Resensie: Kô lat ons sing – ʼn Keur (Adam Small)

Hierdie verse moet inderdaad weer gelees word

Small, Adam. 2011.  Kô lat ons sing – ʼn Keur uit die gedigte van Adam Small (Saamgestel deur Steward van Wyk). Kaapstad: Kwela. ISBN 978-0-7957-0381-2

Resensent: Heilna du Plooy

Kó lat ons sing

Kó lat ons sing

As die publikasiedatum van gedigte verder terug in die tyd lê omdat die hede vorentoe skuif, vergeet poësielesers dikwels die uitwerking van die eerste impak van daardie gedigte. Trouens, die gedigte self word ook dowwer in die geheue. Dit is net logies dat dit gebeur omdat daar altyd weer nuwe werk verskyn en nuwe digters die toneel betree. Goeie poësie word egter nie oud nie en ʼn deeglike herlees van werk uit vroeër jare is nie net ʼn waardevolle ervaring nie, maar ook ʼn noodsaaklike ervaring. Bloemlesings speel wel ʼn rol om die werk van belangrike digters en ook sekere kerngedigte steeds onder die aandag te bring en te hou, maar daar is meestal net plek vir ʼn paar gedigte uit ʼn digter se oeuvre. Keuses moet noodwendig gemaak word en oor die keuse kan mense ook verskil.

Daarom is dit so belangrik dat ʼn keur uit die gedigte van Adam Small byeengebring is. Die seleksie en keuse van die samesteller, Steward van Wyk, toon dat hy ʼn skerp insig in Small se werk het. Die bundel gee ‘n oorsig oor die oeuvre maar bevat ook daardie gedigte wat die kenmerkende eienskappe van Small se digterskap belig. By die herlees van die heel vroeë verse uit die bundel Vroeë verse (1957) kon ek by die herlees nie die toonaard, wat aan Van Wyk Louw herinner, mislees nie. Ek sien dit glad nie as beïnvloeding wat as iets negatiefs beskou moet word nie, maar eerder as ʼn eienskap wat in historiese verband beredeneer sou kon word. Sou mens hieruit kon aflei dat in 1957 die skeiding tussen die werk van bruin skrywers en wit skrywers in Afrikaans nie so sterk was dat dit die moontlikheid sou uitsluit dat dieselfde toonaard en tendense in die werk van beide groepe sou voorkom nie? Vanselfsprekend sou ʼn mens hier maklik kon sê dat die werk van die wit skrywers die toon (volgens ʼn bepaalde persepsie) aangegee het en dat die navolging as ideologies verdag beskou moet word, maar dít lyk vir my na  ʼn simplistiese verklaring want reg van die begin af het Small se werk ʼn eie tematiek vertoon. Die gedigte maak ʼn gans ander stelling en bekyk die werklikheid baie duidelik vanuit die perspektief van die bruin gemeenskap en van ʼn gelowige en sensitiewe individu wat deel vorm van daardie gemeenskap. Dit is dus eerder opnuut ʼn aanklag teen die verwydering wat deur die politieke ontwikkelinge in die laat vyftigerjare teweeggebring is: daar was ʼn soort verwantskap en nabyheid wat verbreek is en wat onmoontlik geword het.

Hierdie vroeë verse bevat ook wysheidselemente wat binne die politieke omstandighede en konteks van die bundel veel meer betekenisvol word. Die digter probeer om bo die dwingende werklikhede uit te styg as hy skryf:

…God laat in elke tyd
nóg jare oor wat enkeles tot besinning slyt. (p. 13)

Hoeveel spyt kom nie in ʼn mens op om die verspeelde geleenthede as jy lees hoe Small in hierdie tyd skryf oor die verhouding tussen bruin en wit nie. Hy sien die onreg en die probleem, maar hy reik uit, dit is asof hy glo daar is ten spyte van alles hoop dat daar uitgereik kan word. Hy hou minstens die kommunikasiekanaal van sy kant af oop en stel die interafhanklikheid en verbondenheid onbeskroomd in woorde wat nou opnuut ʼn aanklag is.

As ek nie was soos waters van die dood  
kon jy jouself nooit oor my werp soos brood;

… so keer jy jou nou na my duisternis
omdat jou lig daarin verborge is!  (p.14)

Die oorgang na die sterk betrokke poësie, hoofsaaklik in Kaaps, is in die lig van hierdie vroeë verse by terugskouing soveel meer betekenisvol en kragtig. Sharpeville het gebeur en die skeidingslyne het deurlopend duideliker geword. Desnieteenstaande bly Small se poësie binne die raamwerk waaraan hyself glo en word dit nie ʼn anonieme en algemene betoog nie. Die integriteit van sy standpunte kry poëties gestalte in gedigte wat in hulle vorm en formulering ikonies is van verset, maar wat steeds ʼn geskakeerde en veral ʼn ironiese beeld vertoon. Hy beeld die onreg uit en laat dit vanself spreek, laat dit as ‘t ware poëties gebeur. Veral in die ironiese verse is hierdie indirekte segging baie effektief, soos in die gedig “Doemanie”  waarin die sendingpredikant gekonfronteer met sy lewensstyl wat soveel verskil van die van sy kerk se lidmate.  Dit is ook opvallend hoeveel reëls en frases uit Small se gedigte deel geword van die algemene Afrikaanse spreektaal soos uit die bekende “Die Here het gaskommel” die reël “..die dice het verkeerd gaval vi’ ons/ daai’s maar al” of “What abou’ de lô” .

Dit is ook opvallend hoe sterk die motief van lyding in die gedigte is. Dit is asof Small soek na maniere om te oorleef, om die onreg met waardigheid te kan hanteer. Hierdie pogings tot waardige selfbehoud neem telkens ʼn religieuse vorm aan, soos in die gedig “Vryheid” wat eindig met die refrein “Gods hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering!”. In ander gedigte smeek en versoek en pleit die digter dat God moet omsien na ál sy mense. Iets in die toonaard herinner sterk aan die Psalms in die Bybel waarin die digter in ʼn dubbele negatief die Here vra om hom nie te vergeet nie: “God moenie meer Jou nie oor ons ontferm” (“Jy sal ook die kitaars hoor snik”, p. 46) en in “Second Coming I” (p. 86):

…ek vra djou, Here,
please, pléáse wend
en lig djou kop
net één maal op
en notice my hie agter, please,
en smile moet my.

Hierdie trant word voortgesit in “Sê Sjibbolet” (1963) met gedigte soos  “Genesis” (p. 80), “Exodus” (p. 81), “Vals galoef: (p. 86), “Ytstorting vannie Heilage Gies” (p. 87), “Wáár is Moses?” (p. 95) en nog baie ander.

Daaby kom die volledige identifikasie met die onderdrukte gemeenskap waarvan Small deel was en is. In die gedig “Wie’s hy?” skryf hy oor die digter wat nie die eensame met pen en ink is nie, maar die mense wat in die straat loop, die gewone mense wat onbeskaamd en onbeskroomd hulle emosies uitroep. Die durende aanwesigheid en ervaring van onreg voed die gedigte, selfs in die gedigte oor taal, wat ʼn tweesnydende swaard is:

hoe anders sou die woordeboek wil hê
wanneer ons kerker sê
dat ons eers kerk moet sê?

Small se deeglike filosofiese opleiding spreek ook mee in sy verse. Dit gaan nie net oor die gedigte wat direk uit gedagtes van filosowe soos Nietzsche en Kierkegaard voortvloei nie, maar oor die denkwyse, die diepgaande besinning wat die gedigte onderlê ongeag die taalvorm, Engels of standaard Afrikaans of Kaaps, of poëtiese vorm, meer of minder gestruktureer, wat gebruik word.

Daar is bykans iets profeties in die verse as ʼn mens dit nou by terugskouing lees. In die gedig “Apokalips” (p. 107) skryf Small in 1963:

Maar die woord van vrede vir alle lan
sny soos ʼn swaard na álle kante;

die tyd is kwaai, die sout is laf
en Apokalips se perde aan die draf.

Dit is ʼn skade vir ʼn lesersgemeenskap as die werk van digters wat in vorige dekades gepubliseer is nie meer gelees word nie, nog meer so as dit gebeur omdat die poësie nie meer beskikbaar is nie. Hierdie baie mooi keur uit die werk van Adam Small is ʼn waardige en welkome publikasie om hierdie leemte te vul, maar dit is ook ʼn noodsaaklike publikasie om ons te herinner aan die groot bydrae van ʼn belangrike digter.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.