Egonne Roth. Die vreemde vrou onder my bed.

So drie jaar gelede het ‘n vreemde vrou onder my bed ingetrek. Al was sy onbekend aan my het ek haar genooi. Ek het ‘n kontrak met haar gesluit – ek sal haar weer onder die aandag van haar gehoor bring, sy sal haarself aan my bekend maak – sy sal my lei om van haar geheime te ontdek. Niemand vertel ‘n ander al hul geheime nie, maar as mens ‘n vertrouensverhouding kan opbou, dan deel jy tog ‘n paar van jou geheime met ‘n vriendin.
Toe ek haar ingenooi het, het ek min van haar geweet – Jodin, digteres, Vrystaat gebore, in Israel gewoon en gesterwe. Haar naam – Olga Kirsch. Sy’t my glad nie geken nie, maar haar suster en twee dogters, na ek hulle opgespoor het, het namens haar opgetree. Hulle het besluit Olga sal my probeer vertrou.
Al waarmee sy onder die bed ingetrek het, was een bundel gedigte: Mure van die Hart, gepubliseer in 1948. Die het ek by my ma geërf en sy by haar tante wat nie ver van Olga se geboortedorp gewoon het nie. Die tante, Sussie Buckle, het op Kroonstad drama doseer. Met die bundel as inspirasie moes ek begin soek – die internet het nie veel opgelewer nie – een kort Wikipedia berig. Toe google ek haar man – Prof Dr Joe Gillis, wiskundige. Die inligting het ek in die Wikipedia-artikeltjie gevind. Joe lei my na Ted, medewiskundige wat aan Joe ‘n huldeblyk geskryf het. Ted lei my na ‘n fisikus, die fisikus lei my na Prof Ada Zohar, sy nooi my om haar in persoon aan haar tante se huis Olga se jonger suster te kom ontmoet. Ada is Olga se jonger dogter. Een ding lei na ‘n ander en voor ek my kom kry plaas Olga fotokopieë van haar ses ander bundels langs Mure van die Hart onder my bed.
“O terloops,” sê Janette die jonger suster van Olga, “hier is ‘n ongepubliseerde manuskrip maar dis Engels.” Ons maak ‘n kopie en ek gaan lê bo-op die bed met die Engelse manuskrip, Nevertheless. ‘n Lang epiese gedig oor die aankoms van die nuwe immigrante uit oorlog-verskeurde Europa. Dis by tye aangrypend, by tye hartverskeurend, selfs soms regtig amusant veral as mens Israel ken. Die manuskrip gaan kruip onder die bed in langs haar Afrikaanse sussies. Ons probeer vasstel wie is ouer.
Die soektog duur voort. John Kannemeyer, nog fiks en flink, besig met John Coetzee, antwoord al my vrae en verwys my na Daniel Hugo. “Daniel weet meer as enigiemand anders in Suid Afrika oor Olga – praat met hom,” stel groot John voor. “O ja en jy moet met Lina ook praat,” voeg hy by.
Daniel help, gee raad, stuur fotokopieë van allerhande artikels en weier dat ek hom betaal daarvoor – “Skryf net asseblief ‘n biografie oor Olga – ons soek nie nog ‘n doktoraal nie,” is al wat hy vra.
Lina vra niks, gee niks. “Ek skryf my eie memoir oor Olga,” sê sy, “dus kan ek nie my materiaal deel nie!” Stilte. “In elk geval gaan jy seker in Ingels skryf,” voeg sy verwytend by.
Die soektog gaan verder.
Ek gaan gereeld vir Janette in Haifa kuier. Ons raak bevriend en die vrou onder my bed versamel al hoe meer besittings. Nou het sy al ‘n stapel foto’s – van haar kinderdae, van haar ma en pa, haar broers en susters. Ek ontmoet haar niggies en een nefie, gaan kuier by haar skoonsuster.
“Kom kuier in Jerusalem,” sê haar dogter Ada, “my ma het baie van haar gedigte na Engels vertaal.”
Judy en ek gaan na Jerusalem. Ada oorhandig ‘n pak vertalings. Judy begin hulle afneem sodat ek kopieë sal hê. Ek begin lees – ek raak al hoe meer opgewonde. Ada hou my gesig dop. “Ag sê tog iets,” pleit sy terwyl ek al hoe breër glimlag.
“Hier’s nie een vertaling by nie – dis alles oorspronklike gedigte,” sê ek. Ons tel vinnig – seker dertig of meer. Ada lees voor:

 

Thorns and Thistles

Their beauty is not
in the greenness and succulence
of summer,
but in the meagerness of season’s end
when rigid, grey, dry to the very pith
robbed of corolla and colour’s camouflage
each etches with a fine style on air
the delicate skeleton
of its florescence.

 

 

“Besef jy hoe lief my moeder die natuur gehad het?”
“Dis tog duidelik uit baie van haar Afrikaanse gedigte,” vertel ek haar dogter wat geen woord Afrikaans verstaan nie. “Sy’t ook ‘n sagte plekkie vir ons tuisgebied gehad,” voeg ek by.
“Wel, sy’t amper daar gaan woon,” se Ada. Dis waar. Die feite ken ek al. Ek weet sy was lief vir Galilea en daarom nooi sy haar geliefde man om saam met haar weer daar te gaan kuier.

Kom, my beminde, laat ons ry
ver van die laagland langs die kus
waar saans en soggens roetswaar mis,
die einder grimmig verf; verby
fabrieke en teer-versmoorde grond
wag van die Middellandse See –
Saffo se glasklaar see, nou mond
gedwing om slyk en vuil te sluk,
al die uitwerpsels van die land,
totdat die troebel dieptes ruk
en vullis uitbraak op die strand.
Laat ons opgaan na Galilea,
klim tot die lelike en die groue
wegduik agter blou heuwelvoue:
Hoogte – swart skagte kloof aan kloof,
stilte-insekgebrom verdoof,
vry aarde nooit getem deur teer,
bome wat op die rante buk
voor wind wat slegs berge keer,
wolke alleen tuur op ons neer.
Saans, omgeskep deur ruimte en lug
keer ons tot vreemde kamers terug
en reik in blinde oergebaar
arms en lippe vir mekaar.
Buite die skemerige gordyn
rankende takke van die Tuin.

(Ruie Tuin, 1983 p7)

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Egonne Roth. Die vreemde vrou onder my bed.”

  1. Egonne, en toe?

  2. Ingrid Glorie :

    Asseblief, ons wil meer weet?!

  3. Egonne :

    Ek belowe daar kom nog!

  4. Jerzy :

    en toe? en toe? (jy maak die kinders se nuuskierigheid in ons weer wakker!)

  5. Johann de Lange :

    Egonne

    Al Olga se Engelse verse behoort gebundel te word & hier uitgegee te word. Het jy al van die uitgewers genader? Dit kan desnoods ook vertaal word. ‘n Nuwe bundel van Olga sal ‘n wonderlike gebeurtenis wees.

  6. Egonne :

    Johann
    Ek is opgewonde oor jou kommentaar. kom ons gesels bietjie as ek in die kaap is in Junie-Julie-Augustus. Die biografie vorder mooi en ek hooop Daniel sal dit vir my proef lees – hy’t reeds eintlik ingestem – n taak wat hy by groot John K geerf het
    Egonne

  7. Johann de Lange :

    Ons moet beslis gesels. Hier is ‘n eerste poging van die een wat jy hierbo aanhaal:

    Dorings en distels
    Olga Kirsch

    Hulle skoonheid is nie
    in die groen en sappigheid
    van somer nie,
    maar in die skamele van ’n seisoeneinde
    wanneer strak, vaal, droog tot die kern toe
    beroof van kroon en skutkleure
    elkeen op ’n ligte trant teen die lug
    die delikate skelet
    van sy bloeityd ets.

    [Vert. deur JdL]