Leon Retief. Om te kan onthou

 

Menswees behels ‘n komplekse samespel van neurologiese prosesse wat ons interaksie met die omgewing (wat natuurlik ander mense insluit) bepaal. So deur die jare het ek in my daaglikse doen en late agtergekom hoe belangrik geheue is en hoe ons dit as vanselfsprekend ervaar, iets waaraan ons eintlik nooit dink nie – ‘n modaliteit van ons menslikheid, integraal tot dit wat ons is en hoe ons ons lewens ervaar. Sonder geheue is ons niks, ‘n blote versameling selle wat nog doelloos bly metaboliseer sonder dat die: “eienaar” van die selle enigiets onthou van die verlede, al die vreugde en verdriet, die hoop en wanhoop, die geselskap van ‘n geliefde, die omhelsing van ‘n kind, die skoonheid van ‘n sonsondergang of die sensuele genot van die liefdespel.

Ek sien ten minste een of twee keer per week pasiënte wat nie weet wie hulle is of waar hulle is nie, mense wat hul gades en kinders nie herken nie, verwese ou mense in die greep van Alzheimer se siekte. Soms is hulle aggressief, soms skytbang vir als wat rondom hulle gebeur. Ek onthou die tannie wat ‘n paar weke gelede, toe ek haar pre-operatief wou ondersoek, my met haar dun, beaarde vuisies geslaan het sodat ek nie eers naby aan haar kon kom nie. Vir mense soos hierdie is die lewe iets afgrysliks – en vir ons wat hulle moet behandel, is sulke situasies nie juis veel beter nie. Wanneer ek ‘n tannie van 92 met Alzheimers, iskhemiese hartsiekte, hartversaking, hoë bloeddruk, diabetes en nierversaking veilig deur haar narkose en chirurgie kry is dit wel uit ‘n professionele oogpunt ‘n uitdaging wat my satisfaksie gee maar ek kan nie juis sê dat ek aan die einde voel dat ek iets betekenisvol uitgerig het nie. Niks wat ons vir haar gedoen het gaan haar geheue terugbring nie, haar lewe gaan na die tyd net so leeg, betekenisloos en sonder herinneringe wees soos voorheen. Studies het getoon dat sulke pasiënte wat major chirurgie ondergaan oor die algemeen binne ses tot nege maande na sulke chirurgie sterf, en dan nie weens die gevolge van die siekte waarvoor hulle geopereer is nie.

My eerste kennismaking met geheueverlies was in my vyfde jaar as mediese student toe ek my psigiatrie-inwoning by die Oranje Hospitaal, die psigiatriese opleidingshospitaal in Bloemfontein, gedoen het. Een van die eerste pasiënte wat aan my toegeken is, was ‘n baie aangename omie wie se naam ek nou nie meer kan onthou nie – ‘n afgetrede jokkie met Korsakov-sindroom. Hierdie toestand is ‘n onomkeerbare breinsiekte wat die gevolg is van alkoholverslawing, essensieel te wyte aan ‘n gebrek aan tiamien (vitamien B1). ‘n Baie aangename oom, maar hy het geen, soos in geen, korttermyngeheue gehad nie. Hy kon als onthou tot min of meer die tyd toe die siekte sowat dertig jaar tevore toegeslaan het, maar het geen benul gehad van wat gister gebeur het nie.

Ek dink dat meeste besoekers en bydraers tot Versindaba seker al Oliver Sacks se boek The Man Who Mistook His Wife for a Hat gelees het. Ek het nie die boek byderhand nie, maar ek onthou dat hy in daardie boek iemand met korttermyngeheueverlies beskryf het en dat die persoon by navraag aan hom iets gesê het soos: ek voel al vir baie jare asof ek nie leef nie.

‘n Familielid van my – kom ons noem haar A – het Januarie verlede jaar ‘n breingewas ontwikkel. Haar langtermyn geheue is intak en sy onthou als tot en met Januarie 2011. Haar korttermyngeheue is egter daarmee heen. Haar suster – kom ons noem haar B – het my die volgende vertel: B gaan besoek A en hulle sit en gesels. Na ‘n tyd staan A op en sê sy gaan gou badkamer toe. Twee minute later keer sy terug, sien haar sussie B op die bank sit en sê jislaaik B, ek is so bly dat jy kom kuier het, wanneer het jy opgedaag? Sy kan nie eers onthou dat sy haar sussie twee minute tevore gesien het nie.

Die neurobiologie van geheue is besonder interessant maar ek gaan nie daaroor uitwei nie want ek dink nie dat die lesers van Versindaba dit so boeiend soos ek sal vind  nie. Laat ek volstaan met ‘n gedig deur Wislawa Szymborska wat als oor geheue vertel, net so indringend soos enige neurobioloog.

 

Hard Life with Memory

I’m a poor audience for my memory.
She wants me to attend her voice nonstop,
but I fidget, fuss,
listen and don’t,
step out, come back, then leave again.

She wants all my time and attention.
She’s got no problem when I sleep.
The day’s a different matter, which upsets her.

She thrusts old letters, snapshots at me eagerly,
stirs up events both important and un-,
turns my eyes to overlooked views,
peoples them with my dead.

In her stories I’m always younger.
Which is nice, but why always the same story.
Every mirror holds different news for me.

She gets angry when I shrug my shoulders.
And takes revenge by hauling out old errors,
weighty, but easily forgotten.
Looks into my eyes, checks my reaction.
Then comforts me, it could be worse.

She wants me to live only for her and with her.
Ideally in a dark, locked room,
but my plans still feature today’s sun,
clouds in progress, ongoing roads.

At times I get fed up with her.
I suggest a separation. From now to eternity.
Then she smiles at me with pity,
since she knows it would be the end of me too.

 

(Wislawa Szymborska. Vertaal deur Clare Cavanagh en Stanislaw Baranczak)

Bookmark and Share

Comments are closed.