Onderhoud: Hennie van Coller (Soom)

Die gedig as die soom tussen ooreenkoms en verskil

 

Hennie van Coller gesels met Andries Bezuidenhout oor sy debuutbundel, Soom.

 

Hennie, baie geluk met die publikasie van Soom, ʼn lywige bundel van net so onder die 140 bladsye. Wat ʼn mens natuurlik onmiddellik opval is die lieflike omslag – ʼn Vrystaatse landskap deur Pauline Gutter. Ek het verlede week in Potchefstroom met haar oor die skildery gesels en sy het genoem dat dit spesiaal vir die bundel geskilder is. Dalk iets meer daaroor?

Baie dankie vir die gelukwense.  Jy vra na die omslag. Ek het by verskillende geleenthede tydens die Volksblad Kunstefees (nou die “Vryfees”) saam met Pauline Gutter gewerk aan ‘n projek waar die samespel en samehang tussen woordwerk (dus ook gedigte) en die beeldende kuns en skilderkuns die onderwerp was. Hierdie projek was die inisiatief van Ben Botma en Bernard Odendaal. Vier gedigte in hierdie bundel (“Tweetoringkerk”, “Brandfort”, “Olea Europaea” en “‘n  Bees in die landskap”) is die resultaat van daardie samewerking. Die laasgenoemde drie gedigte verskyn ook in my bundel langs afdrukke van die skilderye van Pauline Gutter.

Hieruit kan jy aflei dat ek ‘n groot bewondering vir haar werk het, veral omdat dit telkens iets vasvat van wat ek graag die “essensiële” Vrystaatse bestaan en landskap sou wou noem.  Hoewel “Brandfort” ook sou kon dien as omslag, wou ek nie een skildery tweekeer gebruik nie en onder haar werk was daar net nie ‘n skildery wat presies uitgedruk het wat ek wou sê nie, behalwe dan die een wat sy spesiaal vir die omslag geskilder het (en wat ek dadelik aangekoop het!). Hierdie winterse Vrystaatse laatmiddag landskap is ‘n indrukwekkende werk waarin verlatenheid en die sterwe van die dag kontrasteer met en byna in balans gehou word deur ‘n ryk, gloeiende vitaliteit.

Voor ons by die inhoud kom, ʼn verdere vraag of wat oor die boek as boek. Griffel is ʼn nuwe uitgewer van poësie, maar jy het saam met uitgewersveterane soos Jeanette Ferreira en Etienne van Duyker gewerk. Dalk iets oor die proses van poësie uitgee, miskien in teenstelling met akademiese tekste (waarvan jy verskeie agter die blad het)?

Oor die boek as materiële objek: Ek wou baie graag ‘n boek gepubliseer het wat as artefak mooi en versorg was en het daarom die samewerking verkry van enkele van die beste mense in die bedryf.  My goeie vriend, wyle Hendrik Venter, het vir my die nodige ruimte geskep om juis dit te doen en sy opvolger, Evert Buurman, ook. Ek is dankbaar dat Griffel Media bereid was om my teks te publiseer as hul heel eerste poësiebundel.  Enige publikasie bring spanning mee en is in ‘n mate blootstellend omdat jy die werk (waaraan jy gewoonlik hard gewerk het) op ‘n sekere tydstip in die hande van resensente moet oorlaat. Met ‘n poësiebundel is dit veel erger, omdat dit meer persoonlik is. Al wat na regte van resensente verlang kan word, is dat daar deeglik en “objektief” gelees word – in die sin dat poëtikale en (in die geval van teoretiese werk) teoretiese voor- en afkeure so ver as wat moontlik is ter syde gestel moet word en dat aspekte wat nie ter sprake is nie, liefs genegeer moet word. Dit sluit vriendskappe én vyandskappe in.  Etiese kritiek is moeilik.

Om van die omslag na die inhoud toe aan te beweeg, wil ek jou vra om iets te sê oor die drie ekfrastiese gedigte (“Brandfort“, “Olea Europaea” en “‘n Bees in die landskap“). Ek het “Brandfort” ʼn paar keer gelees en stip na die skildery gekyk. Die verwysing na “bronslaai” laat my aan Antjie Krog dink en “merels” aan Elisabeth Eybers. Krog kom van Brandfort af. Die woord “kamp” kom twee keer in die gedig voor. Die verwysing na die konsentrasiekamp as historiese gegewe is duidelik, maar ek kan nie help om ook aan Winnie Mandela se huisarres in Brandfort te dink nie. Was Verwoerd nie hier op skool nie? As leser sit ek met al hierdie beelde in my kop, maar word dan skielik België toe verplaas. Ek hoop ek kan jou hiermee uitlok om uit te brei oor Brandfort, as deel van die Vrystaatse landskap, maar ook oor die gedig se rol in die bundel as geheel.

Beeldgedigte is ‘n vorm van ekfrastiese gedigte en staan ook nie los van emblematiese literatuur nie – ‘n soort naasbestaan van verskillende kunsvorme waarvan ek kennis geneem het tydens my bestudering van die Nederlandse Sewentiende eeuse literatuur wat ek al jare lank doseer.  In die moderne beeldgedig word daar nie net gestrewe na ‘n beskrywing van of na die poëtiese ekwivalent van byvoorbeeld ‘n skildery nie. Dit is dikwels veel meer ‘n reaksie en uitdrukking van gevoelens na aanleiding van die skildery. Dit gebeur veral in die gedig “Brandfort” waarna jy tereg verwys.

Miskien kan ek jou besonder indringende vraag probeer beantwoord met verwysing na die titel van die bundel. ‘n Soom is ‘n grens- of randgebied wat skei, saamvoeg en afrond. Dit beteken ook om ‘n einde aan iets te maak. Op die agtergrond het ek ook Leon de Kock se woorde gehoor waar hy praat van “a crisis of writing in [South Africa] and about one of the great seams of the modern world”. Die Suid-Afrikaanse skrywer “takes the reality of rags and tatters and seeks to write the fabric of the nation into existence” sê die skrywers van The Columbia Guide to South African Literature in English since 1945; die soom is die plek waar verskille en ooreenkomste versoen word. In die gedig “Brandfort”, wat inderdaad soos jy impliseer, ‘n sleutelteks is, probeer ek aantoon dat die gedig die plek (die soom ?) is waarin intertekstuele eggo’s opgevang word, assosiasies hulle voltrek én die wonder kan gebeur dat historiese tye en geskeide ruimtes versoen word in een magiese moment, hier die Europese merels wat sigbaar raak in ‘n Vrystaatse hemelruim. Daarom is daar vir my geen skeiding tussen Afrika en Europa, Afrikaans en Nederlands of poësie van toe en nou nie. Dit impliseer dat ‘n mens se verlede ook altyd aanwesig is in die / jou hede. Weer eens is dit die kunswerk waarin kontraste veral opgelos word. 

Iets wat dalk by die vorige vraag aansluit. Landskappe speel ʼn belangrike rol in die bundel, ook die hemelruim as landskap. Op ʼn manier torring jy landskappe se some los deur die leser konstant tussen Afrika en Europa te verplaas. Ek dink nou byvoorbeeld weer aan merels in Brandfort en ʼn “Afrikaanse son” wat kop lig in Groningen. Wil jy dalk iets sê oor tematiek in die bundel? In watter stadium van skryf oor so ʼn lang tydperk het die sentrale tematiek ʼn rol begin speel? 

As daar van ‘n sentrale tematiek sprake is in my bundel, sou dit iets met die voorafgaande te make hê.  Maar daar is ook ander, meer versweë opvattings ter sprake: dat ek glo aan ‘n “milde God” wat die mens die ruimte gun om sintuiglik (en selfs byna hedonisties) te lewe, maar ook dat die mens ‘n produk is van “deterministiese” kragte (omgewing, erflikheid, die geskiedenis, sosiale fatsoen, diskursiewe formasies; selfs die poëtika van die dag), maar terselfdertyd voortdurend strewe na bevryding juis hiervan – ook in die kuns. Hoewel ek kennis geneem het van die heersende tendense in die Afrikaanse poësie: politieke betrokkenheid (sosiale kommentaar), die romanties-sentimentele, die ekstreme intellektuele en selfs die “prosaïese” praatvers, sluit my eie werk nie net by een hiervan aan nie.

Die tweede afdeling – oor sterretekens en mitologie – is vir my besonder mooi. Ek is nuuskierig oor hoe jy die afdeling binne die groter geheel van die bundel plaas en meer spesifiek die kwessie van sosiale kommentaar.

My verse staan nader aan die satiriese vernufsvers en is ook oorwegend vormvas. Die tweede afdeling, oor die diereriem is verse wat hopelik iets hiervan illustreer. Dit spot enersyds met die genetiese determinisme wat die “sterre voorspel” onderlê; andersyds wys dit juis op die oorgeërfte determinante wat ons lotsbestemming bepaal, boonop op ‘n wyse wat nie swaarwigtig wil wees nie. Wat sosiale kommentaar betref: dit is die reg van enige persoon, dalk ook die logiese gevolg van iemand wat met sy of haar tyd meelewe – óók die digter, maar moet nooit as vereiste vir kuns gestel word nie.

“Eksotiese geure van speserye en kruie dra / steeds in Zanzibar en Pemba ver op die wind./ Ek loop die strate deur in Afrika en vra / wat ek nog van my soort hier vind.” In die afdeling oor “Afrikabeelde” speel die Swahili-wêreld ʼn sentrale rol. Johann Lodewyk Marais skryf ook oor hierdie gedeelte van die kontinent. Is gedigte oor byvoorbeeld Arusha en Zanzibar bloot toevallig (dalk weens ʼn besoek aan Tanzanië), of is daar iets meer veelseggend in die verband tussen Afrikaans en Swahili hier ter sprake? Ek dink spesifiek aan die ooreenkomste wat jy in kos vind (byvoorbeeld “Koningskos”). Ek vra ook die vraag omdat die ooreenkomste tussen die onstaan van die twee tale my nogal opgeval het toe ek Kenia en Tanzanië besoek het.

Die Afrikagedigte het inderdaad ontstaan na ‘n besoek aan verskeie Afrikalande, maar wat my veral bybly is die verwantskappe (ruimtes, kos én die postkoloniale “kondisie”) wat ons deel met inwoners van hierdie lande.

In “Tilburg” lewer jy, ewe tong in die kies, kommentaar op vaste versvorme. Dalk iets oor die prominensie wat die sonnetvorm in die bundel aanneem?

Ek het ‘n voorliefde vir die sonnet as vorm om verskeie redes. Dit is ‘n keurslyf wat die digter knel met sy vaste aantal reëls, bepaalde metrum en rym – die sogenaamde “kategoriese verwagtinge”. Daarom stel dit besondere uitdagings om binne hierdie “deterministiese” reëls steeds jou daarvan los te (probeer) maak. Antjie Krog het by geleentheid in een van haar sonnette hierdie vorm as manlik bestempel en by implikasie as inperkend.  Ek wou prober toon dat ‘n mens (en dus ook die digter) vryheid binne beperkinge moet nastrewe.

Die sonnet bereik as vorm sy hoogtepunt in die Sewentiende eeuse Nederlandse poësie met verskeie pragvoorbeelde in die werk van Van der Noot, Hoofd, Huygens en Vondel waarvan ek enkele sonnette vertaal het. Hulle voorkeur het uitgegaan na die Franse sonnet met sy dubbele wending, sy gebruik van sesure en die gedrae Aleksandryn. Om rymdwang te vermy en die Renaissance-digter in moderne Afrikaans te laat praat is inderdaad ‘n swaar opgawe.

Om hierby aan te sluit wil ek spesifiek oor jou “Vier sonnette by jaargetye in die Vrystaat” vra. Ek lees dit as ʼn liriese, hedonistiese oorskryf van die (durf ek sê: gewigtige?) oorspronklike sonnette. Dalk iets meer oor humor en die kanon in jou bundel?

Jy is absoluut in die kol met jou opmerking oor my vier sonnete by jaargetye in die Vrystaat. My spot met die swaarwigtige synsvrae kom reeds voor in “November” en ek wou eintlik net ‘n lansie breek vir ‘n sintuiglike (en dalk hedonistiese) bestaan. Jy vra oor humor en die kanon. Ons letterkundige produkte aan die begin van die Afrikaanse letterkunde was dikwels humoristies, maar was ook nie juis almal hoogstaande letterkunde nie. Dalk is hoge kuns veral deur die Dertigers (wat die hoë en koue paaie bewandel het) by implikasie gelykgestel aan die swaarwigtige.

Dit is werklik eers in die afgelope dekade of wat dat skrywers dit waag om (weer) humoristies (en romanties) te wees en dit was veral Opperman wat weer ‘n lansie moes breek vir die vernufsvers (lees bv. weer sy opmerkinge oor A.G. Visser). Maar ook die latere herwaardering van die skunnige en humoristiese volkspoësie (deur veral Van Wyk Louw) was belangrik in die rehabilitering van die humoristiese, hoewel die eksistensialistiese gewroeg van die belangrikste Sestigers en die latere drang na politieke betrokkenheid en die erns waarmee dit geskied het, eintlik min ruimte gelaat vir die humoristiese werk. Dankie tog vir Etienne Leroux en Marita van der Vyver!

Ek hou van hoe jou vier sonnette, na die gedigte oor skilderye, oorgaan in vertalings van Nederlandse sonnette. Die bundel eindig met ʼn pragtige impasse van Nijhoff. Word vertaling as digkuns in eie reg nie dalk onderskat in Afrikaans nie – spesifiek gegewe die funksionele rol wat dit in ʼn bundel soos hierdie speel?

Ek beskou vertaling as ‘n besonder belangrike vorm van “import” soos die Nederlanders dit stel, van verse of boeke wat die eie literêre sisteem aanvul of daarmee in gesprek tree. In my bundel vervul dit veral die rol om die kunsmatige kloof tussen Afrikaans en Nederlands kleiner te maak en dit nader te trek na die Afrikaanse leser. Brink verdien lof vir sy besluit om  veel meer vertalings in sy jongste Groot Verseboek op te neem.

Ter afsluiting sou ek graag wou weet of daar ʼn gedig is wat jou wil uitsonder en dalk hier wou plaas om die lesers van Versindaba ʼn voorsmakie te gee van wat hulle kan verwag as hulle die bundel aanskaf?

Dalk is “Groningse boom” en “Brandfort” goeie keuses weens die tematiek daarvan.

 

***

Groningse boom

 

Gehurk sit jy duttend waar ek jou nooit kon sien nie,

neffens die grag, beefvinger om ‘n klip geknel,

vroegoggend al geheel in die skadu van Martini

terwyl jou lang vingers die waterhondjies tel.

 

Anders as jy vind ek hier geen vaste onderkome,

‘n heiige lug en vreemde tongval hou my aan die raai.

Geknotte wilg, jy’s wel hoër as die bome

van my horingdroë streek, maar minder taai.

 

Jy’s week van ‘n oormaat water

wat ‘n ou makgemaakte waterstroom

nou reëlmatig én effens plegstatig

stadig wegvoer in ‘n sirkelgrag,

wat hierdie Hansastad omsoom:

soos beelde uit die werklikheid ‘n droom.

 

 

Brandfort

           

Hoor, die dag raak stil, ‘n tentflap klap dig soos ‘n kis.

Aandpsalms en geweeklaag dra van die kamp se kant af.

Reiers stryk neer en slaan ysterklou in drassige watergras.

Trekvoëls slaan kamp op langs ‘n pootuit, eensame toeris.

 

Die louwarm, dik groen watergrasse begin gis, ruik!

Alles raak oorhoop in ‘n bonte mengelmoes van kleure,

orals sien ek bronslaai op die rande van diep skeure

en ek ruik opeens die verrottende vlas van Kortrijk,

 

en sonbrandolie en lou pintjes by Blanckenberge

en die olierige krokette en frieten van Koksijde

en die mosselgeure deur die ganse Knokke.

 

Ondeurdringbaar en vreemd net soos ‘n droom

so onwaarskynlik voel hier om my die laatmiddaglug.

Kyk daar! Sowaar: Vier verdwaalde merels in hul vlug!

 

© Hennie van Coller (Uit: Soom, 2012: Griffel Media)

 

Hennie van Coller woon en werk in Bloemfontein en is die outeur van meer as 100 artikels in geakkrediteerde tydskrifte, 37 hoofstukke in boeke, talle populêre publikasies en resensies en is die outeur, mede-outeur of redakteur van 19 boeke, o.a. die driedelige literatuurgeskiedenis Perspektief en Profiel. Binne universiteitsverband was prof. Van Coller vir baie jare lid van Fakulteitskomitees, sekundus-dekaan én agerende dekaan.  Hy debuteer met die bundel Soom by Griffel uitgewers in 2012.

 

Omslag

Omslag

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoud: Hennie van Coller (Soom)”

  1. Joan Hambidge :

    H.P. van Coller het pas gedebuteer met Soom en hy is onrustig oor die ontvangs van sy boek.

    Al het die digter hard gewerk aan die boek, is dit geen waarborg dat dit goed sal wees nie. Dít moet die digter oorlaat aan die kritici wat deeglik en “objektief” sal lees. (Ek is bly hy plaas objektief tussen aanhalingstekens.) En ondeeglike resensies mag ook van waarde wees – kyk wat jy kan leer uit die ontvangs en basta met die res.
    Na publikasie is die bundel nie meer in die hande van die digter of uitgewer nie. Dan moet die kritiese pad sy loop gaan. Gedigte praat soms met lesers; soms nie.
    Wat wel ‘n rol speel by die resepsie van ‘n digbundel is:

    Die uitgewershuis wat subliminaal die waarde van die materiële obkjek bepaal – soms kom daar ‘n vloekskoot uit ‘n kleiner uigewershuis soos destyds met Wilma Stockenström;
    die buiteblad;
    die aantal gedigte;
    wanneer ‘n gevestigde literator laat debuteer (soos Cloete indertyd), kyk kritici immers anders daarna. Hier is immers ‘n ou hand aan die woord. Cloete het die landskap van die digkuns verander en Opperman het dit inderdaad as “koningskos” aangekondig;
    In welke mate die digter iets byvoeg of verander aan dit wat reeds bestaan. As dit aansluit by die tradisie van bv. die vernufsvers, moet daar in gesprek getree word met voorgangers soos J.C. Steyn, Daniel Hugo, en andere.
    As die bundel goed is, sal dit enige klapwieke oorleef. Vele digters moes al dwarsklappe oorleef van kritici wat hul werk as flets beskou het.

    ‘n Mens moet net publiseer wanneer jy totaal gedistansieerd en kil na ‘n bundel kan kyk.

    Soos die digter skryf:

    “‘n heiige lug en vreemde tongval hou my aan die raai.”

    Hopelik is die ontvangs nie newelig nie. Dit is immers altyd lekker vir bestaande digters as daar ‘n goeie talent hom of haar aanmeld. Ek lees nou weer Sarina Dönges se In die tyd van uile en ek is werklik bewus van die feit dat hierdie digter nie na waarde geag is nie. Ek beoog om iets hieroor te skryf.

  2. carol hodes :

    Kon nie n beter kunstenaar gekies het vir hierdie projek nie! Pauline sien en voel wat min mense kan.