Louis Jansen van Vuuren. Winter as Sneeu

Winterfoto

 

Winter as Sneeu * & ‘n kwashaal brandblusser-rooi

Net na twaalf verlede Dinsdagmiddag het die hemel grou-bruin word. Ek was tussen die huis en my ateljee wat op die solder van die perdestalle is. Dis aardig as die lug verbruin. Apokalipties. Dit ontstem ‘n mens, die aweregse verandering in die natuur, want mens is geprogrammeer om die blou van die hemel as vanselfsprekend te neem. Enige afwyking van die kleurpatroon is ontstellend. Ek kry dieselfde kriewelende gevoel wanneer ʼn DVD op ‘n kritieke oomblik begin bokspring – sulke elektroniese piepgeluidjies begin maak. Dis ‘n gedempte, bonatuurlike geluid wat klink of dit uit ‘n nes vol nylon kuikens kom. Dit gebeur nou die aand op ʼn kritieke oomblik toe die beheksende Milla Jovovich in The Messenger luidkeels skrou: “Volg My!”. Piep, piep-pweem en pwong. Alles breek toe in blokkies op en die lug word bruin. In die ou dae het ek dieselfde gevoel van naderende onheil en benoudheid beleef wanneer my pa se Hewlard Packard Super Eight Home Movie Projector oorverhit en die dun selluloïde film opkook (dit het gewoonlik oor ‘n lasplek op die film vasgehaak en gebrand – want my pa het self sy tuisprente ‘gesplice’). Die verbrande film het dan sulke flikkerende bruin kolle op die  wit muur weerkaats. Selfs die  rooi beetkolle op die damastafeldoek van ons Sondagmiddagete het sepia geword in die gestolde projektorlig. Die reuk sal my ook altyd bybly. Soet en brak. Amper soos iets wat mens stilletjies in jou mond wil steek, maar later spyt oor gaan wees.

Die lug oor die wintertuin het voor my oë in dieselfde onheilspellende brandkolbruin verkleur. Genadiglik sonder die reuk van smeulende plastiek – én die geskreeu wat gewoonlik daarmee saamgegaan het. Inteendeel, dit was onverstaanbaar stil. Ek het die winterboomskelette in die onaardse lig agterdogtig bekyk en versigtig ‘n sigaartjie opgesteek. Toe begin dit sneeu.

 

 

   

Winterkwatryn

 

Dis sneeukoud in die Boland,

die son is dagblind en flou.

‘n Ystydperk se voorbrand

maak die lugte smeulend grou.

 

 

Die middag het as geword

 

Die middag het as geword

met ‘n son wat stadig smeul.

Die lug het soos wyn gestort

& niks word ooit weer heel.

 

 

Kwatryn in twee kleure

 

Hier binne is dit kouer en gryser

as die grysste Bolandse dag.

Die ure raak ouer, maar niks wyser,

& weldra kom dagsê die nag.

 

Johann de Lange. Uit: Weerlig van die ongeloof. Protea Boekhuis. 2011

 

 

 

wintersnag 1

 

vermindering sluit elke dag

‘n kleiner sirkel om jou enkels en polse

 

nou kan ek die voorste van jou arm tussen twee

gekringde vingers vat: die onvoorspelbaar perfekte

sirkel waarna die oudste vervoering soek

 

so moeiteloos voltooi

in hierdie minuskule omhelsing

-en daar is oorgenoeg vel

om ons al twee te bedek teen kou

 

en weemoed, en gras wat roer

 

© Petra Müller. Die aandag van jou oë. Tafelberg Uitgewers.  2002. 

 

Winter Heavens  

Sharp is the night, but stars with frost alive
Leap off the rim of earth across the dome.
It is a night to make the heavens our home
More than the nest whereto apace we strive.
Lengths down our road each fir-tree seems a hive,
In swarms outrushing from the golden comb.
They waken waves of thoughts that burst to foam:
The living throb in me, the dead revive.
Yon mantle clothes us: there, past mortal breath,
Life glistens on the river of the death.
It folds us, flesh and dust; and have we knelt,
Or never knelt, or eyed as kine the springs
Of radiance, the radiance enrings:
And this is the soul’s haven to have felt.

 

George Meredith. Gypsy Trails. Harvard University Press

 

 

Van brandkolle, rook en donker dinge gepraat – Januarie 6 is offisieel die verjaarsdag van Johanna van Arkel, alias Joanne of Arc en korreklik: Jeanne d’Arc. Uitgespreek soos die Engelse woord vir donker: dark! In a dark time, the eye begins to see…(Theodore Roethke) Dis die 600ste herdenking van haar geboortedag en Frankryk is weer opnuut op hol met haar histoire – die een koerant opskrif lui: The cross-dressing, teenage virgin-warrior -, martyr-saint continues to rally the French. Gedurende die loop van 2012 word Jeanne se verjaarsdag gevier met parades vol wapperende wimpels, konferensies, konserte en kunskompetisies. Daar word etlike son et lumière spektakels beplan en ook ‘n skouspelagtige pelgrimstog wat die roete van haar lewe van geboorte tot die brandstapel gaan naloop – vanaf die vleiveld waar sy die hitsende stemme die eerste keer gehoor het, tot by die plein waar die droë drag hout op haar wagtend was.

 

Brandende stomp

 

Die vuurvlam vlieg omhoog 

met los lappe vuur omhoër 

soos stukke van ‘n mantel 

of hande of vlerke of Johanna 

se hare net voor sy vonkend 

krummelend swart ineensak. 

Die vuur raak bewus van die hout 

liefkoos met sengende vingers 

‘n minnaar nou wat murmel 

wat murmel mal oor Johanna 

se hare, Johanna soek, bloedogig 

soek, swart sink.

 

Sheila Cussons . Uit: Die Somerjood, 1980

 

Daar het drie nuwe boeke oor haar verskyn – twee biografieë en ‘n roman. La Figaro koerant het ‘n 114-blad  kleurvolle bylaag oor haar geplaas onder die titel: Die Mite, die Legende en die Geskiedenis. Selfs President Sarkozy het ‘n vir Jeanne in sy voorste linies geplaas. Hy het Vrydag die 6de ‘n gul gedokumenteerde besoek aan haar geboortedorp, Domrémy-la-Pucelle, afgelê – hopende dat sy hom triomfantlik deur die verraderlike stembusboulevard in Maart sal begelei. Hoop beskaam nie.

 

 Joan of Arc 

 

Now the flames they followed joan of arc
As she came riding through the dark;
No moon to keep her armour bright,
No man to get her through this very smoky night.
She said, I’m tired of the war,
I want the kind of work I had before,
A wedding dress or something white
To wear upon my swollen appetite.

Well, I’m glad to hear you talk this way,
You know I’ve watched you riding every day
And something in me yearns to win
Such a cold and lonesome heroine.
And who are you? she sternly spoke
To the one beneath the smoke.
Why, I’m fire, he replied,
And I love your solitude, I love your pride.

Then fire, make your body cold,
I’m going to give you mine to hold,
Saying this she climbed inside
To be his one, to be his only bride.
And deep into his fiery heart
He took the dust of joan of arc,
And high above the wedding guests
He hung the ashes of her wedding dress.

It was deep into his fiery heart
He took the dust of joan of arc,
And then she clearly understood
If he was fire, oh then she must be wood.
I saw her wince, I saw her cry,
I saw the glory in her eye.
Myself I long for love and light,
But must it come so cruel, and oh so bright?

 

Leonard Cohen. Book of longing. Penguin Books, 2006

 

  

 

Tussen al die bleek en grou van die  winter landskap is daar in Januarie darem ook spatsels kleur – soos  die golwende brandstapelrooi opera gordyne wat in rokende stede voor asem-ophoudende winterskares opgetrek word. Divas duik dan oopmond in fluweel en moiré tabberds onder voetligte op:…Vissi d’arte, vissi d’amore…..

 

 

My gunsteling brandgordyn is die een in die Opera Le Palais Garnier in Parys. Elke keer as ek in die gehoor voor die goud-en-rooi spektakel sit, word ek ‘n kind wat nie kan stil sit nie. Ek wil rondkyk en my kop in alle rigtings draai. Vir die eerste paar minute sit ek in my donker pak en helikopter-strikdas tjoepstil. Dan begin ek effens sweet en trap die dame in die sitplek langs my se blinkleer Laboutins nerfaf. Na wat soos ‘n leeftyd voel gee ek my aan my emosies oor. Ek tol in my sitplek rond, spiedend met my verkykertjie. Ek kry ‘n rilling as die 7 ton brons en kristal kroonkandelaar se ligte verdoof. Van opgewondenheid, maar ook ‘n  van bietjie banggatgeit – want tydens ‘n opvoering in die mooi Meimaand van 1896 het ʼn kolossale stuk teenwig uit die kandelaber losgekom en ‘n stomme toeskouer doodgeval. Gaston Leroux het in 1910 sy Phantom of the Opera op die insident baseer.

Ek het nie lus vir ‘n re-make  van die storie nie, veral nie met my as die inspirasie vir die opvolg nie.

 

 

Die koepelskildery wat in 1964 deur Marc Chagall geskilder is, is ‘n visuele chanson. As jy opkyk sien jy ‘n wriemelende uitspansel vol divas en duiwels en dapper helde, wat meester Chagall uit die stal van vurige operafigure geskep het. Met ‘n  XXL opera-verkykertjie kan jy ʼn swewende koor karakters herken: Eurudike, Lucia, Violetta en Alfredo, Tristan en Isolde en dan natuurlik, Orpheus met sy goue lier.

  

  

 

Die F-noot

 

Kandelaberkerse blaas dun roetkolomme

teen die koue freskoemure op

Teken in rookletters kapsie aan

Talm vir ʼn oomblik in die hoë ruimtes

seil dan deur ʼn loodvenster  na buite weg

 

Spuls tuit Mefistofeles

sy rooi geverfde mond

Uitdagend nat sy lippe

Ek is dubbeld – Ek is ‘n eggo.

Sy stert onrustig wakker

 

Uit die donker kranskapel

Fladder ʼn sanctus-solo

oor die goue offerhandes op

Ryk fermata’s – ʼn vibrato wat kaveer en

ʼn tremolo wat ravot

 

Bly by my Heer

As donker skadu’s  oor my daal

Dit was toe altyd waar:

Daar’s ʼn Aspoester by elke bal

 

LJVV.2011

 

 

Gordyn!

 

Gordyn

 

Smoke gets in your eyes

 

Om jou lief te hê, is om met vuur te speel.

Om oor jou te skryf, is ‘n hartoorplanting

sonder narkose

sonder ‘n skenker

sonder die regte bloedgroep betyds gevind

met ‘n gestel afkerig aan soveel buise,

verbindings, pypies . . .

met ‘n lyf bang vir ondersoekende oë, hande,

pratende monde.

 

Om jou lief te hê, is om met vuur te speel.

Om oor jou te skryf, laat die hart ineentrek –

spasmodies, vir oulaas, refleksmatig, tevergeefs.

Lub-dub.

 

PS.

Staan opsy, my hart (nie verstand)

nes Katherine Grayson s’n, is aan die brand.

 

© Joan Hambidge.  (Tachycardia;  Jutalit)

 

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Louis Jansen van Vuuren. Winter as Sneeu”

  1. Louis, Louis … hoe KRY jy dit reg om apokalipties én humoristies te wees, en dan boonop om hier teen halfpad van jou relaas my heeltemal in trane te hê?
    Ja, Jeanne … dit is nét aan hierdie jonkvrou wat ek my man vir ‘n nag sal leen, sodat hy haar kan troos – soos net hy kan.

  2. Louise Hennigs :

    Mooi, Louis, baie dankie! Net wat ek nodig het hier in my siekbed van verkoue! liefde louise xx

  3. Nanette van Rooyen :

    Dit was ‘n heerlike ontroering/vervoering.
    Is mal oor jou terugpraat na jou pa se home movie … Hoe ken ons daai brandreuk nie!
    Dankie. Het gisteraand Midnight in Paris gaan kyk en ou Woody weer soos ‘n bekende raakgeloop. Gehou daarvan.

  4. Renée Conradie :

    Ag Louis, was dit nou n heerlike trip om op te gaan. Roerende gedigte en jou hele samestelling net great. Ek hoop nie oorle Jeanne help Sarkozy nie –sy onthou immers hoe haar eie mense haar verkoop het.Baie dankie –voel vol inspirasie!

  5. Joan Hambidge :

    Gelukkig voel ek lankal nie meer soos in hierdie gedig “Smoke gets in your eyes” (Tachycardia) nie.
    Van die ander Johanna

  6. Joan Hambidge :

    Louis, ‘n fantastiese blog.

    Meditasie, Woede

    Dat pyn bestaan is glo nodig, het Van Wyk Louw verweer.
    Oor woede, ‘n allamagtige soort pyn, bestaan min verdigtings.
    Gekoppel aan teleurstelling? Dalk ‘n verkeerde omstelling?
    Soekend na ‘n outentieke beeld om hierdie emosie te belig:
    ‘n verwoestende bergbrand, ‘n inbraak oorrompelend.
    Dalk is woede eerder ‘n sleutel wat in ‘n slot afbreek
    met ‘n deur tussen ‘n koue buite en ‘n koesterende binne.
    Vir jare was ek ‘n inbreker, nee ‘n klouterdief van my eie bestaan.
    Ervarings en indrukke en veral verhoudings geslepe belieg.
    Voortgedryf deur verlange, onvervuldheid en valse voorstellings:
    woede onderliggend aan elke stansa, sonnet of distigon.
    Die smeulende stompe skroei en glimmer in ‘n donker gemoed.
    Dat pyn bestaan, dat pyn bestaan, dat pyn bestaan, dat pyn…

  7. Tiekie Cloete :

    Ai hoe lekker lees ek nou en voer jy my terug : ek hoor en proe uit my kinderdae daardie tuisfilms wat gly en breek en voortbeur terwyl ek die beelde een vir een wil uitryg vinniger en vinniger en vir ewig in my geheue wil vasbrand.
    En is ek bly ons het die operahuis besoek terwyl ons in Parys was . Ek kon nie genoeg daavan kry nie en Chris moes my behoorlik daar uitsleep!
    Die tog deur die sneeu saam met jou was ‘n ligpunt in my dag ;ek hou ook van die kontrasterende reis : smeulende goud , karmosynrooi en intense ryk kleure van Chagall . Groete.

  8. Juanita Lacock :

    Ag lekker, hoe heerlik sag op die oor met ‘n glimlag in my hart. Dit is mos nou hoe ek soggens my dag wil begin as ek hierdie boks aanskakel. Van die begin af – end uit!
    Ek het juis vanoggend ‘n verskoning gesoek om te huil. Helaas, kon ek toe die krane oopdraai.
    ‘n Operahuis laat ook my hare regop staan, my sitplek bly aan die brand, want ek wil ongemerk nog omkyk ook, maar dis puur nuuskierigheid en opgewondenheid. Dankie vir die lekkerte, jy is ‘n inspirasie vir vele. Bolandse liefde. Jx

  9. Ai Louis, jy KAN skryf! Ek sal moet kom kuier om La Creuzette in wit te sien – ‘n Suid Afrikaanse bruid in die verre Frankryk…..

  10. Berdine :

    Dankie Louis, jy kleur my lewe in.