Resensie: In die niks al om (René Bohnen)

In die begin was die woord ‘n naam wat uit sy nate bars: in die niks al om – René Bohnen

 

Resensent: Marlies Taljard

omslag

omslag

René Bohnen se bundel in die niks al om kan maklik na die eerste lees te lig bevind word. Dit is ‘n bundel waarin die alledaagse en die metafisiese saam poësie word, ‘n bundel so deursigtig soos ‘n “bergkristalwaterval” (p.31) waarin diep die niet in gekyk word. Ten spyte van die eenvoud en oënskynlike deursigtigheid van die verse, is dit poësie wat met elke lees nuwe en diepliggende betekenis bykry. Hoewel die  meesleurende metafore reeds met die eerste lees bekoor, is dit verse wat hulle rykdom eers na deeglike lees en herlees prysgee.

Spiritualiteit is die oorkoepelende tema van die bundel – ‘n spiritualiteit wat in die Zen-Boeddhisme gewortel is, maar dogma oorskry deur ‘n kleurvolle hibridisering van die numineuse belewenis. Bohnen se gedigte illustreer die oeroue beginsel dat die groot geheel deur al die kleiner onderafdelings daarvan gerepresenteer word. Daarom is die geestelike ervaring vir haar nooit onafhanklik van die nietige alledaagse nie. Weerspieëling  in verskillende fasette kom dus by herhaling voor. Die beeld “waterlelies in die maankring” in die gedig kuswoudkus is byvoorbeeld ‘n variasie van die bekende Zen-simbool van die maan met sy weerkaatsing in die water wat illustreer hoe die groot maan in sy geheel in ‘n klein poeletjie water gereflekteer word – selfs in ‘n enkele druppel dou word die maan in sy geheel weerkaats.

In teenstelling tot die Westerse denke wat geskoei is op die konsep van teenstellings, lê die beginsel van nie-tweeledigheid aan die wortel van Zen-denke. Alle ander beginsels vloei daaruit voort of sluit daarby aan. Polariteit impliseer nie noodwendig konflik nie, maar eerder dat twee dinge in balans of in spanning met mekaar verkeer. Sienaert skryf in ‘n artikel oor die werk van Breyten Breytenbach: Hierdie relatiwiteit waardeur die heelal in balans gehou word is inherent harmonies en kreatief, omdat daar geen destruktiewe konflik kan wees tussen pole wat van mekaar afhanklik is vir hulle eie voortbestaan nie. Ook in Bohnen se gedigte speel balans, harmonie en ekwilibrium ‘n besondere rol, soos in die pragtige Nan Hua Bronkhorstspruit:

 

die oomblik is eenvoudig

sonder soeke

op die tempelbalkon

in die ooste rys die volmaan

wit tot blom

draakrooi in die weste sak die son

 

in die ekwilibrium van einde en begin

     op die stil punt tussen-in

 

bot

‘n huilboerboon

 

Hoewel die filosofie onderliggend aan in die niks al om basies dié van Zen-Boeddhisme is, vereenselwig die sprekende ek haar nie met ‘n bepaalde dogma nie: “ver van ons dogma is na aan ons waarde” skryf sy in dryfbedryf. Hierdie beginsel is natuurlik ook ‘n beginsel van Zen, wat oop is vir diversiteit. Hibriditeit loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die bundel. In die derde gedig, vlamtong kom ‘n luisterryke vermenging van ritualistiese simboliek voor wanneer veral die Afrika-gelowe, die Rooms-Katolisisme en die Boeddhisme langs mekaar plek vind:

 

en toe hy die woord ukhalamba

spreek

was daar vuur in

sy mond

 

berg

het hy gesê en

om

het die pieke geantwoord om

eggo die amfiteater om

(…)

intaba yami, bid die paters

en die priesters in hul grotte, om

dans die bok-

beelde immer

om

 

In die gedig vanaf Mont aux Sources die Tugela vind ons dieselfde vermenging van heilige terme: “namaste corpus christi halala / in die berg van oorsprong”, soos ook in hibriede van die berge:

 

benedicte namaste ek is wie ek is

 

(…)

 

wierook en water die lama en die pater

 

(…)

 

lensies in my lotussop

sanctus shanti shanti

 

nkosi sikelela skree hadidas

om die boeddha se kop

 

Besonder betekenisvol is die gebruik van die term om in die bundel. Om verteenwoordig die vibrasie wat uiteindelik geluid geword het en waardeur die skepping in beweging gebring is. Dit kom ooreen met die Bybelse Woord/Logos wat aan die begin daar was (Johannes 1:1-4). In sommige Indiese dialekte word die woord naam gebruik vir die hoorbare vibrasie wat dwarsdeur die kosmos aanwesig is sedert die skepping – dus ‘n woord wat betekenisverwant is aan Om/Woord. Die alom-teenwoordigheid van Gees wat deur dié terme verteenwoordig word, word in die bundel ikonies geïllustreer deurdat sowel die eerste as die laaste gedig in die bundel met die woord “naam” afgesluit word:

 

donkermaan

van die agtste maand

die middellande is

wasig

soos my ma se wete

in haar keuse

van my

naam

(om in te kom)

 

en:

 

want alles was see

en alles was leeg

voor die sterre losgeskeur het

uit die niks alom

 

     in die begin

     was die woord

‘n naam wat uit sy nate bars

(ligspirale)

 

Albei dié gedigte handel oor ontstaan of begin: die eerste oor die geboorte van die sprekende ek en die laaste is ‘n soort Genesis-verhaal waarin teruggedelf word tot by die oorsprong van alle dinge. Let op die gebruik van al drie die terme wat min of meer dieselfde beteken as die Bybelse Heilige Gees (dié Gees wat aan die begin oor die water geswewe het, aldus Genesis 1:2), naamlik alom, woord en naam.

Gegewe die duidelike tekens van Zen-Boeddhistiese denke in die bundel, verbaas dit dan nie dat meditasie dikwels óf as tema in gedigte voorkom óf dat gedigte die meditasieproses ikonies vergestalt nie. Boeddhistiese meditasie is gemik op die verkryging van satori – ‘n toestand van verligting – deur die ontwikkeling van opmerksaamheid, konsentrasie, insig en ‘n kalm gemoed waarin die ego ten volle afwesig is en ‘n algehele stilpunt bereik word. Hierdie toestand word gekenmerk deur ‘n mistieke bo-verbale en bo-logiese ervaring van saambestaan van die mens en die wêreld. Deur opheffing van dualiteit word die Groot Niet betree, waar alles in omruilbare verhouding tot mekaar bestaan en niks duur nie – die een ding vloei uit die vorige voort en vervloei weer in die volgende. Verskeie gedigte in in die niks alom verwys implisiet of eksplisiet na die meditasiepraktyk. Ek dink hier aan gedigte soos Nan Hua Bronkhorstspruit, Nymphaea, mandala, oujaar in Aberdeen en Umzimkuku. Ek haal uit laasgenoemde aan:

 

nuut is ons

 

voor

die onvoorspelbaarheid

van vorm

die eenvoudige aksie

van hark

 

een naweek in retreat

waar ons sit soos klippe

en jy volledig

lig

word vir my

 

‘n Gedig soos die onderstaande illustreer ikonies die vrylaat en laat gaan wat noodsaaklik is in meditasie alvorens verligting bereik word:

 

sandskrif is ouer

as sanskrit

die bottel breek     kyk

‘n skuit

           vaar uit

tussen skerwe

kleurglas

in die son

 

Een van die onderskeidende kenmerke van die bundel as geheel is die gebruik van sterk argetipiese simbole soos tyd, water, vuur, die sirkel, mandala en spiraal, die maan en die maagd wat almal ook spirituele betekenis het.

Water is een van die mees antieke simbole wat dikwels met die onbewuste in verband gebring word. Dit verteenwoordig in die onderhawige bundel soms kennis van diep, verskuilde dinge en die misterie van die onbekende. Een van die sterkste water-simbole kom uit die gedig kuswoudkus:

 

die bul en die maagd swem

tussen tsoenami’s

deur ‘n rooi poort onder die see

 

Die vis-simbool (soos afgebeeld op die voorblad) hou verband met die water-simbool, maar is in die Boeddhistiese tradisie ook simbolies van vreugde en vryheid. Koi-visse het die addisionele betekenis van juwele:

 

in fluisterstil ornamentele mere

glim die swemmende koi-juwele

 

‘n Verdere water-simbool wat by herhaling voorkom, is die waterlelie wat hier natuurlik heenwys na die heilige lotusblom van die Boeddhisme en wat eweneens op die voorblad uitgebeeld word.

Ook die maan as simbool word in verskeie verse aangetref. Een van die mooiste beelde in die bundel is:

 

die maan verf

akwarelle

in die tugela

 

Die maan bly deur die eeue steeds ‘n mistieke simbool en staan dikwels in verband met sikliese prosesse, soos beskryf in die gedig eenmot waarin die spreker beweer: “die waarheid is krom / tyd is rond”. Die maan as antieke simbool van vroulikheid sluit sterk aan by die digteres se bewustheid van haar vrou-wees, soos dit byvoorbeeld spreek uit die gedig La Loba waarin die bekende boek van Clarissa Pincola-Estes, Women who run with the Wolves, as interteks gebruik word. Die gedig begin met die reëls:

 

in die donker kloof was watsonias van bloed

tydens daardie dooiemaan

en wilde vroue het in ‘n kring om my kom staan …

 

Met sy meesleurende ritme en sterk inkanterende aard, is dit beslis een van die beste gedigte in die bundel. Die metafore wat in dié gedig vir die vrou gebruik word, soos waterorrelvrou, bamboesfluitspeler en glasharmonika is oorspronklik en treffend. Die slot illustreer verlies van identiteit deur terugkeer na ‘n priomordiale toestand: “wolvin, ek leef al dieper in my trop in”. Die individuasieproses wat deur die gedig La Loba gesuggereer word, deursuur die bundel – steeds is die skrywende ek aan die ligter word, aan die afgooi, soos in middelrus:

 

maar vanoggend het ‘n gedaante uitgestap

in die swye van sneeu tussen bloekombome

by kamberg en griffin’s hill

 

winter van warm ontwaking

‘n wolk in die lug

my asem

‘n geboortegedig

 

hoe grensloos is my lewe nou

so volkome sonder

 

Die sirkel, spiraal en mandala met hulle hoofsaaklik esoteriese simboliek vervul ‘n belangrike ordenende rol in die bundel. Die bekende Zen-sirkel wat in een enkele virtuose kwashaal gemaak word, simboliseer die heelal en die fokuspunt van diep meditasie. Ek haal aan uit sjamaangrot:

 

mierleeutjies onder warm sand

 

hoe flikker hulle

in my hande as ek in sirkels

binne sirkels binne sirkels

die oerpad vat

 

Die spiraal is seker dié mees bekende Keltiese simbool en representeer meestal holistiese groei, oorgawe, bevryding, bewuswees van die self as deel van ‘n groter geheel en ‘n verbinding met esoteriese, kosmiese energie en die goddelike, terwyl die mandala ‘n baie komplekse simbool is wat onder andere in meditasie gebruik word om die gedagtes leeg te maak. Teenwoordigheid van hierdie simbole en ander, soos die draak, die labirint, voëls en vuur in die vlegwerk van die bundel dra daartoe by dat die lees van die gedigte ‘n spirituele ervaring word. In wese is hierdie ‘n bundel wat primêr steun op argetipiese simbole om betekenis en diepgang te genereer, want die gedigte self is dikwels minimalisties en selfs gestroop.

Een van die besware wat ek teen die bundel het, is dat daar min werklik substansiële gedigte voorkom, maar, soos ek vroeër probeer aantoon het, lê dit in die aard van die filosofie wat die meeste gedigte onderlê om juis substansie te verloor ten einde ‘n toestand van verligting te bereik. Sommige gedigte is egter ten spyte daarvan eenvoudig te yl en soms kan formulering meer eksak wees. Die metafoor “‘n melkweg kantel” kan eenvoudig nie weer gebruik word nie en die woord “tsoenami” het sedert 26 Desember 2004 ‘n stopwoord geword wat epidemiese afmetings in die Afrikaanse letterkunde aangeneem het.

Wat vormgewing betref, het die digter besondere selfbeheersing aan die dag gelê. Hoewel daar selde van rymwoorde gebruik gemaak word in die tradisionele posisies, het die gedigte oor die algemeen ‘n baie bevredigende musikaliteit en vloeibaarheid. Ook die strofebou is met sorg gedoen. Daar is verskeie ikoniese gedigte, onder andere enkeles wat die sirkel ikonies daarstel, soos huisraad wat ‘n sikliese einde het, asook die baie interessante spieëlgedig, familiekring waarvan die eerste en laaste strofes só lyk:

 

sakaboelas flap

deur die amfiteater

fluister spoelklippe

 

(…)

 

spoelklippe fluister

in die amfiteater

flap sakaboelas

 

Die oorkoepelende struktuur van die bundel is eweneens poreus. Daar is geen formele indeling in afdelings nie, maar met die lees word dit duidelik dat gedigte tog min of meer volgens temas ingedeel is. Ten aanvang is daar ‘n geboortegedig wat in die slot geëggo word deur ‘n tipiese Genesis-gedig waarin van dieselfde metaforiese materiaal gebruik gemaak word. Dan is daar gedigte waarin argetipiese simbole en rituele handelinge opgeroep word, ‘n Ars Poetica – die pragtige walvisnota met die klankryke reël “daar skuil korale in die klank van troglodiet”, dan volg gedigte oor geliefdes, die spirituele praktyk, die dood van ‘n geliefde moeder, geweld, die aarde en bewaring, vroue en dan weer enkele spirituele gedigte. Dit is dus duidelik dat ook die bundelstruktuur hibridisering verteenwoordig deur ‘n baie losse ordening, grensoorskryding en die feit dat die organisasie nie formeel daargestel word nie en dat ook nie slaafs by die losse skema wat ek hierbo uiteengesit het, gehou word nie.

Ek het in die niks al om ‘n besonder verrykende leeservaring gevind. Dit is baie jammer dat so ‘n bundel so swak uitgegee word: reeds toe ek die boek oopmaak, het die buiteblad begin losskeur, en nadat ek dit ‘n paar keer deurgewerk het, kom die meeste bladsye reeds los. Ook die skriftipe wat uit klein kolletjies bestaan, was vir my baie moeilik om te lees. Ek voel LAPA kon beter gedoen het as dit!

Tog is die bundel as geheel die moeite werd om te lees, al lees mens net ter wille van die spontane metafore wat vloei asof dit die natuurlikste taal op aarde is.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.