Joan Hambidge. Adrienne Rich (1929 – 2012)

Joan Hambidge. Adrienne Rich (1929 – 2012)

 

What kind of beast would turn its life into words?
What atonement is this all about? (Twenty-One Love Poems)

 

Min kon soos jy,

‘n telefoon in ‘n donker labirint

hoor lui in ‘n tyd

toe die liefde tussen vroue

oorlog kon ontketen.

Jou gedigte word ‘n atlas

van hierdie onbesonge verkenning.

In ‘n labirint met ‘n dun, silwer draadjie

om die verskuilde uitgang te vind,

verset jy jou teen selfbejammering:

“I love the scar-tissue she handed on to me,
but I want to go on from here with you
fighting the temptation to make a career of pain.”

Vir eensgesindes maak jy vele binnelandskappe oop,

die breedte- en lengtegrade van intieme kontinente

verken jy in onthutsende vers na vers.

Die digkuns vir jou inderdaad ‘n versus.

Vir strydvaardiges is jy saam in opstand oor

ongeregtigheid: sinnelose oorloë, sensuur, verdrukking.

“And my incurable anger, my unmendable wounds
break open further with tears, I am crying helplessly…”

Hoe versoen ‘n mens ‘n labirint met ‘n atlas?

In die stil nag lui ‘n verbeelde foon eentonig

met my venster oop: wetend jy had gelyk,

hulle is steeds die wetmakers en kartograwe

van die liefde én die rymende bedryf.

Ook haar vertrek hou my gevange in ‘n donker labirint;

danksy jou intieme atlas bereis ek verre lande,

ontdek die onbesonne vreugdes

in afgeleë ruimtes soos Puerto Montt,

reis verby die ekwator

tot in Antarktika

waar ek ‘n vlag plant

in haar onbewuste hart.

 

© Joan Hambidge, 2012   

 

Bookmark and Share

Comments are closed.