Andries Bezuidenhout. Die spoed waarteen bloekoms groei

My vriendin Hanné vra of ek ʼn skildery van haar skool sal maak – ʼn sandsteengebou in die Vrystaat, naby Warden. Sy stuur foto’s met ʼn nota:

toe ek hierdie geneem het, het ek nog baie min van fotografie geweet. en deur die jare het die foto’s al gefade. ek weet nie of hier enigiets is wat vir jou sal werk nie. miskien moet ek maar net beter foto’s gaan neem. of as jy voor my daar verbygaan (oos-vrystaat, tussen warden en bethlehem), kan jy, as jy wil.

 

 

Sanddraai plaasskool, foto deur Hanné Koster

Sanddraai plaasskool, foto deur Hanné Koster

Ek het al musiek geskryf as opdragwerke, maar nog nie die verfkwas op hierdie manier opgeneem nie. Dis juis hoe ek Hanné ontmoet het – ʼn musikale opdragwerk. Ons het saam aan ʼn program met die titel “Die liedjies wat ons ken” gewerk. Bekende musikante en ek is gevra om tradisionele Afrikaanse liedere oor te skryf. As straf moes ek “Bobbejaan klim die berg” aandurf. Die eindproduk was ʼn lang relaas oor die bobbejaan as brandwag wat wens dat mense nooit hulle hande van die aarde af opgelig het en begin vuurmaak het nie. Hanné het ʼn musiekvideo vir die eindproduk gemaak, wat op KykNet uitgesaai is.

Pad na die plaasskool en bloekoms, foto deur Hanné Koster

Pad na die plaasskool en bloekoms, foto deur Hanné Koster

Die foto’s van Hanné se skool is pragtig. Bleek Vrystaatse lug. Die lig op die gras is ook mooi. Die standsteengebou is vanuit verskillende hoeke afgeneem. Ek hou van die roesdak. Ek gaan na my gebruiklike fotoateljee en laat die foto’s uitdruk – lekker groot. Foto’s op ʼn skerm sukkel as jy moet verf. Soms wil jy verf op die foto smeer om kleure te vergelyk.

Ek kies een van die foto’s as model. Ek neem aan die opdrag gaan nie net oor die gebou nie, maar ook oor die landskap. Ek kies een waar ʼn mens die gebou mooi kan sien, maar ook ʼn idee van die omgewing kry. Hoe voel dit daar? Hoe voel dit daar as jy ʼn kind is? Jy ken die stof goed, want dit sit aan jou voete vas. Het Hanné skool toe geloop? Ek werk aan eerste rowwe buitelyne. Ek hou van die bloekoms in die agtergrond, asook die sinkdak. Ek verf meer detail in. Vir die voorgrond verf ek buitelyne en skaduwees.

Eerste rowwe skets

Eerste rowwe skets

Ek werk tot laat een Saterdagaand om die voorgrond in te vul, maar sukkel – veral met hoe lig op die gras val. Is dit oggend? Is dit middag? Op die foto sit die son redelik hoog, maar die gebou se een kant is geheel en al in skaduwee gehul. Ek gebruik gereeld foto’s van landskappe as modelle vir skilderye, maar dis meestal foto’s wat ek self geneem het. Ek het dan ʼn gevoel vir die plek. Ek wonder oor hoe Hanné die skool onthou. Die skildery gaan in haar huis hang.

Volgende weergawe

Volgende weergawe

Die Sondagoggend na ʼn hele Saterdag se gespook voor die doek besluit ek om Warden toe te ry. Ek bel Hanné, wat in die Kaap woon. Sy verduidelik hoe om daar te kom. Ry van Warden af Bethlehem toe. ʼn Paar kilometer buite die dorp is die Sanddraai grondpad. Volg dit vir lank, dan vind jy die skool op linkerkant. Of was dit nou regterkant?

Ek pak die uitdrukke van die foto’s in. N2 Durban se rigting, draai by Warden af. Dit begin herfs word. Rooigras, ek dink aan Dolf van Niekerk se boek Die son struikel. Ek ry eers verby die afdraai. Stuur ʼn sms vir Hanné, maar vind dit dan. Kosmos langs die grondpad, droë mielielande, rooivinke. Na ʼn hele paar plase sien ek die gebou. Eintlik eers die bome, hoe hulle op die landskap gerangskik staan.

Alles is nie pluis nie. Eerstens, daar’s boom wat nie op die foto’s is nie. Tweedens, die skoolgebou se dak is weg.

Sanddraai plaasskool in 2012

Sanddraai plaasskool in 2012

Oor die dak is ek nie verras nie. Ek het dit so half verwag. Maar ʼn hele boom? Ek kyk versigtig na die foto wat ek as model gebruik. Reg langs een van die sandsteen heiningstutte staan ʼn massiewe bloekomboom wat nie op die foto is nie. Hoe lank terug is Hanné se foto’s geneem?

Die skool in 1991

Die skool in 1991

Die skool in 2012

Die skool in 2012

Ek neem ʼn hele paar foto’s van my eie van die omgewing. Probeer Hanné se foto’s se skote herhaal. Dit lyk asof ons toevallig dieselfde tyd van die dag daar was. Die skaduwee op die gebou lyk dieselfde. Laat oggend, dus. Agter die skoolgebou is nou ʼn tipe kamp waar die boer hooibale bêre. Een van die bome is dood, ʼn ander het bygekom. Al die bome is veel groter, ook die bome ver op die horison. Ek voel aan die gras, probeer ʼn gevoel vir tekstuur kry. Snuif die lug. Nou raak jy heel belaglik, Andries. Olieverf ruik soos olieverf.

Die skool se binnekant in 2012

Die skool se binnekant in 2012

Bel later vir Hanné. Die foto’s wat sy gestuur het, is in Januarie 1991 geneem. Dit blyk te wys dat bloekombome nogal vinnig groei.

Ek dink ek is nou klaar met die skildery. Ek hoop daar’s iets van Hanné se plaasskool daarin, of immers hoe sy dit onthou. Om aan die skildery te werk het baie vir my beteken, my baie laat nadink – oor onderwys, leiklippe, landskappe, hoe vinnig bome groei en dakke verweer.

Sanddraai plaasskool, die skildery

Sanddraai plaasskool, die skildery

Miskien sit daar ʼn liriek of gedig in, oor die spoed waarteen bloekoms groei.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die spoed waarteen bloekoms groei”

  1. Marlise :

    Sommer baie mooi Andries! Ek hou veral van die oker en geel kleure in die landskappe, die bruine. Dis ‘n interessante vertelling. So waar ook as mens self die foto geneem het, dan roep dit die gevoel van daardie dag op.

  2. Ek kom ook van daardie deel van die Vrystaat af, en hierdie foto’s – en skilderye – laat my baie terugverlang. Kan amper die gras ruik, dankie.

  3. Johann :

    Mooi resultaat. Die kontras tussen julle foto’s gee iets weer van die aard van geheue. Uiteindelik is wat mens onthou ‘n soort lapwerk, laswerk, & dit gebeur in meer as net die skamele vier dimensies. Ek lees nou Karel Schoeman (ek is ‘n laat-bekeerling) & is deurdrenk van sy landskappe.

  4. nikita :

    Hierdie skooltjie smeek vir ‘n gedig!