hierdie kennis ontduik die versoening wat genesing moes ontluik. Helaas, want ons aanmatigende morele fondament het in dryfsand verander, sodat ons nie meer na gister se ongeregtighede met ‘n skoon gewete kan verwys nie. Die gewelf van boosaardige geweld wat ons vandag beleef, het so oorweldigend en deurdringend geword dat enige poging om te verwys na die verlede (as skynheilig, immoreel en onregmatig) relatief tot vandag, hierdie gemeenskaplike beoordelaars in ‘n doolhof van onheilige, narsistiese bevooroordeelde perspektiewe los.

    Dis tog gedeeltelik deur die taal van digters en andersoortige kunstenaars om weer waaragtige perspektief en konteks aan die oënskynlike multidimensionele karakter van geskiedkundige waarheid, relatief tot eietydse aktuele sake te bring.

  3. Leon Retief :

    Manjifiek Andries! Ironies genoeg het ek gister juis gespeel met die idee om ‘n paar foto’s op Versindaba te plaas van kerke wat ek hier te lande afeneem het, maar my inskrywing sal maar sleg afsteek teen joune… 🙁

  4. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, vir diere is die Bergkwaggapark is ‘n besoek werd. Ons het ‘n aand daar oorgebly – wens ons kon langer daar rus, maar dit was volbespreek.
    Oor die afstigtingstorie: Daardie struwelinge tussen waarvoor kerke vandag moet staan woed op baie plekke. Ek het hierdie naweek met ‘n koster op ‘n ander dorp gepraat oor die herlewing in hulle kerk, wat op ‘n taalstryd uitgeloop het. Daar is besluit om Sondagaande meer informele dienste in te stel – seker met wat mense “praise and worship” noem. (Dis vreemd hoe Afrikaanssprekende mense se Godsdienstige inkere baie keer ook ‘n verandering in taal behels.) In reaksie het die meer behoudende (Calvinistiese?) deel van die gemeente die sing van Engelse liedere tot slegs een per erediens beperk. Die Sondagaanddienste is so stopgesit en nou reis baie van die voormalige gemeentelede na ‘n stad naby die dorp om kerk toe te gaan. Wat getalle betref, sukkel die gemeente om as lewensvatbare eenheid te oorleef.
    Die hele kwessie van torings is baie interessant. Daar was bv. vir lank ‘n beginsel in die AGS om nie kerke met torings te bou nie – ook die een in Cradock uit die 1980s (op die hoek van Louis Botha en HF Verwoerd), waarvan ek ongelukkig nie ‘n foto hier bo gelaai het nie. Ek sal nog oor die kwessie van torings skryf. Ek het in Luckhoff op ‘n pragtige klipkerk uit die 1920s afgekom wat eers ‘n toring in die 1950s gekry het.
    McAlester, baie dankie vir jou weldeurdagte kommentaar. Ek hoop nie ek kom oor as moralis nie. Die digkuns is vir my meer interessant in grys as in swart en wit – tragedie en klug, eerder as oordeel. Tog dink ek daar is soms enkele stukke skoonheid wat, ten spyte van die feit dat dit bv. deur loan sharks soos die De Medici’s gefinansier is, bo die smerigheid van die geskiedenis uitstyg. Om een of ander rede hou ek regtig van A.P.S. Conradie se kerke, al is ek nie ‘n aktiewe kerkganger nie. Dalk juis daaroor – weens die bietjie afstand wat daar is. Ek het nogal vir myself gelag toe ek op my tone staan, kamera teen die venster, net om te kan sien hoe ‘n kerk se binnekant lyk.
    Leon, skryf ASSEBLIEF oor kerke in Kanada! Ek dink die tema kan aansluit met die bespreking elders op Versindaba oor (die gebrek aan) kennis van bv. die Middeleeuse letterkunde. Ek het juis hierdie vakansie ‘n gesprek met vriende gehad wat bekommerd is oor hul kinders se gebrek aan kennis van ‘n klassieke teks soos die Bybel, weens die feit dat hulle nie religieus is nie. Dit beteken dat hul dogters waarskynlik baie van die verwysings in Afrikaanse digkuns nie gaan verstaan nie.

  5. Desmond Painter :

    Andries, nie net gaan sy baie verwysings in die Afrikaanse digkuns nie verstaan nie, sy gaan nie Leonard Cohen verstaan nie!!

  6. Andries Bezuidenhout :

    Sowaar, Desmond!
    “You say I took the name in vain
    I don’t even know the name
    But if I did, well really, what’s it to you?
    There’s a blaze of light
    In every word
    It doesn’t matter which you heard
    The holy or the broken Hallelujah”

  7. Clinton V du Plessis :

    Wonderlike “blik van buite”, self gebore op Cookhouse en woonagtig op Cradock.

  8. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Clinton!

  9. Joan Hambidge :

    Goeie stuk. Ek wou nog altyd iets skryf oor kerke op ou plattelandse dorpe (veral in die Vrystaat) en hoe dit die sentrum van die dorp is.

  10. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Joan. Dis hartseer om te sien wat met van die kerkgeboue gebeur, weens ‘n gebrek aan geld vir instandhouding. Dan is daar gevalle waar historiese geboue gesloop is in die naam van modernisering (veral in die 70s) – soos Smithfield se sandsteenkerk wat moes plek maak vir een van klinkersteen en Trompsburg waar hulle die ou kerk sommer met klinkerstene oorgetrek het. Tromsburg se kerkgebou is toevallig ontwerp deur die argitekte wat vir Johannesburg se stadsaal verantwoordelik was. Wat ‘n tragedie!

  11. Ina Loots(Conradie) :

    Het nie nou tyd om die hele artikel te lees nie!
    APS Conradie , argitek van die Cradock-Noord en Op-die-Berg se kerke was my pa.
    Ek onthou baie goed hoe ons hele familie vanaf Durbanville na die inwyding opgetrek het.
    My man en ek het in die afgelope twee jaar by beide kerke gestop , bietjie tyd verwyl en foto’s geneem. Beide geboue was goed onderhou. Dit was ‘n riem onder die hart.
    Maak gerus kontak indien jy van sy ander geboue sou wou opspoor. Sy ander kerke waaraan ek nou vinnig kan dink, is Winterhoek, Uitenhage, een in Despatch asook Oosterland in Bellville.

  12. Ina, BAIE dankie dat jy kontak maak. Ek sal bitter graag van jou pa se ander geboue wil sien. Ek kon in my navorsing sy ou kantoor se adres opspoor, maar nie ‘n register van sy ander ontwerpe nie. Ek dink daar was iewers ‘n verwysing na ‘n kerkgebou in Malmesbury ook.