André Pretorius. Wordsworth en die Mere

 

Wordsworth en die Mere

Grasmere, Cumbria, April 2012

‘n Voetpad slinger berg-op van die oewer van Buttermere na die piek van Haystacks.  “Piek” is half vrypostig: dié heuwel se beskeie 597m bo seespieël sal kwalik ‘n selfrespekterende bergklimmer se pols laat jaag.  Die voetpad bied eerder ‘n gesinstaptog – ek het Daniel se 10 maande (en 10 kilogram) in die “rugsak” op my rug – van ses ure.
Hoe hoër jy klim, selfs na hierdie beskeie hoogte, hoe oper die vergesigte van valleie en kruine, mere en bergpoele, rûe, hange geklee in brandsiek patrone van lentegroen, roesbruin heide en die vuilgeel van steekbrem, strome wat kabbel en tuimel in watervalletjies sonder naam of getal, afgeleë en afgewitte plaashuise in die valleie, teksture – die vloeibare goud van die laatmiddagson op ‘n meer, die kroes van dennebosse teen ‘n heuwelhang, die grys oneweredigheid van granietkranse -droë klipmure wat kronkel oor die kontoere as ‘n menslike verlengstuk van die natuurlike geografie, in die verte die Ierse See en die Isle of Man, wolke wat rusteloos rol in ‘n veranderlike uitspansel – dan eensaam in die blou lug, dan weer dig gepak in ‘n grou hemel.
  Dit is ‘n landskap tegelyk wild en beheers – wild wanneer ‘n yswind skielik hier deur die nekke dwarrel en jy omring is deur pieke tóé onder die strooisuiker van laasnag se lentesneeu; beheers wanneer jy besef elk van daardie newelagtige kruine het ‘n naam.  Elk is benoem – Scafell Pike, Great Gable, Kirk Fell, High Crag en tallose ander – in ‘n daad van besitneming en heerskappy, soos Adam met die diere van die Paradys.
Die Haystacks-roete en sy uitsigte is swanger met ‘n digterlikheid wat teruggryp na een van die grootste Engelse natuurdigters van hulle almal: hierdie is immers die vleeswording van “the fall of rivers, winds and seas, / Smooth fields, white sheets of water, and pure sky” wat William Wordsworth hom verbeel in sy sonnet To Sleep.
  En in daardie sneeu op die hoogste pieke eggo die eerste reëls van nog ‘n sonnet, November 1, 1815:

How clear, how keen, how marvellously bright
The effluence from yon distant mountain’s head,
Which strewn with snow as smooth as heaven can shed,
Shines like another sun…

  Wordsworth is in 1770 in die dorpie Cockermouth net noord van hier gebore en het sy lang lewe feitlik uitsluitlik in hierdie valleie geslyt: tussen 1799 en 1808 by Dove Cottage naby die dorpie Grasmere aan die oewer van die gelyknamige meer, en daarna tot en met sy dood in Ryland, tussen Grasmere en Windermere.  In 1850 is hy in die kerkhof van St. Oswald’s in Grasmere ter ruste gelê, langs sy vrou, Mary, en sy suster, Dorothy.
Die digter se spore het Grasmere omskep in een van daardie Engelse dorpies wat bestaan alleen om die pelgrims van ‘n reputasie gedienstig te wees: ‘n handvol hotelle en gastehuise, ‘n paar alte-liefies teewinkeltjies, twee of drie buitelewewinkels, en ‘n beknopte kothuiswinkeltjie langs St. Oswald’s waar ‘n span vrouens in ouderwetse wit voorskote en kappies die beroemdste gemmerbrood in Engeland bak.
  En tog, hierdie Ye Olde England voorkoms ten spyt, is daar aan Wordsworth se laaste rusplek iets van daardie tydloosheid wat soms onder die oppervlak van massatoerisme op hierdie eiland oorleef.  Vermaarde ou taksusbome troon donker in die kerkhoffie wat knus in ‘n boog van die Rothay-rivier lê waar hy sluimer onderweg na die meer.  St. Oswald’s se 13e eeuse oorsprong is deur eeue van “opknapping” versluier, maar hy word bewaak deur ‘n erewag van grysleikliphuisies.  Die sagte pienk waas van ‘n kersieboom se lentebloeisels verlig die somberheid van ‘n muisgrou dag, en berg en meer omsluit die toneel.
‘n Entjie se stap anderkant die teerpad (wat lank ná Wordsworth se tyd gekom het) wink ‘n klein afgewitte twee-verdieping huisie langs ‘n stil straatjie: Dove Cottage.  In hierdie weergalose literêre pelgrimsoord oorleef die besittings en gees van Wordsworth se verblyf tydens die produktiefste dekade van sy loopbaan.  En nie alleen van Wordsworth nie, maar van ‘n rolverdeling van die Romantiek op hierdie eiland: die Skotse romansier, sir Walter Scott, het in 1805 hier oorgebly, en so ook die Engelse skrywer Thomas de Quincey (hy van The Confessions of an English Opium Eater) in 1807.  Die Wordsworths se goeie vriend, Samuel Taylor Coleridge, was ‘n gereelde besoeker.
  Die huis dateer uit die 17de eeu en voordat die Wordsworths dit in 1799 betrek het, was dit ‘n pub, die Dove & Olive.  Ná hulle vertrek na Rydal Mount was De Quincey vir 26 jaar die huurder van Dove Cottage.  Die huisie is haas onveranderd, met ‘n steil tuintjie wat voor die agterdeur teen ‘n effense hang oprys.  Eens sou die voorkamer ‘n uitsig gebied het op die kalm water van Grasmere, maar die Victorianers het ‘n ry huise opgerig wat die uitsig versper.
  Andersins is die huisie feitlik onaangetas deur die verloop twee eeue: die onderste vertrekke het steeds die donker houtpanele en vloerstene van die ou pub en ‘n tasbare gevoel van die teenwoordigheid van die Wordsworths en hulle gaste.  In die beknopte ingangsportaal hang ‘n skildery van Wordsworth se terriër, ‘n geskenk van sir Walter Scott, wat met dié brakke geteel het.  ‘n Uitstalkas op die tweede verdieping is ‘n horing van oorvloed met die intieme relieke van die Engelse Romantici: daar is Wordsworth se klein, ronde brilletjie, soos ‘n 19e eeuse John Lennon, en die opiumskaal wat De Quincey gebruik het om sy Romantiese dwelm uit te meet.
  Deesdae dreun die toerbusse van ons era van ongebreidelde massatoerisme tussen die mere wat eens net toeganklik was met wandelstok of perdekar.  Wordsworth het die koms van toerisme na hierdie beeldskone hoek van Engeland verwens, maar hyself was ook ‘n bron en argitek daarvan.
  In 1810 is sy Guide to the Lakes gepubliseer – die jongste heruitgawe pryk steeds op die rakke van elke Mere-dorp se boekwinkel – as ‘n “Companion for the Minds of Persons of taste, and feeling for Landscape“.  Teen die einde van sy dekade in Dove Cottage was Wordsworth so ‘n gesiene figuur dat besoekers hierheen gekom het juis om die Digter van die Mere te sien.
  Om die drukker verkeer van akoliete en nuuskieriges te hanteer, het Wordsworth en sy huismense in 1813 na die imposanter Rydal Mount verhuis.  Die huis troon steeds op ‘n effense hoogtetjie bo die dorpie, omgeef deur ‘n tuin wat deur die digter en sy vrou self uitgelê is.  In die portaal hang ‘n gelid gelamineerde gidsblaaie in ‘n twee dosyn tale, insluitend een in Afrikaans.  Ek vra die opsigter uit daarna.  Dit is die kurator, sê sy, wat self met sy gesin in die geskiedkundige huis woon: hy is Suid-Afrikaans en tans met verlof, verduidelik sy, en gee my Peter Elkington se besigheidskaartjie.
Ten spyte van sy veel langer verblyf hier, is die eggo’s van Wordsworth se teenwoordigheid by Rydal Mount dowwer as by Dove Cottage.  Dit is ‘n meer konvensionele museum: borsbeelde, skilderye, eerste uitgawes van sy werke en kopieë van sy korrespondensie in glaskaste.  Dove Cottage is soos om die digter met sy wandelstok op ‘n voetpad langs die meer raak te loop; Rydal Mount is soos om sy spoor in ‘n modderige voetpad te kry.
  Tog is hier ook roerende herinneringe aan hierdie huislikste digter, die gesinsman met sy oog netsoveel op sy tuin as op die landskap van die Mere.  Deur die venster van sy solderstudeerkamer glinster die water van Windermere deur ‘n opening tussen die heuwels.  Dit het hom beweeg om te skryf:

Soft as a cloud is yon blue Ridge – the Mere
Seems firm as solid crystal, breathless, clear,
And motionless; and, to the gazer’s eye,
Deeper than ocean, in the immensity
Of its vague mountains and unreal sky!
But, from the process of that still retreat,
Turn to minuter changes at our feet;
Observe how dewy Twilight has withdrawn
The crowds of daisies from the shaven lawn,
And has restored to view its tender green,
That, while the sun rode high, was lost
  Beneath their dazzling sheen.

  Anderkant daardie “shaven lawn” tuimel die helling weg van ‘n lae houtheining in ‘n lappie aarde bekend as “Dora’s Field”.  Toe die bejaarde digter se sieklike dogter, Dora, in 1847 op 43 oorlede is, het hy – die groot digter van die Mere se natuurskoon – ‘n natuurmonument vir haar opgerig: hy en Mary het hierdie helling toegeplant met wilde affodilbolle.  Die twee bejaardes se blom herinnering aan hul geliefde dogter is tegelyk so broos soos ‘n stuifmeeldraad en duursamer as graniet: dit bloei steeds elke jaar in die lente, ‘n monument aan ‘n sterfte wat vlietend herleef in die seisoen van nuwe lewe.
  Maar ons is te laat vir Dora se affodille: die opbloei van die lente is verby en al wat roer in die bries is die groen blare van die uitgeblomde bolle.
  Die driehoek waarin Ryland Mount geleë is – rofweg tussen die drie mere van Grasmere, Windermere en Ullswater – is die hart van “Wordsworth se Mere”.  Ons koers suidoos in die rigting van Windermere, maar voor ons daar kom draai ons links af op ‘n smal paadjie in die rigting van Ullswater.  Die paadjie word die Kirkstone-pas, ‘n weg-wêreld roete hoog deur die kaal rûe van die fells– die woord vir hierdie heuwels, afgelei van oud-Noors – met alleen fell-skape en hier en daar ‘n toringvalk as geselskap.
The Pass of Kirkstone and the descent from it are very impressive,” het Wordsworth in sy Guide geskryf, en aan die einde daarvan lê Ullswater, “perhaps, upon the whole, the happiest combination of beauty and grandeur, which any of the Lakes affords“. 
  Aan die oewer van hierdie meer vind ons opnuut ‘n eggo van Wordsworth in die gedaante van ‘n lappie uitgeblomde affodille.  Die omstreke van Glencoyne-baai aan die suidwestelike oewer van Ullswater het Wordsworth se digterspen meer as een keer geroer.  Drie keer het hy gedig oor die Mere se bekendste waterval, Aira Force, wat ‘n entjie van die meer in ‘n smal ravyn tuimel, insluitend in The Somnambulist:

List, ye who pass by Lyulph’s Tower
At eve; how softly then
Doth Aira-force, that torrent hoarse,
Speak from the woody glen!
Fit music for a solemn vale!
 

Dove Cottage

Dove Cottage

Maar dit was nie Aira Force wat Wordsworth se bekendste gedig ingegee het nie, dit was die nabygeleë lappie land wat deesdae tussen die teerpad en die meer ingewig lê.  Hier het die digter en sy suster, Dorothy, op 15 April 1802 aangedoen op pad terug na Dove Cottage.  Dorothy het die insident in haar Grasmere Journal opgeteken: “When we were in the woods beyond Gowbarrow Park, we saw a few daffodils close to the water side. We fancied that the lake had floated the seed ashore and that the little colony had so sprung up. But as we went along there were more and more and at last under the boughs of the trees, we saw that there was a long belt of them along the shore, about the breadth of a country turnpike road. I never saw daffodils so beautiful they grew among the mossy stones about and about them, some rested their heads upon these stones as on a pillow for weariness and the rest tossed and reeled and danced and seemed as if they verily laughed with the wind that blew upon them over the lake, they looked so gay ever dancing ever changing.
  Daardie plaat affodille groei steeds aan die meer se oewer, maar ook hier was hulle tyd vir vanjaar verby en net enkeles se geel gesiggies het nog saam met die wind gelag.  Tog was daar in hierdie toneel ‘n roerende eggo van Wordsworth se bekendste gedig, want ‘n paar jaar ná sy suster die affodille van Glencoyne-baai in haar joernaal besing het, het William hulle in sy gewildste gedig in herinnering geroep:

I wandered lonely as a cloud
That floats on high o’er vales and hills,
When all at once I saw a crowd,
A host, of golden daffodils;
Beside the lake, beneath the trees,
Fluttering and dancing in the breeze.

Continuous as the stars that shine
And twinkle on the milky way,
They stretched in never-ending line
Along the margin of a bay:
Ten thousand saw I at a glance,
Tossing their heads in sprightly dance.

The waves beside them danced; but they
Out-did the sparkling waves in glee:
A poet could not but be gay,
In such a jocund company:
I gazed – and gazed -but little thought
What wealth the show to me had brought:

For oft, when on my couch I lie
In vacant or in pensive mood,
They flash upon that inward eye
Which is the bliss of solitude;
And then my heart with pleasure fills,
And dances with the daffodils.
 

   Oomblikke van verruklikheid, van brose, verganklike skoonheid, soos dié wat hierdie gedig onderlê, is steeds te vinde in die Mere.  En om hulle teë te kom, is soos om ‘n volmaakte koeplet raak te lees.
Soos wanneer die sonlig na ‘n gedempte, omgesukkelde dag skielik wonderwerklik deur die wolke val en die heuwels klee in ‘n juweelagtige klaarheid – ‘n edelgesteente van ‘n oomblik wat die landskap se palet vernuwe en in nuwe fasette onthul.  Of die delikate geel satyn van ‘n klos affodille – hulle is nog nie almal uitgeblom nie – teen die growwe, leikleurige tekstuur van ‘n klipmuur.  Of die uitsig van hoog teen Haystacks op verre groen hange waar skape wei in lukrake patrone, soos wit miere.  Of die blik van Catbells se hang op die glinstering van Derwentwater met die skemer kolle van sy beboste eilandjies waarheen heilige kluisenaars en gevalle aristokrate deur die eeue om die beurt uitgewyk het.  Of die dartelende, bruisende gesang van die stroompie onder die hobbelbruggie by Ashness en die uitgelate goue jubeling van steekbrem – gorse vir die Engelsman – wat die kloustrofobiese hemel uitdaag.  When the gorse is out of bloom, kissing is out of season, lui ‘n Engelse spreuk, want die plant blom heeljaar – maar nooit met soveel uitbundigheid as in hierdie lenteseisoen nie.
  Of die digterlikheid waarmee die klipkerkie van St. Bega in die middagsonnetjie hurk tussen die hang van Skiddaw en die waters van Bassenthwaite-meer.  Een van Wordsworth se opvolgers as koningin Victoria se hofdigter, Alfred, Lord Tennyson, het die inspirasie vir die vroeë reëls van sy gedig Morte d’Arthur in hierdie toneel gevind:

a chapel nigh the field,
A broken chancel with a broken cross,
That stood on a dark strait of barren land.
On one side lay the Ocean, and on one
Lay a great water, and the moon was full.

 En tussen hierdie tonele van skoonheid, die patrone, is die ritmes van die lewe.  St. Bega staan in die weiland tussen die beskeie herehuis van Mirehouse en die meer.  Hy word bewaak deur twee dosyn slippedraers van verweerde grafstene – die mosbegroeide laaste mylpale van lewens deur die eeue in hierdie landskap.  In die kerkie self – ‘n klein, intieme bidplek van afgewitte binnemure, muwwe houtbankies en helder brandglas – is die plaaslike priester besig om ‘n verloofde paartjie voor te berei vir hulle huwelikseremonie.  Die bruidspaar is jonk en verleë tussen hulle twee families en strooijonkers en bruidsmeisies.  Ongemaklike kwinkslae klink op uit die groepie van seker so vyftien, terwyl die priester beduie wie moet waar sit en staan en hoe die diens gaan verloop.
  Later kom ons buite, in die golwende weiding tussen herehuis en meer, ‘n familie teë wat ‘n Paasfees-verwante eierspel van hierdie omstreke speel: drie geslagte gooi gekookte eiers met ‘n boog na ‘n teiken op die sagte weigras – ‘n soort boules.  Alom wei skaapooie, party nog swaar dragtig, party met een of twee lompe lammertjies agter hulle spene aan.  ‘n Klein seuntjie – ons s’n – kruip vervaard en vergeefs agter ‘n ooi-en-lammetjie aan op sy eie ontdekkingstog deur die lewe.
So speel die rites van die lewe hulle af, elk so broos, so verganklik, soos ‘n affodil in die lente.  Die landskap van die Meredistrik is ‘n tydlose agterdoek vir hierdie tydgebonde dramatjies en dit is asof die vastigheid van daardie landskap die vlietende oomblik belig en verskerp.  Geen skrywer het ‘n nouer band met hierdie landskap gehad as Wordsworth nie en een van die vreugdes van sy digkuns is sy vernuf om in die tydlose landskap en ritmes van die seisoene betekenis vir die hiér en nou te sien en oop te skryf.  Op ‘n wyse wat self vry staan van die bande van tyd – om my te laat sien soos hy twee eeue gelede gesien het, en self saam met my te kyk. 

Wordsworth se graf in Grasmere

Wordsworth se graf in Grasmere

 

© André Pretorius
Grasmere
April 2012

Bookmark and Share

Comments are closed.