Pieter Odendaal. Oor gesteelde laptops, Dumbledore se “pensieve” en storte

Een van die faktore wat bygedra het tot my afwesigheid op dié webwerf, is die feit dat my laptop twee weke gelede in Bloemfontein gesteel is. My ouers en sussie was in die huis gewees terwyl iemand sy honger hand deur die diefwering van my venster gesteek en die rekenaar opgeëis het. Ek weet dat die elfde gebod “Maak backups van jou werk” is, maar ek is ’n bietjie afvallig as dit kom by reëls gehoorsaam, veral as dit impliseer dat ek meer stroombelyn moet lewe. Dit laat my soos ’n sagtewareprogram voel.

Om ’n mens se laptop te verloor is soos om ’n deel van jou brein te laat verwyder. Ek het nog altyd gedink dat Dumbledore se pensieve in die Harry Potter-boeke ’n metafoor vir ’n rekenaar is: Jy trek die drade van jou gedagtes een vir een uit en laat hulle in die swart gat van ene en nulle val om daar bewaar te bly. Die hardeskyf onthou al die goed waarvoor jy nie plek in jou kop het nie. En nou is my brein-anneks weg. So verduidelik Dumbledore die penseive:

I use the Pensieve. One simply siphons the excess thoughts from one’s mind, pours them into the basin, and examines them at one’s leisure. It becomes easier to spot patterns and links, you understand, when they are in this form.

Ek het my foto’s, musiekversameling, gedigte en ander skryfsels op ’n soortgelyke manier aan die einde van 2010 prysgegee toe my laptop uit my vriend se kar gesteel is. Net ’n donkie stamp twee keer sy kop teen dieselfde klip. Toe ek op my leë lessenaar in Bloemfontein afkom, kon ek voel hoe my ore langer word en my asem ’n vreemde balk-ondertoon ontwikkel.

En ek het gewonder hoeveel ander skribas hul skryfsels al op dergelike wyse kwytgeraak het. Nie dat ek dink enigiemand is werklik slegter daartoe af dat ’n handjievol van my verse weg is nie. Ek sou egter die gesig in my venster wou smeek om my net twee minute te gee om die belangrikste files te kopieer. Al my foto’s van Tanzanië en Zanzibar is daarmee heen. Die versamelde werke van onder andere Phillip Glass, Sigur Ros, Liszt en Sufjan Stevens. Enkele Larkin en Hughes vertalings.  ’n Versaakte toneelstuk oor fotografie. ’n Biblioteek vol e-boeke oor sisteembiologie en neurowetenskap wat prof. Hofmeyr goedhartiglik aan my geskenk het.

Gelukkig het ek ’n Blackberry waarop ek ook soms idees stoor – dis gewoonlik waar ’n gedig begin. So het ek Maandag die 5de Desember tussen 19:26 en 19:40 op my ouerhuis in Bloemfontein se dak gesit en sommer net gespeel – ek het probeer om te luister na wat om my aangaan en dit op my foon gestoor:

Die dak verdof onder my voete soos die vuur in die weste gaan sak. Kraaie en swaels crescendo verby. Doer sis die N1 met onderwegtes wat nie die vlaktes sien soos hulle na Kurt Darren luister nie. Sesotho dryf in die straat verby. Straatligte verplaas die dag en antennas vang America’s got talent op. ’n Trein blaas agter my. My labrador (sy mond skeef na die beroerte) lek sy ouderdom weg in die geel bak onder die kraan. Water stroom ondergronds deur die straat. Ek dink aan Calvino se storie oor ’n stad wat net uit pype bestaan en waar die dooies heeldag stort. Krieke begin kriek. ’n Kort-kort kriek en ‘n hoë getjirrr. ’n Kort-kort kriek en ’n hoë getjirrr. Die dooies draai hul stortkrane oop.


Sent from my BlackBerry® wireless device

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Pieter Odendaal. Oor gesteelde laptops, Dumbledore se “pensieve” en storte”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Ag tog, Pieter. Meegevoel en simpatie uit Snortoria. Ek het darem nog net ‘n kortverhaalbundel so verloor. Ivan Vladislavic se nuwe boek is nogal goed oor redes vir boeke wat nooit geskryf is nie. Helaas, die storie van die boek op die rekenaar wat weg is, is nie in sy boek nie.

  2. Pieter Odendaal :

    Dankie, Andries. Ek het darem hier en daar daarin geslaag om sommige van die gedigte weer in ou e-posse en op ou huisrekenaars op te spoor. En met die soekery het ek weer ‘n paar ontdek waarvan ek lankal vergeet het (nie dat ek hulle vir te veel mense gaan wys nie).

    Ek is jammer om van die kortverhaalbundel te hoor.

  3. Desmond Painter :

    Baie erg! In Oktober laasjaar het my hardeskyf ingegee, totaal en al, en ek is ook sleg met back-ups. Die musiek en die videos kan mens terugkry; die verlies van twee of so halfgeskrewe akademiese artikels kan ek mee saamleef; die folder met droedels was moeiliker om van afskeid te neem; maar die ergste vir my was dat ek al my foto’s, behalwe vir enkeles wat ek op facebook geplaas het, van reise na Thailand, Sjina en Engeland verloor het. So meegevoel!!

  4. Joan Hambidge :

    Ek e-pos dikwels ‘n dokument werk toe, terwyl ek dit tuis ook bewaar. En ‘n portable Store ‘n’ Go hardeskyf word gereeld ge-back-up. Nou onlangs het ‘n stiffie nie wou oopmaak nie, maar gelukkig was die tekste driekeer bewaar. Veral foto’s en gedigte is eenmalig…
    Desmond kon ‘n IT-persoon nie iets aftap nie?
    Bewaar stiffies elders in die huis sodat ‘n dief dit nie kan kry nie. Ek onthou ‘n plakkaat een oggend in Kaapstad: my laptop is gesteel en my Store ‘n’ Go wat op die tafel was. En print ook ‘n dokument!
    Berg dit in die kelder of in die solder.

  5. Desmond Painter :

    Joan, nee… Hulle kon ‘n paar goed red, maar nie my foto’s nie! Ek was dae lank in rou gedompel. Kon darem vroeere weergawes van akademiese skryfsels en ‘n paar ander goed tussen my uitgedrukte dokumente kry. Ek het intussen ‘n beter, meer gereelde back-up regime ingestel!! (Onder andere om soveel as moontlik reisfoto’s op Facebook ook te berg.)

  6. Lewies Botha :

    Ek gebruik Dropbox vir my skryfsels. Sodoende kan ek op my skootrekenaar, tuisrekenaar selfs my slimfoon werk aan dieselfde en nuutste weergawe van ‘n dokument. Die dokument/gediggie sweef iewers in die kuberruim en is dus veilig. Hoop ek.