Onderhoud: Charl Cilliers

Charl Cilliers gesels met Joan Hambidge oor sy lewe,

sy digkuns en vertalings.

 

Hartlik geluk met jou jongste bundel A Momentary Stay. Jy het ʼn Afrikaanse van en jy dig in Engels. Waar het jy groot geword en waarom dig jy in Engels? Vertel vir ons iets meer van jouself.

 

Ek is in Kaapstad gebore, was 18 maande oud toe ons Bloemfontein toe trek. My pa was Afrikaanssprekend, my ma Engels. Ek het nie Engels gepraat totdat ek skoolgegaan het nie; net voor ek ses jaar oud was, is my ouers geskei en is ek en my broer saam met my ma na die Engelssprekende deel van die familie.

Ek het elkeen van my laerskooljare in ʼn nuwe stad of skool deurgebring, tot en met std 7 (Bloemfontein, Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein, Pretoria, Bloemfontein, Pretoria).

My matriekjaar voltooi ek by Clapham-hoërskool in Pretoria, kwalifiseer toe as elektrotegnikus in die Poskantoor (later afdelingshoof van draagstelsel-opleiding by die opleidingsentrum in Pretoria), en begin ook met ʼn B.A.-graad met Afrikaans as een van drie hoofvakke.

Maar ek kon nie snags tuiskom en tegniese boeke lees nie, en in 1968 begin ek as vertaler by die Parlement werk, waar ek in 1999 as Redakteur van Hansard aftree.

Ek het ná my vrou se dood van Rondebosch na Yzerfontein aan die Weskus verhuis, waar ek met groot vreugde elke dag werk aan die skryf van gedigte  en vertaling van gedigte uit Afrikaans in Engels.

 

  

Jou jongste bundel gee blyke van ʼn geweldige invloed van digvorme soos die tanka, rondeel, herhalende refreine. Hoe sien jy die spanning tussen vorm en inhoud?

 

Ek is meer geneig om aan “vorme” (soos die haiku, tanka, rondeel ens) as “patrone” te dink.

Vir my is daar nie ʼn spanning tussen vorm en inhoud nie – vorm is vir my inhoud en inhoud is vir my vorm. Ek vind byvoorbeeld ek gebruik miskien ʼn bepaalde patroon of ʼn variasie van daardie patroon om die inkantasie-element van ʼn gedig te verhoog (met ander herhalingselemente ook by, natuurlik). Byvoorbeeld:

 

Strange Ritual

 

In the forest darkness of the night

an icy disembodied cry is heard

as in the strange performance of a rite.

 

 

Here where the strangled ghost of past delight

wanders within me like a long-lost word

in the forest darkness of the night

 

seeking breath with which it could recite

the spell by which it once was disinterred

as in the strange performance of a rite.

 

Above me only icy stars invite

this empty apparition to be heard

in the forest darkness of the night.

 

Where once angelic images took flight

and everywhere I heard wings of a word

as in the strange performance of a rite

 

now images are banished from my sight

and only the owl’s frosted voice is heard

in the forest darkness of the night

as in the strange performance of a rite.

 

Maar ek soek nooit ʼn patroon vooraf wat ek dan met inhoud kan volmaak nie.

Die vorm van ʼn gedig is alles waaruit die gedig bestaan – die patroon/patrone, ritmes (musiek), beelde, hoe die verskillende elemente saamwerk: die hele werklikheid binne die gedig, en hierdie werklikheid verskil na my mening van die “werklikhede” buite die gedig: een van die hooftemas in my werk is om hierdie werklikhede (insluitend die veelvuldige werklikhede buite die gedig en droomwerklikhede) te ondersoek. 

My vroegste (vir my) bevredigende werk het gevolg ná ʼn lang haiku-vakleerlingskap. Ek meen elke jong digter moet die haiku beoefen soos wat ʼn jong pianis toonlere oefen.

Die waarde hiervan lê in die feit dat die haiku by uitstek fokus op beeld-emosie- en die stiltes tussenin. In die haiku is die stiltes tussenin (dit wat níe gesê word nie) net so belangrik soos (of miskien belangriker as) wat wel gesê word. Dit is miskien een van die heel grootste lesse wat ek geleer het.

 

 

Daar is in jou digkuns gesprekke met William Carlos Williams, Wallace Stevens, Robert Frost en vele ander digters. Hoe sien jy die gesprek tussen die digkuns van een tradisie na ʼn ander? En wat is die invloed van die Amerikaanse digkuns op jou werk?

 

Vir my is die digter se wêreldbeskouing, sy/haar hantering van tegniese elemente, temas meer belangrik as sy/haar gebondenheid aan ʼn sekere vasteland. Daar is digters van oral heen wat my beskouing van my “wêreld”  verbreed of heeltemal verander het. Hierdie lys is nie naastenby volledig nie, maar groot invloede was digters soos Hopkins, Van Wyk Louw, Opperman, Sydney Clouts, Eliot, Frost, Wallace Stevens,  Emily Dickinson, Elizabeth Bishop, W.B. Yeats, Sylvia Plath, Ted Hughes, Philip Larkin, Paul Celan, Pablo Neruda, Seamus Heaney, Dom Moraes, Carol Ann Duffy, Vernon Scannell…

 

 

Jy betrek die Sofisme in hierdie bundel. Hoe sien jy die metafisika se verhouding tot die digkuns?

 

Ek skryf my gedigte sonder enige bewustelike besef van of strewe na ʼn metafisiese ruimte. Vir my is woorde/beelde soos soekligte: waar die verskillende strale van die soekligte oorkruis, is daar ʼn oorvleuelingsruimte, ʼn gemeenskaplike terrein, wat hopelik groot genoeg is vir betekenisvolle resonansie, ʼn terrein waar mens bewus kan wees van wat die Imagist-digter Richard Aldington “a kind of accurate mystery” genoem het.

 

 

Henning Snyman het opgemerk dat die eenvoud in jou digkuns misleidend mag wees. Die “skerwe” in jou digkuns spreek my aan. Kommentaar.

 

VI

pebbles are like sounds

of tiny ice cubes clinking

in an empty glass

 

Hier kan ek maar net weer verwys na wat miskien die grootste les is wat ek geleer het: om beelde (woorde/ritmes) so te gebruik dat daar ruimte is vir verskillende interpretasies, dat die stiltes tussenin ook nog tot die resonansie moet bydra, sonder om die leser in ʼn lugleegte te laat ronddwaal op soek na iets wat nie daar is nie.

 

 

Waarna soek jy in die digkuns?

 

Semantics

 

Will we someday find

the meaning of it all

beyond these prison walls

of words in which we are confined?  

 

Watter digter was dit wat gesê het die groot strewe moet wees om die geheim van menswees in ʼn kinderrympie te kan uitbeeld?

Vir my is die digkuns terselfdertyd bevryding en inkerkering. Woorde bevry jou en hou jou gevange, laat jou toe om meer te sê as wat die woorde self sê as gevolg van vele assosiasies rondom die woorde, maar bly altyd ontoereikend om tot die diepste essensie deur te dring. Dikwels moet die stiltes tussen woorde verder gaan as wat die woorde alleen kan. 

 

 

Jy is ʼn gerekende vertaler van Afrikaanse gedigte. Hoe vertaal jy ʼn gedig?

 

Dankie daarvoor, maar “gerekende vertaler” klink vreemd in my oor. Ek het wel 30 jaar lank politieke toesprake vertaal, maar nooit eers daaraan gedink om gedigte te vertaal nie.

Nadat Lucas Malan ʼn resensie van my Collected Poems 1960 – 2008 geskryf het, het hy my eendag gevra om vir hom ʼn stuk of ses van sy gedigte vir Poetry International te vertaal. My enigste versoek was dat as hy nie met die vertalings tevrede is nie, hy nie moet aarsel om dit aan iemand anders te gee om te vertaal nie.

Een baie goeie les wat ek met die vertaling van politieke toesprake geleer het, was dat die spreker se stem duidelik in die vertaling weerspieël moet word. Almal se toesprake moet nie klink asof dit die vertaler is wat daar praat nie.

Ek neem gewoonlik ʼn redelike tyd om die gevoel van die gedigte my eie te maak: ek kyk na watter eienskappe kenmerkend is van die digter se stem, die sillabetelling van die reëls (byvoorbeeld in gedigte van Johann Lodewyk Marais wat ek vertaal het, het hy konsekwent gebruik gemaak van 10 sillabes per reël), die rympatrone, die beelde, dubbele betekenisse (somtyds baie moeilik), ens.

Dit kan gebeur dat mens onder rymdwang sommer die eerste of maklikste uitweg kies. Drie of vier reëls, of ʼn strofe, kan my dikwels dae neem om te vertaal, want ek loop daarmee rond totdat ek dit (steeds getrou aan die oorspronklike) in bevredigende rymvorm kan weergee.

 

 

Wie lees jy in Afrikaans? Wat dink jy van die stand van die Afrikaans digkuns tans?

 

Ek kom natuurlik nie naastenby by alle nuwe bundels uit wat verskyn nie, maar ek lees heelwat Afrikaanse digters. Ek dink die Afrikaanse digkuns staan baie sterk. Daar word konsekwent aandag aan Afrikaanse digters verleen – heel van die begin af met die tydskrifte, Nuwe stemme, regdeur tot Groot Verseboek. Daar is oral leeskringe wat nuwe bundels koop én lees én bespreek! En daar is Versindaba wat baie bevorderlik is vir die werk van Afrikaanse skrywers. Ek dink nie daar hoef enige bedenkinge te wees oor die voortbestaan van die Afrikaanse digkuns nie.

Op die oomblik vertaal ek gedigte van Joan Hambidge en lees ek Johann Lodewyk Marais se Aves, Johann de Lange se Weerlig van die ongeloof, T.T. Cloete se Onversadig, Ingrid de Kok se Seasonal Fires, die versamelde gedigte van Ted Hughes en ook Carol Ann Duffy. En ook natuurlik baie haikugedigte.

 

 

Is daar enigsins ʼn toekoms vir die Engelse digbundel hier te lande? Dit is skandalig dat jou bundels nie deur ʼn gerekende uitgewershuis gepubliseer word nie. Tog het jy lesers. Kommentaar.

 

Dit is ironies dat my werk hoofsaaklik uit Afrikaanse geledere aandag gekry het. My heel eerste bundel West-Falling Light is in 1971 deur Tafelberg uitgegee, maar die verkope was swak en my tweede bundel moes ek in 1979 na Maskew Miller neem. Daar ook was verkope swak. Ek het toe eers weer in 2008  Collected Poems 1960 – 2008 self laat druk, The Journey in 2010 en A Momentary Stay in 2011. Daar was ook ʼn bundel met kinderverse, Fireflies Facing The Moon in 2008.

Selfs One Life, die enigste bundel van die baie begaafde Suid-Afrikaanse metafisiese digter Sydney Clouts (wie se vrou ʼn literêre agent in Engeland was) kon slegs met borgskap van New Coin verskyn.

Ek is van mening dat DTP vorentoe as publikasiemiddel al hoe sterker na vore sal (moet) tree, veral by die publikasie van gedigte in Engels, want plaaslike gedigte in Engels moet meeding met alles wat in Engels dwarsoor die wêreld verskyn.

ʼn Winkelassistent in ʼn boekwinkel in Rondebosch was ʼn aantal jare gelede baie verbaas dat ek Engelse bundels van plaaslike skrywers koop. Haar kommentaar was dat Engelse digters net deur die bundels van ander digters blaai en hulle dan terug op die rakke sit!

 

 

Hoe het hierdie vers ontstaan:

 

So Much Depends Upon An Apple Tree

 

There is an object

hanging in a tree.

 

To whom is it some

thing if not to someone

 

who may see

it there?

 

That object

in a tree.

 

Its image

once in the mind

 

resounds within with ripples

from the genesis of humankind.

 

Once seen

can there then

 

be

still  

 

just a tree

in which there is

 

an object

hanging free?

 

Die titel van hierdie gedig verwys na die gedig The Red Wheelbarrow van die Imagist-digter William Carlos Williams:

 

so much depends
upon

a red wheel
barrow

glazed with rain
water

beside the white
chickens.

Later van tyd het sulke konkrete uitbeelding by hom baie steriel en onoortuigend geword.

Met hierdie klein waterverfskildery in woorde wou hy miskien wegkom van al die serebrale gedigte van sommige van sy tydgenote.  Maar alle woorde en beelde dra in hulle al die betekenisse of naklanke of assosiasies vanaf die “genesis of humankind”.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.