Digstring: Joan Hambidge. “The drama of being a child”

 

The drama of being a child

 

As jong kind bekoor die reuke
van die somerse veld my veral.
Die dam met stilstaande water,
biesies in die vlei en paddavissies spartelend,
kwakende paddas, selfs ‘n slang onder ‘n klip,
glimwurms, grassade en giftige vrugte,
onthou ek helder soos ‘n gedroogde boekmerk
in My Bybel skeefgedruk by Jesaja.
“Oppas vir Bilharzia”, sou my ma maan.
Bo-op die berg was daar ‘n halfgeboude huis
met ‘n sementpad en ‘n Toegang verbode-bordjie.
Die huis is nooit voltooi nie; niemand weet waarom nie.
Nie toe nie en ook nie nou nie.
Daardie huis, daardie onvoltooide huis,
sou my later agtervolg. In Málaga
raak ek aan die growwe sement, skrik
vir ‘n draad; die somerson ‘n briesende koperkapel.
Ook die dam met verrottende water soek my op
in ‘n droom: vasgevang tussen daardie biesies,
roep ek om hulp, wyl water oor ‘n afgrond stort.
Hoe breekbaar en skrynend is die geheue nie.
Reuke soos smake is sigbaar, skryf Neruda iewers.
‘n Klein pampoentjie op my tong sing steeds
van dit wat wild en onveilig en onstuimig-vreemd proe.

© Joan Hambidge (Uit: Lot se vrou, 2012: Human & Rousseau)

 

Joan, wanneer het jy die gedig geskryf? Hoe het dit ontstaan?

Die gedig het onstaan tydens die skryfproses van Lot se vrou, twee jaar gelede. Maar ek glo soos Opperman dat die ontstaan van ‘n gedig moeilik bepaalbaar is. Hierdie gedig is geskryf na die lees van Alice Miller se The drama of being a child en my worsteling met jeugervarings. Dit is egter duidelik dat die gedig reeds in my gemoed begin vorm aanneem het toe ek as jong kind dikwels avonture onderneem het soos die besoek aan ‘n ongeboude huis op die berg in Pretoria waar dit ‘n verbode terrein was. Die jong kind wat egter reeds ondersoek instel, die ma wat waarsku teen gevare en Neruda wat dan vanuit ‘n agterna-perspektief die gedig “orden”. Ek het ook hierdie gedig, in ‘n aangepaste vorm, voorgelees vir KykNet met beeldmateriaal. Ek het dit toe verander na Zanzibar, omdat ek lieflike foto’s gehad het wat by die gedig gepas het. Ek lees die vers voor en die beelde “verduidelik” die gedig. Daardie huis “agtervolg” my dan soos  wat my jeug my in my digkuns bly besoek. Dit vind ‘n mens eweneens in Pablo Neruda se digkuns.

Kon jy die bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit het deur verskillende weergawes gegaan. Emosioneel in die onbewuste; daarna deur sowat ses weergawes.

Hoeveel van die vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Om gedigte te skryf is nie “wroeg en sweet” nie. Om ‘n gedig te herskryf, is wonderlik. Ek het nou onlangs vir vier weke lang geswoeg aan ‘n gedig “Meditasie, siekte” en uiteindelik is ek nog nie tevrede met die vers nie.

Ek droom my gedigte dikwels. Hierom het ek altyd ‘n notaboek by my en ek het eenkeer op ‘n bus tussen Israel en Egipte in die donker nag selfs ‘n gedig op my Nokia E71 geskryf. Dit was dus dieselfde as om dit op ‘n rekenaar te doen. Ek skryf altyd ‘n vers met die hand sodat ek die gedig kan sien – daarna herdig ek dit. Afwerking is die moeilikste deel van die digkuns.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die ordeningsbeginsel was om Neruda se siening (Reuke soos smake is sigbaar, skryf Neruda iewers.) as meta-kommentaar te gebruik en die werklike gevaar waaraan die spreker blootgestel word, is die seksuele: die soeke daarna wat gevaar inhou. Die gevaarlike liefde van die eensgesindes.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan In vers werk?

My klankbord is my vriend De Lange en hierdie gedig is “getoets” in ‘n klas van kreatiewe digters wat onder my studeer en een van my studente, ‘n puik digter, het my weer bewus gemaak van die belang van Alice Miller wat ‘n mens dwing om te treur oor jou jeug en die uniekheid van jou jeug te (h)erken. Want volgens haar is dit wat jou beskerm teen die lewe.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers het sowat twee jaar lank tussen manuskripte geswerf en het verskyn in beeldvorm op Kyknet en dan in Lot se vrou.

Kan jy ietsie se oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in die vers?

Dit verwys na my werklike jeug, ‘n werklike reis na Spanje toe ek Málaga (in 1995) besoek het, die lees van Miller, die lees van Neruda (via Uys Krige in Spaanse dans) wat dan in een vorm tot stand kom toe ek reg was vir die gedig. Dis verskillende ervarings wat saamgevoeg of gefabriseer word … Hoe dit gekom het: ek is in my jeug terug gedonder  met ‘n uitnodiging na ‘n matriekreünie en dit het my so ontstig dat ek die bundel aangepak het om iets van my “displaced” jeug onder woorde te bring.

Kan jy kortliks se waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die terugkeer na die jeug en om daardie pynlike en intense ervarings konkreet te vergestalt. Digkuns werk by uitnemendheid met die gebruik van konkrete beelde -Die Bybel (die religieuse), huis (die self), die water (onbewuste), die klein pampoentjie (die seksuele) om die “unheimliche” uit te beeld. Die gedig aktiveer ook ‘n droom van gevaar – hierom die verrottende water wat ek kan ontkom deur gedigte te skryf. Jung het beweer die onbewuste is ‘n pedantiese simbolis en as jy nie na jou drome luister nie, kan dit gevaar inhou. Ek het na my droom gekyk en die “verrottende water” van my jeug aangespreek.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skilderv) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van die betrokke vers gelei het?

Alice Miller se studies: The drama of being a child en al haar ander studies. Die sub-titel heet: The search for the true self. Dit was die kernteks, saam met Žižek se The pervert’s guide to the cinema en hoe ons emosies “konstrueer”. Natuurlik dan ook Jung en altyd ander digters. Hier dan veral Pablo Neruda.

Het jy In bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan In vers werk?

Die Ideale Leser is die liefhebber van die gedig waarin die konkrete beelde ‘n abstraksie of abstrakte gedagte so goed oordra dat die balans presies reg is. Die leser wat hou van ‘n eerlike vers wat jou laat nadink, treur en beter voel, Want die gedig moet ook op ‘n manier ‘n emosionele oplossing bied.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dalk meer emosioneel? Ek het diep en ver ingegaan …

Is daar iets in die vers wat jy as tipies “Suid- Afrikaans” sal beskou?

Bilharzia! Grassade, glimwurms, giftige plante.

Kon jy die vers tot In bevredigende punt  afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

‘n Gedig is nooit “afgehandel” nie. ‘n Gedig is vir my afgehandel wanneer ek binne ‘n bepaalde siklus dit voltooi. Ek worstel met ‘n psigiese of intellektuele probleem wat ek met ‘n gedig oplos. A.P. Grove het my indertyd hierop gewys. Ek kyk nooit meewarig terug na my verse van ‘n jonger digter nie. Ek weet presies waar ek was en hoekom ek dit so geskryf het. ‘n Mens word met die jare tegnies flinker – die jonger digter se broosheid en “oopheid” is wel ook aantreklik.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek meen so.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nag die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Toe ek ‘n jong kind was – “Die verlange passer vannag in my” – daarvoor het ek ‘n paar rand gewen in ‘n wedstryd in Die Vaderland van toentertyd. As jong kind het ek al ‘n intense binne-Iewe gehad. En met Lot se vrou val alles presies in plek …

 

© Joan Hambidge 7 Mei 2012

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.