Resensie: Pirouette (Aniel Botha)

Min sprake van poësie as ʼn dans met woorde: Pirouette, Aniel Botha. ISBN: 9780795800320; Sagteband, 64pp; prys (insl. BTW): R 150.00; Queillerie, 2012

Resensent: Tom Gouws

Pirouette

Pirouette

In die laat sewentiger-, vroeg tagtigerjare het daar geredelik nuwe Afrikaanse digbundels verskyn, maar die meeste tekste het jou gelaat met ʼn gevoel van déjà vu. Daar was min gelade oorspronklikheid, poëtiese vuurwerke, verrassende passie. Die verskyning van bundel na bundel het jou laat dink aan ʼn groot masjien wat moeisaam met middelmatigheid gevoer word.

Ek het met die lees en die herlees van hierdie debuutbundel van Aniel Botha dieselfde bevreemdende gevoel as destyds gekry.

Ons bevind ons tans weer in ʼn tydperk waarin daar heelwat nuwe digbundels verskyn, en ná die uitgewersdroogte op die gebied van poësie ʼn dekade of wat terug is almal baie dankbaar vir die onvoorsiene genade wat die publikasiehuise weer aan die digkuns verleen het.

Maar ek kan nie anders as om te voel dat van hierdie digters ʼn oneer aangedoen word deur die té maklike publikasie van bundels nie. Miskien het die baie webwerwe vir aspirant-poëte, die baie skryfskole en digtermentorskappe aan universiteite meer hiertoe bygedra as wat ons besef.

Dit voel partykeer of die indertydse advertensie van die Huisgenoot ʼn eietydse toepassing gekry het – Jannie Raath kan selfs ʼn bobbejaan leer klavier speel.

Natuurlik net by wyse van spreke, want Aniel Botha gaan haal jy nie agter enige akademiese berg nie – teen die einde van die bundel word vermeld: “Die meeste gedigte in hierdie bundel is vir ʼn graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.” Jy kan selfs haar meegaande verhandeling op die internet gaan lees: Digter as Danser/ Danser as Digter. En dit loon om dit te doen, want duidelik het die digbundel gespruit uit hierdie insiggewende ars poëtikale besinning.

Die ander teks wat jy ook hiermee moet saamlees, is Botha se joernaal van ʼn anoreksielyer wat in 2010 by Zebra Press verskyn het: ʼn Dans met die dood, ʼn teks wat my regtig geraak het.

Maar dis helaas nie al nie – al die poësiehandleidings en -skryfgidse wat Aniel Botha in haar kursus gebruik het se deurslagpapier is in haar digbundel sigbaar: nie net Ruth Padel se The poem and the journey (wat sy spesifiek uitgelig het in ʼn koerantrubriek) nie, maar ook Cleanth Brooks en Robert Penn Warren se Understanding poetry, Camille Paglia se Break, blow, burn, Ottone M. Riccio se The intimate art of writing poetry en Jay Parini se Why poetry matters.

Die diep traumatiese ervaring van ʼn vernietigende siektetoestand (“die dieet van selfhaat”), gepaardgaande met die oorwig van ʼn legitieme akademiese besinning oor die onderwerp val, helaas, die digter dood. Die poësie word selde meer as ʼn slim-slimmer ritueel, om ʼn frase buite konteks by Krog te leen.

 Die bekendstellingsteks op die uitnodigingskaartjie van die bundel by die Woordfees is ʼn goeie opsomming van die tematiese aard van die bundel: “In Aniel Botha se debuutbundel Pirouette word balletterminologie en die hospitaalmilieu van eetversteurings saamgebind in ʼn helder besinning oor gebrokenheid, verwonding en psigiese kwelling.”

In hierdie opsig pak die digter formidabele temas met oneindige metaforiese moontlikhede aan. Groot temas waarborg egter geensins goeie literatuur nie. Gedigte wat byvoorbeeld oor die kruis van Jesus Christus geskryf word, byvoorbeeld, waarborg geen goeie poësie nie, al is die idee ten grondslag daarvan groots.

Tog is die tematiek, en die verwewing daarvan, in hierdie teks ʼn interessante en selfs vindingryke perspektief, en dit maak die lees van die bundel op ʼn eenvoudige vlak die moeite werd. Maar ʼn mens mis die groter konteks, meer diepgang, selfs ʼn meer universele segging in die digbundel. Deurgaans voel jy daar kon meer van die gegewe gemaak word.

Ek sou byvoorbeeld meer wou sien van die alter ego van die donker swaan van Swan Lake; die dieperliggende oerkragte wat gesetel is in die dodedans (in die tradisie van byvoorbeeld Hans Holbein); ʼn verkenning van die arabeske (as dansbeweging én as digpraktyk); ʼn ontginning van unreality in die lig van die “mind control” en die “yellow brick road” (sien die gedig ‘Oz’); en so meer. Maar miskien is dit onregverdig om te dink wat ʼn digter met die tematiese roumateriaal kón gemaak het. Die kuns van die digkuns het in hierdie bundel nie ʼn verruimende dimensie aan die prosakroniek van die siekte óf die akademiese beslaglegging daaraan gegee nie. Trouens, dit voel eerder na versmorende kleefplastiek wat oor die bundel getrek is.

ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die gedig waarmee afdeling 1 open: ‘Selfportret’. As jy, byvoorbeeld, in ʼn Dans met die dood die skrywer se beskrywing van Paulette, ʼn nuwe pasiënt in die hospitaal vir eetstoornisse, lees, lui dit soos volg: “Sy is, om eerlik te wees, nogal ʼn vreesaanjaende prentjie. Haar gesig kan ʼn mens net beskryf as ʼn ongelukstoneel: twee bloedbelope lyke waar die oë moet wees; die wange onherstelbaar ingeduik; ʼn skeefgetrekte wrak vir ʼn neus; ʼn vel soos ʼn gekraakte teerpad; die mond ʼn liederlike, gapende wond. / Haar lyf is ook glad nie ʼn lyf nie: net ʼn krokodilleersak met ʼn geraamte binne-in … (ʼn) kadaweragtige voorkoms …” (p. 128).

In ʼn onderhoud met die digter op Versindaba maak sy die volgende stelling: “Die skryf van poësie stel tegnies hoër eise, maar dit het die voordeel dat ʼn gedig nie outobiografies hoef te wees nie.” As ʼn mens dit as ʼn riglyn kan neem vir die beoordeling van haar poësie (in reliëf met die ander tekste wat die saamlees vra), wys dit die presiese probleem uit met hierdie digbundel.

Benewens dat die neerbuigende kykhouding van die fokalisator in die aangehaalde gedeelte my persoonlik gepla het, en die op-mekaar-ingebuigte metafore met mekaar bots, is die beskrywing na my gevoel taamlik studentikoos. Maar hieruit het Botha weliswaar ʼn gedig kon haal:

 

Asimmetriese kontoere

sper die gesig af.

ʼn Ongelukstoneel.

Wange onherstelbaar

ingeduik, die neus

ʼn skeefgetrekte wrak.

Skerwe glas blink

op die dowwe vel.

Bokant die ken

ʼn gapende wond

waaruit woorde

onkeerbaar bloei.

 

Hoeveel wins daar  lê in die prosateks wat tot gedig gemaak is, is miskien debatteerbaar, maar myns insiens is dit skraal.

Helaas kry mens heeltyd die gevoel die meeste gedigte is opgeraap, party by die hare bygesleep, in hierdie toegespitste proses om ʼn digbundel daarvan te maak. In die gedig ‘Spieëlskrif’ word gekonstateer: “My verse is spieëlglad en penskerp” – dit is ongelukkig nie so nie. Daar is heelwat lompheid (in woordballet onvergeeflik), naïwiteit (sien p. 51), botsende metafore en beeldgelykstellings, clichés (p. 37, en veral met die slotte van gedigte), die oormatige gebruik van aksenttekens. Die enjambemente word oorspanne, en alhoewel dit ʼn poging is om die versreëleinde te laat draai (analoog aan die titel), lyk dit dikwels bloot na swak versifikasie.

Soms red die gekose versvorm die gedig (byvoorbeeld p. 47); soms is daar ʼn onverwagte mooi beeld; enkele klein kunsgrepe beïndruk party keer. Maar ʼn gedig soos ‘Lewenslank’ is bloot onaanvaarbaar swak. Die eerste strofe lui:

Oortreding:

Perfek wees tot die laaste gram,

poging tot gewelddadige beheer,

hoogverraad teen die regering van natuur.

 

Die tweede strofe dwing ʼn saamlees met S.J. Pretorius se ‘Die kranksinnige’ af, en ongelukkig val die gedig in vergelyking met die klassieke teks dan totaal plat. (Vergelyk ook die gedig  ‘My brein is ʼn malhuis’.)

Enkele vinjette van verlies hier en daar raak ʼn mens, maar ongelukkig is daar nie genoeg om werklik substansie aan die bundel te gee nie. In haar knap resensie van In die niks alom van René Bohnen sê die resensent Marlies Taljard dat wat haar van die bundel pla, is dat daar min  “substansiële gedigte” is. Met hierdie bundel is daar eweneens nie ‘n onthoubare gedig in die worp nie.

In ʼn Dans met die dood  word die begrip  pirouette op p. 116 soos volg verklaar: “om en om en om, sonder einde en sonder dat dit êrens kom”. Dit is helaas waar van hierdie bundel. Daar is min sprake van ballet as poësie in beweging, en eweneens min sprake van poësie as ʼn dans met woorde. Ek is regtig jammer om te moet sê – dit is ʼn bundel wat my totaal onversadig laat.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: Pirouette (Aniel Botha)”

  1. AJB :

    “Ek sou byvoorbeeld meer wou sien van die alter ego van die donker swaan van Swan Lake” – meer kitsch kan dit nie. Dank vader Botha het van daardie tipe Potgietersrus-skoolsaal-konsert beelding weggebly. Minstens gaan sy op vindingryke wyses om met gegewe wat ander digters lankal bykans onherstelbaar ingeduik het. Die slotsin van hierdie resensie is eenvoudig in uiters swak smaak. Dit laat mens oortuig dat jy jou nie veel aan hierdie skryfsel behoort te steur nie.