Digstring: Brief aan Ebba (René Bohnen)

 

Brief aan Ebba

 

nou is hierdie is my laaste faks aan jou

voor my foon afgesny word

en my verkoopte huis

agterbly

met arms vol bosveldbome

en die blou asem van ʼn wolklose dam

 

ek het alreeds ons wildepou

agtergelaat

 

ek het hadedas en kwêvoëls versaak

 

blousysies wat op bakke saad leer vertrou het

sal vergeefs opdaag

en rooibiskoppies sal die lente inwy

sonder my

 

ek het

my rug gekeer

op visvangers en vleiloeries

 

in my kar geklim waar olyflysters wei

 

weggery

van tiptolle en kraalogies

wat al mak was vir my

 

begin bestuur in die rigting

van ʼn vreemde adres

anderkant die krokodilrivier

 

met een laaste terugkyk was daar ʼn

stilte

op die waterkant

en oopgespreide vlerke van ʼn rietkormorant

 

© René Bohnen (Uit : In die niks alom, 2011 : Lapa Uitgewers)

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, René? Hoe het dit ontstaan?

In die winter van 2002 het ek met baie kort kennisgewing verhuis, alles was vreeslik deurmekaar en die vragte admin rondom die trek het my bietjie oorweldig. Fakse was toe nog vir baie mense die voorkeur vir kommunikasie, bo die internet en ek het die gedig in ʼn sakboekie geskryf terwyl ek op die mat in die leë huis gesit en wag het vir iemand om sleutels by my te kom haal.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?                 

Hierdie gedig is vinnig afgerond.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?                                                                                                                        

Díe gedig was ʼn geskenk. Dit is in een lang asemteug geskryf. Twee of drie woorde is verander en een of twee herhalings is uitgehaal. Strofe-indeling en reëlbreuke is al waarmee ek eintlik rondgespeel het, maar uiteindelik verskil die finale weergawe van die gedig baie min van die oorspronklike “draft”.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?                                                                              

Hierdie vers was eintlik bewussynstroom wat ek bloot toegelaat het. Ek kan wel die innerlike gewaarwording onthou toe die eerste voël in die vers verskyn en ek besef het ek moet maar net die deur oopmaak sodat die voëls in die reëls kan kom sit net waar hulle wil. Ek het dus meer dopgehou as georden terwyl die gedig gebeur.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n  vers werk?                                                                                                                             

Ek het die gedig aan ʼn vriendin gefaks en daaruit is die titel gebore. My mede-studente het ook kommentaar gelewer. Ek skryf gewoonlik eers klaar voordat ek verse wys en kommentaar vra.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?                                                                                                   

Tien jaar het verloop voordat die vers opgeneem is in my tweede bundel, in die niks al om. Ek het die vers al verskeie kere voorgelees by poësiegeleenthede en kunstefeeste.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?                           

Die vers lyk vir my heeltemal feitelik te wees, alhoewel ietwat  geteleskopeer. Die laaste strofe is ʼn verbeelde oomblik, ek het die rietkormorant soveel kere vantevore gesien en ek het die emosionele lading daarvan net verplaas na die “laaste terugkyk”. Die impak van hierdie verbeelde oomblik is egter so sterk dat dit vir my werklik voel en ek dit as ʼn feit ervaar. Boonop het ek al dikwels die gewaarwording gehad dat tyd stilstaan terwyl ek die kormorant dophou; dat dit die laaste oomblik van my aardse bestaan is en dat die oomblik vir ewig aanhou.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?                                    

Die spreker beeld haarself uit as die verraaier van voëls en as mislukte versorger.  Sy is vasgevang in die “vryheid” van gedwonge verhuising. Gevoelens van verlies word aan die voëls toegeskryf en die leser verstaan dat dit projeksie van die ek-spreker is. Dit is vir my interessant dat die onbewuste soveel ordening kan toepas wat die digter agterna bloot hoef te ontleed. Ek sien die voëls in hierdie vers as dubbelsinnige simbole van vryheid.  Dit tree in gesprek met die geykte aanname dat vlerke vryheid verteenwoordig en dat voëls kan trek.  

Uiteindelik is daar vir my net een wat nie vasgevang is in die bevrore oomblik nie en dit is die Ebba wat klaarblyklik die brief (en by implikasie die gedig) lees. Hierdie gedagte sluit aan by my oortuiging dat ʼn leser eintlik ʼn gedig voltooi deur dit met elke lees te laat leef. Ek hoop dat die leser vir ʼn oomblik bereid is om “Ebba” te wees.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?                                                                       

Dis die vreemdste ding: toe ek die eerste keer die gedig gelees het, nadat ek dit in so  ʼn bietjie van ʼn waas geskryf het, het ek die musiek van Ennio Morricone uit die fliek The Mission gehoor speel in my kop.  Die kormorant wat met sy oopgespreide vlerke bo die water sit het  nog altyd vir my gelyk soos iemand met ʼn toga of ʼn monikkekleed, iemand wat dalk ʼn seën uitspreek, maar ek voel altyd ʼn gevaar ook aan,  miskien omdat die vlerke so donker is. Het ek die kormorant en The Mission lank voor die tyd al onbewustelik aan mekaar gekoppel gehad sodat dit bloot na bo gedryf het tydens die skryf van hierdie gedig? Ek weet nie. Ek is doodgelukkig om dit ook nooit uit te pluis nie.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Gewoonlik nie, nee.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?                                         

Dit is een van die enkele gedigte wat in ʼn voltooide vorm aan my gegee is.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?                        

Dit is vir my suiwer Suid-Afrikaans, die inheemse voëls en bome anker dit. Die enigste uitheemse element is die pou. Maar daaroor is veel te sê en dit is ʼn hele subtema op sy eie.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek is tevrede dat hierdie gedig daarin slaag om ʼn oomblik vas te vang wat nou vir my verby is en ek sal nie daaraan verander nie. Die gedig mag dalk nie perfek wees nie, maar dit staan.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?        

Dit maak my gelukkig dat hierdie gedig goed ontvang word deur uiteenlopende mense – soms deur  ʼn bejaarde in ʼn stads-ouetehuis wat weemoedig raak oor die natuur en die voëls, soms omdat ʼn jongmens die vlakke van beelding wil ondersoek en soms omdat ʼn persoon kennis dra van wat elke voël beteken as totem. Alle gedigte vervul nie alle funksies nie, maar hierdie vers het my al baie onverwagse vreugde verskaf. Dit is baie maklik om te lees en dit is maklik verteerbaar.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?                        

Eerste ooit geskryf? Nee, ek onthou nie dat daar ʼn vóór en ʼn ná was nie, dit voel soos een lang vloeiende beweging. Eerste gepubliseer, was op die ouderdom van sewe of agt, ʼn gediggie oor ʼn wurm. Ek kan net die titel onthou, die versie is verlore en dis seker goed so. Party dinge moet liewer net herinneringe bly.  

*** 

 Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Digstring: Brief aan Ebba (René Bohnen)”

  1. Everline van Dyk :

    Dankie, René! Hoe goed onthou ek nie!

  2. Marie Bredenkamp :

    Hoe heerlik koppel ek nie die laaste gedeelte van die onderhoud/vrae (en jou antwoord) aan Pablo Neruda se ‘Poetry’ nie:
    “And it was at that age… Poetry arrived
    in search of me, I don’t know, I don’t know where it came from, from winter or a river..'”