Resensie: Vaarwel, my effens bevlekte held (De Lange)

Hunkering se grein: Vaarwel, my effens bevlekte held

deur Johann de Lange 

Resensie deur Joan Hambidge

 

Omslag

Omslag

Kort na die verskyning van Weerlig van die ongeloof, ‘n besondere knap bundel met kwatryne en vierreëlige verse, verskyn daar ‘n bundel Vaarwel, my effens bevlekte held met ‘n besondere mooi omslag van Christiaan Diedericks “Death of the inside warrior”, wat reeds die toonaard van hierdie bundel aandui, te wete die aflegging van die ouer self, die cruising digter en die soektog na heelheid. Weerlig van die ongeloof is ‘n oorgangsbundel om tot ‘n beter begrip te kom van Vaarwel, my effens bevlekte held, kortliks dan ook iets oor die sogenaamde kwatrynbundel wat tussen Algebra van nood en die jongste bundel staan. (Dit plaas ek ná my bespreking.) “Vaarwel” dui op aflegging, finaliteit en hierdie titel speel in op ‘n reël van Johan van Wyk. “Bevlekte” aktiveer die vele verse van self-bevlekking, sover terug as Snel grys fantoom wat die gesprek met Van Wyk Louw aktiveer.

 

I. Vaarwel, my effens bevlekte held (Human & Rousseau)

In hierdie bundel word die programgedig ars poëties gerig en die digter posisioneer homself teen die oorrompelende digproses as ‘n kontinent. In “Taal” (10) word die gedig verbind aan die Pegasus-beeld waar die digter stoei met die onbuigsame woord, maar uiteindelik ten spyte van die onbuigsaamheid daarvan, steeds in die saal bly.

Gesprekke met bekende voorgangers (Marais, Cussons, Louw) word in “Vismot” (11) aan die orde gestel in ‘n soort aweregse ars poëtica. Wat hierdie bundel besonder interessant en opwindend maak, is die herskrywing van vorige gedigte (die programvers speel byvoorbeeld in op vorige verse oor die San Andreas-fout) en die hiermee gepaardgaande gesprek met digters wat ons ook al aangetref het soos Marais, Louw, Cussons en andere. Meer as ooit tevore, is die bewuswees van die digproses as ‘n talige proses: 

 

Die digter is eweneens ‘n sonderlinge dier.

Uit sy vrugbare penpunt kom voort:

vlugte, blou seereise & aardse sange,

galeie & oorloë. Sy skryf is ‘n gier

na roem, of seks, hy laat ander

aan sy pen ry, skryf uit wraak

of weerwraak, of om te plesier.

Hy los sy spore op papier.

(“Narwal”, 12)

 

Die “Leeuvis” (22) wat gesuspendeerd agter glas hang, is ‘n beeld vir die skryfproses: net soos wat die vis ‘n “onwesenlike watermerk” is, verplaas die gedig net soveel veerlig wit. Beide die leeuvis en die gedig is objekte wat getransformeer is: die vis is eers iets wat op ‘n niksvermoedende prooi wag; later lyk dit soos ‘n beskilderde objek. Die gedig spruit immers eers uit iets wat beleef is en dan beskryf word. Die begrip hologram is hier die kode vir die begryp van die gedig waar vis en gedig één word.

Benewens die skryfproses word die homo-erotiese tematiek ook ontgin, onder andere in die uitstekende vertaling van Auden se oorrompelende vers, hier getitel “Platonies” (59).  Ook die herdigting van Takahashi Mutsuo “Myself met ‘n motorfiets” (op Litnet) dra hierdie tematiek besonder helder oor. Die sterk natuurverse is eweneens weer deel van die tematiek. Dit is egter méér as ‘n blote natuurvers, omdat die natuurgegewe of landskap immer aan ‘n groter metafisika verbind word soos in die vers “Genade” (17):

 

Genade

 

Ek wou hom vinnig red

van die skroeiende lug,

smak hom neer & gryp ‘n mes

vir vinnig sny nét agter die kieu –

Maar die lem was stomp.

Nou staar die aluminiumfoelieoog

emosieloos & onbevrees –

die lyf spartel glibberig in my greep,

‘n silwer reënboog half verslyt,

& die mond gaap oop & toe

in geluidlose verwyt.

 

Hierdie vers met sy sterk epifaniese moment, aktiveer die digkuns van Sheila Cussons. Die gelykstelling van die vis se lyf as ‘n silwer reënboog, verbind die aardse met die metafisiese. Die vis is ook ichtus, simbool van die Christelike geloof. Die vis buite die water kan nie oorleef nie. Die spreker wou die vis red, maar word gedwing om hom dood te maak, juis omdat die vis buite die water blootgestel is. Die spreker is egter nie in staat om die vis vinnig dood te maak nie, omdat die lem van die mes stomp is. Iets wat die spreker in ‘n daad van genade wou uitvoer, lei egter tot ‘n (self)verwyt. Hierdie komplekse vers aktiveer verskillende aspekte van die menslike lewe: geloof, die verbintenis tussen lewe én dood en uiteindelik hoe die skryfproses ‘n tydsame proses is wat die spreker vasvang tussen verskillende dimensies. In “Duisendpoot” (24) word die metafisika van die biddende en vloekende duisendpoot ook ontgin. Die geslote sirkel of mandala beteken hy bid; wanneer dit wild krul of kartel beteken dit hy vloek God.

Die verwysing na beeldende kunstenaars (soos Rembrandt en Vermeer) maak die gegewe groter. In “Binnehof” (19) word die stilte en wit lig van Vermeer geaktiveer om volledige eensaamheid te vergestalt; in “Stillewe met tulp” (20) word met die helder kleure van die tulpe die kontras met die donkerder Rembrandt geaktiveer.

In hierdie gedig word die paradoks – dit waarin De Lange uitmunt – weer sterk benut. Weens die onafheid, die fout het die twee mekaar geliefdes mekaar lief.

“Evolusie van die oog” (29) is ‘n sentrale vers in die bundel waar die blikhoek op die jeug en die verganklikheid van alles telkens onder die loep kom. Dit word deur sterk natuurbeelde gedra en in haikoe-agtige vers word die weerloosheid van alles weergegee:

 

Kroonden

 

Die kroonden lê omgeval

beenwit grynswit in die son.

(30)

 

Die vers “Mausoleum” (90) word tereg as ‘n visioen getipeer met die sterk toespelings op Cussons. Die gedigte raak nou afwerend; dit beskerm nie meer die spreker teen pyn of ellende nie.

Wat die verganklikheid van die liefde betref, is die gedig “Brueghel in Parow” (37), wat inspeel op 9/11, waarskynlik een van die sterkste verse in die bundel. Terselfdertyd praat dit saam met Auden se klassieke vers “Musée des Beaux Arts”: “About suffering they were never wrong, / The old masters”.  Hierteenoor staan die kragtige jeugherinnering in “Oom Niek” (39) en die “boetpsalms” van ‘n teisterende oom wat die spreker as volwassene nou ervaar en inspeel op die ander verse rondom skuld en verwyt. Die ouma word bykans ‘n mitiese figuur en sy word verbind aan die Kristeviaanse chora, daar waar digterlike taal skuilhou: die pre-simboliese of simbiotiese dimensie.

 

Vye

vir Joan

 

My ouma stuur my na ‘n boord

om vye te gaan pluk. My vingers

proef die skurwe vel, my tong

flikker oor iets ontwyk-

 

end soos ‘n woord,

of proe ek reeds die antidoot

van ‘n gedig? Die mandjie, soos ‘n lyf,

rus rond & kwesbaar in haar skoot.

(41)

 

Die minnaar (“My minnaar”, 44) word gekoppel aan die sterk Jeffrey Dahmer-verse uit vorige bundels waar die liefde gesien word as grieselig en veral in die skryfproses word die geliefde doodgemaak.

“Nóg die heuning nóg die by” (45) neem hierdie proses van verder wanneer die spreker afreken met ‘n jeugdige persoon se ervarings van gay-wees met die klinkende en siniese slot:

Mooi om na te kyk, selfs te begeer, of atleties te gebruik.

Maar daai untravelled fuck sal jou immer bly ontwyk.

 

Die speurende leser sal vele intertekste kan uittorring wat deur die vaardige digter verskuil word.

Die seksuele is immer ‘n “republiek van begeerte”, “hunkering se grein”, soos die vers wat eindig op ‘n reël van Cussons dan ook aandui.

Marilyn Monroe kom weer onder die loep in ‘n vers, ironies beskryf as ‘n optelgedig, waar sy buite beeld (dus “off camera”) staan en nie die persona MM is nie. Hierdie vers rig dikwels ander verse in hul toevallige, dog skerp waarnemings. Alles is ook reeds geskryf in die digterlike oeuvre, maar elke vers keer terug na ou temas op ‘n nuwe wyse: inderdaad ‘n nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie. Portretverse bekend aan hierdie digterskap, word uitsonderlik uitgevoer in die gedig oor Uys Krige: “In memoriam: Uys Krige” (74), wat die Spaanse denk- en leefwêreld verder voer. Daar is eweneens verse oor Anne Frank en Tsjaikofski. Hiermee saam loop die religieuse stramien deur die bundel tot uitvoer gebring in verse soos “Die diensbaarheid van bome” (71), en “Google Golgota” (93).

Die gedig oor John Berryman se selfmoord “Skielik skemer” (78) ondersoek die implikasies van selfmoord rondom uitdrukkings soos “water onder die brug” en “oor die muur”.

 

Skielik skemer

– What happen then, Mr Bones?

– I had a most marvellous piece of luck. I died.

John Berryman

 

Hoe dikwels het jy nie deur jou kantoorvenster

na die brug gestaar nie. Gewonder of dit jou weg

kon vat. Soos Hart Crane oor die relings

van die ss. Orizaba & in sy vaar-

waters in. Hy het glo sterk & doelgerig wéggeswem,

sy skoene netjies op die dek.

 

Art Hitman, skryn-

werker op kampus het jou op die brugreling sien sit,

met ‘n streep weg & teen die grein,

voor jy sonder terugkyk vooroor gekantel het

om buite sig skipbreuk te ly, die grys beton te vlek.

Uitgeken net aan jou bril & ‘n blanko tjek.

 

Jou laaste gedig is sonder slot: ‘n eerste weergawe

van jou dood wat jy op jou lessenaar vir Kate wou los

om te lees. Ten slotte trek jy ‘n laag-

waterlyn daardeur & smyt dit in die snippermandjie vir Kate

om op af te kom. Maar toe was jy al oor die muur

& water onder die brug. Vaarwel, my effens bevlekte held.

 

Hierdie gedig aktiveer die titel van die bundel en so beskou, is Berryman (& die ampersand) ‘n sentrale vers in die bundel.

In die lang galery van selfmoordverse en verse wat handel oor die dood van bekende figure soos Eugène N. Marais, Ernst van Heerden en Koos Prinsloo, o.a. word die spreker in die vers volledig een met die onderwerp. Die toeval van Art Hitman, die skrynwerker wat die digter op die reling sien sit, beklemtoon hoe die digterlike prosedure dikwels op blote geluk en toeval berus. Hiermee saam is die digter ook besig met ‘n bewuste spel soos in die parodie op Jonker se “Bitterbessie dagbreek” in die gedig “afskryf” (82). (Deesdae moet toestemming verleen word wanneer gedigte gebruik en geparodieer word van Jonker, ‘n onhoudbare praktyk.) In die voorlaaste gedeelte word die religieuse en die primordiale aangespreek. In die manjifieke “Tzimtzum” (89) word al die motiewe in die bundel saamgesnoer in ‘n veelvlakkige vers: die religieuse, die seksuele, die aflegging van die self, die dood van die vader (wat soos ‘n swart draad deur die digkuns loop), ontdekkingsreise wat die wêreld verander het, ensomeer. Die moderne tegnologie word goed benut in “Google Golgota” en “Poste restante Auschwitz, 1945” (95). Die bundel sluit op persoonlike verlies, die aflegging van ‘n verhouding en die dood van katte, met die siniese konklusie in ‘n amper laaste vers (105):

 

Totdat niks oorbly nie

 

Totdat niks oorbly nie. Absoluut

niks. Net die naam van die nag

herhaal in ‘n somber slaap,

 

die omvattende nag in die leegte

& ‘n verdwaalde koorsboom

se eensame saluut.

 

Die bundel sluit met ‘n sirkelgang. Die slotvers neem die leser terug na die begin van die bundel, na die talige ontdekking en met die wete dat die digterlike ondersoek en bedryf uiteindelik die enigste sinvolle aksie is.

Vaarwel, my effens bevlekte held kan ook gelees word as ‘n bundel van individuasie of heelwording. Reeds die motto’s “Seeing is bereaving” van Judith Goldman en “A word is elegy to what it signifies” van Robert Hass sluit sterk aan by die verliestema in De Lange se werk. Maar die verlies of die afwesige geliefde/vader word nou met groter gelatenheid aanvaar en dit is asof die digter die taal, die republiek van woorde, met groter drif en beheer ontgin. In Jungiaanse terme is hier dan sprake van individuasie: die digter keer bykans afstandelik terug na dieselfde temas en kan dit nou volledig in die oog kyk. (Die voorblad aktiveer immers die opposisie tussen ‘n worstelende engel en demoon.) Die “steil paradokse”, soos dit in openingsgedig staan, kan bestyg word. Die foutlyne kan genavigeer en erken word; daar word nie weggeskram van die beperkinge en foute in die self nie. Die volgende gedig is volstrek ‘n vers van individuasie:

 

Cirque de soleil

 

Die Vitruviaanse man rol

verby in dubbelhoepels

 

& akrobate onder koepels

in veldun kostuums sweef

 

in halfspirale swaartekrag gevang.

Gimnaste met bepoeierde greep gryp

 

& los, & koorddansers elk met ‘n sweefstok

ballet ligvoets gebalanseerd

 

& alles tol binne die ligte

& ligte sirkels van die algebra.

(13)

 

In Agon – Towards a theory of revisionism (Oxford University Press, 1982) skryf Harold Bloom verder oor die angs van beïnvloeding. De Lange se werk vra vir ‘n analise via die heterodokse Gnostiek en sy gesprek met Van Wyk Louw en Cussons. ‘n Mens dink hier aan Bloom se lesing van Wallace Stevens:

 

It is the sibyl of the self,

The self as sibyl, whose diamond,

Whose chiefest embracing of all wealth

Is poverty, whose jewel found

At the exactest central of the earth

Is need… (13, 14).

 

Daar is geen tekste nie, net uiteindelik die self. “Waar alles ook al begin, uiteindelik… word ‘n ou onskuld / opnuut aangeleer” skryf De Lange in die aflegging van die ouer, cruising self om tot self-insig te kom in hierdie boek van afskeid & vertrek.

Uiteindelik het daar balans in die gemoed van die digterlike spreker gekom en die “ligte sirkels van die algebra” is die nood nou afgelê.

 

Die sweefstokkunstenaar soos die nar

 

Die sweefstokkunstenaar soos die koord-

danser weet van tydsberekening

& van die swaartepunt se gryp

& los, dat die een knap by die ander hoort.

 

Ook die nar verstaan om ‘n grap

te maak of te vertel, vereis begrip

van spanning skep & skietgee

soos ‘n karwats of ‘n skoot wat klap.

(14)

 

Alles gaan nou om tydsberekening: ook die skryf van ‘n gedig eis van die digter die regte oomblik. Juis omdat alles in hierdie bundel in die teken van individuasie staan, is daar verse oor stillewes en etlike religieuse of spirituele verse. Gedigte waarin die numineuse na vore kom, is uiteraard bekend aan hierdie fase in ‘n digter se bestaan. Die sewe verskillende afdelingtitels aktiveer hierdie proses: Republiek van woorde, Wisseling, Hunkering se grein, In die vlees, Skielik skemer, Google Golgota tot I resign myself to the dusk.

Dit is ‘n bundel wat waarskynlik vergelykings sal uitlok met Die algebra van nood, die groot bekroonde bundel. Dit sal ‘n saamlees oproep soos tussen Wordende naak en Nagsweet. Dit is ‘n bundel wat besondere aanspraak maak op die leser, emosioneel en intellektueel. Die religieuse tematiek (soos in “Google Golgota”, (93) en “Armageddon” (85) en die aangrypende “Die diensbaarheid van bome” op bladsy 71 waarin Jesus se liefde vir bome verironiseer word), liefdesverdriet en ontgogeling (“Totdat niks oorbly nie” (105) en die dood van geliefde diere; die besondere hantering van die paradoks en die ontginning van found poetry (soos in “Rust-mijn-ziel, ‘n droom” (99), die ontginning van drome en visioene, die gesprek met Harold Bloom (“Tzimtzun”, 89) en natuurlik Cussons en Van Wyk Louw (veral Alleenspraak wys op die ryk geskakeerdheid van die bundel. Ter opsomming: Verskeie digters kom aan bod (Yeats, Auden, Theodor Roethke, Krige, Kafavis, Jonker…) en skilders soos Rembrandt en Vermeer, komponiste soos Paganini en Tsjaikofski word nuut bekyk. Marilyn Monroe, hoe dan anders?, word opnuut onder die soeklig geplaas. Imponerend is die sterk slotte en die inskryf op ‘n ander se wysie soos “Gedig wat eindig met ‘n reël van Cussons” (54).

Dit is ‘n fyn afgeronde bundel wat sterk aanspraak maak op sowel die emosie as intellek. Die algebra van nood word hier ‘n algebra van sekerheid.

Opmerklik is die kreatiewe stroom die afgelope tyd en wat eweneens vermelding verdien, is die besondere knap vertalings en herdigtings op die digter se blog: Kaapse paragrawe.

Moenie jou laat bluf nie. Selfs ‘n vinnige aantekening met die linkerhand is tegnies in beheer.

 

II. Weerlig van die ongeloof (Protea Boekhuis)

Weerlig van die ongeloof word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse) verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se voorblad word die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan word…

Hierdie kort verse verraai kenmerke van die kwatryne, maar is dikwels eerder kort, vierreëlige verse. Die titel aktiveer die De Lange-paradoks: dat geloof bestaan of tot uiting kom ten spyte van ongeloof of twyfel. 

Die drie verse versterk die siening:

 

Die weerlig van die ongeloof

 

Die weerlig van die ongeloof

verhelder soos die apostroof

grys telegramme van die reën

uitgestippel op die steen.

(49)

 

 

Bede

 

Uit my duister hoor my lied

& laat u wil oor my gebied.

Nie langer in die woesteny,

maar langs U in die galery.

(49)

 

 

Die paramour

na Rainer Maria Rilke

 

Gedenk die nonne & vroueheiliges

vir wie Christus ‘n kamerjonge is,

‘n soet ersatz vir passie, die teerste

paramour wat nog besitbaar is.

(50)

 

In “Skietgebedjie” (51) is daar ‘n verlange na die geloof sonder twyfel. De Lange was nog altyd die digter van die paradoks: dus in die ongeloof is daar soeke na geloof. Of die agnostiese digter is dikwels verlangend na die troos van ‘n beskermde God.

Bekende temas van De Lange word hier op nuwe wyses geaktiveer en in kompakte vorm aangebied: soos ‘n weerligstraal is die verse blitsig, vinnig en die insigte vir die digter onthutsend, maar ook snel afgehandel of oënskynlik verby. Die leser, bekend met die oeuvre, meet die verse veral aan ‘n bundel soos Vleiswond waarin die sterk religieuse dimensie na vore kom.

Die verse is epigrammaties en selfs in telegram-styl geskryf, soos die motto aandui:

 

In such a book as this,

The poet Martial says,

Some of the epigrams

Shall have seen better days,

And some are hit-or-miss;

But some – like telegrams –

Deliver intelligence

With such a sudden blaze

The shine can make us wince.

 

Fred Chappell

 

Die openingsgedig verwys na Marais se bekende siening dat alle bewussyn pyn is en die selfmoord van Marais lui dan ook die aflegging van ou selwe in of vroeër sienings van die digkuns. Op ‘n kompakte wyse word sieninge verpak om tot helderheid te kom. Hierdie bundel is ‘n oorgangsbundel: een waarin die skrywer wegbeweeg na iets groters en waarskynlik meer dwingend in die self in-beweeg. Liefde eis groter waagmoed, die ouer self is meer blootgestel as die jonger, cruising digter wat hom kon oopstel vir gevaarlike terreine op sowel fisiese as geestelike vlak.

Hierdie soort gedig se belangrikste kenmerke vind ons: die woordspel, die pun, die toespeling op bekende gedigte van Van Wyk Louw, Boerneef, Cussons.

Die terugkeer na die jeug – bekend aan individuasie-tekste – is gelade:

 

Lyfband

 

My naam is net ‘n kepie in die lengte van jou lyfband

Jou naam is ‘n wond, ‘n haakspeld deur my mond

Ek het jou op ‘n skoolbank geteken, al jou trekke uitgekerf

Jou lyfband op die bed se blink gespe-oog het ek uitgeverf

(15)

 

Die naam van die mede-skolier is egter nou ‘n wond in die herinnering, iets wat ander ervarings sal bepaal. Dit kom dan na vore in:

 

Na Anaekreon I

Fragment 360

 

Seun met die lonk-oog blik,

ek kies jou uit, maar jy merk niks,

onbewus jy is die menner

van my siel & my geluk.

(17)

 

Die spreker is nie meer selfversekerd nie. Daar word gekyk na die self as ‘n bouval:

 

Bouval

 

Jy meen ek is taai, dat ek jou aanslae kan verduur

maar in der waarheid is ek: ‘n krummelende kou,

‘n haglike harmonie van suile & ruimtes

waarin jy soms jou vergane glorie nog onthou.

(18)

 

In vele gedigte is daar ‘n herinnering na die jeug, na die uitbundige omgang met die liefde, veral die liggaamlikheid daarvan, wat nou verstar het in ‘n “vergane glorie”.

Ook die verslawing (letterlik en aan die digkuns) kom aan bod wat die vorige bundel Die algebra van nood in herinnering roep. ‘n Vers soos “Trade” aktiveer weer Nagsweet se cruise-verse:

 

Trade

 

Sy lyf straal teen die wit-van-die-muur,

‘n swetende blom van die middaguur.

Wie hom wil hê moet hom net daar pluk;

teen sesuur bring hy ongeluk

(28)

 

Elke vers het ‘n pendant in die oeuvre wat van hierdie bundel ‘n soort selfgesprek maak. Soms ironies, soms afwysend. Drome word kwelgeeste, iets wat die spreker teister in die herinnering. Hierom dan ook ‘n gesprek met die digterlike vader Van Wyk Louw:

 

Heildronk

 

Ek eet my toast

& drink my dooswyn

& in my hart

word alles boos rein.

(30)

 

Portrette van ander digters word telkens selfportrette of selfherkennings:

 

Emily Dickinson

‘n Selfportret

 

Ek besit nóú geen portret, maar is soos die bruin

langstertjie klein, & my hare soos ‘n kastaiingkwas

‘n astrante klos – & my oë die kleur

van sjerrie wat die laaste gas los in ‘n eenkantglas.

(33)

 

Klankspel is eweneens opvallend in die verse:

 

Hadida

 

Die hadida dida-dida die skemer in.

Sy vlerke van ou skutmetaal

is bestand teen die lig & roes,

& sy drieklank sny deur taal & tin.

(38)

 

Met “Inkvis” word vorige natuurverse geparodieer:

 

Inkvis

 

Die inkvis is ‘n geisja

wat ligvoets dans oor koraal,

verwissel vlug kimono’s

in ‘n ondersese taal.

(39)

 

Uiteindelik die digkuns die plek van oplossing vir die digter wat tot klaarheid moet kom:

 

By in amber

 

Tyd het ‘n by gevang in amber

wat honderd miljoen jaar of so al

bo een taai suikerdenblom bly hang:

vir jou eendagshals ‘n sonkristal.

(44)

 

 

droomreën

 

die reëls val onreënmatig

die beeld sal sy blom behou

maatslag nóg los, nóg statig

in die gedig se weerligblou

(55)

 

 

Abracadabra

‘n optelvers

 

deesdae is die fyn estetiese

afstand tussen ‘n objet trouvé

& ‘n objet d’art inderdaad klein –

die frisson wat ‘n kortsluiting gee

(57)

 

In hierdie bundel is daar verwysings na klassieke tekste: van Vergilius tot Lorca, Auden, Stockenström, en vele ander digters en kunstenaars soos Michelangelo, Rembrandt, Van Gogh, ensomeer wat die gedigte ryk en geskakeerd maak.

Die selfinsig is eerlik en op die man af:

 

Dwars

 

Hy is geheel dwars

met die heelal, kêns,

van meet af aan ‘n dwars,

opgefokte entjie mens.

(67)

 

Digter op 50

 

Laatnag draai hy om, afgeslote

tussen fantome en penumbras,

& pluk ‘n paar vermoeide note

uit ‘n ontstemde springveermatras.

(68)

 

Opperman word aangespreek en Van Wyk Louw bring helderheid in hierdie bundel wat op die oog af net na lopers lyk, maar op ‘n vernuftige wyse epigramme van die gees word.

 

Die middag het as geword

 

Die middag het as geword

met ‘n son wat stadig smeul.

Die lug het soos wyn gestort

& niks word ooit weer heel.

(74)

 

Die bundel sluit met die sterk vertaling van Luuk Gruwez waarin die gevoel dat die gedigte iets kan oplos, sal voortstu in ‘n volgende bundel, juis omdat daar nooit heling in die digkuns, finaal, gevind kan word nie:

 

Niks

Luuk Gruwez

 

Niks eindig soos dit hoort. Nie

die dankwoord & nie die lusmoord,

nie die rusoord of die slotakkoord.

G’n enkel rymwoord. Niks soos dit hoort.

 

Konvensionele kwatryne is dit nie, omdat die rym- en metriese patrone dikwels nie nagevolg word nie. Maar die digter skep sy eie unieke De Lange-kwatryn. In die Persiese kwatryn is dit AABA, selfs AAAA. Oorspronklik is die ruba’i in die Islamse wêreld ‘n muntstuk en De Lange se kort gedigte is soos munte. Handig vir die oorvaart oor die Styx.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Vaarwel, my effens bevlekte held (De Lange)”

  1. Irma Badenhorst :

    Fantastiese resensie, dankie. Nou sien ek baie uit na Johann de Lange se resensie van Joan Hambidge se nuwe digbundel.

  2. engemi ferreira :

    Die resensie is inderdaad ‘fantasties’; meer nog beligtend en verdiepend, maar eweneens is die aangebode gedigte so – ook verruimend; dit raak die sinne aan. Dankie aan beide digter en digter-resensent