Onderhoud: Cas Vos (Weerloos lewe)

Cas Vos

 

Cas Vos gesels met Amanda Lourens oor sy jongste digbundel Weerloos lewe

Beste Cas, baie geluk met die verskyning van Weerloos lewe – reeds jou sewende bundel. Reeds tydens ‘n eerste lees kom die leser sterk onder die indruk van die diepgang van die bundel, maar ook die breë verwysingsraamwerk, eintlik selfs meer as in die vorige bundels. Wil jy dalk vir ons meer vertel oor die ontstaan van die bundel – byvoorbeeld, is die gedigte spesifiek geskryf om by mekaar in bundelverband aan te sluit, of is hulle later in ‘n bundelgeorganiseer? Was daar bepaalde prikkels vir die ontstaan van die bundel?

Baie dankie Amanda, ek waardeer gelukwensing opreg. Sewe is ‘n voltal. Die getal van voltooidheid. Met die bundel wou ek ‘n digsiklus afrond. Juis suggereer die slotgedig voltooidheid.
Ek wou van die oer(oor)sprong af met die bundel begin. My oogmerk was om digterlik na te dink oor die begin van alles. Genesis beteken geboorte. Die oorsprongsverhale het my nog altyd gefassineer. Die vraag waarmee die mens in hierdie wêreld aanland, is: Waar kom ek vandaan? Waar kom die wêreld vandaan? Hieroor het ek my nog altyd verwonder. Daar is natuurlik ‘n swetterjoel antwoorde. Dis soos wildeganse wat opvlieg. Die natuurwetenskap, die teologie, die filosofie en die mens wat sonder akademiese sorge leef, vra hierdie vrae. Daar is in Genesis twee skeppingsverhale wat deur verskillende outeurs geskryf is. Ek het die twee verhale in een verhaal laat versmelt. Hoe en waarom is ‘n uitdaging aan die leser om te ontdek.
Uit hierdie ontstaan het die bundel spontaan gegroei. Die een moment na die ander het hieruit gekom. Dis was soos branders wat op die strand uitspoel. Daar was ‘n wit patroon. Die begin moet na die einde (?) loop. Skepping is in die Antieke wêreld deur onder andere die daad (eerste gedig) en die woord (slotgedig) beskryf. Ek maak ook van die siening van die skepping gebruik.

Die bundeltitel is intrigerend, en nog meer so wanneer dit saam met die motto (Lucebert se reël “[a]lles van waarde is weerloos”) gelees word. Die verhouding tussen titel en motto is dan besonder interessant – is die titel ontleen aan Lucebert se reël, of is dit moontlik die geval dat die titel en motto eerder in ‘n simbiose verkeer?

Nadat die bundel ‘n patroon gevorm het, het die titel asof vanself gekom. Weerloos lewe. Lucebert se reël het later bygekom. Juis omdat dit, soos jy sê, ‘n simbiose vorm. Die motto het met die skip gekom. ‘n Vriend, prof. Niek Schuman, ‘n Renaissance-geleerde, wat byna alle denkbare en ondenkbare tale praat, lees en skryf, het die motto terloops per e-pos gestuur nadat ek die titel aan hom berig het. Die klem is op weerloos lewe en tog voeg Lucebert tereg by dat dit nie sinloos hoef te wees nie.

In die kort bekendstelling van die bundel op Versindaba (http://versindaba.co.za/publikasies/) word die stelling gemaak dat die “digter … met deernis na die weerloses en kwesbares” kyk.  My vraag is of die bundel wel ‘n perspektief bied op weerloosheid in hierdie sin, en of ‘n bepaalde lewensingesteldheid, ‘n wyse van omgaan met die menslike wêreld, eerder verwoord word? (Ek sou wou redeneer: Indien alles van waarde weerloos is, sal ‘n weerlose lewe dan ook waardevol wees.) 

Eintlik wil ek graag die leser deel van die lewensreis maak. Die leser moet die lewe só ervaar en ontdek. Dit gaan om ‘n lewensingesteldheid, ‘n lewensuitkyk, ‘n lewensinsig en -uitsig. Meer nog: dit gaan om weerloos as deel van menswees. Daar is ‘n spanning en paradoks tussen weerloos en waardevol. Wie lewe sê weerloos, kwesbaar, wondbaar. Ons leef tussen eina en amen. Daarom mag en kan ons nie op weerloos neersien nie. Saam met Van Wyk Louw wil ek sê:

mooi is die lewe
en die dood is mooi.

In aansluiting by die vorige vraag: Johann de Lange het in sy 2009-onderhoud met jou oor Intieme afwesige reeds gewys op die rol wat jou bundels se omslae as sleutels vervul. Dink jy dat dit steeds geldig is ten opsigte van Weerloos lewe? En is dit van belang dat ‘n enkele figuur op die omslag van die nuwe bundel afgebeeld word?

Vir my is die voorblad nie net om aandag van die oog te trek nie, maar dit vorm ‘n integrale deel van die bundel. Dit is as’t ware die eerste gedig. Dit is die sleutel wat die huis oopmaak. Lida het die foto in ‘n tydskrif gesien en dadelik gesê: dis die een! Martjie het die fotograaf opgespoor, maar die foto was spoorloos. Izak het meer as twintig foto’s geneem. Die een op die voorblad wat Awie geneem het, was die naaste aan die oorspronklike, maar dit is in wese dieselfde. Die enkel figuur, alleen, is op pad. Die mens word as eenling gebore en sal so sterf. Dit is ‘n donker figuur. Dit is nogal ‘n kode in die bundel. In die eerste gedig kom die spel met donker en lig aan die orde. Dis ook die gang van die bundel. Die enkeling loop met verlange en heimwee in die leegte, die oopte en die ruimte. In die verte is daar vaagweg onder mis bedek, bome, lewe. Alles lyk mistig. Dit maak die figuur met sy rug na ons toe nog meer weerloos en kwesbaar. En tog is daar die hoop omdat die son, die lig sal deurbreek en die mis sal laat wegraak.

Die bundel se struktuur is opvallend deurdat daar agt afdelings is (“Uit chaos”,” Wat is die mens?”, “Sacrificium”, “Ballingskap”, “Heimwee”, “Doodspoor”, “Daglig” en “Woordlig”), maar veral omdat die afdelings semanties aan mekaar geskakel is in die sin dat dit byna voorkom asof daar sprake is van beweging, van ‘n reis. Sou dit korrek wees om die bundel se organisasie só te interpreteer?

Amanda, jy is in die kol. Dit gaan om ‘n lewensreis met al die moontlike ervaringe van vreugde en verdriet; in een woord weerloosheid.  Alles kom uit chaos en word tot kosmos. Wat is die mens? Hierop kom die antwoord: ‘n swerwer, ‘n dienaar, maar ook ‘n moordenaar. Hy leef van die sewe wonders van sy lewe, al sy kortstondige dae. Dit het jy voortreflik in jou blog bespreek. Soms word hy oorval deur eensaamheid; bly hy “manalleen tuis.” Die mens se bestaan staan ook in die teken van sacrificium. In hierdie afdeling is verlies die spilpunt van alles. Die seun offer in sy puberteit sy seksualiteit op om “in die sakristie / ‘n wonderwerk ” uit te galm. Twee instrumente uit die Antieke wêreld gee uiting aan die vrou se verdriet. Die derde een laat die oorlogstriomf weerklink. Vir ‘n blinde musikant is snare sy lig in die nag. Die “Volstruis”-gedig is ‘n voorloper van Babel se ondergang. Maar eers moet die ballingskap waar God swyg en afwesig bly, ervaar word. Die ballingskap word ook eietyds toespits op die mens se weerloosheid. Dan breek die jubels ná die ballingskap uit, en beef harte “van verrukking.”
Die reis na die tuiste toe, Ithaka toe, word deur “Heimwee” verdig. Selfs die gode swig voor die liefde van ‘n vrou. Hiervan is Zeus ‘n toonbeeld. 

“Kom, laat ons ons in die liefde verlustig,
nog nooit het die liefde vir ‘n vrou
my hart só oorstroom en versadig nie.” 

Die Odusseia word meestal ten onregte as ‘n reis beskryf. Natuurlik gaan dit om ‘n reis, maar die reis word gedryf deur heimwee. Tydens die reis is daar die gevaar van die oermonsters, Skilla en Charibdis. 

Hou jou bewende hart vas en vlug,
eendag skenk roosvingerdaeraad lig.
Dan keer die donker na haar spelonk terug
en jy en jou manne asem Ithaka se blou lug.

Die reis word gedra deur heimwee.

Bly trou aan jou heimwee
en weef drome in die nag.

Die volgende fase op die lewensreis, is “Doodspoor”. Al kom die mens tuis, kan hy die doodspoor nie ontsnap. Selfs drome verskiet in die niet. Die dood is op die mens wat weerloos lewe se spoor. Dit word in ‘n gesprek met die dood aangetoon. 

my liggaam is vol letsels
die merktekens van my pyn
onthou dit as jy my lewe opeis

Die weerlose bestaan speel tussen lewe en dood af. En tog is daar die vooruitsig van “die dag wanneer die grafnate oop sal skeur.”
‘n Weerlose lewe word deur doodsmagting en -fnuiking omspan. Binne dié spanning leef die mens tot die dood die oorhand kry. Die vrou moet soms met mans wat “soos vlieë ‘n oorlas” is, rekening hou. Hulle laat haar maklik in die steek, en sy bly weerloos en alleen in die donker agter. In “Naggedig” word die mens se lewensbedreiging verdig totdat engele haar “soos ‘n donsveer lig.” Die afdeling eindig met “die dood, getroue skaduwee / wat laaste lag.”  
In die bundel is daar ‘n beweging van donker na lig. Dit word op verskillende vlakke aangedui. Die liefde, die natuur (die see), en wat oorbly is “herinnering / lig en genadig soos ‘n gedig.” Eie aan die grote Mozart se musiek is die beweging van donker na lig en dan weer terug. In die gedig “Van donker na lig”, maak God korte mette van die dood.
Die spanning tussen donker en lig tril deur die ganse bundel. Daarom eindig Weerloos lewe met “Woordlig”. Die woord is ‘n hamer (in gesprek met D.J. Opperman en N.P. Van Wyk Louw) en die digter is die kneg van die woord. Die digter word as weerloos en kruppel geteken. En tog stem hy met sy gedigte “ons harte / op klank en simfonie” in. Die gedig is ‘n amulet teen verweer en weerloosheid; ‘n lig in die nag. Inclucio is ‘n tegniek in die Hebreeuse digkuns, veral die Psalms. Die begin en einde van ‘n gedig omarm mekaar. In Weerloos lewe word die tegniek gebruik. Vanuit die chaos waaruit die aarde tril tot “waar hemel en aarde versoen: / lam en leeu lê in vrede saam.”

Die eerste afdeling (“Uit chaos”) gaan duidelik om met die Genesis-gegewe, ook die Eden-motief van skuld en berou, maar die haas argetipiese tema van die soeke na die geliefde kom sterk na vore in die tweede gedig (“Op hulle bed soek sy hand …”).  Dit is veral die laaste twee reëls van hierdie gedig wat boei: “In die skans van liefde sal / hul mekaar onvoltooid onthou”.  Kan hierdie slot moontlik gelees word as om verband te hou met die gedagte van liefde as soeke, maar ook skepping, maar dan ontoereikende skepping? (Die reëls “bedwelmd voel hy / die polsing van drif / soos die eerste lig” het my op hierdie spoor geplaas.)

Ja, Amanda. Dit is ‘n fyn lees van die gedig. Liefde is en bly ‘n soeke tot by die sterre. Ook die liefde is onvolmaak, onvoltooid, kwesbaar, weerloos. En dit binne ‘n ontoereikende skepping. Hier is niks volmaak nie. Alles is in raaisels gehul. En tog is daar “die eerste lig” wat deurbreek.

Die laaste gedig (“Waar is God?”) in die eerste afdeling is ‘n lieflik kompakte en gestroopte gedig, en dalk juis om daardie rede besonder aangrypend:

God roep
in my verbeelding
en ek sien gesigte.

Ek volg sonder vind
in die maan se lig
sy dowwe spore.

In die donker waar Hy
tussen sterre skuil,
sterf sy eggo’s weg.

In watter mate is hierdie gedig belangrik vir die ontsluiting van die res van die bundel, en veral die gedigte waarin die verhouding tussen die mens en die goddelike ter sprake kom?

Dis een van die sleutelkodes in die bundel.
God roep in my verbeelding. God is nie soos by Feuerbach ‘n maaksel van my verbeelding nie. Hy roep, maar ek sien Hom net in gesigte. Ek volg Hom wel, maar sonder vind. Al wat ek vind, is sy dowwe spore. Hy is wel daar, maar skuil tussen sterre. Ek kan Hom nie vasgryp of in my greep kry nie. Hy is onvatbaar,onbereikbaar. Ek hoor wel sy eggo’s wegsterf. Die gedig is ‘n sleutel vir talle gedigte wat volg. Dit bied, in Derrida se woorde, betekenisspore na die res van die bundel.’n Belangrike gedig in die verband is “Uitkyk”. Ons leef ‘n geslote lewensbeskouing wat deur filosowe soos Descartes, Hume, Locke, Nietzsche en Derrida getint is.

In ‘n geslote wêreld-
beeld begrens die rede,
oë, hande, voete en gevoel
ons uitsiglose uit-
kyk op die lewe.
Alles is dig, selfs
god bly dood-
gerus op die solder
bestrooi met vergetelheid
en die laaste dae se stof.

Maar daar is ook die poreuse wêreldbeeld wat deur die filosoof Charles Taylor gemunt is. 

In ‘n poreuse wêreld-
beeld glip ‘n engel
geruisloos
asof deur ‘n venster-
skreef, raak onverhoeds
aan my vinger.
Ek sien vonke dans
glansend.

Dis die verwondering oor die misterie.

Cas, wat is jou gunstelinggedig in die bundel en waarom?

Amanda, dis eintlik onmoontlik om een uit te sonder. Al die gedigte het hulle blyplek in die huis van gedigte. Maar as ek moes, sou ek “Ver anderkant die maan” aanwys. Die gedig omvat ‘n ganse weerlose lewe met al sy seisoene. En natuurlik omdat Dawid Minnaar dit so aangrypend voorgelees het.
  

Ver anderkant die maan
  
Van ver anderkant die maan
waar sterre soos juwele skitter
en ou geeste ronddwaal, 
fluister jy snags in my drome,
verloor ek my in jou spreuke,
sny jy vir my gerwe vol stories
oor uitgestrekte jare en seisoene.
Jy vertel ook van die wit stiltes
wat jou in der ewigheid omring.
Ek bedel dat jy langer by my bly
om ons lewe weer soos ou geld
van kruis na munt om te draai.

Die lente van ons lewe was kort,
ryk aan koestering, vrug-
baar en gereed vir ontvangenis.
In die somer het die son gekyk
hoe ons mekaar se lywe bestryk
en saans het die maan versadig
op die donker water gedobber. 
Herfstyd het die bome se blare
‘n geel tapyt in skaduwees gelê
en ons het versigtig daarop geloop.
Maar die winter het bytend
op ons toegeslaan.
Ons het mekaar styf vasgehou
toe siekte jou liggaam gesloop
en pyn se vlamme jou geskroei het.

Nou voel ek hoe windvlae met drif
in donker dae oor my neersif,
onthou ek jou laaste woorde
wat wegsterf soos slotakkoorde – 
dis tyd om in te pak vir mý reis
na daar ver anderkant die maan.

Amanda, baie dankie vir die voorreg om aan ‘n gesprek met jou deel te neem. Jy het die gesprek deur jou diepgaande vrae laat vloei en die bundel help ontsluit.

  

Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.  In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007 en  Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009. Duskant die donker/Before it darkens, ‘n keur met vertalings deur Leon de Kock verskyn by Protea Boekhuis in 2011.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud: Cas Vos (Weerloos lewe)”

  1. Louis Pienaar :

    Baie insiggewende onderhoud met ‘n baie talentvolle digter, gee die poësieliefhebber ‘n vinnige blik in die digter se gedagtegang en ook oor die ontstaan en betekenis van sy nuutste digbundel.