Resensie: Ingeboek (Karen Kuhn)

Gedigte lei tot ‘n wêreld sonder slot : Ingeboek – Karen Kuhn (2012), Kaapstad: Griffel

Resensent: Heilna du Plooy
Noordwes-Universiteit
Potchefstroom

Omslag

Omslag

Ingeboek is Karen Kuhn se debuutbundel. Op die buiteblad van die bundel verskyn daar op die voorkant ‘n vorm wat gedeeltelik ingevul is. Die skrywer se naam staan in gewone handskrif geskryf en by ID Nommer staan daar INGEBOEK, die titel van die bundel asof dit met ‘n stempel afgedruk is. Die ander kategorieë in die vraelys of vorm dui onder meer op mediese sake deurdat “Mediese fonds”, en “Medikasie” gevra word, maar daar is ook algemene kategorieë soos “Kwalifikasies”, “Paspoortnommer”, “Gewig ” en “Bagasie”. By die kategorie van “Beroep” is “Beroep” doodgetrek en daar staan:

Ek skryf
want dit is waar
ek gewoon
stil kan bly wees

Dit blyk dus dat die die skrywer sigself sien as iemand wat ingeboek is in die skryfbedryf. Daar word ook reeds hier op die buiteblad ‘n verband gelê tussen skryf en ‘n siektetoestand, maar hierdie toestand is die beroep waarin die skrywer “stil kan bly wees” wat onmiddellik die siektetoestand kwalifiseer. Die digter is “ingeboek” in ‘n kliniek, sy het haarself “gesertifiseer” maar daar is wel ‘n weg uit die siektetoestand.

Die oorgelewerdheid aan die taal, woorde en die bedryf van skryf is ‘n gedagte wat versterk word deur die motto uit die werk van C.G. Jung naamlik “Words are animals, alive with a will of their own”.

Die bundel word gestruktureer deur ‘n reeks vierreëllige verse wat telkens sonder titel op ‘n linkerkantste bladsy afgedruk staan en die gedigte wat direk daarna volg, saambind tot by die volgende soortgelyke kort vers. Hierdie verse het almal dieselfde struktuur en in elkeen kom die reël “Kom boek hier in” voor, maar dit is telkens gerig aan iemand met ‘n bepaalde soort gekweldheid. Die eerste vers lui:

Met jou, wat onrustig jaag
om net tydelik te ontsnap, is ek.
Kom boek hier in
hier is geen kettings nie. (p. 4)

Daarna volg ‘n uitnodiging aan onder meer diegene wat “wat nie op die voorblad van ‘n glanstydskrif pryk nie” (p. 12), “wie se verwagting altyd op ‘n miskraam van illusie uitloop” (p. 28), ‘wat skaamkry voor God” (p. 38) tot by die slotvers : “Kom boek/ Self in/ sonder slot…” (p. 53). Hierdie verse wat as belangrike merkers aangebied word, beeld ‘n tweeledigheid uit deurdat gekweldheid sowel as die bevryding (al is dit net tydelik) wat in woorde opgesluit lê, aan die orde gestel word.

In die gedigte self kom dieselfde twee pole voor. In die eerste gedig word die digter beskryf as iemand wat in die senuweekliniek DENMAR opgeneem is, maar wat ook daaruit ontsnap. Deur die metafoorgebruik wat weeerskante toe werk, word die siektebelewenis in ‘n meer of minder realistiese sin en die metaforiese suggestie dat skryf soos ‘n geestelike aantasting is met mekaar in verband gebring: skryf en siekwees is tegelykertyd waaroor dit gaan. Maar hierdie metaforiek hou ook in die twee pole van siekwees en gesondword, gevangenskap (in ‘n kliniek of siektetoestand sowel as in die woordwêreld) en ontsnapping (uit die hospitaal en uit die werklikheid in die taal in). Soos die buiteblad se inskripsie suggereer, is dit wanneer die digter alleen is wat sy stil en bly is met die woorde, maar daar is wel in al die gedigte in hierdie eerste afdeling verwysings na psigiese ongesteldheid en terapie. Daar is “die terapiesessie”, die kliniek waaruit daar op “parool” gegaan word, verwysings na ongesonde honger en dors, na verslawing en ontvlugting. Die laaste gedig sluit af met die reëls: “Totdat … ek aan myself/ die bitter pil van woorde:/ Face it voorskryf”. Die onderliggende verhaal van die verse gaan dus oor siekwees, behandeling, ontvlugting en uiteindelike opneem van eie verantwoordelikheid, maar die proses is onlosmaaklik verbonde aan die skryfhandeling. Skryf, woorde en gedigte is deel van die diagnose en die terapie, en die prosesse word sowel fisies as skryfmatig voltrek.

In ‘n afdeling waarvan die inleidende vers verwys na die een “wat al die een oproep gekry/ het om dood aan te kondig” is daar verskeie gedigte oor ‘n ouma, aan wie die bundel trouens ook opgedra is. In hierdie vers staan “hier praat die dooies ons lewend” waarin in die omgekeerde verhouding die lewendes se lewe in terme van woorde van die dooies betekenis kry. In hierdie gedigte is daar herhaaldelike verwysings na godsdiens, wat enersyds met die herinnering en erfenis van die ouma verband hou, maar ook vir die digter self betekenisvol is en word. Trouens regdeur die bundel kom daar subtiele verwysings na God voor en wel op ‘n natuurlik geïntegreerde wyse asof dit deel van die natuurlike verwysingsraamwerk van die digter is (veral in die groep gedigte vanaf p. 38).

Die bundel gaan oor ontnugtering, oor die kind wat haar ma se aftakeling gadeslaan, die jong vrou wat haar ouma aan die dood afstaan en wat in die liefde ontnugter word. Al hierdie dinge is vir die digter soos beperkinge en grense wat opgehef kan word in woorde en gedigte. Sy oordeel nie, want sy was self daar: “Met jou, wat skaamkry voor God/ oor al jou boosheid, is ek.” In die wêreld van die woorde en gedigte is daar “geen kettings” nie, “geen skaal” nie, “geen “doeane” en geen “hofsaal” nie. Dit is die wêreld van taal en letterkunde wat aan die digter ontvlugting en troos bied. In ‘n vers wat intertekstueel die werk van ander Afrikaanse skrywers soos Van Wyk Louw, Cussons en W.E.G. Louw oproep staan:

Lees is die plektrum
waarmee ek verse
se alleenspraak pluk.

Kniel net stil in ekstase
voor die asems
van my taal.

Dit is asof deur die bundel ‘n verhaal vertel word, naamlik dat die taal en die gedig kan óóp maak, dat dit lei tot ‘n wêreld wat sonder slot is. Dit behels ook, soos uit verskeie gedigte blyk, dat die digter kan lees en verryk word uit alle tale en plekke. Daar kom dus herstel en in die genesingsproses speel die poësie, die eie werk en die werk van ander, ‘n belangrike rol.

Die gedigte is eenvoudig en direk geskryf en wen daardeur aan oortuiging en aantreklikheid. In geheel beskou, is die verse egter taamlik enkellynig terwyl die metaforiek ook nogal voorspelbaar is. Dit is duidelik dat die bundel gedra word deur ‘n eie interne ontwikkeling wat hoofsaaklik tematies van aard is: selfondersoek, soek na nuwe weë van dink en lewe in die soeke na genesing en transformasie.  Maar die direktheid en helderheid van segging, die onopgesmuktheid en pretensieloosheid is wel ‘n groot bate waarop die digter verder kan voortbou en ontwikkel.

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.