Onderhoud: Tom Gouws (Stigmata)

Tom Gouws

 

Weefsel van wond en wonder

 

Tom Gouws gesels met Louis Esterhuizen oor sy bundel Stigmata.

*

Tom, van harte geluk met ‘n pronkbundel; persoonlik is ek van mening dat Stigmata as ‘n hoogtepunt in jou reeds indrukwekkende oeuvre gereken gaan word. Die een aspek wat die leser van jou bundels telkens tref, is die afgerondheid daarvan danksy jou opvallende aandag aan detail. So gebruik jy byvoorbeeld Simon Armitage se uitspraak “Maybe that’s how poets think of birds: as poems” as motto by Afdeling II, “die halwe sekerheid van voëls“. Is dit hierdie stelling wat die veelseggende omslag – tesame met die talle ars poetica-gedigte – vir jou aktualiseer? Anders gestel: versinnebeeld die dooie voël met skuifspeld vir jou die gedig as dooie artefak?

Dankie, Louis – komende van jou is dit ‘n groot kompliment.

Ja, ek is besonder baie op detail ingestel – ek probeer gestileerd met fynsteek weef. In daardie noulettende skryfproses kom die bloedskendige verwantskap tussen alle tekste as ‘t ware soos onsigbare elektriese velde vanself na vore, en interfereer, veral in die worp van ‘n bundel, en bewustelik en/of onbewustelik buit die digter dit dan uit.

Die voorblad is met baie sorg gekies. Benewens dat voëls een van die belangrike temas van die bundel is, word dit ook deurgaans gemetaforiseer. In ‘n sekere opsig is die dooie voëltjie op die voorbeeld dus – soos jy tereg opmerk – ‘n versinnebeelding van die artefakt. Alle tekste bestaan eers as ‘n leser dit laat realiseer, of dan: laat vlieg. ‘n Goeie gedig vlieg. As jy op die hermeneutiese operasietafel die lewe daarvan probeer dissekteer, sterf dit dikwels. Maar dit beteken nie altyd die detailmeganika wat  lewe moontlik maak, is onbenullig of onbelangrik nie.

Die skuifspeld is ‘n baie belangrike simbool dwarsdeur die digbundel, onder andere as ‘n simbool om los dinge byeen te bring en betekenis as ‘t ware bymekaar te hou. Hier veroorsaak dit ironies genoeg terselfdertyd ook die dood van die voëltjie, maar binne ‘n teksmaakproses word dit “aangeheg” tot die nuwe lewe van die groter gesprek of teks. In die voorlaaste gedig van die bundel, ‘val’, wat handel oor ‘n skuifspeld wat val, word die ganse kosmiese kataklisme wat die “skaamspleet van die skuifspeld” meegebring het, verbeeld, tot by sy oorsprong in die tuin van Eden. In die lig van die voetnota by hierdie gedig word die skuifspeld een van die basiese taksonomiese objekte van evolusie, wat ek probeer verreken in my persoonlike worstelstryd tussen geloof en wetenskap. Só word Darwin, byvoorbeeld, ‘aangeheg’ aan Jesus, en uit die ongemaklike jukstaposisie ontglip die gedig. Skryf word toenemend vir my ‘n kwessie om te probeer verstaan wat ek dink – how can I know what I think before I see what I say?

My durende behoefte om my ars poetica te probeer ver(ant)woord, is die sekerste teken dat dit deurentyd onder my hand verander. Ek kan dit nie vaspen nie, en die metamorfe daarvan dwing my om dit telkens opnuut te probeer vasvang. Die obsessie met ars poetica dui vir my op die onvermoë om die vlugtige kuns van die digkuns te kan beheer.          

Weereens die kwessie van motto’s: Een van die motto’s waarmee Stigmata ingelei word, neem jy uit ‘n vorige bundel van jou: “maar ék weet my vingers moet sy wonde vind” (uit die gedig “aanraaklied van thomas” in Syspoor, 2002).  Was daar vir jou ‘n bewustelike terugskryf en gepaardgaande herkontekstualisering van vorige skryfsels met dié nuwe publikasie? Hoe sou jy Stigmata binne jou oeuvre posisioneer?

Ek skryf heeltyd teen ‘n tradisie in – daarom haal ek Hendrik Marsman aan wat dit so raak geformuleer het: “wie schrijft, schriv’ in den geest van deze zee / of schrijve niet”. In daardie see van literêre tradisie is ook my vorige digbundels, my lewe, my skryfsels, en so meer. Eintlik is ek besig met een groot digbundel, of soos T.S. Eliot gesê het: “In my beginning is my end, / In my end is my beginning.” So is derhalwe ook die kiemsel van ‘n volgende bundel reeds as saadgedagtes in ‘n vorige bundel aanwesig. Ek het byvoorbeeld gedigte uit Stigmata gehaal wat beter pas by die volgende bundel waaraan ek tans werk. Die een bundel stort vir die volgende sy boodskap uit. Ek glo dat al die bundels wat ek moet skryf, is reeds binne my, soos ongebore kinders. Psalm 147:13 sê mooi hiervan: “Hy het jou kinders binne-in jou geseën.”

In my oeuvre is Stigmata ‘n baie bewustelike verruiming van tematiek en tegniek. ‘n Mens kan dit seer seker ook lees as getuienis van my uitdeinende geestelike belewenis. Ek was met die bundel baie bewus van die Skrifgedeelte in Fil. 3:10 wat praat van “die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word”.

Ten spyte van die titel se religieuse lading, was ek verras deur die feit dat hierdie bundel na alle waarskynlikheid die bundel is waarin jy die grootste verskeidenheid ten opsigte van tema én verstegniek toon. Deurgaans fokus jy byvoorbeeld op bepaalde figure (gelowiges sowel as óngelowiges) wat aan hul eie lyf die “weefsel van wond en wonder” ervaar (het) soos jy dit stel in die gedig “ars poetica” (p.10). Was dit ‘n vaste voorneme van jou om die religieuse temas op hierdie indirekte, bykans terloopse manier te hanteer?

Ek dink dit was Miroslav Holub wat gesê het: Álles is poësie – dit is die  sterkste argument téén poësie. Omdat ek glo dat alles uit Jesus Christus geskape is, en dat alles in Hom standhou, is alles onherroepelik aan Hom verbind. Derhalwe sal ek dit geen bewustelike religieuse tema noem nie, en dit is vir my gaaf as jy sê dit kom terloops ter sprake – dan het die gedigte nie ‘n vooropgestelde missionêre doel nie, maar is dit uitspeelsels van my verwondering met Hom en hoe Hy Homself in alles verhul.

Interessant genoeg bring jy die kwessie van stigmata ook in verband met die skryfproses, soos jy dit stel in die gedig “verbeeldig” (p.9): “uit my droë hande, sy en voete klad stigmata op geykte perkamente.” Kan jy dalk uitbrei op hierdie treffende siening as ars poetica?

Die woordjie ‘teks’, sal jy weet, kom uit die Latyn, ‘texere’, om te weef, en het uiteraard ‘n nou verbintenis met die menslike liggaam wat ook geweef is (onthou Dawid se  mooi formulering daarvan in Ps. 139:13), en ook ‘n teks is. Wyer gesien as bloot die Christologiese siening van my ars poëtika is dit dus so dat enige teks voed op die binnebloed van ander tekste.

Die hele herrie ‘n paar jaar geldede rondom Melanie Grobler se sogenaamde plagiaat van ‘n Anne Michaels-gedig het aanleiding gegee tot die herskryf van albei gedigte, in ‘n poging om die onderbewustelike teksproduksie van bewustelik skryf te verreken. Is die wonde wat op my tekslyf uitslaan my eie of perdalks dié van iemand anders? Hierdie insypeling van ander tekste in my eie tekste is so belangrik dat ek hierdie gedig as credogedig vooropgestel het. Alle gedigte, glo ek, is ten diepste net ‘n “verleë vertaling”. Daarom was ek eweneens met verrukking gevul dat ‘n prosaswaan van Marlene van Niekerk weggevlieg het na my poësiebundel toe.

Die struktuur van die bundel vind ek uiters sinvol. Vertel ons watter ordeningsprinsipe jy gebruik het met die saamstel van die afdelings … Ook ten opsigte van die ‘raamverse’ waarmee die bundel open en sluit.

My agtergrond in Wiskunde en Letterkunde was baie sterk ingestem op komposisie en tektoniek, rye en reekse, herhaling met variasie, en dit het uiteraard neerslag gevind in my ordeningsprosesse. Daar is verskeie onderliggende struktureringsbeginsels in al my versamelings tekste, waarvan die bundelrubrisering natuurlik die ooglopendste is.

In Stigmata is die drieledigheidsbeginsel gebruik vir die bundelindeling – ek speel op my ramkiekie met net drie snare. Daar is veel verhul ten opsigte van die ontvouende dinamika van drie-eenhede, iets wat byvoorbeeld ‘n baie groot rol speel in my eie verstaan van die mens (liggaam, siel, gees); God wat Éen is, maar Drie; die komposisie van die tabernakel, die tempel, die drie hooffeeste van Israel, en so meer. Die gedigte waarvan die strofes hoofsaaklik tersienes is, het byvoorbeeld ‘n eiesoortige samehang en segging. Hierby sluit die triolet en die haikoe aan.

‘n Goeie skildery is sy raam, en daarom werk ek altyd amper met raamgedigte waarbinne ek die gespreksvoorwaardes van die bundel karteer. Dit spel die vooropgestelde reliëf van die bundel uit, en skep die konteks waarbinne hierdie spesifieke raam ‘n bepaalde bundelsegging wil fasiliteer. En natuurlik is die eerste sooie en die sluitstene van ‘n bundel in die tradisie van Max Havelaar ook stemvurke waarop die instrumente van die bundel hulself moet instem.   

Tom, jy het die vermoë om ‘n besonder treffende satiriese vers te skryf; iets wat ‘n hoogtepunt bereik in die reeds genoemde afdeling “die halwe sekerheid van voëls“. Kan jy dalk vir ons ‘n aanduiding gee van hoe jy voel oor die hedendaagse rol van die satirikus in ons digkuns?

Ek het nog nooit aan myself gedink as ‘n satirikus nie, dis vir my nuut dat jy dit sê. Maar ja, by nadenke sou ‘n mens van die gedigte dalk satiries in toonaard en houding kon tipeer, maar dit was geensins ‘n bewustelike posisie wat ek ingeneem het nie. Deel van die digter se funksie in die samelewing, dink ek, is om ‘n profetiese stem te wees, wat ook ‘n noodwendige verantwoordelikheid het om die valshede van die tyd voorop te stel en met ‘n angel daarop kommentaar te lewer, wat dit dan seker satiries maak, ja.

Verbandhoudend tot bogenoemde wil ek sommer ‘n dubbeldoor in jou eierpan breek: Is die klassieke versvorm(e) vir jou van pertinente belang ten opsig van satiriese digkuns en – watter emosionele stuwing inspireer jou by uitstek tot satire: woede of ‘n gevoel van onmag? Ontnugtering, dalk?

Het ook nog nie so daaraan gedink nie. Satire het nog nooit vir my klassieke versvorm dikteer nie, nee, alhoewel ek seker is dat dit moontlik is/kan wees.

Nie een van die genoemde emosies speel noodwendig ‘n dwingende rol in my poësie nie. Ek vermoed ek betree hierdie terrein om moeilike, swaar sake ligter te maak. Ek glo nogal wat Milan Kundera gesê het – “Angels can fly because they take themselves up lightly.”

‘n Wonderlike spel regdeur die bundel is die wyse waarop jy nie net ‘n intertekstuele spel met ander digters speel nie, maar ook hul onderskeie style naboots sonder om jou eie stem prys te gee. So is daar byvoorbeeld onder andere die spel met T.T. Cloete in “marlilyn monroe foto @home in asfaltgrou” (p.13), Elisabeth Eybers in “die elisabeth eybers-boekklub” (p.25) en Boerneef in die manjifieke “voëlkykkerk-glossolalie” (p.46). Moet hierdie doelbewuste naskryf’ as huldeblyk gesien word, of deel van die satiriese spel wat jy speel?

Ek het te veel respek vir die genoemde digters om hul te satiriseer, dus is dit glad nie my intensie nie, nee. Die voëltjie, die lawaaimaker, (waarna die Boerneef-gedig verwys), boots allerhande klanke van ander voëls na. Dis vir my ‘n oefening in kundigheid om soos die lawaaimaker ander bekende stemme na te maak, soos die digter Thom Gunn dit netjies verwoord: “To sing … / A repertoire of songs that it has heard – From other birds … / Which it has recombined / And made its own”. In hierdie gedig is dit dan veelseggend dat die voëlkykkenners hom uiteindelik nie aan sy sangtalent herken nie, maar aan sy “dun rietjies jorts” J

Jy is een van die digters in ons digkuns wat by uitstek van intertekstualiteit (en ook ander postmoderne tegnieke) gebruik maak. So dikwels volstaan resensente egter bloot met die uitwys van intertekstualiteit sonder om te vra wáárom die digter die noodsaak van interteks by ‘n bepaalde gegewe aktiveer. Waarom volhard jý byvoorbeeld hiermee? (By wyse van illustrasie kan jy jou antwoord dalk op die gedig “boetman is die voëlhok in” op p.15 van toepassing maak; veral die slotreëls se inspeel op Erns van Heerden se “Na die front” vind ek aangrypend in dié vers …)

Die woord ‘intertekstualiteit’ is so ‘n oorbruikte, misbruikte en gelapte begrip, en ek hou nie daarvan as mense my poësie daarmee karakteriseer nie. Van my debuutbundel diaspora af het ek dit duidelik gemaak dat ek bewustelik in die tradisie van die Joodse midrash skryf, ‘n tradisie waarbinne tekste uit die (literêre en ander) tradisies opgeneem word, gekommentarieër, gemodifiseer, uitgebou, verruim word. Taal en skryf is in wese ‘n voortdurende intertekstuele spel, en om te “volhard” hierin is om seer deel te wees van die enorme literêre tradisie waarvan jy nooit as te nimmer kan ontkom nie.

Ek stem saam met jou dat intertekstualiteit dikwels niks meer is nie as literatore wat verwysings naspeur, en dikwels op ‘n lame ass-manier, net om te wys hulle ken ander tekste wat perdalks in die verwysingskader val. Maar baie min is in staat om te wys hoe die teksproduksie daardeur gestalte kry. 

Met die skryf van die gedig waaroor jy gevra het, was die verwysing na Ernst van Heerden se bekende ‘Na die front‘ ‘n gepaste slot. Ons weet die hele Boetman-debakel het gehandel oor Louw se woedende reaksie op die patroniserende wyse waarop die slippedraers van kerk en politiek ‘n generasie mislei het om na die front te gaan (en uiteraard is die inspeling: om ‘n front voor te hou). In ‘n tipe gedagtestroom word verskeie van die soomtekste wat ‘n rol gespeel het in Louw se psigiese worsteling in die gedig opgeneem, waarvan Willem de Klerk se Afrikaners: Kroes, Kras, Kordaat en Antjie Krog se Begging to be Black en Sakkie Spangenberg se Jesus van Nasaret miskien die belangrikstes is. (Die ontgogeling wat die laaste boek meegebring het, het, volgens Chris se vrou, hom totaal wanhopig gemaak. My toevallige lees van Spangenberg se 2000-rubriekreaksie op Chris Louw, veral die openingsin, het my die gedig laat skryf: “Die Chris Louw-briefwisseling sedert verlede maand het my onwillekeurig laat dink aan Murray Janson se boekie Die kerk en die ideologie: toe ‘n volk so byna deur ‘n teologie vernietig is (1967).”) Dit speel uiteraard ook in op Louw se Boetman en die swanesang van die verligtes, waar “verligtes” ook die liberale teoloë van ons tyd kan insluit.

Hierbenewens is verskeie diskoerse ingeweef as deel van die sosiale kragte en eietydse geskiedenisse wat die selfmoord van ‘n prominente Suid-Afrikaner genoop het, so wydlopig in register dat dit strek van Zuma se Umshini wami  tot by ‘n FAK-volksliedjie en dit eindig by die 1994-lied ‘Hurt’ van Nine Inch Nails op hul album The Downward Spiral. Intertekstualiteit? Nee. Hoogstens miskien tussenteksgeweef as jy durf opkom vir asem.

Interessant genoeg was die kiemsel van die gedig die “spiraal” van die rock-cdtitel gejukstaponeer met ‘n beeld uit een van Antjie Krog se ou gedigte ‘naweekpas’ uit Beminde Antarktika: “sy geweer soos ‘n varkblom in sy arms”. Die afwaartse spiraal van die varkblom het die vorm en diksie van my gedig gedikteer, maar self is die “verwysings” nie eens naastenby in die teks vervat nie.

Nog ‘n besonderse aspek van jou digkuns is die volgehou gebruik van klassieke versvorme, soos byvoorbeeld die villanelle, rondeel, en nog vele ander. Jy vul hierdie bykans ‘ouwêreldse kruike’ deurgaans met kontemporêre gegewe; sowel ten opsigte van tema en diksie. Hierdeur verkry jou gedigte ‘n inherente spanning wat myns insiens uniek is aan jou digkuns. Kan jy dalk vir ons ‘n kykie op hierdie werkswyse van jou gee deur voorafgaande stelling toe te pas op die gedig “ystervoël oor longonot“?

Ek besluit nie vooraf op ‘n vorm vir ‘n gedig nie. Hoogstens is daar wat die Nederlandse digter JH Leopold genoem het ‘n “sound-view”. Soos ‘n komponis sy verbeelde note hoor, hoor ek die klank van die gedig van ver af aankom, bykans soos ‘n swerm bye. ‘n Mens kan die gedig as ‘t ware sien. En dan is die vorm maklik. Natuurlik, omdat ‘n mens allerlei vaste literêre vorme ken, is van hulle makliker herkenbaar! Indien dit ‘n klassieke vorm is, sal dit uiteraard die inhoud van die gedig kompleteer. Om ‘n bepaalde inhoud in ‘n borstrok van vorm te probeer inperk, sal die gedig doodmaak.

En ag, nee, ek kan glad nie onthou wat die vorm van ‘ystervoël oor longonot’ is nie – ek het lankal al vergeet dat en hoe ek die gedig geskryf het!

Vervolgens, ‘n vraag oor die kwessie van empatie wat so kenmerkend is van bykans al die gedigte in die slotafdeling … Is digkuns, volgens jou, hoegenaamd moontlik sonder empatie; hetsy by die digter óf die leser?

J.K. Rowling het êrens in ‘n lesing hierdie profound woorde gesê: “”Imagination is not only the uniquely human capacity to envision that which is not – and therefore the fount of all invention and innovation – in its’ arguably most tranformative and revelatory capacity it is the power that enables us to empathize with humans whose experiences we have never shared.” En dit geld vir menswees, en uiteraard vir lesers én veral digters.

Ten slotte, ietsie oor jou werkswyse, Tom: Is jy iemand wat konstant skryf, of werk jy sporadies soos die inspirasie jou beetpak; skryf jy snags, of soggens? Skryf jy in stilte, of luister jy na musiek terwyl jy skryf?

Ek het baie min tyd vir skryf, daarom moet dit ‘n bewustelike poging wees om enigsins iets op papier vas te maak. Die skryfaksie is inspirasie genoeg. Ek het baie min die luukse van stilte. Midde-in die lewe gebeur gedigte. When the poem is ready, the poet arises.

Baie dankie vir hierdie geleentheid om oor ‘n knap bundel te gesels, Tom. Sal jy asseblief so vriendelik wees om een van jou persoonlike gunstelinge uit Stigmata hieronder as leestoegif te kopieer?

 

die geheue van water

inge lotz

to transform a cold body . . . into a text, a document whose author

would be revealed through a close and careful reading

– Anthony Altbekker: Fruit of a Poisoned Tree, p. 245

 

so water has the ability to copy and memorize information

– Masaru Emoto: The Hidden Messages in Water, p. xviii

 

die mens is ‘n beduidenis van 70% water

ingeprente reservoir van tydlose indrukke

alles bly bewaar in die halfgejelde oseaan van lyf

elke vingermerk en vuisronding op die vel

bly in die herhalende uitkringherinnering behoue

 

‘n enkele glas met gekondenseerde druppels

aan die buitekant om die vetvat van ‘n hand

word in dié strafsaak die fokus van getuienis

selfs belangriker as die bloederige smeerspoor

van ‘n woedende skerpioen in die badkamer

 

sy het ‘n hart gehad soos jesus berig die burger

dié slim konserwatiewe diepgelowige meisiekind

die reuse-rorschach-bloedvlek op die handdoek

se wit gewete onthou min van die kaal metaalhamer

wat soos ongevlekte stainless steel kil bl´y swyg

 

die ongebuigde staaltralies voor die toe vensters

die veelgevatte leë plastiekkassie van ‘n dvd

die kontoerspore van vingerheuwels nes ufo’s

wat vlugtig geland het die sandsool van ‘n tekkie

die slierte hare die onnaspeurbare semen op die sofa

 

die huidmondwondjies oor die hele lyf wat stil gil

die ingedoke skedel met ‘n masker van gestolde bloed

taai geel sug kors in die brein se afgryslike grysstof

die sagte welwing van die oorskulp hang halfmas

‘n netjiese lem tussen twee ribbes in die waterige sy

 

die moulose geel katoenfrok die slaapbroek van satyn

die versadigde skootkombersie van diggeweefde angorawol

die voetsole na mekaar gekeer vlinders wat sag paar

die moeë hand wat vergeefs die laaste houe keer

stillewe van ‘n doodgemoerde dier

 

*

snags in my digdossier word jy ‘n ligtende brug

‘n gevaarlik hoë gang bo grondelose verwildering

oor die swart stil water van my desperate geheue

jou hare vir my vingers ‘n bose strik wat nie wyk

jou asem jou asem ‘n snik

 

die digteroog kiek onseremonieel die misdaadtoneel

hy probeer met moeë hand vergeefs die laaste houe weer

onthou presies wat enkele gekondenseerde druppels onthou

die sponsbeen splyt en uit my skedelkruim vloei jy

soos teks soos weeïge wywater

 

© Tom Gouws (Uit: Stigmata, Human & Rousseau)

 

Tom Gouws is ‘n wiskundige, letterkundige, onderwysspesialis, skrywer, bekroonde dramaturg (Nag van die lang messe) en digter (Diaspora, Troglodiet, Syspoor en Ligloop). In 2011 ontvang Gouws dan ook met Ligloop die ATKV-veertjie vir Poësie. Hy doseer aan die Universiteit van Potchefstroom, ook dié se Vaaldriehoekkampus, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Noord-Wes (as waarnemende visekanselier en rektor) en die Graduate Academy of Southern Africa (as kanselier). Hy is tans aan die stuur van ElijahAfrica, ‘n internasionele bedieningsnetwerk.

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Onderhoud: Tom Gouws (Stigmata)”

  1. gerda schmidt :

    Baie geluk, Tom! Ons is baie trots op jou.

  2. Johanni La Vita :

    Dateer asseblief die persoonlike besonderhede op. Die “ses kinders” en “‘n plasie buite Pretoria” is verouderd. Baie goeie onderhoud, Louis. Dis ‘n kuns om die regte vrae te vra.

  3. Louis :

    Dankie vir die kompliment, Johanni. Ons webmeester sal die regstelling tov Tom Gouws se biografie maak.

  4. Elizabeth Marais :

    Baie interessant en insiggewend, geluk weereens!