Resensie: Amper elders (Louis Esterhuizen)

ʼn Toegewyde aanslag op vergetelheid

 Amper Elders, Louis Esterhuizen. 2012, Protea Boekhuis, ISBN 978 1 86919 690 5, 94 bladsye.

 Resensent: Joan Hambidge

 

Omslag

Omslag

Amper Elders is Louis Esterhuizen se negende bundel en Wat die water onthou (2010) is bekroon met die Protea-prys vir poësie. Amper Elders dra die sub-titel: ʼn reisjoernaal. Reis is ʼn vorm van transportasie, van beweging. Sowel die binnelandskap van die digter as die vreemde omgewing word in hierdie soort gedig gestulp. En geen digter keer ooit onaangeraak terug na ʼn reiservaring nie. Die binnelandskap registreer iets van die komplekse, vreemde buitelandskap. Party digters hou ʼn notaboek; ander herkonstrueer ná die reis die impak hiervan in die gedig. ʼn Joernaal impliseer dat die digter ten tyde van die reis aantekeninge en inskrywings gemaak het wat hy dan later tot poësie verander.

Reis is nie net opwindend nie. Dit is eweneens gevaarlik, selfs by tye vervelig. Ander kere is dit weer spannend. En die digterskap is eweneens ʼn reis. Ruth Padel in The Poem and the Journey – and sixty poems to read along the way (Chatto & Windus, 2007) gebruik dus nie om dowe neute nie die reismetafoor om die aard van die digkuns op te som.

 

 

II

Die reisgedig word gekenmerk deur waarnemings oor die vreemde omgewing wat teruggekaats word na die bekende land sodat die ek voortdurend tussen twee ruimtes beweeg. Die gedig is dan ʼn vergestalting van hierdie liminaliteit: van wegwees van die bekende (wat in gesprekke in die vreemde na vore kom) en ʼn ondersoek na die vreemde omgewing. In hierdie bundel word daar ook verslag gelewer van ʼn dogter se troue, ʼn kleinkind se geboorte en die siekte van ʼn geliefde wat verdere prosesse van transformasie of verandering impliseer. Na ʼn gedig van Nazim Hikmet (“Ode aan ʼn glas wyn”, 83)

“Onsigbaar, die wag” (66) verwerking van Yannis Ritsos lees ons: die gedig wat uit die vreemde in ʼn vertaling getransporteer word. Vertalings is eweneens ʼn vorm van reis. Die voetnoot dui alreeds ʼn ander gedig aan waarheen die leser moet “reis”. Daar is ook variasies op bekende gedigte (“Soldatelied”, 38) waar die digter in ʼn motto aanduidings gee van die oorspronklike teks en sy palinode hierop.

Die werklike stede word vertrekpunte vir die digter se reaksie daarop en daar word in gesprek getree met ander digters se ervaringe van die stad. Hierdie digters word aangespreek sodat die “amper elders”-motief dus nie net die werklike, fisieke reis aktiveer nie, maar ook die intellektuele reis of ondersoek. “Amper” in die sin van nog nie, aktiveer die proses van aankoms en vertrek, buitestaanderskap én verlange na ʼn terugkeer. Reis het eweneens met afwagting te make en die reisproses aktiveer altyd die spanning tussen wat die reisiger meen hy weet en die ervaring in die werklikheid. In die vers “verwagting” (12) word die gebruik van sal dus ʼn voorstelling hiervan. Reis het eweneens te make met beplanning wat in “reisigers” (13) verbeeld word as die reisiger wat in die woestyn alles beplan van “oase na put”, terwyl iemand wat in die liefde reis ervaar dat “geen bestemming / ooit te ver of naby genoeg (is) nie”.  Die reis word verder ook betrek deur vlugnommers vir die leser te gee en in “Vlug BA 58” (16):

 

as die nag gemaak is van papier, is

die vliegtuig ʼn skêr wat stadig noordwaarts

knipper na waar

 

aankoms wag:

 

III

Ons vind in die bundel bakens: o.a. Amsterdam, Antwerpen, Brugge, Cambridge, Krymska, Praag, o.a. – die stede is egter nét vertrekpunte vir die digter se reaksie op ʼn stad, gesprek of indruk. Reisverse word afgewissel met besinnings oor kuns en liefdesverklarings. 

Die motief van duiwe – reeds aangedui deur die voorblad van Doug Lew se “Pigeons” en reeds in die openingsvers “duiwedanser” (11) word dit aangekondig. Duiwe beweeg, hulle is immers primordiale reisigers.

Die duiwe speel in op Van Wyk Louw se bekende gegewe rondom krummels en die voer van duiwe:

Gedig nommer X

 

N.P. van Wyk Louw (1906-1970)

Jy’t weggegaan en jy bewoon
‘n silwer herberg in die sneeu
jou vensters kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein

 

die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind.

Die slotvers verwys na die “afgevlerkte reis” (Verposing”, 94) wat weer inspeel op die programgedig “duiwedanser” (11) waar daar verwys word na die droë krummels vir hul ingedampte reis. In “Bagasie” (59) word die reis metafories gekoppel aan die dood, aan ʼn aflegging van ʼn vorige bestaan. In die gedig “Waakeenheid” (93) word die geliefde versoek om nie weggelok te word nie:

 

…Die korrels

in die sak waarmee hy jou lok

is gelapte saad en lánkal muf verby.

 

Nou is die duiwedanser die dood.

 

IV

Die digter se vormbeheer kom sterk na vore soos in “Huwelikslied”, ʼn pantoen (28) en die behendige “Amsterdam” (44). Die slot van “Rijksmuseum, Amsterdam” (49) aktiveer op ʼn aangrypende wyse die gesprek met Vermeer, begin deur Cloete en voortgesit deur Tom Gouws in ligloop.

 

Vermeer skilder die vrou

hoogswanger met ʼn brief in haar hand –

deur die verbeelde venster links

word die sagte lig die nuus wat sy verneem.

 

Teen die muur agter haar rol ʼn wêreldkaart die leë gebaar

van ʼn ander verwagting in haar oop:

die lang begeerde teenwoordigheid van ʼn geliefde.

 

Deur die brief kyk sy uit op hierdie wêreld

wat afwesig is. Bruin soos haar rok is die kaart,

en die twee stoele by die tafel: dieselfde blou

 

as die bostuk van haar drif.

Die een rokkel haar

weg. Die ander hou haar terug.

 

Hierdie gedig sluit dan aan by die reismotief in die bundel en dat kunswerke, aldus Paul Auster, die ineenstorting van tyd in beelde opvang.

Te midde van die reisgedigte is daar liefdesverse soos “droomsekwens” (19) en gesprekke met Plath en Hughes: “Die ontmoeting” (20). Die gedig oor Plath se selfmoord “Grantchester, tien voor drie” (21) tree nie alleen in gesprek met Plath se werk nie, maar met die lang galery van digters wat haar in Afrikaans besweer het.

 

V

Die titelgedig verduidelik dat die digter die naam geskaai het in Antwerpen: dit is die naam van die gastehuis waar die digter en sy geliefde tuisgegaan het, en nog meer. Daar word vanuit die vreemde ook terug gekyk op ʼn geweldgeteisterde samelewing vol korrupsie.

Gunstelingverse vir hierdie leser:

“duiwedanser”, “verwagting”, “reisigers”, “Vlug BA 58”, “Huwelikslied”, “Amsterdam” en “Weerkaatsings”.

Bekend aan Louis Esterhuizen se werkswyse is die inspeel op ander tekste (hier dan ook musiek) en ʼn deurgekomponeerde bundel. Soms is gedigte te lank en geselserig, maar dit word ondervang deur die sub-titel: joernaal. As hy wel ʼn goeie gedig skryf, word vorm en inhoud één. Dit is ʼn goeie bundel uit die Protea-stal wat ongelukkig ook “leaden poetry” publiseer.

 

(© Joan Hambidge. 2012)

 

Bookmark and Share

Comments are closed.