Andries Bezuidenhout. My troue moedertaal

Czesław Miłosz se gedig “My Faithful Mother Tongue” (“Moja wierna mowo” in Pools) is een van daardie gedigte wat ek elke nou en dan weer wil lees. In my kop gaan dit saam met Breyten Breytenbach se “Septembersee” – gedigte oor exile. Miłosz het hierdie een in 1968 in Berkeley geskryf, ʼn jaar voor ek gebore is. Hier is my tentatiewe poging om dit in Afrikaans te sê:

Troue moedertaal
nog altyd dien ek jou.
Saans het ek klein kommetjies kleur aan jou opgedien
sodat jy jou bloekom, jou kriek, jou vink kan geniet
soos in my geheue bewaar.

Dit het jare geduur.
Jy was my geboortegrond, geen ander had ek nodig nie.
Ook het ek geglo jy sou ʼn boodskapper wees
tussen my en ʼn gerf goeie mense
al was hulle min, twintig, tien
of nog nie gebore nie.

Nou bely ek vertwyfeling.
Soms voel dit of my lewe verspil is.
Want jy’s die taal van verwaandes,
van onredelikes wat hulself selfs meer
as ander volke haat,
ʼn taal van verklikkers,
ʼn taal van verwardes,
van hul eie onskuld naar.

Maar wie is ek sonder jou?
Slegs ʼn kenner in ʼn verre land,
ʼn sukses, sonder vrees of verkleinering.
Ja, wie’s ek sonder jou?
Net nog ʼn filosoof, soos al die ander.

Ek begryp, hierdie is ter stigting bedoel,
die roem van indiwidualiteit gestroop,
Voorspoed l
ê
ʼn rooi tapyt
voor die sondaar in ʼn spel van moraliteit
met flikkerings van menslike en heilige marteling
as towerlanternskadu teen ʼn agtergrond van linne.

Troue moedertaal,
miskien is dit ten einde laas ek wat jou moet red.
Dus hou ek aan om kommetjies kleur te bedien
helder en suiwer, indien moontlik,
want waarna rampspoed vra is ʼn bietjie orde en skoonheid.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. My troue moedertaal”

  1. Desmond :

    My Miłosz Selected Poems is al voos gelees; en hierdie gedig was nog altyd ‘n gunsteling. Ek hou baie van jou vertaling. Dankie!

  2. Dankie Desmond! Daardie beeld van die rooi tapyt met agtergrondbeelde van marteling in die gedig is aangrypend. Ek het bietjie liberties gevat (bv. “bloekom” vir “birch” en “verwaandes” vir “debased”), maar ek voel ‘n mens moet iets van die klankpatrone van die Poolse weergawe ook kan weergee. Die Poolse een moes ek op die web soek; dis jammer die “Selected Poems” het nie die oorspronklike gedigte ook nie – alhoewel dit dan seker te dik vir die omslag sou wees.

  3. Desmond :

    Andries, benewens die klankpatroon is “bloekom” en “verwaandes” vir ‘n paar ander redes (as mens die gedig nou oor Afrikaans en nie net in Afrikaans nie wil laat sing) ook goeie keuses. Mens sou, in pleks van “verwaandes”, seker ook “verlooptes” kon gebruik. Dit sal mooi aansluit by die motief van exile. Nee, dan moet mens ook ‘onredelikes’ verander, en dit gaan nie werk nie. Die Miłosz wat by begrafinis gelees moet word is die een (nou nie oor ek dink ‘n profeet is nie, maar oor die flawed gedeelte…):

    A Confession (1985)

    My Lord, I loved strawberry jam
    And the dark sweetness of a woman’s body.
    Also well-chilled vodka, herring in olive oil,
    Scents, of cinnamon, of cloves.
    So what kind of prophet am I? Why should the spirit
    Have visited such a man? Many others
    Were justly called, and trustworthy.
    Who would have trusted me? For they saw
    How I empty glasses, throw myself on food,
    And glance greedily at the waitress’s neck.
    Flawed and aware of it. Desiring greatness,
    Able to recognise greatness wherever it is,
    And yet not quite, only in part, clairvoyant,
    I knew what was left for smaller men like me:
    A feast of brief hopes, a rally of the proud,
    A tournament of hunchbacks, literature.

  4. Sela! Nou’s ek sommer lus vir ontbyt. Deense sild op boerbrood en lemmetjiesap met suikerriet uit Lamu.

  5. Desmond :

    Ek het bedoel om bo te skryf: “Die Miłosz wat by my begrafinis gelees moet word.” Ek sien nou ek het die “my” uitgelaat… Hmmm, en ek het gedink ek het al vrede gemaak met my sterflikheid!! 😉