De Waal Venter. Die poëson

Ek wil hiermee graag besin oor die poëson.

Die poëson is ‘n begrip wat ek gebruik om spesifieke eienskappe van poësie aan te dui, sowel as die tegniek wat ek (en waarskynlik alle digters) gebruik wanneer mens poësie skep. Die woord “poëson” (in hierdie verband) maak sy eerste verskyning in die openingsgedig Releasing the rock van my bundel Entangling states of mind. (2010)

Voor ek die begrip wil probeer definieer, wil ek twee verwante begrippe naderhaal. Die eerste een is “verwikkeldheid” of in Engels, “entanglement”.

 

Verwikkeldheid

Ek gebruik die woord “verwikkeld” nie in die sin van “ingewikkeld” of “gekompliseerd” nie. Dit word hier in ‘n spesifieke sin bedoel: dit is die verwantskap wat daar tussen woorde en begrippe in ‘n gedig bestaan wat soms nie onmiddellik voor die hand liggend is nie.

Dit toon nogal ooreenkomste met “entanglement” in die fisika waar daar invloed uitgeoefen kan word op materie oor ‘n afstand, sonder dat daar enige oënskynlike verbinding is tussen die twee hoeveelhede materie. Dit is Einstein se spukhaften fernwirkung waarvan hy net niks gehou het nie.

Die tweede is Conceptual blending

Uit: Wikipedia

Conceptual Blending (aka Conceptual Integration) is a general theory of cognition.[1] According to this theory, elements and vital relations from diverse scenarios are “blended” in a subconscious process known as Conceptual Blending, which is assumed to be ubiquitous to everyday thought and language. Insights obtained from these blends constitute the products of creative thinking,.

 

Uit: Conceptual Blending Theory and the Social Sciences

Cristóbal Pagán Cánovas (cpcanovas@um.es)

Department of Classics, University of Murcia, Campus de la Merced 30001 Murcia, Spain

Canovas

Canovás

Conceptual Blending Theory (CBT) provides a model of how meaning is constructed by selectively projecting – according to optimality and governing principles – materials from mental spaces (Fauconnier, 1985, 1997), small conceptual packets built as thought and discourse unfold. These materials – cultural frames, embodied schemata, relations, contextual knowledge – are integrated into new wholes or blends, which retain the links to their inputs, thus forming a network of mappings and projections. According to this theory, conceptual integration is a defining human capacity underlying all major products of meaning construction: metaphor, language, religion, art, etc.

 

 

Nou kan ons weer voor begin. Wat is ‘n poëson?

In sy eenvoudigste gesien, is ‘n poëson ‘n hoofelement van ‘n gedig wat konsepte en beelde vervat en wat amper ongemerk met die struktuur van die gedig verwikkeld is.

Dit kan verder so beskryf word: dit is ‘n soort bousteen, omvattender as enkele woorde, en enkele beelde, wat gebruik word om ‘n gedig te bou.

Woordorde, aspekte van woorde, verwikkeldheid en konnotasie speel alles ‘n rol om ‘n poëson te vorm. Poësons maak dit vir die digter moontlik om konsepte op ‘n subtiele manier te verwikkel – konsepte wat nie noodwendige ruimtelik na aan mekaar geplaas is in die gedig nie.

Die poëson is dus essensieel ‘n stel verwante konnotasies en verhoudinge (noem dit ‘n gestalt) wat mekaar versterk en verryk – dit is wat ‘n gedig ‘n kragtige stelling kan laat maak, iets wat ryk is aan betekenis en emosionele trefkrag.

 

Wat bedoel ek met “aspekte van woorde”?

Alliterasie, rym, ritme, gevoelswaarde, vreemdheidswaarde (ostranenie ) is party van die aspekte van woorde soos ek dit hier toepas. Dit omvat alles wat ‘n woord verhoogde betekenis en impak in ‘n gedig kan gee.

 

Ons kyk weer na “verwikkeldheid”

Verwikkeldheid in ‘n gedig beteken dat skynbaar onverwante konsepte (dikwels ruimtelik geskei in ‘n gedig) gekoppel word. Hierdie proses skep nuwe betekenisstrukture (reekse tussen-afhanklike betekenisse) ryker in inhoud as die enkele konnotasies waaruit dit saamgestel is. Verwikkelde betekenisse skep ‘n “Gestalt” in die gedig  en dit is ‘n poëson.

In ‘n gedig raak poësons op hulle beurt weer met mekaar verwikkeld om ‘n semantiese struktuur te skep wat komplekse betekenis dra. Hierdie verwikkeldheid resoneer onverwags in verskeie emosionele en intellektuele dimensies.

Daar het in Desember 2011 ‘n interessante artikel in New Scientist verskyn. (Rhyme and reason: The Victorian poet scientists 30 December 2011 by Paul Collins).

Die artikel vertel van Victoriaanse wetenskaplikes wat ook graag gedig het. Dit was daardie jare blykbaar hoog mode vir wetenskaplike om ook digters te wees.

Maxwell

Maxwell

Een gedig val op. Dit lyk of dit ‘n soort voorloper kan wees van die “entanglement” idee. “James Clerk Maxwell, famous for his unifying theory of electromagnetism, was one of the most prominent Victorian poet scientist.”Generations of physics students learned his amusing Robert Burns spoof, Rigid Body Sings, and his take on Valentine’s Day card poetry – Valentine by a Telegraph Clerk (male) to a Telegraph Clerk (female) – still delights:”

 

 

The tendrils of my soul are twined

With thine, though many a mile apart.

And thine in close coiled circuits wind

Around the needle of my heart.

 

Die poëson en Conceptual Blending Theory (CBT)

Uit wat hierbo geskryf is, blyk dit duidelik dat daar groot ooreenkomste is tussen die poëson-gedagte en CBT.

Die volgende beskrywing pas die poëson eintlik baie goed: These materials – cultural frames, embodied schemata, relations, contextual knowledge – are integrated into new wholes or blends …

Die poëson is egter ook iets anders as hierbo beskyf, dit is spesifiek ‘n hoofelement in ‘n gedig wat konstruktiewe funksies het in die literêre kunswerk en wat as sulks nagespoor kan word in die gedig. Dit “versmelt” (blend) die talle elemente waaruit ‘n gedig bestaan tot ‘n sinvolle geheel.

 

Poësons in die skryf van ‘n gedig

Hoe hou ‘n digter hierdie komplekse ideesin sy of haar kop met die skryf van ‘n gedig? Antwoord: die digter hanteer poësons nie op ‘n bewustelike manier nie.

Ek persoonlik skryf so intuïtief as moontlik. Om bewustelik te dink aan die meganika van die skryfproses – beelde, metafore, metrum, ritme, poësons ens. – inhibeer my sodat ek nie kan skryf nie; of anders skryf ek in so ‘n situasies iets wat leweloos en geyk is.

Vir my is die tyd om aan tegniek en meganika te werk, wanneer ek herskryf en redigeer.

 

Hoe word die poëson dan hanteer?

Ek gebruik myself as ‘n voorbeeld omdat ek naastenby ‘n idee het wat in my kop aangaan, maar ek dink dit geld op een of ander manier vir alle digters.

Sonder om die menslike gemoed, brein en denkwyse in diepte te wil bespreek, moet ek hierby die volgende stellinge maak: die poëson word grootliks op die vlak van die onbewuste* geskep. Hoe dit gebeur, is nie vir my bewuste denke begrypbaar nie. Die onbewuste het blykbaar die vermoë om ‘n komplekse stelsel soos ‘n poëson tot stand te bring – iets wat die bewuste denke nie kan doen nie.

Die digter “konnekteer” die poësons wat geskep is met ‘n bewuste komposisie-proses, d.w.s. die uitdrukking van die poësons in ‘n taalvorm wat vir ‘n leser verstaanbaar sal wees.

 

Skepping van die poëson

Hier sit die digter. Sy wil ‘n gedig skryf. Waar is die poësons?

Sy weet nie. Sy kan hulle nie uitdink nie. Maar iets het haar ontroer – ‘n baba aan haar ma se bors. Sy wil ‘n gedig skryf. Gelukkig het sy die slag aangeleer om haar bewuste denke gedweë eenkant te laat staan vir ‘n rukkie.  Sy dink nie, maar sy begin skryf. Sy is nie bewus van die poësons wat sy by die gedig inweef nie, sy sal hulle later naspeur.

Die gemoedstoestand waarin die digter moet wees om hierdie proses suksesvol te loods, is verwant aan die gemoedstoestand waarin iemand verkeer wat mediteer. Daarmee sê ek nie ‘n digter moet mediteer om te kan dig nie, net dat die twee toestande ooreenkom. Elke digter het ‘n unieke manier om daardie toestand te bereik.

Daar was tye dat digters middels soos dwelms en alkohol gebruik het om die gewenste toestand te bereik. Die newe-effekte daarvan is natuurlik ‘n bietjie rof en neig om die digter taamlik vinnig op ‘n afdraande-pad te plaas.

Ten slotte kan ek net sê dat elke digter op sy of haar manier die gemoedstoestand bereik wat ‘n gedig suksesvol kan laat ontstaan. Daar is geen enkele “regte” metode of werkswyse nie. Elke digter moet sy of haar eie oplossing kry.

 

Demonstrasie

Ek gaan nou aan die hand van een van my eie gedigte demonstreer hoe ‘n poëson in die gedig voorkom. Ek gebruik my eie gedig om kopiereg-probleme te oorkom. Dit is ook makliker om uitsprake oor jou eie gedig te maak, eerder as oor iemand anders s’n wat maklik verkeerd opgeneem kan word.

Hier is die gedig …

 

Ver taal

 

Die navorser

het versigtig aan die feite geproe:

hoe het taal ontstaan?

Die ver, eerste taal.

 

Hy het die holte

van Broca oor en oor betas

met sy vingerpunte,

probeer voel

of hy die vroegste woord

se vorm kon bepaal.

 

Hy het fyn geruik

al om die buitenste kring

van moontlike klanke

wat sou kon wipsprong

uit die tong

van ‘n eerste prater.

 

Die navorser

het ondersoekend gekyk

na die uitbeelding van woorde

op antieke kleitablette,

gekerf in klippe en dierebene,

vraend die lyne en kurwes

van die tekens met sy oë gevolg.

 

Hy het geluister

in sy gemoed

na die jagters se roepe:

A! Oei! Sou!

 

En ‘n baba

wat gryp na ‘n vol bors

bokant sy kop

maak sy mond oop: ma!

 

 

*Die volgende aanhaling kom uit Wikipedia. Ek stel “subconscious” gelyk aan “onderbewuste” en “unconscious” aan “onbewuste”.

The term subconscious is used in many different contexts and has no single or precise definition. This greatly limits its significance as a definition-bearing concept, and in consequence the word tends to be avoided in academic and scientific settings.

In everyday speech and popular writing, however, the term is very commonly encountered as a layperson’s replacement for the unconscious mind, which in Freud’s opinion is a repository for socially unacceptable ideas, wishes or desires, traumatic memories, and painful emotions put out of mind by the mechanism of psychological repression. However, the contents do not necessarily have to be solely negative. In the psychoanalytic view, the unconscious is a force that can only be recognized by its effects-it expresses itself in the symptom. Unconscious thoughts are not directly accessible to ordinary introspection, but are supposed to be capable of being “tapped” and “interpreted” by special methods and techniques such as meditation, random association, dream analysis, and verbal slips (commonly known as a Freudian slip), examined and conducted during psychoanalysis.

 

‘n Poëson grafies voorgestel

  

Hier word ‘n poëson geïdentifiseer wat ons “Taal” sal noem.

Elkeen van die woorde wat in die “mindmap (wat sal ons dit noem in Afrikaans? Denkbeeld?) voorkom, staan net so in die gedig. Woorde is die konkrete aanwysers van die andersins onsigbare vloei van die poëson.

Die sentrale woord is “taal”. Nou kan mens dadelik verstaan dat “tong” skakel  (verwikkeld is met) “taal” en die dik blou streep laat geen twyfel daaroor nie. Op dieselfde vlak van “betekenis-afstand” (die eenheid wat die mate van direkte verband met die wortelbegrip aandui) is “woord”. Op die volgende vlak van betekenis-afstand vind ons “ma” (in groen aangedui” en dan weer ‘n verdere vlak “bors” (in rooi aangedui).

Die liggekleurde streep en pyl dui die verwantskap aan tussen “tong” en “woord”. Is daar by enigiemand twyfel oor die noue verwantskap tussen “tong” en “woord”? Indien wel kan ons gerus ter gelegener tyd ‘n debat voer daaroor!

Mens kan nog heelwat lyne aandui tussen bv. die derde vlak (groen) en die vierde vlak (rooi). Of die derde vlak en die eerste vlak “taal”. Mens kan so baie lyne inteken dat jy naderhand nie meer die woorde sou kon onderskei nie.

Maar ter wille van goeie begrip en helderheid, vereenvoudig ons hier met oordaad. Ons kyk net nog na die lyn tussen die vierde- vlakse “bors” en tweede-vlakse “woord”.  Raak die verband vir jou ‘n bietjie vaag? Wat is die slotsom van die gedig? Kyk na die illustrasie by die mindmap.

 

Ten einde

So sou mens kon aangaan en werklik swerms verbande (sigbaar gemaak met lyne) kon aantoon tussen woorde op verskillende vlakke. Maar dit is nie nodig nie. Wat hierbo verduidelik word, is die basiese proses van poëson-vorming. Anders gestel, dit is ‘n baie sketsmatige voorstelling van die samestelling van ‘n poëson.

Ek gee toe dat dit kru en oorvereenvoudig is in vergelyking met die werklike denk- en skeppingsproses. Maar hierdie voorstelling lig ‘n klein hoekie van die gordyn op wat mens ‘n blik gee op die ontstellend komplekse prosesse van denke, en spesifiek skeppendedenke.

 

De Waal Venter

De Waal Venter

De Waal het sy eerste digbunddel (Kiem) in 1962 gepubliseer en daarna nog digbundels, kinderverhale, jeugromans, radio en TV-dramas, kortverhale en ’n film-draaiboek. Hy het sedertdien nog ’n jeugroman in Engels (The Great Stir Trial)  en ‘n digbundel “Entangling states of mind” by die Amerikaanse POD maatskappy Lulu.com gepubliseer. Verder skryf hy gereeld poësie in Engels en Afrikaans en plaas dit op sy blog Poetry en poësie. Hy vertaal ook poësie uit verskillende Europese tale.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “De Waal Venter. Die poëson”

  1. Rene Bohnen :

    ek lees toevallig op die oomblik “Digterlike Diagnose” (Ernst van Heerden) en hierin word Dylan Thomas aangehaal: “It consciously is not my method to move concentrically round a central image…A poem by itself needs a host of images. I make one image – though ‘make’ is not the word; I let, perhaps, an image be made emotionally in me and then apply to it what intellectual and critical forces I possess – let it breed another, let that image contradict the first…” Ek dink dit sluit aan by jou uiteensetting, De Waal?

  2. Hallo Rene

    Dankie vir die aanhaling. Ja, “… let it breed another …” is ‘n goeie manier om uit te druk wat ek bedoel met die “onbewuste” hantering van die poëson.

    Verder is “the host of images” ook nie ver van wat ek bedoel met die verwikkelde poësons wat mens in elke gedig aantref nie.

    Ek waardeer dit dat jy die artikel aandagtig gelees het.

    Vriendelike groete

    De Waal