Egonne Roth. Riva Rubin

Die vrou onder my bed begin my lei in my navorsing.

“Jy moet met my ou kennis, Riva Rubin, ‘n onderhoud gaan voer – sy sal jou baie dinge kan verduidelik,” fluister sy.

Ek bel Riva. Sy is besig – ek moet later weer bel. Ek probeer later – sy versorg die proewe van haar nuwe boek. Drie jaar later se die vrou onder die bed, “Bel weer, maar benader haar die keer anders – sê vir haar…”

En so gebeur dit dat ek my die ander dag bevind in Bilu Straat in sentraal Tel Aviv. Dit grens aan die hartjie van toeriste Tel Aviv, maar geen toeriste sal hul ooit daar bevind nie. Die straatjies is nou, die woonstel blokke lyk eenders en dikwels verwaarloos, want die woestynwinde wat in hierdie land waai bedek alles met stof. Maar klop aan ‘n deur en word ingenooi en jy bevind jou in ‘n ander wêreld. Miskien is dit  in ‘n kunstenaarsateljee of in ‘n stukkie Berlyn of Vilnius of Cracow met swaar donker hout meubels en boekbelaaide rakke of dalk maak ‘n jong skryfster vir jou oop. In haar woon/skryfplek lê groot kussings bedek met Midde-Oosterse lappe op die vloer, ‘n rekenaar op die lessenaar en al die belangrikste skrywers uit Israel, Amerika en Europa in tweedehandse slapband uitgawes probeer om in stapels tussen die kussings op die vloer ‘n balans te handhaaf.

Riva maak vir my die deur oop. Sy’s kleiner, fyner as wat ek verwag het. Haar glimlag is groot en sy nooi my hartlik in. Voor my is ‘n ruim vertrek met ‘n studeerhoek aan die eenkant, gemaklike banke om ‘n koffie tafel in ‘n ander hoek en die eetkamer-kombuis in die derde hoek. Oral aan die mure hang kuns, skilderye, afdrukke, foto’s. Van dit erken ek, meestal nie. Sy stel my dadelik bekend aan die werk van haar ou vriend, Joram Kaniuk. Hy is ‘n Israeliese skrywer maar ook soms kunstenaar. Hier hang ‘n poster wat van dosyne vuurhoutjiedose gemaak is. Op elkeen het hy ‘n gesig geteken terwyl hy, soos die gewoonte in hierdie land is, in kafees koffie gedrink en gesels het. Hy’t hulle gehou en dit vorm die mees fassinerende collage van gesigte.

Riva bedien my tee, gemaak soos ons dit in Suid Afrika drink, sterk met melk, want Riva, soos Olga Kirsch, is ‘n dogter van Suid Afrikaanse immigrant Jode. Ook haar pa se familie kom uit Lithuania. Sy is in Johannesburg gebore en het daar grootgeword. Na matriek besoek sy Israel vir die eerste keer in 1949 as deel van ‘n Joods-Israeliese jeugprogram onder die beskerming van Betar. Sy keer terug na Suid Afrika waar sy haar onderwysopleiding voltooi aan die ‘Hebrew Teachers’ Seminary – “I got a good basis in Tenach!” Haar eerste man is op tragiese wyse in ‘n vliegtuigongeluk dood. Sy trou met haar tweede man, Harold Rubin, in Johannesburg in 1957 en uit hierdie huwelik is twee seuns gebore. Harold Rubins was ‘n bekende figuur in Suid-Afrikaanse kunssirkels wat sy verset teen Apartheid uitgeleef het as jazzmusikant – hy speel die klarinet – en na die Sharpeville onluste in a reeks sketse gewy aan die brutaliteit van Apartheid. Later doen hy ook in ‘n kunsprojek “My Jesus“. Dit lei tot inhegtenisname weens ‘n klag op godslastering, maar hy word in die hof vrygespreek. Kort daarna, in 1963, het hy en Riva Suid-Afrika verlaat en hul in Tel Aviv gevestig.

Riva vertel dat sy reeds van jongs af geskryf het- altyd in Engels. “I was born writing! Allow me to talk to you about poetry in poetry,” sê sy.

 

HOW THE BUTTERFLY GOT ITS COLOURS

She is eight, on the top step by the kitchen door.

The yard is cemented grey,

The shed is corrogated black, the door

and the window wood of the hut in the corner

are servant brown.

She will invent a butterfly. The first story.

 

“There’s a river, I dip watergreen on the wing tip.

There’s s thistle, I dab silvery purple on the throat.

There’s an orchard, I splash yellow and orange as I wish

on the back of my beautiful butterfly.

I take golden feelers from on high.”

 

She is eighty, behind the shutter, looking out.

An old white butterfly presents

itself on the windowpane.

Reeds in 1963 wen sy die Suid Afrikaanse PEN Sentrum Kortverhaaltoekenning. Tog is dit so dat sy, soos vele ander immigrant digters, ‘n groot gevoel van vervreemding beleef wanneer na sy in Israel aankom. Soos hulle staan sy voor die keuse om óf in ‘n landsvreemde taal te bly dig, d.w.s. in Engels in Israel, óf om te probeer aanpas en in Hebreeus te dig – ‘n oorgang wat sy, soos Olga Kirsch, besluit sy nie kan maak nie. Haar werk geniet sukses hier, maar dikwels as ‘n soort ‘tweederangse’ burger. Selfs na sy in 1999 die eerste Engelse digter is om met die Israelse Prys vir Letterkunde bekroon te word, word daar van haar gesê, “Sy’s ‘n goeie digter al is dit in Engels!” Haar werk herinner mens aan Elisabeth Eybers in die sin dat in haar gesprek met haar aangenome land sy haar moedertaal, Suid-Afrikaanse Engels, aanpas by die plaaslike kultuur en beeldspraak. Net soos die Nederlandse invloed hoorbaar in Eybers se Afrikaans is, so is die Hebreeus-Israeliese invloed aanwesig in Rubin se poësie.

 

THE SILENCE

In the inexplicable silence at the heart of my life,

I‘ve shielded my cheeks in a locust storm

I’ve crouched in long grass in my father’s dark night

I’ve touched the blood on my mother’s mouth

I’ve heard the lion’s brusque cough in the bush

I’ve seen my two sons to war

I’ve watched the wall of my house billow inward

I’ve looked into my black dog’s eyes through a gasmask,

in the inexplicable silence at the heart of my life.

In hierdie gedig uit haar nuutste versameling¹, wat vroeër vanjaar gepubliseer is, is die beelde van Afrika en Israel intiem verstrengel. Terwyl Riva diep betrokke is by die kulturele lewe van Israel, het sy nie haar geboorteland vergeet nie. Sy is in kontak met skrywers en die Joodse gemeenskap daar. So byvoorbeeld lewer sy in 2005 die Inleidende Lesing, tydens die Konferensie oor minderheidsliteratuur aan die Universiteit van Kaapstad. In Israel speel sy ‘n kardinale rol in die stryd om die herkenning van minderheidstale in ‘n Hebreeus dominante kultuur en was sy ‘n stigterslid van die ‘Israel Association of Writers in English’ waar sy ook vir etlike jaar as voorsitter gedien het.

 

Ons gesels soos twee vrouens wat mekaar al lankal ken – oor ons kinders, oor ons ouers, my pa uit Berlyn, haar ma uit Vienna. Sy lag lekker as sy sê dat sy my aksent geniet: “It’s home!” Dit lei spontaan tot die issue rondom die keuse van taal – Riva spreek Hebreeus vlot. Sy vul haar inkomste aan deur uit Hebreeus na Engels te vertaal.

“Hoekom kon iemand soos Aron Appelfeld die sprong van sy moedertaal tot Hebreeus maak, maar skrywers en veral digters soos jy en Olga Kirsch nie?” wil ek weet.

“In my opinion the Europeans, but more so the Russians had the culture,” verduidelik sy. “The Hebrew writing of those generations had very little to do with Hebrew, it had more to do with… they brought the idiom from overseas and they made it the idiom here. If was not just writing in Hebrew, but if you didn’t write in Hebrew like the Russians wrote in Hebrew you didn’t stand a chance. It was writing in a certain manner, in a certain voice. Bialik’s Hebrew was very beautiful but it had more to do with Poland or Russia or wherever he came from than it had to do with here. That’s what I’m teasing him about in my little poem.”²

 

BIALIK’S BIRD AT MY WINDOW

 

Little birdie at my window

teases me in Hebrew

tsuktsik, tsutsik

he calls me small fry – I

don’t write about him in Hebrew

like Bialik, but I

did make the journey.

 

Soos ons kuier en gesels, begin ek dinge verstaan wat vir my tot noutoe onseker was – dinge rondom immigrant wees en skrywer wees en vrou wees. Dinge waaroor ek mooi sal moet dink voor ek verder kan skryf.

 


¹Al drie Gedigte kom uit haar nuwe bundel:  Rubin, Riva.  Bialik’s Bird.  2012 KESHEV Publishing House, Israel.

²Hierdie is ‘n direkte kwotasie wat ek digitaal opgeneem het en nie graag sou wou vertaal nie.

Bookmark and Share

Comments are closed.