Pieter Odendaal. Oor Kamfer, Van Zyl en kleur wat nooit alleen kom nie

Hierdie blog het aanvanklik as ’n kommentaar op Charl-Pierre Naudé se kommentaar op Yves T’Sjoen se essay oor die resepsie van Ronelda Kamfer in die Lae Lande begin. Hoe meer ek getik het, hoe meer het ek egter besef dat my kommentaar die konvensies van die genre van aanlynkommentare begin oorskry – ek wou te veel sê en later het dit nie meer soseer oor Charl-Pierre Naudé se kommentaar gegaan nie – daarom die blog.  Naudé het onder andere verwys na die sogenaamde “sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings” wat dikwels die ontvangs van ’n bepaalde digter se werk beïnvloed. Ek stem saam wat betref sy opmerking oor die behoefte aan ’n meta-kritiese blik op literêre kritiek in Suid-Afrika wat fokus op die wyses waarop die identiteit van die outeur dikwels ’n deurslaggewende invloed het op die resepsie van sy/haar werk. Ek dink dit is die geval in beide die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse Engelse literatuursisteme (ek weet nie genoeg van wat in die Xhosa en Zulu letterkunde op die oomblik aangaan nie, maar hierdie afgeskeepte poeletjies loop net soveel gevaar). Dit is seker iets waarvoor enige letterkunde versigtig moet wees.

noudat slapende honde

noudat slapende honde

Waaroor ek wonder, is die “sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings” waarna Naudé verwys (en ek neem aan dat dit juis hierdie oorwegings is wat Naudé meen veroorsaak dat Ronelda Kamfer eerder as Jasper van Zyl se werk aansien in Nederland geniet). Bedoel hy dat Kamfer ’n “kleurling” is en Jasper ’n “whitey” (ek plaas hierdie etikette in aanhalings om hulle as etikette te merk)? Indien dit die geval is, verstaan ek nie hoekom Naudé dit nie net sê nie – dit voel of hy heeltemal te versigtig is. En ek verstaan dat mense skrikkerig is om prontuit oor etikette te praat, maar dit is presies hierdie soort dapper gesprekke wat Kamfer, glo ek, oopskryf in haar poësie.

 

Ek dink hier ook aan die gedempte menings wat sekere mense het rakende die gedeelde toekenning van die Jonker-prys aan Kamfer én Marais – dat dit ’n soort troosprys vir Kamfer is, dat Marais dit glo eintlik meer verdien het en dat hierdie gebaar herinner aan die jaarlikse top matriekpresteerder-toekennings waar “voorheen benadeeldes” dieselfde erkenning geniet (met swakker uitslae) as die wit uitblinkers van privaatskole. Ek wonder soms hoeveel lesers agter bleek en geslote deure voel dat Marais die Jonker-prys meer as Kamfer verdien het.

Maar terug by Naudé se kommentaar en sy voorstel om te kyk na die verskil in resepsies van Kamfer en Van Zyl se werk in Nederland. Ek is ’n bloeitjie wat die poësie aanbetref, maar ek dink tog dat ek ’n opinie wil waag. Ek het reikhalsend na Jasper se bundel uitgesien nadat ek hier en daar van sy verse te lese gekry het, maar die bundel het my so ’n bietjie teleurgestel. Dit het onder andere vir my gevoel of daar min gegewens in die bundel is wat die gedigte anker in ’n Suid-Afrikaanse werklikheid en wanneer daar wél ‘n eksplisiete verwysing na hierdie plek en tyd is, is dit na my mening ’n redelik eendimensionele en beperkte werklikheid wat beskryf word.

Die lewe tussen pikkewyne

Die lewe tussen pikkewyne

Maar waarteen ek dit eintlik het, is die bundelomslag. Ek weet dat die bundelomslag nie altyd in die digter se hande is nie, maar ’n goeie omslag spreek letterlik boekdele – dit berei die leser voor op dit wat gaan volg. Die enkeling in volkleur bell-bottoms wat omring word deur grys sakemanne (die enkeling wat tussen pikkewyne probeer leef) vergestalt vir my Van Zyl se mymerende individualisme en gedeeltelike opgesmuktheid. Nie dat daar enigiets verkeerd is met ’n ek-gesentreerde digter nie – een van die wonderlike aspekte van die poësie is juis die rare toegang wat dit ons tot die binnekamer van ’n ander mens bied.

 

Hierteenoor skryf Ronelda Kamfer oor alles behalwe haarself – sy skryf buitentoe. En ek dink dat dit presies om hierdie rede is dat haar werk soveel aandag in die Lae Lande geniet. Sy skryf verskeie onsigbares se werklikhede oop (onsigbaar in die Afrikaanse letterkunde, onsigbaar in die daaglikse gestamp en gestoot) en dien dus as ’n soort optekenaar van die onopgetekendes. Beide Noudat slapende honde en grond/Santekraam dien as poëtikale argiewe van die hede en is daarom ook veral relevant vir buitestaanders wat (nes ons) probeer om hierdie vreemde land te verstaan – hierom, dink ek, dat Kamfer ook in die Lae Lande gelees word. Derek Walcott stel dit die beste in ’n aanhaling wat ook as motto vir Kamfer se debuutbundel dien:

[she’s] just a red nigger, who love the sea,
[she] had a sound colonial education,
[she has] Dutch, nigger and English in [her],
and either [she’s] nobody, or [she’s] a nation …

 The Schooner Flight, Derek Walcott

Laastens wil ek reageer op T’Sjoen se observasie (en Naudé se beaming) dat Alfred Schaffer & kie ’n groot invloed op Kamfer se resepsie in Nederland gehad het. Schaffer & kie kan ook net soveel doen om Kamfer se werk oorsee te herlei – daarna moet haar gedigte self die praatwerk doen. En hulle is besig om ’n helse bohaai op te skop, as ek die saak so kyk. Dis ook goed so: dis hoog tyd dat ons ’n jong Afrikaanse digter kry wat so wyd en presies oor die vreemde hede kan skryf.  En in hierdie sin is die inhoud van haar verse, tesame met die off-hand delivery, vuishou laaste reëls en sonoriteit van haar poësie, presies die literêre oorwegings (en nie die sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings waarna Naudé verwys nie) wat maak dat Kamfer vertaal word en dat haar verse so geredelik op beide Suid-Afrikaners en Nederlanders se lippe gaan lê. Sy, meer as Jasper van Zyl, is besig om ons te leer om onsself en die mense om ons wyer en presieser te verstaan.

Bookmark and Share

14 Kommentare op “Pieter Odendaal. Oor Kamfer, Van Zyl en kleur wat nooit alleen kom nie”

  1. Pieter, ek hou van jou nuutskepping “bloeitjie” waarin “bloedjie” en “bloeiseltjie” en “bloeiertjie” saamgekonsertina is!

  2. Joan Hambidge :

    Sowel Jasper van Zyl as Ronelda Kamfer is in eie reg fantastiese digters. ‘n Mens kan hulle nie vergelyk nie en die opmerking dat Kamfer eintlik ‘n tweede prys gekry het naas Loftus Marais is onjuis. Dit is twee afsonderlike Eugène Marais-toekennings – nie ‘n gedeelde prys nie! – vir twee bundels wat deur ‘n paneel as uitstekend beskou is. Dit is myns insiens juis goed dat twee uiteenlopende digters bekroon is. ‘n Mens kan nie (om terug te keer na Van Zyl en Kamfer) hierdie twee digters se werkswyses vergelyk nie. Ek is gaande oor beide. Die feit dat Kamfer in Nederland meer aandag geniet is waarskynlik om buite-literêre faktore, maar dit maak nie haar werk “minder” as Van Zyl s’n nie.
    Van Zyl is ten spyte van die gevoel dat die gegewe “eendimensioneel” is, ‘n wonderlike digter oor wie ek hoog opgee. En die buiteblad werk.

  3. Johann de Lange :

    Pieter, die beste wat mens oor hierdie gedagteslaai van jou kan sê, is dat jy nie baie hard & baie vér gedink het nie (endemiese probleem van by baie bloggers) & dat jy appels & uie met mekaar probeer vergelyk. Jou opmerking dat Kamfer bv. nie oor haarself skryf nie, is gewoon onakkuraat. Om skryf oor jouself (die doodsonde van die arme Jasper van Zyl) as minder relevant of van laer gehalte te beskou as wég van jouself skryf, oor die politieke werklikhede etc., is ook maar net ‘n re-hash van die alte bekende eis om betrokke te skryf wat so al om die tien jaar opduik onder die nuwe generasie.

    Aansien in Nederland is ook nie ‘n literêre maatstaf nie. Vir énige gesprek oor literêre gehalte is die resepsie van daardie werk ‘n heeltemal aparte gesprek, & populariteit sê niks oor literêre gehalte nie. Die Hollanders gryp graag lost causes aan & hou daarvan om as PC beskou te word, terwyl dinge in Ndl sélf ver van ideaal is rondom dieselfde issues. As dit nie Ingrid Jonker is nie, is dit Ronelda Kamfer.

    Dit is deel van ‘n soort celeb kultus wat sy kop uitsteek waar publisiteit, blootstelling, voorlesings, vertalings etc. etc. verwar word met gehalte, of ten minste die water modderig maak. Pryse is irrelevant tot die bedryf van skryf. Dit is ‘n aparte bedryf wat net homself dien. Dit word toegeken deur feilbare mense, soms met hulle eie agendas, beiteltjies om te slyp, of idees oor wat goeie poësie is. Hulle kry dit net so dikwels verkeerd as wat hulle dit reg kry. Pryse is hoogstens ‘n nuttige bedrag. As ‘n skrywer begin dink hy’s goed omdat sy werk bekroon is, as hy begin om sy eie press te glo, het hy verder van die kus weggedryf as wat hy besef.

    Kamfer & Van Zyl se werk vra & verdien om gelees te word vir wat dit is & nie vir wat dit nié is nie. Beide is goeie digters, elk op hulle eie manier. As ons nog steeds nie ‘n gedig kan lees sonder om die skrywer se velkleur in ag te neem by ons oordeel nie, het ons waaragtig niks gevorder sedert Sestig nie. Die jonger poësie is ‘n ryk, uiteenlopende groep stemme, elkeen doen sy eie ding. Daar was lanklaas soveel vitaliteit & verskeidenheid in ons jonger poësie. En dit kan my nie ‘n lor skeel of die Nederlanders daarmee saamstem, of dink dié een is beter as dáái een nie. Waarom is ons nog steeds so grootogig & dankbaar as die buiteland van ons notisie neem? As hulle notisie neem, is dit omdat hier opwindende dinge gebeur, nie andersom nie.

  4. Ek vra om verskoning vir die feitefout wat ek in die blog gemaak het, naamlik dat Kamfer en Marais die Jonker-prys gedeel het – dis natuurlik die Eugene Maraisprys gewees.
    @Joan: Ek het nou op die internet gaan rondsnuffel en orals word aangedui dat Marais en Kamfer die Maraisprys gedeel het: Hier op versindaba, op bookslive en op litnet. Ek stem met jou saam dat Marais en Kamfer die prys in gelyke mate en om uiteenlopende redes verdien het – waarteen ek dit het, is sommige mense se opinie dat Marais dit eintlik alleen moes kry en dat die gedeelde toekenning ‘n kopknip in die rigting van ‘n soort regstellende aksie is. (Ek het self al hierdie fluistergesprekke gehoor, so ek suig dit nie sommer uit my duim uit nie).
    Dankie vir jou kommentaar.

  5. Joan Hambidge :

    H.P. van Coller het in ‘n radio-onderhoud dit so verduidelik. Twee Marais-pryse, nie een nie.

    Hoe kom hy uit by die opmerking dat Ronelda Kamfer oor alles behalwe haarself skryf? Nuuskierig hieroor.

  6. @Joan – Ek het veral aan grond/Santekraam gedink toe ek hierdie opmerking geskryf het en die stelling dat sy ‘n optekenaar van die onopgetekendes is, is sekerlik die beste van toepassing op haar tweede bundel. Haar vermoë om ander mense met deernis en respek te beliggaam, is vir my een van die uitstaande kenmerke van haar poësie.

    In retrospek moes ek my opmerking dalk anders gefraseer het – miskien sou dit beter wees om te sê dat haar werk deur ‘n soort selfloosheid gekenmerk word. Selfs wanneer sy in die eerste persoon dig, gaan dit selde om haar “persoon” – daar is min sprake van ‘n geisoleerde individu wat eenkant van die bondel staan en haar eie beeld narsisties betrag. Die gemeenskap (waarvan die self onlosmaaklik deel is) speel ‘n kardinale rol in haar oeuvre. Dit is ook om hierdie rede dat ek die motto van haar debuut aangehaal het – dit dien as ‘n bevestiging van my argument dat sy ‘n digter is wat wegskryf van die illusie van die individu.

    Ek hoop dat die bogenoemde uiteensetting die redelike vae stelling dat Kamfer oor alles behalwe haarself skryf, duideliker belig.

  7. Joan Hambidge :

    Die opmerking dat sy skryf oor alles behalwe haarself is nie korrek nie. Sy skryf oor groter politieke kwessies, maar eweneens oor depressie, oor bipolariteit, oor seksuele gevare, e.d.m. wat die bundels eweneens vanuit ‘n feministiese perspektief interessant en relevant maak. Ek dink steeds dat die buite/binne -sjabloon nie vir my werk nie. Ook nie in die geval van haar tweede bundel nie.

  8. Andries Bezuidenhout :

    Uit “Noudat slapende honde”:

    moenie met jou verkakte gedigte na ons toe kom nie
    gaan vertel daai kamtige sad stories van jou vir die mense
    wat die reëls maak
    jy ruik in elk geval klaar nes hulle

  9. Johann de Lange :

    Sela

  10. Nathan Trantraal :

    Usually I don’t read this sort of thing, but I happened to stumble across it, now that it’s probably irrelevant.And I certainly never would comment, but I’m wondering why Johann De Lange chose to respond in this particularly patronizing tone to Peter’s blog post.He is clearly trying to make a fool of him. And why? Because he thinks Ronelda is a better poet than Jasper Van Zyl? It’s a valid opinion. The other irony is that I think where her poetry is concerned if you asked her and ( And I have asked her) she would say that Peter has a lot of things spot on. Although Ronelda writes in a very personal voice she always aims to make her writing universal. She has an awareness of the fact that her life story isn’t entirely unique and that there are probably a lot of people around the world who has a very similar experience. I also think that Ronelda is far from a lost cause, I think that’s a bit insulting.Mr. De Lange does not know Ronelda to make that assumption. Because alternatively it could just be that people like the writing. I bet if Jasper got translated you’d say he’s a good writer, good for him as unimportant you might think it is to be translated. I don’t agree that it’s always unimportant, say if you’re a hobbyist ( Like most South African writers) and you write in your spare time but you work for a University or a Magazine ( Like most South African writers) then perhaps translation and prizes are the cherry on top. But if you do it full time the extra money helps. And before you point out that a lot of great writers had day jobs. I know. See how careful I am now, I’m scared to misspeak too afraid Johann might send me a long smug response.

  11. charl-pierre naude :

    Ek het Pieter se eerste blog-aflewering oor bogenoemde onderwerp gemis, en soos Nathan, I am stumbling upon this by chance.

    Ek het nie my kommentaar van destyds voor my nie, maar ter verheldering (of as herinneraar), die volgende: Enige en alle literere kontekste het hul eie redes waarom dit hou van sekere buitelandse werk. Dis hul goeie reg. Dis ook die goeie reg van enige kommentator om daardie redes te probeer verbeter of daarop kommentaar te lewer. Belangrik om in gedagte te hou, is seker dat die Nederlandse literere ruimte soos die Suid-Afrikaanse nie eenduidig of homogeen is nie. Daar is verskillende letterkundes binne die Nederlandse. Soos daar ook behoort te wees binne die Afrikaanse (Of hoe meneer De Lange?)

    Die feit dat buite-literere redes ‘n rol speel by Kamfer se resepsie in Nederland – en ek meen dis wel so – maak nie die suiwer literere redes vir dieselfde resepsie – wat wegdeelglik bestaan – ongeldig nie. Buite-literere redes is ook nie noodwendig ongeldig nie, hoewel soms uiters kru.

    Ek het nooit gemeen Van Zyl is beter as Kamfer nie. Hier is twee baie verskillende soorte digkunste.

    Ek dink as Pieter die strekking van my woorde destyds so goed verstaan het as wat sy eie kommentaar te kenne gee, was groter eksplisietheid – soos hy van my vra, as ek reg verstaan – klaarblyklik nie nodig nie?

    En ‘n laaste nota oor bogenoemde eenduidigheid waarna ek verwys. Vergun my die volgende voetnoot. I mean, Mr De Lange’s perpetual smug little responses. I think I have for some time now been more of a (“unlucky”) recipient of this than Mr Trantaal. (This I hear through the grapevine, for it is not a past-time of mine to look up Mr De Lange’s “smug little responses” on the internet. I remarked on his snide asides on me three years ago – briefly – and will now briefly remark on it again.

    De Lange se draadjie is maar kort as sy eie uiters eenduidige opvatting oor die Afrikaanse letterkunde – of oor enige iets anders – in gevaar gestel word. Vandaar seker die “grasieloosheid” waarvan hy my in soveel woorde in ‘n ander skrywe op hierdie webruimte beskuldig het en waarvan ek nou eers verneem.

    Grasieloosheid is beslis ‘n ironiese woord vir die “grasieuse” Mister de Lange om op die lippe te neem.

    Mr De Lange, stop acting as if you are the one who by divine grace invented something called “proper Afrikaans literature”, and that you and a few chosen cohorts are the only guardians thereof. Your occasional arrogance in this regard is absolutely staggering. Not to mention irritating.

    I think this would be true from more than one social angle – and position?

    Lekker slaap. But DO wake up. DAARNA kan mens mos lekker Afrikaans praat, of hoe?

  12. Margot Luyt :

    Onse aarde, liewe genade! Daar is plek vir julle/hulle almal in die son. Niemand verg om eerste te staan in die klas nie, veral nie Ronelda nie. Die poeletjie is so klein. Julle moenie so na aan mekaar swem nie, dan sal julle vinne nie verstrengel raak nie.

  13. charl-pierre naude :

    Ek dink nie enige iemand kan met daardie sentiment van jou verskil nie, Margot. Ek dink rerig nie enige van die respondente hierbo wat hul saak helder gestel het (Johann inkluis) het dit hoegenaamd teen Ronelda nie. Hier is ‘n saak wat internasionaal en in verskillende sosiale kontekste bespreek word. Dit het niks regstreeks met Ronelda te doen nie. Mens moet oppas om geldige besprekingspunte nie alewig na persoonlike misnoee te herlei nie. Ek hoop nie dis wat jy doen nie.

    Laat daardie debat gerus gedy! (My eie deelname binne Versindaba-konteks was ‘n blote voetnoot. Ek verkies om in ‘n breer konteks aan sulke debatte deel te neem en doen dit gereeld as rubriekskrywer vir Beeld.) En wel omdat sulke onderwerpe so deksels INTERESSANT is.

    Because the examined life is so DAMN SEXY, Margot – om Sokrates te parafraseer. Is dit nie dalk tyd dat almal net so ‘n titseltjie meer sexy probeer wees nie?

    Kan baie doen vir baie mense … 🙂

    (My eie sylangse opmerking oor mnr. De Lange se styl het ook niks met Pieter se debat te doen nie. Dis ‘n ander saak – ‘n kleintjie – all together. En ek hoop om dit daar te laat.)

  14. charl-pierre naude :

    En ek moet byvoeg. Dat histories het jy wat Margot Luyt is darem nog altyd ‘n beduidende bydrae gemaak tot die aan die orde stel van geldige besprekingspunte? Hou so vol, asb. Moenie NOU opgee nie.