Resensie: Soom (Hennie van Coller)

‘n Bundel van gemoedelik-lokale realisme : Soom, Hennie van Coller, Griffel, 2012 

Resensent: Tom Gouws

Omslag

Omslag

Ons weet die meeste letterkundiges is closet-digters, maar dit bly altyd ʼn groot verrassing as ʼn deurwinterde letterkundige eers laat in sy loopbaan debuteer. T.T. Cloete se toetrede as digter tot die produksiesy van die literêre sisteem het almal laat regop sit. In bundel na bundel het hy ons getoon wat beleë digterskap behels. Dis noodwendig dat Hennie van Coller, ten regte, of ten onregte, dan met hom vergelyk sal word. Maar dis te verstane dat ʼn digter wat lank in die tand is teen die bestes van sy tradisie gemeet word – ʼn mens skryf immers altyd teen ʼn literêre tradisie in. (Alhoewel die digter in ʼn onderhoud met Versindaba dit duidelik gestel het dat hy nie by enige heersende literêre tendense aansluit nie.)

Met die verloop van jare het Van Coller in verskeie literêre tydskrifte, versamelbundels en selfs kompetisies sy kreatiewe staal getoon. En met hierdie lywige bundel van 90 gedigte wys hy duidelik dat hy nie bloot ʼn Sondagsdigter is nie.

Die bundeltitel Soom word ʼn vindingryke stemvurk vir die bundel. As buiterand veronderstel dit ʼn grens, maar impliseer noodwendig dat dit wat binne en buite is in ʼn gespanne jukstaposisie verkeer. Hierdie jukstaposisie word deurgaans in die bundel gehandhaaf – Afrika/Europa, mens/natuur, mens/God, goddelikheid/vleeslikheid en hedonisme, skilderkunswerk/beeldgedig, eietyds/sewentiende-eeus, ernstig/boertig of klugtig, Afrikaans/Nederlands, en verskeie ander. Die binnekant van die soom word met oneindig veel buite gelap, om in Breytenbach se tale te praat.

In ‘Groningse boom’ (ook in enkele ander gedigte) word die titelwoord omvorm tot “omsoom” (ook die homotetiese ekwivalent “omrand”), wat onder andere ook dui om iets in reliëf te plaas. Die aantal beeldgedigte (met die kleurafdrukke van die skilderye waarop dit gebaseer is!) word hierdeur ondervang.  

Die jukstaposisie wat die soomgrens meebring, dwing ook tot versoen, maar skei ook, voltooi ook. Derhalwe is die tematiese moontlikhede wat uit die bundelkonsep voortspruit oneindig wyd.

Verstegnies sou soom ook kon dui op versifikasiegrense, en dan is dit byvoorbeeld ikonies dat daar soveel vastigheid en vorm in die bundel is, want deurgaans word die gedig tot sy grense toe getoets aan die beperkinge van die vooropgestelde keurslyf.

Maar binne hierdie streng ordelikheid is dit die “naaldwerkfasels aan Ma se rok”, soos Petra Müller dit in haar kortverhaalbundel Voëls van die hemel so mooigenoem het, wat ek as leser soek, daardie ongevraagde rafels brute en ongeërg suiwer poësie, daardie onvoltooide flentertjies waansin wat buite al die poëtiese ordentlikheid kan uithang soos jou elletjies. Dit ontbreek grootliks. Min gedigte in die bundel slaan jou asem weg, of vra vir ʼn weerlees met verrukking.

Miskien het die ywerige rymbereidheid veel daarmee te doen. As die digter van meet af aan, reeds in die bedankingwoorde, al rym en versies maak, sê dit veel. Alhoewel dit oulikerig is, is dit te fasiel om nié ongemaklik daaroor te voel nie:

Vir hulle wat teen wil

en dank moes dra – vir E. en L. en H.

en K.

Maar ook vir I. en A.

Vir wat meer

Sou ʼn man kon vra?

Maar as jy die openingsgedig lees, is jy tog verras deur die funksionaliteit van die enkele versreëls wat nié rym nie (waar dit volgens die sonnet se eis behoort te rym), en besef jy Van Coller moet nie op sy rymersbaadjie getakseer word nie – hy rym, want hy kan, maar hy weet ook presies hoe om baie vaardig met literêre konvensies te speel. ʼn Gedig soos ‘Tilburg’ buit die onderwerp ook tematies uit:

Selfs oor Tilburg kan mens ʼn sonnet versin.

Maar dalk is meriete hiervoor tog te min.

Dan maar ʼn haikoe, terset, kwatryn

(veral omdat die laaste gerieflik rym op “pyn”)

Wat? ʼn Rondeel? Die rotstad sal hom wat verbeel!

Uiteindelik word die gedig nie ʼn sonnet, haikoe, terset of selfs rondeel nie, maar blok homself as ʼn verloopte limeriek. Vindingryk? Miskien die eerste versreël, maar die res is studentikoos, nie onthoubaar nie – die meriete van die versie is helaas te min. Ek sou dié vingeroefening byvoorbeeld nie in ʼn bundel insluit nie. ʼn Mens sou voorts kon redeneer dat dit ʼn tussen-in-gedig is wat as brugteks dien vir die geheelsegging van die bundel (soos Opperman in Komas uit ʼn bamboesstok en Krog met Lady Anne met groot welslae gedoen het), maar daar is ongelukkig te veel pogingtjies van hierdie aard.

Terug by die openingsgedig. Wat voorts beïndruk, is hoe gemaklik verskillende jukstaponerende wêrelde soomloos in die teks ingeweef word – Afrikaans, Engels en Nederlands, die strak universiteitsopset en die gewone lewe daarbuite, die beskermde esoteriesheid van akademie en die ruheid van geweld, dit wat ver is en naby, dit wat heilig gewaan word wat eintlik profaan is, die tante wat wasgoed was in Groningen en ʼn oom op genadebrood in die Karoo, die onhelderse Hollandse lug wat deur “‘n Afrikaanse son” gedaag word.

Maar jy kan nie anders as om hierdie gedig byvoorbeeld te vergelyk met die gedig ‘Blydskap’ van Cloete (in Jukstaposisie) nie – dieselfde tipe procédé, maar Cloete se gedig het ʼn groter metaforiese vaardigheid en subtieler naasmekaarstelling en vaardiger versifikasie, wat dit ʼn veel beter gedig maak.

Met dit in gedagte, is die volgende gedig: ‘Groningse boom’ ʼn uitstekende gedig, in alle opsigte. Die volgende gedig, ‘November’, begin eweneens opwindend, waar die Nederlandse digter J.C. Bloem en Van Wyk Louw en Sheila Cussons (in hul Nederlandse periode) die voorlopers word van die digterspreker se naloop in groot digterlike skoene (met slim inspelinge op Tristia, byvoorbeeld), maar dan verloop die gedig tot ʼn onbehaaglike doodloopstraat in die koue, veral deur die ondeurdagte gebruik van die woordjies “kak” en “klare”. As hulle nog jukstaponerend allitererend gebruik is, sou dit werk, maar soos dit is, laat dit die gedig té berekend aandoen, en doen dit skade.

Maar die volgende gedig: ‘Goddelike oomblik: Leuven’, is weer ʼn knap gedig. Dus: Soom is ʼn bundel met absoluut wisselende kwaliteit. ʼn Mens sou gemaklik die helfte van die gedigte kon uitgooi, en dit sou voorwaar ʼn sterker bundel gewees het. Die hele afdeling ‘Vrystaatse beelde’ sou ek byvoorbeeld maklik laat gaan. Van Coller is nie geleer to kill his darlings nie. ‘Windpomp’ vergelyk byvoorbeeld swak met Leon Strydom se gelyknamige gedig; die gedigte oor die tweetoringkerk, NALN, Naval Hill en die Sand du Plessis-teater mis Antjie Krog se skerpsinnige Vrystaatse oog, JC Steyn en Daniël Hugo se speelse taalmaneuvers. Al probeer Van Coller dapper, die verse bly ongelukkig vassteek in die triviale.

Miskien moet ʼn mens dan op hierdie stadium ook iets oor die bundelkomposisie sê. Die nege afdeling van die bundel is nie soseer organies-poëtiese ordetakserings nie, eerder tema-aanwysers. Die rubrisering is dus sinvol, maar dit skep tog die indruk van jarelange gedigteskryf oor baie onderwerpe wat desondanks êrens gemaak pas moet word.

Wat my destyds van T.T. Cloete opgeval het, was sy vermoë om aan sy poësie ʼn eietydse, moderne klank te gee – hy het nie geklink soos Jan F. E Celliers of Totius nie. Miskien speel die Neerlandismes ʼn groot rol in die geheelaanbod van die bundel, maar daar is ʼn onmiskenbare outydsheid aan die digterlike tongval. Dis definitief nie net die argaïese woorde (“gekeuwel”, “kassawe soos nektar uit ʼn godekelk”, “ek wil, dis my kontensie, bewys lewer van my penitensie”, “van huis en haard”, “onderonsies tussen gades”, “die Gewer lof”, “paskwil”, “sinds ek jou mis”, “ontel’bre dinge”, “wyd en syd”, ens.), nie, maar ook ʼn geval van plek-plek versifikasie en stylgrepe wat proe soos ou botter.

Al is dit ʼn begrip uit die prosa, sou ʼn mens baie gemaklik hierdie bundel kan tipeer as gemoedelik-lokale realisme. ʼn Stuitige, kleindorpse vers soos ‘Gelykberegtiging’, byvoorbeeld, word ʼn verleentheid. “Wat in die platteland ontvou” (soos dit in die gedig ‘Shakespeare’ genoem word), verkry nie die nodige universele resonansie wat die poësie eis nie. Hiervan sou ʼn mens baie voorbeelde in die bundel kon noem, met verskeie teëhangers wat in die Afrikaanse letterkunde dieselfde gedoen het, maar ʼn meer tydlose dimensie daaraan verleen het.

Daar is twee punktuasiedoodsondes in die poësie, leer mens alle voornemende digters – die ewige ellips (wat moet dui op die hartverskeurende onuitspreeklike ewighede wat liefs, genadiglik, ongesê moet bly), en die oormatige gebruik van die uitroepteken. Van Coller maak hom nie aan die eerste skuldig nie, maar maak deeglik op daarvoor met die tweede. Ek dink nie daar is ʼn bundel in Afrikaans wat meer uitroeptekens as hierdie een het nie. Die temperende hand van ʼn redakteur moes hom saggies hierin gestuit het.

Speelsheid is bepaald een van bundel se aangename attribute. Daar is dikwels ʼn skunnigheid, ʼn poëtiese boeregrap, ʼn onverwagse geilheid, maar mens kry soms die gevoel die digter weet nie mooi hoe en waar om die streep te trek nie, en derhalwe val enkele segginge uit as banaliteite. Hier kry jy wonderlike voorbeelde van vernufpoësie (wat lyk my ʼn baarmoeder gevind het by die Departement Afrikaans van die Universiteit van die Vrystaat). ʼn Afdeling van die bundel heet dan ook ‘Vernuftighede (en ʼn paar ander bose brousels)’, waarin daar verskeie uitstekende gedigte is (byvoorbeeld ‘’n Reeks wynverse’, en ‘Na aanleiding van ʼn lesing: Scenes from the Passion of the Christ‘, lomp titels ten spyt), maar van die swakste van die bundel ook (byvoorbeeld ‘’n Vers vir ʼn Afrikaanse morfoloog’, ‘Dieremaniere’ en ‘Gelykberegtiging’).

Die afdeling met die drie beeldgedigte, gegrond op die uitstekende werk van Pauline Gutter, die Bloemfonteinse skilder en beeldkunstenaar, is vir my ʼn persoonlike hoogtepunt in die bundel. Nie net is dit regtig knap gedigte nie, daar is ʼn sinergie tussen die woordtekste en die  beeldtekste. Gutter se voorblad is ook asemrowend mooi, veral omdat sy daarin slaag om die soom-konsep (in die verflae) ʼn ander dimensie laat kry (iets wat Van Coller ongelukkig nie uitbuit of verder in sy bundel ontgin nie).

Daar is ʼn afdeling getiteld ‘Diereriem’ waarin die twaalf Sodiaktekens elk poëties beslag gegee word. Maar op enkele pragtige versreëls na het die geheel my redelik onaangeraak gelaat.

Ek het bewondering vir ʼn digter wat homself opstel teen die grotes om sy eie ‘Vier sonnette by jaargetye’ te skryf. Weer is daar enkele mooi momente in die viertal gedigte, maar ʼn lees teen die grein van Louw, Opperman en Krog laat Van Coller redelik se pogings taamlik bedroë staan.

Die laaste afdeling van die bundel bevat negentien vertalings in Afrikaans van (meestal) klassieke Nederlandse sonnette. Baie van die ou gunstelinge is daar, en hoe heerlik klink die afgedrukte oorspronklike nie steeds op die oor nie. Van Coller het in sy knap vertalings Afrikaans én Nederlands ʼn enorme kultuurguns gedoen. Weinig universiteite hier te lande het enigsins nog die ouer Nederlandse lettere as deel van hulle kurrikulum. Niemand sal ooit met alle woordkeuses en semantiese interpretasies in vertalings saamstem nie, maar ek dink Van Coller het hom hiermee as ʼn rasegte vertaler bewys. Hier is juwele, soos Joost van den Vondel se ‘Rei van Maagde’ en Adriaan Roland-Holst se ‘Sonsondergang’. Dit gesê, is daar sekere tekste waarvan die vertaling nooit die plastiek van die oorspronklike teks kan ewenaar of oortref nie, byvoorbeeld Willem Kloos se ‘Avond’.

Die bundel eindig, gepas, met ‘Impasse’ die klassieke vers van Martinus Nijhoff, wat Cloete ook kreatief getranskribeer het. Dis ʼn raak vertaling, en so(o)m in ʼn sin die dilemma van die bundel raak op – hierdie digter gaan soek sy muse, en vra: “Waaroor wil jy hê moet ek skryf?” Hy vra dit, want as gesoute kenner van die literatuur kan hy amper enigiets tot poësie maak, maar dit mis ongelukkig daardie digterlike waansin, en word dikwels ʼn digterlike doodloopstraat. As die muse antwoord: “Ek weet dit nie”, skryf die digter presies dáároor. Plato se woorde word hier waar: “He who not being inspired and having no touch of madness in his soul comes to the door and thinks he will get into the temple by the help of art – he, I say, and his poetry are not admitted.”

[Laat my tog maar net ook sê – die “dit” in die slotreël is vir my erg hinderlik op Afrikaans, soos ook die foutiewe taalkonstruksie “‘n vrou en ek”, al sou ʼn mens dalk kon motiveer hoekom dit funksioneel is dat die vrou vooropgestel is.]

Die skryf van hierdie resensie was vir my besonder moeilik, miskien enersyds vanweë my groot respek vir die literator en mens, maar andersyds omdat hy in die genoemde onderhoud met Versindaba by implikasie voornemende resensente aanpraat en van hulle ʼn bepaalde leesmodus vra/eis. Hy sê: “Enige publikasie bring spanning mee en is in ʼn mate blootstellend omdat jy die werk (waaraan jy gewoonlik hard gewerk het) op ʼn sekere tydstip in die hande van resensente moet oorlaat. Met ʼn poësiebundel is dit veel erger, omdat dit meer persoonlik is. Al wat na regte van resensente verlang kan word, is dat daar deeglik en ‘objektief’ gelees word – in die sin dat poëtikale en (in die geval van teoretiese werk) teoretiese voor- en afkeure so ver as wat moontlik is ter syde gestel moet word en dat aspekte wat nie ter sprake is nie, liefs genegeer moet word. Dit sluit vriendskappe én vyandskappe in. Etiese kritiek is moeilik.” Die digter as teoretikus moet weet dat hierdie verwagting van hom onmoontlik is, veral ten opsigte van sogenaamde “objektiwiteit”. Objektiwiteit is ʼn mite – hoe jy kyk word onlosmaakbaar getint deur die pigment van jou oë en alles word met jou bestaande kennisraamwerk geïntegreer. Ook jou beoordeling van tekste is uiteraard daarvan afhanklik.

Die resensent in die kombuis moet vir Hennie vra waaroor om te skryf? Dit sal helaas die hele kreatiewe sisteem, woord en wederwoord, in ʼn impasse laat beland.

ʼn Laaste opmerking – ons verwelkom met groot waardering die uitgewer Griffel op die poësietoneel. Hul waagmoed met vorige gepubliseerde tekste, ook met hierdie een (kleurafdrukke inkluis), verdien ʼn hartlike dankie van die totale leesgemeenskap. Ook groot dank aan die Fonds Neerlandistiek en die Nederlandse Letterenfonds wat bepaald die publikasie moontlik gemaak het. Die nouer bande met ons moederland en die goue taal bring ongekende vreugde. Soos Hennie sê: In die Nederlande “lig ʼn Afrikaanse son sy kop”.

 (Resensent: Tom Gouws)

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Resensie: Soom (Hennie van Coller)”

  1. Dr. Anthea van Jaarsveld :

    Hiermee reageer ek graag op die resensie van Soom, (Hennie van Coller) deur Tom Gouws.

    Na die lees van die resensie asook die onderhoud van Andries Bezuidenhout met Hennie oor die digbundel by Versindaba, het dit my opgeval hoe Tom Gouws pens en pootjies geval het in die slaggat waarteen Hennie so vriendelik gewaarsku het. Van Coller vra juis in die onderhoud dat daar in literêre kritiek gestrewe moet word na “objektiewe” kritiek en weggestuur moet word van “poëtikale […] voor-en afkeure”.

    Dat Van Coller “objektief” in parentese plaas, dui duidelik daarop dat hy besef dat objektiwiteit in absolute terme as sodanig onmoontlik is, en bepleit hy dus daarom ‘n benadering van poëtikale relativisme, wat baie dieselfde is as kulturele relativisme. Ons beoordeel tog nie die Midddeleeue vanuit ons wêreldbeeld nie, maar op grond van hulle bepaalde opvattinge. Amanda Gouws het onlangs daarop gewys dat om Jacob Zuma se poligamie sondermeer te veroordeel neerkom op kulturele hovaardigheid; kulturele relativisme vra respek vir ander kulture. ‘n Literêre kritikus moet daarom ook ander poëtikale opvattings as sy eie kan waardeer én binne daardie paradigma (kan) beoordeel.

    In die Afrikaanse poësie is daar ‘n magdom voorbeelde van misskattinge en skewe oordele juis op grond van poëtikale vooroordele en hovaardigheid. Gedigte van Toon van den Heever het nie geval binne die nasionalistiese verwagtinge van destyds nie, die Dertigers se opvattinge het nie gestrook met dié van E.C. Pienaar en andere nie. Selfs Van Wyk Louw se Nuwe verse is deur toonaangewende kritici onderskat omdat hulle ander verwagtinge gekoester het en Louw se veranderde opvattings nie raakgelees het nie. Onlangs is Hein Viljoen se Holtrom en groot kabaal deur kritici, soos Lina Spies, in die grond geboor. Dit was eers Bernard Odendaal wat dit anders geëvalueer het, omdat hy Viljoen se poëtikale opvattings in ag geneem het.

    Gouws se resensie bevat talle aanhalings en stellings om sy opvatting van wat poësie sou wees uiteen te sit (“daardie ongevraagde rafels brute en ongeërg suiwer poësie” (sic!), “digterlike waansin”, en derglike), maar nêrens gee hy ‘n uiteensetting van byvoorbeeld “vernufspoësie” (waarbinne Van Coller se werk val) nie. Vernufspoësie maak tog dikwels staat op banaliteite, skunnighede; selfs die eskatalogiese, laat hom uit die hoogte oordeel oor gedigte wat dan “banal” sou wees. Die woord “kak” in “November” is na my gevoel op sy plek, omdat dit ‘n fel afwysing van die metafisiese paradigma is wat só sterk voorkom by Louw en Opperman.

    Dit is ‘n verdere aspek van Gouws se resensie wat steurend is. Hy vergelyk Van Coller voortdurend met Opperman, Van Wyk Louw en veral Cloete. Waarom? Omdat Van Coller ook ‘n professor is in die Afrikaanse letterkunde? Omdat hy (soos Cloete)“lank in die tand is”, soos Gouws dit beledigend stel? Na regte behoort Soom benader te word as debuutwerk, wat dit is tog wat dit is. As alle Afrikaanse digters wat religieuse poësie skryf (soos o.a. Gouws self en selfs T.T. Cloete) gemeet gaan word aan die groot religieuse digters soos Hadewych, Donne, Milton en Hopkins, wat gaan van hulle werk oorbly?

    Van Coller beskik weliswaar dalk nie oor die sogenaamde “waansin” waarvan Gouws praat nie maar volgens my wel oor die vermoë om binne ‘n selfopgelegte vorm van tug (die strak sonnet) kreatief verwagtinge te deurbreek. Dit is juis die vertalings van die sewentiende eeuse Franse sonnette wat die positiefste terugvoering verdien, omdat dit besonder moeilik is om die lang, elliptiese sinne en uiters ingewikkelde sinsbetekenisse in Afrikaans om te sit – ‘n aspek wat Gouws vanuit sy subjektiewe interpretasies en kritiek hoegenaamd nie genoeg krediet gee nie.

    Reaksies oor byvoorbeeld die opdrag voorin die bundel, en om dit so aan te bied dat dit lyk asof dit gelees sou kon word as kenmerkend van ‘n bepaalde aspek van die bundel self, word totaal onvanpas en neerhalend voorgehou (kyk maar na die woordkeuses: “gemoedelik-lokaal-realisties”, “wat proe soos ou botter”, “versies maak” en dat dit tog “oulikerig” is). Sulke persoonlike uitsprake en stelwyses plaas onmiddelik die legitimiteit en “objektiwiteit” van die hele resensie onder verdenking. Ek vind anders as Gouws die Vrystaatse beelde skalks en knap en die “Diereriem” (wat Gouws redelik onaangeraak laat) een van die hoogtepunte in die bundel.
    Wat ek ten slotte besonder vreemd vind, is dat Gouws met sy bewondering (en waarskynlike kennis) van Cloete se werk ‘n belangrike intertekstuele skakel met Cloete se werk in Van Coller se bundel miskyk. Hy bestempel naamlik die beginsin van Van Coller se vertaling van Nijhoff se gedig “Impasse” as “ongrammatikaal”. Hierdie sin is direk deur Van Coller ontleen aan Cloete se gedig “Impasse” wat ‘n “verwerking” of “voortdigting” is van Nijhoff se gelyknamige gedig .

    ‘n Kritikus wat so ‘n duidelike teken (en die vernuftige spel wat dit impliseer) miskyk, wek nie juis vertroue nie.
    Dit is nie my taak om my kollega se werk te verdedig nie, hy kan dit self doen, hoewel sy bundel dit beter doen. Maar dit grief my as ‘n uiters venynige en beledigende resensie op ‘n salwende toon aangebied word terwyl dit vanuit ‘n vooropgestelde standpunt uitgaan, (poëtikale) vooroordele vooropgestel word en dit boonop plek-plek mank gaan aan insig.

  2. Jeanette Ferreira :

    Ek was Van Coller se redakteur vir hierdie bundel. Dus beperk ek my tot Gouws se opmerking oor uitroeptekens. Gouws bring nie vir ons nuus wanneer hy dit oor ‘n oormaat uitroeptekens het nie. Enige redakteur wat sy/haar sout werd is, weet dit en sny waar daar gesny moet word. Die gevaar bestaan ook dat ‘n redakteur uitroeptekens sny wanneer ‘n uitroepteken funksioneel of essensieel is. Laasgenoemde is dus die kriterium, werklik nie hoeveel uitroeptekens daar in ander Afrikaanse digbundels voorkom nie. Origens is ‘n redakteur nie ‘n polisieman nie maar ‘n helper. Sou ‘n digter besluit om ‘n uitroepteken te behou, dan behou hy daardie uitroepteken want dit is sy/haar naam wat op die voorplat onder die titel verskyn. Dit geld ook vir ander genres.

  3. Tom Gouws :

    Beste Jeanette, ek poep nie graag vir punte nie, maar miskien moet ek tog net sê – Ek beskou jou as een van die beste manuskripredakteurs in Afrikaans. Groete, Tom

  4. Jeanette Ferreira :

    Dis oukei, Tom. Niks persoonliks nie. Net gedink dis ‘n nodige kanttekening. Gaan jou goed.