Onderhoud: Aniel Botha (Pirouette)

 

Aniel Botha gesels met Pieter Odendaal oor haar debuutbundel, Pirouette

Aniel Botha

Aniel Botha

Aniel Botha het ‘n B.Ed-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en daarna ‘n MA in skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad. Tans werk sy as privaat tutor, en sy is ook gekwalifiseer as balletonderwyser.

Pirouette is haar eerste digbundel weaar die hospitaal-milieu van eetversteurings saamgebind word in ‘n besinning oor gebrokenheid, verwonding en psigiese kwelling.  Dit is ‘n bundel waarin ritme en metrum aansluit by die oorkoepelende dans-metaforiek om die lewe sterk beeldend vanuit ‘n dansersperspektief weer te gee. 

Haar boek ‘n Dans met die dood, oor haar ervarings in ‘n psigiatriese hospitaal se eetsteurnisafdeling, het in 2010 by Zebra Press verskyn.

Aniel woon in Durbanville en het in Kaapstad grootgeword.

  

Aniel, dankie vir die geleentheid om so ‘n bietjie met jou te gesels oor jou debuutbundel, pirouette, wat pas by Queillerie verskyn het. Die publikasie van pirouette volg op ‘n Dans met die dood: Joernaal van ‘n anoreksie-lyer (Zebra, 2010). Die gegewens waaroor jy in ‘n Dans met die dood skryf, het ook hul neerslag in jou debuutbundel gevind. Is die skryf van gedigte vir jou ‘n terapeutiese aktiwiteit? Indien wel, hoe verskil die helende moontlikhede van poësie van dié van nie-fiksie?

 

Alhoewel ek nie in die eerste plek om terapeutiese redes skryf nie, vind ek dat die skryfproses tog ‘n helende effek het. Wanneer ek iets op papier vaspen – en ook veral wanneer ek dit publiseer – is dit asof ek afstand doen daarvan. Die skryfproses dwing my ook om dieper in myself te delf en om baie eerlik te wees met myself. Dit is dikwels ‘n pynlike ervaring, maar ook een wat genesing bring.

Om nie-fiksie en poësie te skryf is natuurlik twee baie verskillende prosesse. Die skryf van poësie stel tegnies hoër eise, maar dit het die voordeel dat ‘n gedig nie outobiografies hoef te wees nie. In die vermenging van feit en fiksie vind ek ‘n mate van beskerming of verskansing. Ek voel effens minder blootgestel.

 

 

Die meeste gedigte in die bundel is as deel van ‘n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde onder Joan Hambidge voltooi. Hoe tref jy ‘n balans tussen jou eie stem en die invloed van jou studieleier? Wanneer laat jy jouself deur jou intuïsie lei en wanneer luister jy maar na iemand wat meer ervare is?

 

Ek het nooit gevoel dat dit nodig was om ‘n balans tussen my eie stem en dié van my mentor te vind nie, want sy het nooit probeer om haar stem op my af te dwing nie. Inteendeel, prof. Hambidge het my aangemoedig en gehelp om juis my eie stem te vind en dit te ontwikkel. Ook het ek nooit gevoel dat dit nodig was om my intuïsie te onderdruk nie. Een van die belangrikste dinge wat ek in die kursus geleer het, was juis om meer in voeling te kom met my intuïsie en daaraan gehoor te gee, om as ‘t ware ‘n soort innerlike kompas te ontwikkel wat my rig tydens die digproses.

 

 

Jou gedigte getuig van sterk vormlike beheer en goeie afronding: daar kom byvoorbeeld villanelles, pantoens en ander vaste vorme in pirouette voor. Tot welke mate is hierdie gedigte uitvloeisels van skryfkunde oefeninge wat jy as deel van jou meestersgraad gedoen het?

 

Aan al hierdie vorme is ek blootgestel tydens die kursus en op daardie manier is hulle almal dus ‘n uitvloeisel daarvan. In die meeste gevalle was die vorm egter nie voorgeskryf nie – ek het dit gekies omdat ek gevoel het dat die gedig daarvoor vra. Ek dink nie dat ‘n mens ‘n gedig wat ‘n vrye vers wil wees in ‘n sonnet kan giet of van iets wat ‘n villanelle wil wees ‘n distigon kan maak nie. Dit sal eenvoudig nie werk nie.

 

 

Wat is, volgens jou, die voordele daaraan verbonde om jou kreatiewe speelveld met vormlike riglyne af te baken?

 

Ek glo dat vorm en inhoud ‘n eenheid moet wees. Die gedig moet die vorm dikteer, eerder as die vorm die gedig. Dus voel ek nie dat vormlike riglyne kreatiwiteit moet afbaken of inperk nie. Ek vind dit wel ‘n baie handige hulpmiddel om uitdrukking te gee aan kreatiwiteit en om kreatiewe denke te orden. Ek dink die neiging na vaste vorme kom vir my natuurlik omdat ek ‘n baie ordelike, gestruktureerde soort mens is en ook omdat ek baie jare van my lewe gewy het aan ballet – ‘n kunsvorm waar die konsep van vorm ‘n baie belangrike rol speel.

 

 

In die openingsgedig skryf jy: “Ek oefen my pirouettes / in stilte – die ritme / lankal op my lyf geëts” (9). Jy’t ‘n goeie oor vir ritme, iets wat jy sekerlik deur jare se dans verfyn het? Hoe dink jy het ballet jou digterskap beïnvloed? Watter vaardighede/maniere van dink, indien enige, het  jy van die studio na die bladsy getransponeer?

 

Daar is beslis baie ooreenkomste tussen ballet en digkuns. Ek sal selfs sover gaan om te sê dat die skryf van gedigte ‘n dans met woorde is, terwyl ballet “poetry in motion” is. Daar is natuurlik die feit dat konsepte soos ritme, vorm en musikaliteit ‘n belangrike rol in beide kunsvorme speel, maar waarskynlik is die waardevolste vaardigheid wat ek van die dansstudio na die bladsy kon transponeer, die vermoë om met ysere dissipline te werk. Nie dans of dig kom vir my maklik of natuurlik nie en in beide gevalle is dit harde werk en toewyding wat my gebring het tot waar ek gekom het.

 

 

Baie van jou gedigte is geskoei op die gelykstelling van een ding aan ‘n ander: die eetversteuring as voorskrif (14), die brein as maag (23) en malhuis (36), Weigh Less as godsdiens (24) en die spreker as Mona Lisa (42), as gebreekte Noritake-bord (15). Ek wonder oor hoe jou gedigte tot stand kom: begin jy gewoonlik met ‘n gelykstelling, waarna jy die skryfdaad gebruik om sistematies deur die gelykstelling te dink, of is die proses meer organies?

 

Ek het ongelukkig nie ‘n bepaalde resep of formule waarvolgens ek werk nie. Elke gedig gebeur maar op sy eie unieke wyse. Soms begin ek met ‘n beeld wat ek dan sistematies uitwerk soos ‘n wiskundige probleem; ander kere is dit weer asof die gedig bykans homself skryf. Soms word ek geïnspireer deur ‘n visuele beeld, soms deur ‘n reël uit ‘n liedjie of ‘n boek of iets wat ek iemand hoor sê het. Maar, hoe ookal die gedig ontstaan, keer ek altyd later daarna terug om te skaaf en te herskryf. Ek sou sê die grootste deel van my skryfproses bestaan waarskynlik uit herskrywing.

 

 

Hoe het jy te werk gegaan om die bundel aanmekaar te stik? Het jy berekend nuwe verse bygeskryf volgens sekere motiewe wat jy vooraf geïdentifiseer het, of het jy later reeds-geskrewe gedigte tematies saamgegroepeer?

 

Ek het eers die gedigte geskryf en hulle later gegroepeer (en verskeie kere gehergroepeer) om ‘n samehangende geheel te vorm.

 

 

Watter digters het jy gelees tydens die komponering van die bundel; watter stemme sou jy sê het jou die sterkste beïnvloed en op watter manier?

 

Jy het reeds genoem dat die meeste van die gedigte ontstaan het tydens ‘n kursus in kreatiewe skryfkunde. Gedurende hierdie kursus is ek blootgestel aan ‘n wye verskeidenheid digters en by elkeen het ek iets anders geleer, maar op die ou einde is dit die gedigte eerder as die digters wat my bybly. As ek enkele gedigte moes uitsonder, sou ek onder meer D.J. Opperman se “Draaikewers” kies. Ek het die grootste bewondering en respek vir die ongelooflike tegniese vernuf wat hierdie oënskynlik “eenvoudige” gedig onderskraag. Sylvia Plath se “Daddy” is nog ‘n gedig wat vir my hoendervleis gee. By hierdie digter, sowel as by Anne Sexton, vind ek tematies heelwat aanklank. Nog ‘n pragtige gedig vir my is Jeanne Goosen se “Irmgard dans”. Haar werk het ‘n element van waansin waarvan ek hou.

 

 

Het jy ‘n soort ars poëtika wat vir jou as ‘n rigtingwyser dien wanneer jy dig?

 

Wanneer jy praat van ars poëtika, dink ek onmiddellik aan Archibald MacLeash se bekende reëls: “A poem should not mean, but be.” Dit het vir my ‘n soort persoonlike mantra geword.

 

 

Hoe het dit gebeur dat jy begin skryf het, en sien jy dit as ‘n lang-termyn love affair?

 

Ek vind dit van kleins af makliker om myself in die geskrewe woord eerder as in die gesproke woord uit te druk. Ek dink dit is omdat ek nogal skaam is. Ook vind ek dit makliker om in my verbeelding te lewe as in die regte wêreld; so kreatiewe skryfkunde was ‘n redelik logiese keuse. Waarom digkuns en nie prosa nie, is ek self nie seker nie. Ek dink die digkuns het my gekies eerder as wat ek die digkuns gekies het. En ja, ek hoop dat dit ‘n langtermyn love affair gaan wees.

 

 

Watter gedagtes maal deur jou kop noudat die bundel afgehandel is? Is daar enige tekens van post-partum depressie?

 

Nee wat, eintlik is dit heel bevrydend. Nou is die gedigte nie meer myne om oor te tob of te wroeg nie. Hulle is die leser s’n en die leser kan daarmee maak wat hy of sy wil. Natuurlik voel ek effens blootgestel, maar hoofsaaklik is ek net dankbaar vir die geleentheid wat ek gekry het om my werk te publiseer.

 

 

Ter afsluiting, wil jy nie een van jou gunsteling gedigte uit die bundel hier aanhaal nie?

 

Krismis

 

Oupa klink nóg ‘n glasie

om sy oorwinning in die stryd

teen alkoholisme te vier.                                                                                                                     

Sy vrou, die wrede stiefouma, gesels

met ‘n goeie dosis snobisme

oor háár kleinkinders se intellektualisme.

Pa doen die tafelgebed met sy beste

ouderlingstem, geoefende balans

van vroomheid en sinisme –

dominee sou ‘n ding of twee kon leer.

Ma staar na die gekraakte muur

vol leë beloftes van skilderye

en beter dae, skryf die naakte

waarheid af as minimalisme.

Niks hiervan pla my broer nie –

hy glo hy glo aan niks meer nie

(die kulkuns van ateïsme).

Ongestoord kou hy sy vis en tjips,

spoeg tussendeur grate

en anglisismes uit.

 

Ek hou hulle dop, my familie van -ismes.

Dank die Heer dis net een keer ‘n jaar Krismis.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.