Carina van der Walt. Nasr reageer – Nasionale Gedigtedag 2012

Nasr reageer – Nasionale Gedigtedag 2012

Aflewering 5

Op 26 Januarie was dit weer tyd vir die nasionale Gedichtendag in Nederland. Jonk en oud, kind en kraai, arm en ryk het landwyd daaraan deelgeneem. As inleiding van die besondere dag is die wenner van die VSB-Poësieprys die vorige aand op 25 Januarie al aangekondig. Op radio en televisie het die versoek geklink dat alle vergaderings die volgende dag met ‘n gedig moes open. Hierdie jaar se nuwe Gedichtendag-bundeltjie was weer orals te kry.

Jan Lauwereyns

Die Vlaamse digter Jan Lauwereyns was die wenner van die VSB-Poësieprys met sy digbundel Hemelsblauw. Hy is ‘n neuro-wetenskaplike en woon in Japan. Joke van Leeuwen het die bundeltjie met tien gedigte spesiaal vir Gedichtendag geskryf. Die titel is Half in zee. Dit is altyd ‘n groot eer as ‘n digter daarvoor gevra word. Verder het elke groepie poësieliefhebbers in elke stad op hulle eie manier aandag gegee aan die tema van die jaar: stroom. Ek was bevoorreg om die Gedichtendag in beide Tilburg en Eindhoven te beleef. Dit het soos nag en dag verskil.

In Tilburg het die stadsdigters de treinreisigers op die stasie met hulle voordragte verras. Of was dit vergas? Dit was nogal ‘n ongemaklike takie. Reisigers wat afklim is altyd haastig op pad na ‘n bus of ‘n taxi toe en stroom letterlik die trappe af. Hulle wou nie vir ‘n gedig voorgekeer word nie. Die digters moes dus konsentreer op vertrekkende reisigers wat vir hulle treine wag. Verder moes daar rekening gehou word met die akoestiek in die buitelug. Elke digter moes eers vinnig rondkyk of stroom daar nie ‘n trein binne nie, anders kon sy voordrag onderbreek word. Die digters se tydsberekening en vermoë om ‘n wildvreemdeling se aandag te trek én te behou, is behoorlik getoets. Ses ure lank het hulle saamgespan en net dít gedoen.

'n Groepie van die stadsdigters op Tilburg se stasie wat binnekort weer uit Nederland op Woordfees sal optree.

‘n Groepie van die stadsdigters op Tilburg se stasie saam met Theater van de Verloren Tijd, wat binnekort weer uit Nederland op Woordfees sal optree.

In Eindhoven was dit ‘n perd van ‘n heeltemal ander kleur. Daar is ‘n voordragmiddag gereël. Enige iemand kon sy of haar gunsteling gedig gaan voorlees in ‘n luukse, warm en rustige ruimte. Enkele digters is gevra om ook iets van hulleself te gaan doen. Die akoestiek was geen probleem nie. Dit het volgens ‘n noukeurig saamgestelde program verloop. Geprojekteerde beelde en klankopnames van digters wat al oorlede is, het die middag verder opgeluister. ‘n Wonderlik ryke verskeidenheid aan poësiesmaak van die Eindhoven se publiek het hier die landelike Gedichtendag ingevul.

Rutger Kopland, Adriaan Roland Holst, Tonnus Oosterhoff, Guido Gezelle, Leo Vroman, Willem Elsschot, Remco Campert, M. Vasalis, Bart Moeyaert, P.J.H Mattheij… hulle het almal verby gekom. Vertaalde gedigte van die Poolse digteres, Wisława Szymborska en die Tsjeggiese digter, Miroslav Holub het ‘n eksotiese tikkie aan die aand gegee.

Drie verskillende aanbiedinge van Le pont Mirabeau (1912) van de Franse dichter, Guillaume Apollinaire het die publiek uitgeboul. As inleiding is hierdie gedig eers in Frans en toe in ‘n Nederlandse vertaling voorgelees. Daarna het ons na die stem van Apollinaire in ‘n krakerige opname geluister. Nog ‘n Franse gedig is voorgelees, van die digter Arthur Rimbaud. ‘n Japanse haikoe en ‘n stukkie in Sanskrit het die internasionale tint versterk. Hier was dit nie die reisigers of die treine wat gestroom het nie, maar was dit ‘n dik en ryk stroom aan digterstemme.

Carina van der Walt saam met Kreek Daey Ouwens uit Eindhoven. Sy was verlede jaar een van die genomineerdes vir die VSB-Poësieprys.

Carina van der Walt saam met Kreek Daey Ouwens uit Eindhoven. Sy was verlede jaar een van die genomineerdes vir die VSB-Poësieprys.

 

Ramsey Nasr het hierdie jaar spesiaal vir Gedichtendag ‘n klassieke sonnet oor digterskap en die invloed van die digter op die leser geskryf. Die titel, Sonnet voor 456 letters, lyk asof dit lukraak gekies is. As mens die gedig elektronies gaan toets, kom jy agter dat ‘n Word-program álles (tekens, reëls, spasies ens.) kan tel in ‘n teks, behalwe die aantal letters. Dit bring mens uit by die vraag of die titel wel so “lukraak” gekies is? Of wil dit iets sê oor die professionele máák van ‘n gedig; oor die noukeurige konstrueer van woorde, klanke, betekenisse, ritmes, leestekens, letters en spasies om by ‘n treffende gedig uit te kom? Sonnet voor 456 letters bestaan uit honderd woorde, titel ingesluit. Die Afrikaanse vertaling bestaan ook uit honderd woord, titel uitgesluit. Die titel moes natuurlik ook “vertaal” word.

Hieronder volg die Afrikaanse vertaling: 

Sonnet vir 414 letters

 

En hier gebeur dit alles: binne-in

lê die sinne doodstil opgeklap                 

soos chromosome, diep onder my kaf.                                     

Hulle wag op ‘n oog om te begin.

 

U lees – en lomerig weet ‘n vers om te ontspin.

Dit was ‘n strik, u het daarin getrap.

Geld nog ewigheid word aan u verskaf.

Hoogstens het ‘n ander iets om in te win.                                    

 

Iemand anders se letters kaap u gedagte:                                                              

my DNA uitgedink en opgeslaan

het uit niks uit alles wat bestaan, onttroon.

 

My liggaam vonkel op geroofde kragte.                                                                    

Voel hoe ek groei en blakend oop gaan.

Wie lees, word deur hierdie lewe bewoon.

 

Die bronteks kan in Nederlands op Nasr se webwerf gelees word.

http://www.ramseynasr.nl/web/DDVpagina/Sonnet-voor-456-letters.htm

{Carina van der Walt}

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.