Onderhoud: Joan Hambidge (Lot se vrou)

 Joan Hambidge. Foto: Philip de Vos

Joan Hambidge. Foto: Philip de Vos

 

Die woedende vertroosting van ʼn gedig

 

Joan Hambidge gesels met Louis Esterhuizen oor haar nuutste bundel, Lot se vrou.

 *

 

Van harte geluk met ʼn besonder knap afgewerkte toevoeging tot jou oeuvre, Joan; ʼn bundel wat gewis as ʼn hoogtepunt gereken kan word. Vanweë die Bybelse gegewe wen die titel, Lot se vrou, uiteraard aan besonderse resonansie. Vertel ons ietsie oor dié titel en hoe dit neerslag vind in die bundel?

Ek verwys uiteraard na die Bybelse figuur wat vlug uit die stad van Sodom en teen waarskuwings in, terugdraai en in ʼn soutpilaar verander. Ook Ado of Edith in die Hebreeus en die verhaal-gegewe staan opgeteken in Genesis 19. Ek gebruik haar as ʼn simbool vir die terugkeer na jou jeug, na pynlike ervarings en insidente. Die hele bundel is geïnspireer deur ʼn uitnodiging na my skoolre-unie en is dus ʼn terugkeer na dit wat ʼn mens meen jy verlaat het, maar tog paradoksaal jou lewensuitkyk bepaal het. Ek speel dan voortdurend ook met die idee van lot (fata) en my persoonlike verbintenis tussen die Christendom enersyds en die Boeddhistiese aanvaarding van jou lewenslot. In ʼn reisverslag wat nou onlangs in BY verskyn het, koppel ek sekere Boeddhistiese beginsels aan my reisbesoek aan vreemde, dog bekende stede.

 

Ook die omslag, ʼn skildery van Judith Mason, is besonder treffend. Waarom juis dié skildery as omslag en meer spesifiek: was die deursigtige detail van die tekening vir jou ʼn belangrike faktor in jou keuse ten gunste hiervan?

Hoe gelukkig kan ʼn mens nie wees as ʼn kunstenaar van haar statuur goedgunstiglik toestem dat ʼn skildery gebruik mag word nie. Dit heet “The Bearer” en die kyker moet self interpreteer.

 

Hierdie bundel vaar onder die vlag van ʼn Michel Houellebecq-motto wat een van die vele teenstellings in die bundel aktiveer; die kwessie van “aggressive approach” en die “yelling” wat daarmee gepaard gaan, teenoor “the silence of the night”. Uiteraard ʼn belangrike sleutel ot die bundel, vermoed ek. Of is ek verkeerd?

Waarskynlik ja. Die ewige konflik tussen die digterlike proses en die intellektuele afstand – al die opposisies wat ons denke bepaal. Wallace Stevens se siening dat die digkuns ʼn woedende proses van binne is wat ons beskerm teen die woedes en aanvalle van buite. Hierom lees ek graag Lacan en Žižek oor hoe die ego funksioneer. Laasgenoemde word vereer in ʼn gedig:

 

Angsaanval

‘n soort ghazal

 

Žižek meen pyn het geen woorde nie

en angs is die enigste ware emosie.

 

Alles is aangeleer: liefde, jaloesie

begeerte, die hele santekraam.

 

Žižek meen pyn het geen woorde nie

en angs is die enigste ware emosie.

 

In ‘n droom strek jy jouself oor my rug

so helder, so dwingend soos ‘n doodsberig.

 

Žižek meen pyn het geen woorde nie

en angs is die enigste ware emosie.

 

‘n Beoogde ghazal oor ons affaire

‘n Persiese reis beplan, maar uitgestal.

 

Ook in die Geoffrey Hill- aanhaling wat as motto by Afdeling III gebruik word, klink die refrein van woede en troos: “What / ought a poem to be? Answer, a sad / and angry consolation.” Nogeens ʼn teenstelling. Is woede inderdaad die stramien wat hierdie gedigte dryf? En die melancholiese versugting na troos (deur die skrywersambag) die teenspel, soos jy dit in die gedig Lucian Freud (1922 – 2011) as geïmpliseerde vraag stel: “Dat woede eintlik niks anders is as melancholia?”

Waarskynlik is woede tog iets wat my gedigte dryf. Al die verliese, afleggings en ontnugterings wat ek al moes deurmaak. Dikwels ook ʼn gevoel dat ʼn mens ontsettende pryse moes betaal vir wat eintlik op ander plekke aanvaarbaar sou wees. Dit staan immers alles opgeteken in Freud se “Mourning and Melancholia” uit 1917. Alles bly dus in die self opgevang en Freud skryf uitgebreid oor die komplekse prosesse wat verlies aktiveer.

Alles bly dus in die self opgevang en Freud skryf uitgebreid oor die komplekse prosesse wat verlies aktiveer. Oor die sogenaamde Besetzung.

 

Nog iets wat duidelik opval met die lees van dié bundel, is die noukeurigheid waarmee die gedigte binne die groter tematiese raamwerk “geplaas” is. So open en sluit die bundel byvoorbeeld met twee onvergeetlike gedigte, myns insiens: die titelgedig, waarin teruggekyk word na vorige geliefdes (‘muses’ in die gedig), en die gedig “Wagkamer” waarin weer vorentoe gekyk word na ʼn volgende bestel; vanaf herinnering en verlies wat dan deur vele verse heen verloop na die sluitpunt met sy onheilspellende toon van verwagting en versugting. Was hierdie teenstelling van terug- en vorentoe kyk vir jou ʼn bepalende struktuurbinding?

Die terugkyk en vorentoe kyk bepaal inderdaad die struktuur van die bundel. Ek dink die plasing van gedigte binne ʼn bundel versterk of amplifiseer betekenisse en interpretasies. Edna Deudney se studie oor die struktuur van ʼn digbundel het beslis gehelp. Die programgedig kondig dus aan en die slot moet sluit. Ek dink ook aan Leon Strydom se studie: Oor die eenheid van die digbundel. ‘n Tipologie van gedigtegroepe (1976) en hoe daar bundels bestaan waarin gedigte op mekaar inspeel.  

 

Met die reeds genoemde Houellebecq-motto waarmee die bundel ingelei word, word ook die aggressiewe daad van “ripping” (“… to bits the silence of the night”) in die vooruitsig gestel. Inderdaad verteenwoordig ‘verskeurdheid’ en ‘verskeuring’ belangrike momente in dié gedigte, myns insiens; ook op tipografiese vlak soos die feit dat die 55 gedigte waaruit die bundel bestaan, oor nege afdelings ‘verskeurd’ lê. Kan jy hierop uitbrei vir ons, Joan, en sommer ook ʼn uiteensetting gee van die nege afdelings en hoe jy hulle gegroepeer het?

Terugkeer na die “unfinished business” van die liefde en die skoolre-unie; dan die ars poeticas met Parys as ʼn soort skryfverslag; dan na die familie met gedigte oor my pa, my familie; in die vierde afdeling skryf ek oor geliefde ikone soos Liza Minnelli, e.a. wat elkeen iets van my aard verraai, terwyl ek in die vyfde afdeling hulde bring aan Flaubert, Nabokov, Paul Cilliers, e.a. wie se werk my lewe verryk het. In die sesde afdeling skryf ek oor geliefde sangers soos Callas, Leontyne Price, Sutherland, Marilyn Horne – want om goed te kan dig, moet jy nes ʼn sanger met jou voete vas op die aarde staan. Opera en sang is een van my tydverdrywe en daar is niks wat my meer plesier gee as mooi stem nie; in die sewende afdeling, “Stasies” word ʼn verrukking oor die liefde uitgewerk via Tolstoi : alles ingegee deur ʼn kursus wat ek moes aanbied oor Tolstoi, James Joyce en Nabokov vir studente in kreatiewe skryfwerk. Die agste afdeling handel oor die aktuele o.a. en die dood van die groot skilder Lucian Freud. In die laaste afdeling die terugkeer, finaal, na die plek van herkoms en die gesprek met die moeder en my siening danksy Kristeva dat digterlike taal aan die moeder gekoppel is. (My eerste vers in Hartskrif, 1985 spreek dan ook my moeder aan.) Hierom nogmaals ʼn vers oor Lot se vrou en gesprek met die psigoanalis, Alice Miller:

 

Alice Miller Revisited

VWL

 

Die dag treur in goue akkerblare,

tot in die kelders van onthou.

Die troostelose dag draai en draai

soos ʼn lendelam, geroeste windpomp.

Laat alles val wat seermaak of verbrou,

ook die stamelinge van so ʼn omdraai.

Die woedes, verliese, afwysings,

en Godweet, dít wat roep om verswyging.

O gode van my jeug: Camus en Sartre,

deur Boeddha terúg tot by daardie Iets.

Wis elke afdraaipad of misverstand uit.

Die dag treur in goue akkerblare,

immer in die kelders van vergeet.

 

Eweneens speel inkantasies ʼn belangrike rol in dié gedigte; inkantasies soos dit deur die drie muses, Meditasie, Herinnering en Lied, ingegee is. Vertel hoe jy gestalte gegee het aan hierdie inkantatiewe ondertoon?

Jare gelede toe ek pas Palinodes gepubliseer het, het ʼn gesiene kritikus vir my geskryf dat ek my liriese aard onderdruk en in my jongste bundel waaraan ek tans werk, Meditasies, probeer ek al hoe meer hierdie aspek ondersoek.

 

Nog ʼn interessante ondertoon van dié gedigte is die deurlopende geding met digter wees en gepaardgaande daarmee, digterskap; soms direk en soms by wyse van suggestie. Telkens word dié gesprek ook teen ʼn groter doek geplaas en handel dit in wese oor kunstenaar en kunstenaarskap. So eindig jy byvoorbeeld die gedig “Die intieme aard van die digkuns” (p.18) met die volgende reëls:

 

… en in die meester

se fyn balans tussen donker en lig,

geskiedenis en verbeelding,

weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.

‘n Gedig word voltrek in stille toeval.

 

Kan jy dalk, ter verdere toeligting, ietsie sê oor die “stille toeval” waarin ʼn gedig voltrek word?

Hoe langer ek dig, hoe meer besef ek hoe gedigte “ingegee” word. Maar daarna moet jy juis as vakkundige die gedig herskryf sodat dit lyk na ʼn stille toeval. Die gedig wat maklik of eenvoudig lyk, is dikwels die vers wat die meeste herskrywings beleef het.

 

ʼn Verdere vraag wat sekerlik met die vorige vraag verband hou, is die feit dat jy dikwels die belang van die gedig (as kunsskepping) ondermyn. So verwys jy byvoorbeeld met die slotreël van “The well-wrought urn” (p.20) na  die gedig as ‘n “goed gevormde, nuttelose kruik”. Word hierdie ironies bedoel, of is dit werklik jou oortuiging?

Ironies en ernstig bedoel. “For poetry makes nothing happen”. ʼn Mens skryf gedigte, dit is ʼn stil bedryf, jy weet dikwels nie eens of mense jou lees nie en tog hou jy aan met hierdie stil bedryf. Paradoksaal is daar wel poësie-lesers en mense wat dikwels op onverwagse plekke bely hoe ʼn gedig hulle gehelp het deur ʼn moeilike tyd.  Maar die skryf van gedigte is ʼn verslawende proses en ou klassieke kenners soos Cleanth Brooks kan ʼn mens veel leer! Uiteindelik skryf ʼn mens waarskynlik vir jouself en bly dit ʼn soeke na die “volmaakte” vers … Paul Muldoon het my uitgenooi om in Februarie gedigte voor te lees en dit wys jou net dat die gedig in vertaalvorm ook verder reis as wat ʼn mens besef.

 

Joan, synde ʼn kenner van die postmodernisme en die vele aspekte daarvan, is jy ʼn digter wat waarskynlik meer van intertekstualiteit gebruik maak as enige ander digter in ons digkuns. En tog word die tekste en intertekstuele verwysings wat in jou verse geaktiveer word, deurlopend in die betrokke vers self uitgespeel; iets wat verseker dat selfs ʼn nie-akademiese leser soos ek die buite-tekstuele verwysings en -spel gemaklik kan volg. Maar watter intertekste was vir jou van besondere belang met die skryf van hierdie gedigte?  Houellebecq, dalk?

Ek glo die gedig moet die verwysing kan dra. Dus ʼn skeutjie van Eybers, ʼn knippie van Opperman, ʼn proeseltjie Van Wyk Louw … Die hele Groot verseboek glimmer hier saam met ou gunstelinge. Ek dra verse op aan Breytenbach, Johann de Lange, Louis Jansen van Vuuren, Cloete; daar is toespelings op Emily Dickinson, Sylvia Plath, Anne Sexton, Robert Lowell …

 

Nog ‘n aspek van jou digkuns wat uitstaan, is die besonderse manier waarop jy klassieke versvorme hanteer. Ook in hierdie bundel val dit telkens op. Kan jy dalk hierop uitbrei, ter wille van die vele aspirantdigters wat (hopelik) hierdie onderhoud lees?

Wel ek doseer kreatiewe skryfkuns. Ek meen dat ʼn mens geweldig leer wanneer jy klassieke vorme (soos die rondeel, villanelle, distigon, of watookal) kan skryf. Skryf ʼn gedig eers in ʼn formele vorm en maak dit daarna ʼn vrye vers. Dan kan jy sien wat jy nie kon of wou sê nie. Ek skryf tans ʼn handleiding (so tussen alles deur) vir jong digters.

 

Joan, by wyse van groet – dankie vir hierdie gesprek en nogmaals geluk met ʼn kragtige toevoeging tot ons digkuns. In dié bundel is daar werklik ʼn groot aantal wat ʼn mens dwing om dit weer en wéér te wil lees. Mag ek derhalwe vriendelik vra om as verdere leesprikkel een van jou persoonlike gunstelinge uit die bundel hieronder te plaas?

Hierdie een met sy toespelings op Alice Miller en waarvan daar ʼn ander (en korter) weergawe op KykNet verskyn het. Wat jou net wys hoe ʼn mens kan verander aan ʼn gedig!

 

The drama of being a child

 

As jong kind bekoor die reuke

van die somerse veld my veral.

Die dam met stilstaande water,

biesies in die vlei en paddavissies spartelend,

kwakende paddas, selfs ʼn slang onder ʼn klip,

glimwurms, grassade en giftige vrugte, 

onthou ek helder soos ʼn gedroogde boekmerk

in My Bybel skeefgedruk by Jesaja.

 “Oppas vir Bilharzia”, sou my ma maan.

Bo-op die berg was daar ʼn halfgeboude huis

met ʼn sementpad en ʼn Toegang verbode-bordjie.

Dié huis is nooit voltooi nie; niemand weet waarom nie.

Nie toe nie en ook nie nou nie.

Daardie huis, daardie onvoltooide huis,

sou my later agtervolg. In Malága

raak ek aan die growwe sement, skrik

vir ʼn draad; die somerson ʼn briesende koperkapel. 

Ook die dam met verrottende water soek my op

in ʼn droom: vasgevang tussen daardie biesies,

roep ek om hulp, wyl water oor ʼn afgrond stort.

Hoe breekbaar én skrynend is die geheue nie.

Reuke soos smake is sigbaar, skryf Neruda iewers.

ʼn Klein pampoentjie op my tong sing steeds

van dit wat wild en onveilig en onstuimig-vreemd proe.

 

(c) Joan Hambidge (Uit: Lot se vrou, 2012: Human & Rousseau)

 

Joan Hambidge is een van die bekendste literêre figure in Suid-Afrika. As kritikus en resensent skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy het al ‘n twintigstuks digbundels op haar kerfstok en verskeie romans. Sy is professor in Afrikaanse Letterkunde en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.  Haar vorige bundel, Vuurwiel, is besonder goed ontvang en was op die kortlys vir die ATKV-Woordveertjietoekenning vir Poësie. Ook Visums by verstek, haar versameling reisverse, is goed ontvang.

Bookmark and Share

Comments are closed.