Resensie: Lot se vrou (Joan Hambidge)

Magistraal in sy simfoniese kompleksiteit: Lot se vrou deur Joan Hambidge ([Human & Rousseau, 2012. Sagteband; 96p; ISBN-13: 978-0-7981-5687-5; E- ISBN: 978-0-7981-5688-2; Prys: R150.)

Resensent: Marlies Taljard

 

Hoe lyk die vingerafdruk en DNS

van die woekeraar met “die stil avontuur”,

die “glansende kiemsel”, die “woord en wonder”?

Daardie een wat ‘n vilanelle, rondeel

of Luc Bat soos ‘n stiervegter kan beheer?

 

Dié vraag word in die gedig Klankdig in Joan Hambidge se nuutste bundel Lot se vrou gevra. Dele van die antwoord skemer deur elke gedig in dié bundel. Of die bundel inderdaad beoordeel kan word soos die sprekende ek later in dieselfde gedig vrees, sal hierdie resensie aan die lig bring:

 

O nalatig, oppervlakkig, ‘n geweeklaag,

sal die kruppel kritikus bevind (sélf banaal),

in die soeke na nougesette vakmanskap

en gekonsentreerde poëtiese segging …

 

Lot se vrou

Lot se vrou

Die voorblad van Lot se vrou met Judith Mason se skildery The Bearer daarop uitgebeeld, is die eerste merker wat vooruitwys na die dra van ‘n las (of dan: ‘n lot) wat in hierdie bundel een van die primêre motiewe is. Die bundelmotto van Michel Houellebecq wys heen na ‘n belangrike fokalisasiegegewe: “I need yelling, a corrosive magma, an aggressive approach / Ripping to bits the silence of the night”. In die tweede afdeling word dié stelling ondermyn deur ‘n verdere motto van Houellebecq: “… memory wispers / Names of cities, people, holes in your head”. Lot se vrou is ‘n bundel waarin sowel “yelling” as “wispering” as stylmiddele aangewend word om ‘n bestekopname te maak van ‘n verlede waarin “woorde smeul” en die hart nog brand, soos dit gesuggereer word deur die titel wat verwys na die Bybelse mite waarin Lot se vrou teruggekyk het na die brandende Sodom en gevolglik in ‘n soutpilaar verander het.

Soos gebruiklik, is Hambidge se bundel sinvol opgedeel in verskillende afdelings. In die eerste afdeling staan slegs een gedig, naamlik Reünie. In ‘n onderhoud met Louis Esterhuizen vertel die digter dat ‘n uitnodiging na ‘n skoolreünie een van die eerste prikkels was na aanleiding waarvan die bundel ontstaan het. Afdeling II heet Ars poeticas en bevat ‘n elftal gedigte oor die digter se siening van haar ambag. In Afdeling III kom verse oor die familie met die klem op haar vader aan bod, die vierde afdeling bevat gedigte oor beroemdes, die vyfde oor vier afgestorwe skrywers en die sesde oor sangeresse. Afdeling VII, Stasies, is ‘n liefdesang wat uit 8 afsonderlike gedigte bestaan, met die Anna Karenina-gegewe as stramien. Afdeling VIII bestaan uit 3 gedigte met die dood as motief, terwyl in die laaste afdeling, The long and winding road, op jeugherinneringe met die klem op die moeder en haar rol in die kreatiewe proses gefokus word.

Die motto-gedig, Lot se vrou staan los van die ander gedigte, voor Afdeling I en bevat eksplisiete sleutels aan die hand waarvan die res van die bundel ontsluit kan word:

Snags keer hulle terug,

die verlore geliefdes

in my troebel drome.

(…)

O ek is Lot se vrou,

Lot se vrou,

wat terugkyk na die hart wat brand.

 

Die bundel as geheel is besonder dig geweef rondom die tema van “terugkyk”, maar ook die spel met Lot/lot (as “fata” soos dit voorkom in die gedig Die algebra van pyn) word redelik breed uitgewerk. Waar die eerste gedig ‘n terugkyk suggereer, word daar in die laaste gedig in die bundel, Wagkamer, vooruitgekyk, maar nou na ‘n ander dimensie, naamlik “Hemel, Hel of Purgatorium”. Die gedig Reünie, die tweede gedig in die bundel, sluit eweneens aan by die slotgedig. Daarin sê die digter:

Ek stof die kiekies in my geheue af,

vind geen kleurfoto, net die donker grein

van onwillig, onbegrip, ongenooid …”,

 

In die laaste gedig, word ironies terugverwys na die gedig Reünie deur die klasfoto weer te laat figureer, maar hierdie keer as ‘n soort naelstring wat vir die seun wat in die wagkamer (van die dood) sit, ‘n laaste gelukkige skakel met skoolmaats word:

‘n Seun, ek skat hom so veertien,

in sy vasgeklemde vuis

‘n klasfoto van sy laggende maats.

 

Die gedig Reünie eindig met twee oënskynlik teenstrydige opmerkings:

Die atletiekveld laat steeds sy skote knal:

in die geheue se rekordboek bly alles opgeteken.

(…)

Liebe Dein Symptom wie Dich Selbst!

En vermy reünies soos die pes.

 

Hoewel reünies dus pynlik is en liefs vermy behoort te word, is dit – teenstrydig daarmee – onmoontlik, want die verlede bly deel van die hede, soos dit uit die volgende afdelings van die bundel blyk.

Afdeling II van die bundel bevat 11 Ars Poetica-gedigte. Gedigte waarin poëtiese beskouinge voorkom, is egter ook in die grein van hierdie bundel ingeweef en duik dwarsdeur die bundel op. Die stelling sou inderdaad gemaak kon word, soos ek aan die begin aangedui het, dat die bundel ‘n uitgebreide soektog na die aard van die verwikkelde proses van poësieskepping is – sowel die kreatiewe oomblik as die besinning oor kunsteoretiese aspekte . Die ooreenkoms tussen skryf en reis, asook die rol van die (nood)lot in dié proses, word gesuggereer deur die afdelingsmotto van Houellebecq: “There’s always as city, and traces of poets / who have met their destiny within its walls …” Verwysing na plekke en stede impliseer dig as reis: Leiden, Athene, Luxor, ‘n plaaspad, Parys, Kerkplein …

By Hambidge is die liefde, die reis en die maak van gedigte dikwels op metaforiese vlak met mekaar verbonde:

“‘Die lewe is ‘n reis,” staan dit opgeteken

in ‘n klein notaboek, “en die liefde ‘n hellevaart.”‘

 

In dié gedig (Die intieme aard van die digkuns) word ‘n verdere belangrike stelling in verband met die skryf van poësie gemaak, naamlik

… dat daar altyd iets buite woorde lê.

‘n Gedig word voltrek in stille toeval.

 

‘n Dekonstruksie van die stilte-metafoor kom ‘n paar gedigte later in Die algebra van pyn voor, wat die digter aan Johann de Lange opdra:

Ons ken beide die verslawing van hierdie bedryf,

verkeerdelik al as ‘n stil, eensame proses beskryf.

 

Hierdeur vind klemlegging plaas op die ambivalente verhouding tussen stilte en “Ripping to bits the silence of the night”, soos dit in die bundelmotto staan en soos dit telkens elders in die bundel verwoord word. ‘n Verdere oënskynlike teenstrydigheid is die siening dat alles gedig is: daar is geen buite-teks.

In die gedig The well-wrought urn kom die aard van die gedig, soos dit deur die teoretikus Cleanth Brooks gestel word, aan die orde: die gedig as goed gevormde, netjiese kruik wat in die slot van die gedig gedekonstrueer word tot: die gedig as ‘n goed gevormde, nuttelose kruik – ‘n verdere klemlegging op die ambivalente aard van digterskap en die gedig. Die metafoor van die gedig as ‘n houer vir die as van uitgebrande liefde vind weerklank in die daaropvolgende gedig, Die onbetroubare muse, waarin die verhouding tussen skryf, reis en liefde weer eens beklemtoon word:

Daardie nag bevat al die elemente

van die einde van ‘n verhouding

en ‘n gedig se aanvang …

 

Die leë-houer-metafoor roep terselfdertyd die bekende metafoor uit die Tao te Ching op: Shape clay into a vessel; / It is the space within that makes it useful … Therefore profit comes from what is there; / Usefulness from what is not there. Die gedig as spirituele ruimte word trouens ook deur die gedigtitel Derdeoog gesuggereer.

Wat opmerklik is van veral die Ars Poeticas, is die ryk intertekstuele gelaagdheid van gedigte. Elke gedig verwys direk of indirek na een of meer kunstenaars. Die gedig Rembrandt: Twee intellektuele in dispuut, 1628 is ‘n ware ekfrastiese gedig, waarin ‘n ander kunswerk bespreek word met die doel om iéts van die digter se eie ingesteldheid en twyfel ten opsigte van haar eie kunstenaarskap te laat blyk: Kunstenaar én mens? Twyfelaar én gelowig? -dit is temas wat aan die wortel van die besinnings in hierdie bundel lê.

Afdeling III staan onder ‘n motto van Geoffrey Hill: .. what are poems for? They are to console us (…) A sad and angry consolation. Die gedigte in hierdie afdeling is ware “reünies” met die verlede en die sprekende ek se kinderjare. Van haar pa het sy geleer:

die lewe is ‘n spyskaart,

een wat jý saamstel

met ‘n onbetaalbare rekening.

 

Afdeling VII, Stasies, met sy 8 gedigte oor die liefde en sy “verrukking” is ‘n besonder interessante afdeling. Dié gedigte bevat onder andere veelseggende metatekstuele kommentaar. Die Anna Karenina-gegewe is die ordenende faktor wat dié reeks onderling verbind. Dwarsdeur die reeks is die onderliggende diskoers egter ook dié van literêre teorie en narratologie, soos in die titel van die tweede gedig, Daardie obskure objek van begeerte wat Derrida en Roland Barthes se teorieë impliseer, asook die reël ek dekodeer elke teken. Die woord “ostranenie” wat in die gedig Underground voorkom, is deur die Russiese Formaliste gebruik en beteken “vervreemding” – volgens hulle een van die basiese kenmerke van kuns deurdat kuns die bekende “vreemd maak”. Die voorbeeld wat hulle gebruik om die term “vervreemding” te illustreer, word die titel en inleiding van die volgende gedig:

Die vlag wat wapper

 

in die gedig het niks te make

met die wapperende vlag in Moskou.

 

Die laaste gedig in die reeks roep ‘n vroeë gedig van Antjie Krog – Afspraak – op deur die herhaling van “Asof jy …” aan die begin van reëls. Dit is ook een van die gedigte waarin die verwysing na die titel die duidelikste uitgespel word:

Asof jy aanvoel ek dig oor jou,

draai ook jy weg, ons rolle uitgespeel:

net ek nogmaals, ‘n gedoemde Lot se vrou.

 

Intertekstualiteit vorm inderdaad die skering en inslag van die bundel. Veral gedigte oor ander digters, soos Todesfuge oor die lewe en die werk van Paul Celan en gedigte uit Afdeling V soos Gustave Flaubert (1821-1880), Vladimir Nabokov (1899-1977) en Lykdig wat aan die filosoof Paul Cilliers opgedra is, steun sterk op die intertekstuele spel. In ‘n gedig soos Alice Miller Revisited, wat Van Wyk Louw se Vroegherfs eggo, word die interteks aangedui deur die onderskrif, VWL. Todesfuge is – soos die laasgenoemde gedig – maar net een van ʼn groot aantal gedigte waarin verbatim uit ander kunstenaars se werk aangehaal word – in Celan se geval uit sy Todesfuge met die beginreëls:

Schwarze Milch der Frühe wir trinken sie abends

wir trinken sie mittags und morgens wir trinken sie nachts

wir trinken und trinken

 

en die verskriklike slot:

 

dein goldenes Haar Margarete

dein aschenes Haar Sulamith.

 

Die laaste afdeling van die bundel bevat weer eens jeugherinneringe, maar is ook vervleg met die werk van die psigoanalis Alice Miller se seminale The drama of being a child – ‘n teks waarna ook direk of indirek verwys word in gedigte in ander bundelafdelings. In Nogmaals Lot se vrou word Miller se raad van toepassing gemaak op die skryf van ‘n gedig, met die implikasie van skryf as terapie of troos – weer eens vervleg met reis:

Treur oor jou jeug, maan Alice Miller.

Hoe op aarde doen ‘n mens dit?

Net ‘n gedig, ‘n reis,

die voortdurende beweging,

die iteratief-duratief,

vóór die groot stilstand

kan my nou troos

in hierdie voldonge toestand

van volledige, troostelose onbehae.

 

Lot se vrou is beslis een van Hambidge se beste bundels, indien nie die heel beste nie. Ook wat vormgewing van enkelgedigte betref, is dit, soos dit by haar gebruiklik is, ‘n kragtoer – Hambidge is inderdaad in staat om deur middel van poëtiese vormgewing in ‘n wye spektrum van digsoorte betekenis te genereer wat selfs “buite woorde lê”. Hierdie bundel is by tye aangrypend in sy eenvoud, en dan weer magistraal in sy simfoniese kompleksiteit.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.