Digstring: Cas Vos. Uitkyk

Uitkyk

Vir Gerben

 

In ‘n geslote wêreld-

beeld begrens die rede,

oë, hande, voete en gevoel

ons uitsiglose uit-

kyk op die lewe.

Alles is dig, selfs

god bly dood-

gerus op die solder

bestrooi met vergetelheid

en die laaste dae se stof.

 

In ‘n poreuse wêreld-

beeld glip ‘n engel

geruisloos

asof deur ‘n venster-

skreef, raak onverhoeds

aan my vinger.

Ek sien vonke dans

glansend.

 

***

 

Cas, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek en Lida was in Maart 2011 saam met ons Nederlandse vriende, Gerben en Lientje Heitink, by Buffelspoort vir ʼn naweek. Gerben en Leintje se aangenome seun, Alfred, wat by die Universiteit in Neijmegen gewerk het, is ʼn paar maande tevore dood nadat sy valskerm nie oopgegaan het nie. Hulle het ons besoek as deel van die verwerking van die ramp. Ons is al jare vriende. Ek het die Vrije Universiteit van Amsterdam dikwels besoek en deur Gerben se bemiddeling ʼn besondere band en werksverhouding met die Departement Praktiese Teologie en die Fakulteit Teologie opgebou. Ek beskou Gerben as een van die uitstaande internasionale teoloë in die wêreld. Die Universiteit van Pretoria het ook al ʼn eredoktorsgraad aan hom toegeken.

Ons het ure aan die murg van woorde gesuig. Daar is oor die misterie van lewe en dood nagedink. Gerben het my ingelig oor die filosofie van Charles Taylor. Die gesprekke het my gefassineer. Ná ons verblyf in Buffelspoort het ek Taylor se werke begin lees. Dis veral sy siening van die “poreuse wêreldbeeld” wat my geboei het. Gerben se boek, Golfslag van de tijd, het in Augustus 2011 verskyn. Ek het die gedig kort na hulle vertrek aan hom gestuur. Dit is ook aan hom opgedra. Hy het dit in sy boek opgeneem. Die boek, met ʼn groot oplaag, is binne drie maande uitverkoop. ʼn Tweede oplaag het reeds sy opwagting gemaak. Die boek is ook vir ʼn gesogte prys genomineer. Gerben noem in ʼn e-pos aan my dat daar in byna elke resensie na die gedig verwys word. Hieroor is ek en hy dankbaar.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit een van daardie gedigte wat net gebeur het. Ek het die konsep op Buffelspoort gekry en by die huis die gedig opgeteken. Ek het later ʼn enkele woord verander. Amper soos Johannes op Patmos, hoewel ek alles behalwe Johannes is.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die hele gedig is deur die gesprek tussen my en Gerben gebore. Wel, geboorte is ʼn geskenk.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek het die twee wêreldbeskouings (geslote en poreus) as fokus van die gedig gebruik. Dis waarom die gedig en die lewe draai. Daarvoor is twee strofes nodig.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Dit is Gerben se gedig. Hy het my die poëtiese moontlikhede tydens die gesprek laat sien. Dit is daardie “blink” moment waarvan Malcolm Gladwell praat.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit het eers in Gerben se boek (2011) verskyn en daarna in my bundel, Weerloos lewe (2012).

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die gedig het beslis ʼn filosofiese grondslag. Hoe dink ons oor die wêreld waarin ons lewe? D.J. Opperman en N.P. van Wyk Louw het verskil oor die rol van filosofie in die poësie. Vir Opperman het die filosofie die konkrete beeld ondermyn, maar nie vir Van Wyk Louw nie. Toe Van Wyk Louw op 18 Junie 1970 dood is, was Opperman die oggend laat vir sy klas. Met weemoed het hy aangekondig dat N.P. van Wyk Louw dood is. En toe dié merkwaardige woorde: “Seker ons gróótste.” Ek vind soos Van Wyk Louw die filosofie nie ʼn bedreiging nie, maar ʼn kyk na die mens en die wêreld rondom ons.    

Die teenstelling “feit” of “fiksie” geld nie vir die gedig nie. Dit gaan om ʼn werklike beskouing wat elke mens oor die lewe nahou of terughou.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit gaan om twee lewens- en wêreldbeskouings wat mekaar nie hoef uit te sluit nie. Behalwe as die geslote beskouing geen voorsiening vir die poreuse beskouing laat nie. ʼn Geslote lewens- en wêreldbeskouing berus onder andere op die filosofie van René Descartes, Karl Popper, Jürgen Habermas (die rede),  John Locke en David Hume (die empiriese, dit wat ʼn mens kan waarneem), Friedrich Nietszche (die nihilisme) en Jacques Derrida (dekonstruksie). In dié siening is alles “dig”. Selfs god bly doodgerus op die solder van vergetelheid. En daar vergaar net stof van die laaste dae.

Natuurlik moet ons as redelike en emosionele wesens met ons rasionele, sigbare en tasbare werklikheid rekening hou, maar daar is meer as net dit. Daar is ook ʼn poreuse lewens- en wêreldbeskouing. Die gedig volg in die tweede strofe dié pad van Charles Taylor. In die siening is daar sprake van die koms van ʼn engel wat aan ons vingers raak. Dan is daar vonke wat glansend dans. Dit is net meer as wat ons kan sien en ervaar. En dié wonder lei tot verwondering. 

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot stand koming van dié betrokke vers gelei het?

Gerben Heitink se insigte en Charles Taylor se filosofie. Dis al. 

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Meestal gaan dit oor ʼn konsep wat tot ʼn gedig groei. Ek het byvoorbeeld drie gedigte aan die briljante internis en kardioloog James Ker opgedra. Dit het  gevolg uit mediese konsepte wat hy aan my, sy leerling, verduidelik het. Wanneer dit ʼn gedig geword het, moet hy dit nagaan of dit medies korrek is. Netnou verwar ek die hart met die long! Soms het ʼn gedig ʼn bepaalde persoon of gebeure in die oog. In Weerloos lewe, is Dae vol herfs ʼn voorbeeld van ʼn liefdesgedig wat aan Lida opgedra is.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Die filosofiese grondslag maak dit anders en betrek alle mense.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, dat dit in Afrikaans is en met mense van ons dag hier en nou praat.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek is dankbaar oor die vers. Ek wil dit nie anders hê nie.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja, in ʼn besondere mate. Veral deur die resensies van Gerben se boek. Talle lesers het al na die vers verwys as ʼn gedig wat ʼn nuwe insig ontsluit.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Onthou is ʼn probleem! Tog kan ek. Ek was in standerd agt. Die vers is in die skool se jaarblad opgeneem en my Afrikaanse onderwysers het my aangemoedig om aan te hou skryf. En ek het!

 

(c) Cas Vos, 8 Mei 2012

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.