Leon Retief. Kerke en ander dinge in Kanada

Soos die geval is met baie Westerse lande is Kanada taamlik sekulêr alhoewel ek nie daarin kon slaag om betroubare onlangse syfers te kry nie. Dit wil my voorkom asof ongeveer 18-20% Kanadese hulself bestempel as behorende tot geen geloof nie, maar dit is moeilik om vas te stel hoeveel van die res van die Kanadese bevolking gereelde kerkgangers is. Wat die geval ook al mag wees, wanneer mens deur die land reis en dan veral buite die prêries word dit gou opvallend hoeveel kerkgeboue in onbruik staan of baie min gebruik word.

Alhoewel ek self godsdiens beskou as nie veel anders as ‘n kindersiekte nie is daar tog iets aan ‘n mooi kerkgebou wat vir my ‘n soort van viscerale bekoring het, soortgelyk aan kerkmusiek – ‘n waardering vir sowel die onderliggende religieuse emosie, die struktuur van die werk en die blote sensuele skoonheid van die gebou/komposisie self. Wat kerke betref is my gevoel waarskynlik ten dele te wyte aan my vrou Lesli omdat ek kan sien wat haar geloof vir haar beteken. Sedert 2001, die jaar toe ons oudste dogter Liezl oorlede is het ons telkens, waar in die wêreld ons ook al ‘n Katolieke kerk teengekom het, dit binnegegaan en ‘n kers in haar nagedagtenis aangesteek. Vir my is dit ook ‘n betekenisvolle gebaar al deel ek nie Lesli se sienswyse daaromtrent nie. En soos dit nou maar in politiek korrekte Kanada gaan en met die dat baie kerkgeboue van hout of ander vlambare materiaal gemaak is, is die aansteek van kerse in baie kerke verbied omdat die gebou kwansuis kan afbrand, gevolglik het ons sedert ons aankoms hier vier jaar gelede net twee keer kerse kon aansteek.

Ek het nie Andries se kennis van argitekte of boustyle nie, al wat ek kan bied is enkele foto’s van kerke wat vir my nogal treffend was, sowel as een of twee foto’s oor dinge waarvoor ek nie ‘n ander rede kan kry om te skryf nie maar wat ek tog graag wil plaas.

In September verlede jaar was Lesli en ek in Victoria, die hoofstad van British Columbia, waar ek ‘n kongres bygewoon het. Ons was net tien dae daar en benewens die feit dat ek natuurlik die kongres moes bywoon het ons ook baie tyd spandeer in die wêreldberoemde Butchart Gardens (google dit gerus), restaurante, boekwinkels, vlugte in “seaplanes” (dalk kan iemand help – wat is ‘n goeie Afrikaanse woord hiervoor, “vliegboot” klink nie vir my reg nie) en doodgewone rondwandel en dus net twee kerke gesien. Een was sigbaar uit ons hotelkamer en was regtig niks noemenswaardig nie, die ander een was die kapel van St. Anne’s Academy, Victoria BC,  in ‘n nabygeleë klooster. (Kyk foto hier bo). As ek reg onthou dateer dit uit 1871.

Julie verlede jaar het ons twee weke lank deur Newfoundland getoer en dadelik op daardie provinsie verlief geraak, agterlik soos dit weliswaar deur baie Kanadese beskou word. Die Anglikaanse kerk, The Cathedral of St. John the Baptist, in St. John’s, hoofstad van die provinsie Newfoundland en Labrador, het ‘n besondere orrel, gebou deur die Engelsman Robert Hope-Jones in 1904 en in 1927 gemodifiseer deur die orrelbouer Casavant Frères van St. Hyacinthe in Quebec. Hope-Jones, wat in 1914 (as ek reg onthou) selfmoord gepleeg het, was ‘n baie innoverende orrelbouer, moeilik om mee klaar te kom maar sy baanbrekerswerk het na sy dood gelei tot die Wurlitzer orrel. Die orrel in St. John’s het ‘n besonder indrukwekkende klank alhoewel die uitstekende akoestiek van die kerk natuurlik ook ‘n bydrae lewer. Dit het vier klawerborde vir hande, een vir voete, 52 “speaking stops” (weet nie wat dit in Afrikaans is nie) en nagenoeg 3 600 pype. Ons het een van die gereelde Woensdagmiddag-uitvoerings bygewoon en na die tyd met die orrelis, David Drinkell, gaan gesels. Die uitvoering was werklik ‘n besondere ondervinding en die gemeente kan homself gelukkig ag met so ‘n goeie en begeesterde musikus.

 

 

Orrel van die Cathedral of St. John the Baptist in St. John’s, Newfoundland.

St. John’s is ook die tuiste van die Rooms-Katolieke Basilica of St. John the Baptist (twee katedrale van verskillende denominasies maar dieselfde naam – dalk ‘n soort van wedywering?) waarvan ek ongelukkig nie ‘n goeie naby-foto kon neem nie, maar ek skat dat hierdie foto, geneem vanaf Signal Hill, ‘n goeie idee sal gee van hoe hierdie kerk bo die stadjie uittroon sowel as van die argitektuur van die gebou. Dit is nogal ‘n indrukwekkend van binne sowel as buite.

 

 

Basilica of St. John the Baptist, ook in St. John’s.

 

 

Binnekant van die basilika.

Deel van ons reis het ‘n besoek aan die klein dorpie Cow Head in die Gros Morne National Park in die noordelike skiereiland van Newfoundland ingesluit en alhoewel die plaaslike Anglikaanse kerkie eintlik maar net ‘n soort van opslaangebou is, nie die moeite werd om af te neem nie, kan ek nie die versoeking weerstaan om hierdie foto te plaas nie.

 

 

Anglikaanse kerkie in Cow Head.

Ek het die foto hier onder geneem terwyl ons op ‘n bootrit in die Golf van St. Lawrence verby ‘n klein vissersdorpie gevaar het, die kerkie was hoog op teen ‘n berghang, geïsoleer van die dorpie self, dalkies tekenend van die algemene stand van godsdiens in Kanada as geheel?

Ons het die effens skewe kruis op die toring nogal amusant gevind en het gewonder: is hierdie kerkie die gemeente se religieuse en/of sosiale swaartepunt? Hoeveel mense in ‘n streek wat oor die algemeen as konserwatief beskou word woon nog kerkdienste by? Gesien die skynbare goeie toestand van die gebou mag daar dalk heelwat getroue kerkgangers wees, wie weet.

 

 

Kerkie in die Golf van St. Lawrence.

 

Christ Church Cathedral in Montreal se neogotiese styl het vir ons ‘n mooi kontras gevorm met die pienk gebou in die agtergrond. Die gebou is deur Frank Wills ontwerp en in 1859 voltooi. Dis nou die kerk, nie die pienk gebou nie…

 

 

Christ Church Cathedral, Montreal.

Die volgende twee foto’s is nie van ‘n kerk nie maar wel van ‘n tempel – een gewy aan Mammon.

 

Binnekant van die Royal Bank of Canada, Montreal.

Is daar iewers in die wêreld selfs ‘n middelmatige groot Franssprekende stad wat nie ‘n Notre Dame katedraal het nie? Montreal is geen uitsondering nie maar die Notre Dame katedraal aldaar het ons nie juis besonder beïndruk nie. Nogtans, hier is soos dit lyk – ongelukkig kon ek nie ‘n foto vanuit ‘n goeie perspektief neem nie want oral rondom die katedraal was werkers besig om strate, sypaadjies en parkeerterreine op te kap en als was afgesper.

 

Notre Dame katedraal, Montreal.

 

Die klein en pragtige dorpie Mahone Bay in Nova Scotia het drie werklik mooi kerke (Anglikaans, Luthers en United)  aan die dorp se waterfront in Edgewater Street, almal binne sowat 300 meter van mekaar. Elkeen is grootliks van hout gebou en daar word dikwels musiekuitvoerings aangebied. Hierdie drie kerke is dwarsdeur Kanada bekend en waar mens ook al in Nova Scotia reis kan mens poskaarte koop met foto’s van die kerke langs die waterfront.

Ons het Mahone Bay oor ‘n naweek besoek en elke Saterdag is daar oorkant die kerke ‘n straatmark wat ons natuurlik besoek het. Ons het elkeen ‘n sny vars brood en ‘n Tim Horton’s koffie gaan koop en op ‘n bank langs die waterfront gaan sit en om die beurt na die kerke en die baai gekyk. Toe dink ek onwillekeurig aan oom Simon Uys, ‘n nou al lank oorlede algemene praktisyn in Bellville wat dikwels geassisteer het by operasies waarvoor ek narkose gegee het. Benewens ‘n pragtige bry het hy ook ‘n klein wynplasie besit en eendag vertel hy my hoe hy die Saterdagmiddag op sy stoep gesit het met ‘n glas wyn in een hand en ‘n sny vars, warm brood in die ander, en aan homself gesê het “Jiggghe, Simon, jy is dagghem gghyk!” Hy het nie van geld gepraat nie. Op daardie dag in Mahone Bay het ek ook so gedink.

 

Drie kerke in Mahone Bay. 

Ons het ‘n onbeplande naweek in Antigonish (uitgespreek as AntIgonish) deurgebring, bloot omdat ons iewers vir ‘n paar dae wou ontspan en Antigonish was die naaste dorp vir hierdie doel. Ek het eers later uitgevind dat dit die tuiste is van die digteres Anne Simpson.

Seksuele molestering van seuntjies deur priesters het natuurlik ook in Kanada plaasgevind en skynbaar veral in Nova Scotia. Die voormalige biskop van daardie provinsie, biskop Raymond Lahey, is baie lof toegeswaai toe hy ruiterlik erken het dat hierdie skandale plaasgevind het en ‘n skriftelike verskoning sowel as ‘n skikking ter waarde van $15 miljoen bewerkstellig het om die slagoffers te vergoed.  En sowaar, net ‘n paar maande later is hy betrap met kinderpornografie op sy rekenaar. Hier is St. Ninian’s katedraal waar Lahey gesetel was.

 

St. Ninian’s in Antigonish.

Nova Scotia het waarskynlik meer kerke per honderd vierkante kilometer as enige ander gebied wat ons nog besoek het. Dikwels kom mens ‘n kerk sommer in die middel van nêrens teen, soos die kerke in die onderstaande twee foto’s. Meestal is die geboue goed versorg maar dit was moeilik om te oordeel of dit wel nog vir dienste gebruik word. Plattelandse Nova Scotia en Newfoundland se kerke is oor die algemeen strak, wit en eenvoudig.

Twee kerke in Nova Scotia.

Gravelbourg is ‘n kleinerige dorpie in die suide van Saskatchewan en die tuiste van die Cathedral of our Lady of the Assumption wat in 1919 voltooi is. Gravelbourg was tot redelik onlangs een van die min Franssprekende enklaves in Saskatchewan en die katedraal het in 1930 die setel van ‘n Katolieke biskop geword. Die dorp het sedertdien al meer verengels en die Katolieke populasie het tot so ‘n mate afgeneem dat daar nie meer ‘n biskop is nie en deesdae is die gebou bekend as ‘n ko-katedraal, wat dit ook al mag beteken. Die gebou self is taamlik onaansienlik van buite maar die binnekant, geskilder deur Monsignor Charles Maillard, is ‘n fees vir die oog en is ‘n uitbeelding van die sondes van die wêreld, die veertien stasies van die kruis (ek hoop dis die korrekte Afrikaans vir stations of the cross) en die dood van St. Philemon – voordat die kerk ‘n katedraal geword het is dit vernoem na St. Philemon, wie hy ook al was. Ek kon nie vasstel wanneer Maillard die interieur geskilder het nie maar dit was waarskynlik in die vroeë 1920’s.

Wanneer mens Gravelbourg se buitewyke benader is een van die eerste sowat ses dinge wat mens opval die reklameborde (as dit nou in hierdie geval die regte woord is) wat aborsie afkeur. Die afname in die Katolieke populasie ten spyt het dit skynbaar nie die sienswyse van die inwoners verander nie. Nogtans is dit ‘n dorpie met ‘n taamlike kosmopolitaanse atmosfeer (wel, kosmopolitaans vir die prêries) en met ‘n paar lekker restaurante.

 

Katedraal in Gravelbourg. 

Hierdie is waarskynlik die kleinste kerkie in Kanada, net buite Drumheller in Alberta se Badlands. Plek vir drie, die prediker en nog twee mense.

Kerkie in die Badlands.

 

 

Die Badlands.

 

Die rede vir ons besoek aan Drumheller was nie om die Badlands of Drumheller self te sien nie want dis maar ‘n redelik mistroostige dorpie – ons motivering was die Royal Tyrrell Museum net buite die dorp. Die Badlands het een van die rykste bronne van dinosouriërfossiele wat bekend is en hierdie museum is die enigste ter wêreld wat net aan paleontologie gewy is. Dit is ook ‘n “werkende” museum in die sin dat daar aktiewe navorsing gedoen word en van die uitstallings was werklik asemrowend. ‘n Verdere bydrae tot ons opwinding was ‘n uitstalling van Kambriese fossiele uit die Burgess-skalie wat in British Columbia se Rockies te vinde is, fossiele wat meer as 500 miljoen jaar oud is. Dit was die eerste keer dat ek van aangesig tot aangesig gekom het met onder andere Anomalocarus en Opabinia. Hier staan Lesli by die been van ‘n uitgestorwe dinosouriër.

 

Lesli in die Royal Tyrrell Museum

 

Andries het in sy uitstekende inskrywing oor kerke genoem dat toenemende ontkerstening tot gevolg het dat baie mense nie meer verwysings na die Bybel in letterkunde sal verstaan nie. Hy is waarskynlik korrek. Die King James weergawe van die Bybel, saam met Shakespeare se werke is sekerlik die twee geskrifte wat die grootste bydrae ooit tot die Engelse taal gelewer het. Dit bly vir my interessant hoe lank sulke kennis by mens bly voortbestaan. Ek het laas ‘n Bybel oopgemaak toe ek sestien was en moes katkiseer, maar steeds verstaan ek baie sulke verwysings – hoeveel by my verbyglip weet ek weliswaar nie. Dit laat my beslis armer – en nie net vir my nie maar ook daardie mense wat van kindsbeen af geen sulke kennis het nie.

 

In the secular night

In the secular night you wander around
alone in your house. It’s two-thirty.
Everyone has deserted you,
or this is your story;
you remember it from being sixteen,
when the others were out somewhere, having a good time,
or so you suspected,
and you had to baby-sit.
You took a large scoop of vanilla ice-cream
and filled up the glass with grapejuice
and ginger ale, and put on Glenn Miller
with his big-band sound,
and lit a cigarette and blew the smoke up the chimney,
and cried for a while because you were not dancing,
and then danced, by yourself, your mouth circled with purple.

Now, forty years later, things have changed,
and it’s baby lima beans.
It’s necessary to reserve a secret vice.
This is what comes from forgetting to eat
at the stated mealtimes. You simmer them carefully,
drain, add cream and pepper,
and amble up and down the stairs,
scooping them up with your fingers right out of the bowl,
talking to yourself out loud.
You’d be surprised if you got an answer,
but that part will come later.

There is so much silence between the words,
you say. You say, The sensed absence
of God and the sensed presence
amount to much the same thing,
only in reverse.
You say, I have too much white clothing.
You start to hum.
Several hundred years ago
this could have been mysticism
or heresy. It isn’t now.
Outside there are sirens.
Someone’s been run over.
The century grinds on.

© Margaret Atwood

 

 

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Leon Retief. Kerke en ander dinge in Kanada”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Baie dankie hiervoor, Leon. Dis nie die tipe blog wat ‘n mens op die rekenaarskerm lees nie, maar uitdruk, sodat jy alles aandagtig op papier kan oorweeg. (Dankie ook vir die Atwood!)

  2. Joan Hambidge :

    Leon, ek het eenkeer ‘n reis deur Frans-Kanada onderneem en jou blog is werklik fantasties. Dit vra vir ‘n saamlees met Andries se blog.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Leon, die deel oor die ontstaan van die Wurlitzer vind ek baie interessant. Dis van my gunsteling klanke – onlangs weer daaraan herinner deur Lightning Dust, ‘n band van Vancouver. Ek het hulle CD by ‘n winkel in Montreal gekoop – L’Oblique. (Ek verwys hier na die elektroniese klavier, maar ek verneem die maatskappy se naam is ook vir pyporrels gebruik – waarna jy waarskynlik verwys.)

    Oor die sekulêre Weste. Ek het onlangs ‘n artikel deur die sosioloog Peter Berger gelees (“Secularism in retreat”, 1996), oor die sekularisering van die moderne wêreld wat Max Weber voorspel het. Berger beweer dis die uitsondering, eerder as die reël. Daar is, volgens hom, net twee werklike voorbeelde van sekularisering: Wes-Europa en sosiaal-wetenskaplikes. Hy sluit die artikel so half tong in die kies af – dat die volgende religieuse oplewing waarskynlik onder sosiaal-wetenskaplikes gaan plaasvind. Wel, deesdae praat mense mos van die “religious turn” in filosofie. Desmond?

    Joan, ek het nog ‘n hele paar stelle foto’s en dokumente oor kerkgeboue waaroor ek wil skryf. Ek brand om oor die doppers van Philpstown te skryf. My persoonlike toets vir ‘n blog is egter of dit darem iets met die digkuns uit te waai het. Ek wil nie hê die blad moet fokus verloor nie – die gevaar is dat gesprekke oor alles behalwe gedigte en boeke gaan – wat die doodskoot is vir ‘n werf soos hierdie.

  4. Leon Retief :

    Andries askies, ek moes genoem het dat ek spesifiek van die Wurlitzer teater-orrel gepraat het.
    Ek het ook die indruk dat sosiaal-wetenskaplikes ‘n bydrae gelewer het tot sekularisering, maar na my mening het aspekte van die natuurwetenskappe hierdie bydrae voorafgegaan. Dis ook interessant dat lede van die American Academy of Sciences, wie se lede beskou word as uitgelese wetenskaplikes, ‘n geweldige hoë persentasie agnostici en ateiste het. Moet ook nie die insidensie van heidenskap onder dokters vergeet nie – een of ander middeleeuse geleerde, ek vergeet nou wie en ook wat die oorspronklike Latynse gesegde was, het gesê dat as jy drie dokters bymekaar het is twee ateiste, of woorde met daardie strekking. My ondervinding is dat Afrikaanse en Moslem-dokters oor die algemeen gelowig is, die ander met wie ek al in aanraking was is weer nie.
    Die besluit oor die aard van bydraes le natuurlik by ons webmeesteres, maar ek sal jammer wees as mens nie oor als en nog wat kan skryf en ‘n tersaaklike gedig of twee kan invoeg nie – as als net oor die letterkunde moet handel sal ek maar moet swyg want ek is nie bevoeg om daaroor te skryf nie.

  5. Webmeester :

    Leon, die hooffokus van hierdie kollektiewe webblad sal natuurlik altyd die Afrikaanse digkuns en die ganse spektrum daarvan wees. Maar dis tog ook net logies dat om by die dig uit te kom, elke digter ‘n eie wêreld, (dikwels uniek in vele opsigte) het wat beleef word. So ook diegene wat ‘n passie het die digkuns, maar nie self skryf nie. Die poësie is immers ‘n see wat aan alle riviere drink, so sê iemand vir my in die verbygaan. Filosofie, geskiedenis, alle kunsvorme, godsdiens, reise, politiek, ens. is almal temas/belangstellings wat die skrywer sal interesseer. Wat my betref val die fokus hier nog grotendeels op die poësie (gereelde plasing van gedigte/resensies/onderhoude/akademiese artikels of essays, ens.) en sy digters, hetsy hulle eie belewenisse of ervarings wat ook immer interessant is vir ander om te lees. En as ‘n spesifieke inskrywing jou dan nie interesseer nie, hoef jy nie daarop te reageer nie. Hoef jy dit trouens nie eens te lees. Maar ek hoop dat hier genoeg stof is wat vir almal wat belang het by ons digkuns, sal interesseer, met of sonder diskoerse daaroor. Tans lyk dit tog so? Of hoe? 🙂

  6. Joan Hambidge :

    Andries en Leon

    Julle blogs oor kerke is boeiend. Andries die gedigte skuil waarskynlik agter die foto’s, meen ek. En kerke en klokke wat lui en horlosies wat die verkeerde tyd aandui…

    Mosterd na die maal

    “Ek bid elke nag vir hom,” bely my ma.
    Ek stoot die opgewarmde pyn terug op my bord.
    Die tafelgebed uit my jeug herhaal sy stem:
    “Vir spys en drank.”
    Die groen geskifte tafelmatjies, die sout-en-peper-stel
    hou steeds die fort.
    Die kerkklok mis snags steeds ‘n slag,
    die buurman se motor luier om vyf voormiddag in die oprit.
    My selfoon is op silent,
    ‘n boeppens porselein-engel hou stil oor my die wag.
    Onder ‘n slaaplose skildery van ‘n dorpsaamtrek,
    staan ‘n vol asbak; óók ek
    wonder oor my vader,
    oor ons almal se getekende lewenslot.

    Joan Hambidge

  7. Andries Bezuidenhout :

    Dankie vir die gedig, Joan! Leon & Webmeester, dis maar net ‘n riglyn wat ek vir my eie blog gebruik. Ek het al elders gesien hoe bv. politiek boeke uit die pad elmboog en ‘n gespreksforum oor letterkunde mettertyd glad nie meer oor boeke gaan nie. Gelukkig is dit nie die geval met Versindaba nie.

  8. Carina van der Walt :

    Die kerk in die 400-jaar oue Hasseltstraat in Tilburg is in 1898 gebou. In 1994 moes dieselfde kerk gesluit word. Dit was een van duisende bewyse van die toenende sekularisasie in Nederland. Terwyl daar gewik en geweeg is oor die toekoms van die gebou, brand die hoogste toring in 2003 af. Dit is herstel, maar nié soos mens sou verwag met ‘n geboude konstruksie nie. Die toring is modern en ‘n skelet van staal. In 2005 is die “kerk” weer in gebruik geneem. Binne-in is dit ingerig met ‘n kleuterskool, ‘n klein bibliotekie, ‘n koffiehuis en ‘n biljart- en kaartkamer: ‘n egte bymekaarkom plek vir mense uit die buurt. Daarom word dit ‘n buurthuis of wyksentrum genoem. Dit het ‘n nuwe naam gekry: De Poorten.

    Maar wat is nou die ergste? Om ‘n kerk te verander in ‘n buurthuis of om ‘n kerk heeltemal af te breek, sodat daar ‘n bus terminus op gebou kan word? Dit het jare gelede in Klerksdorp gebeur met die Gereformeerde Kerk! Of is dit ewe erg? Of ewe onerg?

    Skeletten is ‘n gedig op You Tube. Dis opgeneem in en voor De Poorten in Tilburg.

  9. Carina van der Walt :

    Genugtig! Ek kan nogal ‘n stuk gedeelde ervaring bruuks op die internet gooi. Ek vra verskoning daarvoor, Leon. Soos jy kan sien het ek eintlik ook so bietjie ‘n “ding” met kerke. Veral hoe hulle hier in Nederland herbenut word. Op hierdie manier het ons komende Saterdag in die Kruisherenhotel in Maastricht ‘n familie-ete. Die hotel was eers ‘n Gotiese kerk en klooster uit die 15de eeu. Nou’s dit ‘n superluukse hotel en restaurant. Ek kan dit vir enige iemand aanraai. Carina

  10. Marlise Joubert :

    Carina, een van die heel mooiste (en hemelse) boekwinkels wat ek ooit gesien het in 2008 is die Selexys in Maastricht wat in ’n Dominikaanse kerk tot stand gekom het. Lees gerus hierdie nuuswekker wat berig daaroor deur Louis Esterhuizen by http://versindaba.co.za/2009/07/03/boeke-in-n-hemelse-sfeer/

  11. Carina van der Walt :

    Marlise, nou moet ek tog my kop in skaamte laat sak, omdat mens so gewoond kan raak aan die tipe verskynsels! Ons kom gemiddeld 1x in ses weke in Maastricht en gaan gereeld by hierdie boekwinkel in, maar die nuutjie daarvan is lankal vir my af. Ek’t die 1ste x ‘n bib. in ‘n kerk in Zutphen gesien in 2003 en was toe stomgeslaan… Jy herinner my daaraan dat ek nie die verwonderde blik mag verloor nie. Carina

  12. Leon Retief :

    @Carina: Ek verstaan nie. Waarvoor vra jy verskoning?