Onderhoud met Clinton V. du Plessis

 

  

‘n Kwerekwere in die Townships van die Taal?

Robert J Pearce (RJP) in gesprek met Clinton V du Plessis (CVdP) – 25 Mei 2012

 

Clinton V.  du Plessis – Biografiese Skets

Gebore op die destydse spoorwegdorpie, Cookhouse. Kom uit ‘n werkersklas-agtergrond, min aanvanklike blootstelling aan boeke, behalwe vir Republikeinse Pers se foto-verhale! Toe ek later  in dorpe kom met biblioteke het ek my voorliefde vir boeke, en dan veral die Afrikaanse letterkunde, ontdek. Ek het reeds ses dig- en twee kortverhaalbundels gepubliseer. Na die einde van die jaar verskyn Spoorloos – ek noem dit “Essays, mymeringe en kantaantekeninge.” As ek my nie met woorde besig hou nie, maak ek ‘n lewe uit syfers, as rekenmeester.

(RJP): Jou nuwe bundel – self uitgegee, getiteld: “Flitse“- hoekom juis die Titel? Vertel bietjie meer van die inhoud van Flitse

omslag

omslag

(CVdP): Flitse is ontleen aan D J Opperman se gedig, Man met flits. Die gaan oor die digter as Woordgod. Die skepper wat vergeefs probeer sin soek in ‘n samelewing waarin die aanbod van onbruikbare informasie en menings so oorweldigend is. Die gedigte is kort, in die trant van twitter-boodskappe. Die nuwe sosiale netwerkgenerasie se briewe in bottels wat miljoene per dag die kuber-oseaan ingestuur word.

(RJP): Self uitgee vs. die Gevestigde Uitgewers: Jy het al uitgegee onder “Gatsakgedigte”, en tans “Ama-Coloured Slowguns”. Is dit ‘n aanduiding van Clinton se eie rebelsheid en ‘n teken van: ek sal nie die Gevestigde Uitgewers soebat nie – ek is trots en sal hand in eie sak steek en my eie werk uitgee? Of is ek verkeerd, want jou werke is al uitgegee deur: Perskor (geloofsbelydenis van ‘n kluisenaar;1984) en saam met Peter Snyders: Brunch met Twee (2001)-Contentlot Uitgewers.

(CVdP): Perskor was my debuut, dus was dit op daardie tydstip goed om my debuutwerk deur ‘n gevestigde uitgewer gepubliseer te kry. Ek kan nie meer lekker onthou hoe ek en Peter by Contentlot uitgekom het nie, maar dit was iets nuuts om, veral Peter se fiksie in die Kaapse dialek , deur ‘n hoofstroom-uitgewer aanvaar te kry. Daarna het die “vervreemding” ingetree, dit was die tyd toe ek besef het dat daar ‘n meesternarratief in Afrikaans bestaan en dat daardie narratief wit is, dié letterkunde van “uitnemendheid” het (nog steeds) ‘n “reg van toegang streng voorbehou kennisgewing” by die deur. Die houding waarna Jensma verwys, in ‘n opset: “Where white is the colour/where black is the number.” Later raak jy net eenvoudig gatvol, en dan loop jy jou eie paadjie. Kyk veral na die manier waarop Floris Brown, en andere, net eenvoudig hul ding, in Afrikaans, doen. Dit bemoedig my. 

(RJP): Nou terug na die verlede: Ons ken mekaar al seker 20 jaar en het al deelgeneem aan die Swart Afrikaanse Skrywersimposia. Dink jy dit is nog nodig vir Swart/Bruin Skrywerssimposia, of het almal al aanbeweeg en dat ons in 2012 net kan praat van ‘n Afrikaanse Skrywerssimposium?

Clinton, Peter Snyders, Robert & Steward van Wyk

(CVdP): Die Paternosterberaad was opwindend en daar is vele verwagtinge geskep, die UWK een wat daarop gevolg het, het die “bindingsmateriaal” en energie van die vorige een gekort. Ek hoop ons kom eendag by die Afrikaanse Skrywerssimposium uit, maar skrywers is maar en sal altyd ‘n klomp dwarstrekkers en skeefneukers wees.

(RJP): Suid Afrikaners is behep met Rasseklassifikasie. Wat is jou gevoel rondom dit? Peter Snyders sê byvoorbeeld dat hy ‘n Kleurling is met ‘n Hoofletter “K”; Danny Titus sê hy is ‘n Bruinman, ensomeer. Hein Willemse sê hy is Swart. Wil jy na verwys word as Clinton V. du Plessis, Afrikaanse Skrywer, of moet daar “ras” en “kleur” aangeheg word. Ek weet ook dat Adam Small heftig gereageer het toe daar na hom verwys was as Bruin Sestiger, maar na Andrè P. Brink en Kie nie as Wit Sestigers nie, net Sestigers…?

(CVdP): Die kleurkwessie sit so diepgewortel in die samelewing. Daar was ‘n tyd toe ons almal wou glo dat ons verby die klassifikasies van die verlede sou kon beweeg, maar dit was helaas, ‘n pypdroom. Nie-rassigheid is iewers in ‘n donker hoekie ingerangeer. Dus is ek Bruin, in die amptelike dokumente van die land, staan die term Coloured nog steeds.

(RJP): In jou skrywes let ek op dat jy gedurig in gesprek is met musikante (bv Leonard Cohen), ander skrywers (ek sien in Flitse dat jy gedigte geskryf het oor Adam Small, Ronelda Kamfer en Peter Snyders) vorm dit deel van jou kollektiewe geheue?

(CVdP): Musiek het ‘n groot rol gespeel in my lewensbeskouing en -uitkyk. Die Bruce Springsteen-sentiment van: “We learned more from a three-minute record than we ever learned in school.” Ek het kleintyd Springsteen vir die eerste keer op kortgolfradio (Capital Radio) gehoor sy liedjie, Hungry Heart sing, en heimlik gewens ek kon ook net wegbreek uit ‘n beklemmende kleindorpse bestaan, vasgevang  op die flip-side van die apartheidsmunt: ” I went out for a ride and I never went back.” Maar jy kon nie uitkom nie, jy was vasgeverf ‘n hoek, met die verkeerde kleur.

(CVdP): My gedigte in Flitse (opgedra aan dié spesifieke skrywers) is ‘n kopknik en ‘n knie-buiging in hulle rigting – ‘n erkenning aan ‘n bestaan binne die Afrikaanse literêre dampkring, al word hul bydraes geringskat. Skrywers en tekste is gedurig onderling, oor tyds- en ander grense, heen, onwillekeurig, in gesprek met mekaar.

Clinton du Plessis

Clinton du Plessis

(RJP): Jy het al gepubliseer: geloofsbelydenis van ‘n kluisenaar (1984) , Curriculum Vitae (1988) Kort van Draad (1997), Brunch met Twee, met Peter Snyders:  (2001), gedigte, talk show, hosts & reality shows (2009) assook bydraes tot ander bundels, kongressreferate ensomeer-hoe het jy gegroei vanaf ‘n “angry young man” en “rebel with or without a cause” na Clinton V. du Plessis, die Skrywer op 50 jaar oud? Kortom, daar was ‘n era gedurende Apartheid toe jy geskryf het, en na die verlossing van 1994 van die Apartheidsjuk skryf jy nog steeds – wat het verander in jou skryfwerk?

(CVdP): Die gedigte in Flitse slaan ‘n total nuwe rigting in, as jy dit byvoorbeeld sou vergelyk met die vorige, gedigte, talk show hosts & reality shows of die pamfletaanslag van in god’s country:no 2-21. Ek wil graag glo jy beweeg vanaf ‘n stadium van kinderlike goedgelowigheid, na rebelse tiener idealisme, na twenty-something sinisme en verwerping tot by miskien berusting en ‘n krapperige aanvaarding.Ek word nog steeds kwaad vir vergrype, ek wil nooit my kapasiteit om outraged te wees oor dinge, verloor nie. Kyk die snert wat nog steeds in byvoorbeeld Die Burger aangevang word met hulle Boekmerk-gleuf, As ek reg onthou was daar nog net een of twee skrywers van kleur wat óók boeke lees en deur ander skrywers beinvloed is. Hoekom moet ons altyd eers oor dié ooglopende dinge moerig raak, voordat iemand dit opmerk. Jy sit met ‘n generasie wat nie altyd mooi die konteks van dinge en aksies kan verstaan nie.    

(RJP): Is daar enige iets wat so privaat is aan jouself wat jy nooit sal deel nie? Is jy baie privaat of is jy ‘n openbare figuur?

(CVdP): Ek is ‘n privaat persoon en aanvaar byvoorbeeld glad nie meer uitnodigings na feeste nie. Tog is daar iets wat ek van die skrywer, Jonathan Franzen in ‘n onderhoud oor sy boek, Freedom, gelees het:

To construct a story that will be sufficiently compelling, it is imperative, to draw from ‘the parts of yourself you least want to look at, the things that makes you the most anxious, the worst things you’ve done in your life, the most shameful parts of yourself’. That is where the living material is. 

Of ek vir dié uitdaging opgewasse is, weet ek regtig nie.  

(RJP): Die vraag wat ek die hele tyd probeer ontduik: hunker jy na die luukse om by ‘n gevestigde uitgewer soos Protea Boekehuis of Human & Rousseau uit te gee en al die bemarkingsmasjienerie tot jou beskikking te hê, of nie?

(CVdP): Glad nie. Oor die algemeen het die Afrikaanse media sy eie agenda, sy eie marknagevorste behoeftes wat  hy moet bevredig. En tot ‘n groot mate is daardie agenda nie noodwendig vriendelik teenoor die anderskleurige Afrikaansprekende komponent nie. Toe ek en Peter Snyders byvoorbeeld by Contentlot uitgegee is, is die bekendstelling op die laaste nippertjie gekanselleer en ons het ‘n ete (in baie goeie geselskap, moet ek toegee) in ‘n restaurant gehad waar die boek aan ons oorhandig is. Daarteenoor is ‘n formele bekendstelling vir ‘n ander skryfster van die uitgewery by die KKNK gehou. Ons bly maar die minor people in die major taal.

(RJP): Boesman Buitekamer – een van jou aliasse en persoonlikhede; jy is ook ‘n ywerige rubriekskrywer en Litnet-Blogger – hoeveel persoonlikhede het jy, en is hulle in harmonie of in botsing met mekaar?

(CVdP): Net waar pas ek in? Ek het onlangs, in respons tot ‘n rubriek deur Dana Snyman (oor die konsep Afrikaner), ‘n tot nou toe, ongepubliseerde artikel met die titel, Geloofsbriewe : the true confessions of a reluctant Afrikaner, geskryf. In die skrywe probeer ek vir myself uitwerk net hoe en tot watter mate ek (en moontlik ander Afrikaansprekendes van kleur van my ouderdom) met hierdie inherente skisofreniese Wopko Jensma-verskeurdheid vrede moet maak. Ek haal net kortliks daaruit aan:

Ek het die kultuur met groot eetlepels ingekry – Trompie in die Sondagkoerant,  die Uile en Keurboslaan, Sonja Heroldt, Gé Korsten en Groep Twee, Cobus Robinson en later  het Anneline Kriel met haar republikeinse puriteinse wit vel gewys ‘n boeremeisie kan met die beste ter wêreld meeding. Mej. Suid-Afrika vir die volk, vir ons Mej. Afrika-Suid. Soms was dit neustoedruk en sluk, onsmaaklik soos kasterolie, maar ondanks Apartheid en eie sake was daar vir ons, veral in die platteland, geen aparte Bruin kultuur (behalwe ‘n Ekstra-Rapport) om te verorber nie…Ons was die ander Afrikaners, agter die lanings bome, verkeerde treinspoorkant, buffer- en wegsteekmense, die grysgebied tussen die twee groot kleure van die land. Sulke mini-me’s van die opregte, Nasionalistiese Afrikaners met die korrekte uitspraak, die regte velkleur en haarstruktuur. Ek kyk die ander dag na foto’s van die bruin leiers uit daardie era, Mev. Alethea Jansen met haar hoed en Mnr. Tom Swartz en as ek die Belgiese digter, Willem Roggeman effe aangepas kan aanhaal, was hulle eintlik shaded mirror images of the masters in the sad riddle of Apartheid. 

Dit is teen die agtergrond, wat die persoonlikhede “gebore” is. Robert, ek dink jy, wat ook uit daardie era kom, sal dié versplinterdheid begryp. 

(RJP): Boesman Buitekamer “‘n Kulturele Aktivis” en die Genootskap vir Verontregte Afrikaanses wou in 2010  ‘n Boekebraai gehou het by die Fees op Richmond. Sou dit regtig plaasgevind het? Of was die verontwaardige reaksies van geswore konserwatiewe Afrikaners genoeg om jou van plan te laat verander?

(CVdP): Die Afrikaanse toneel was vir my so saai en dit was as ‘n grap bedoel, maar baie mense het vreeslik op loop gegaan daarmee. Ek het lekker in my mou gelag….

(RJP): Het Brink jou al vergewe oor jou weiering dat jou gedigte in Groot Verseboek opgeneem word?

Ek dink nie Brink het die weiering so ernstig opgeneem nie, hy is in elk geval nie ‘n kleinlike persoon nie.

(RJP): ‘n Persoonlike vraag: Is jy ‘n geswore Alleenloper?

(CVdP):  Dankie vir daardie vraag…

(RJP): Wil jy ‘n gekanoniseerde Afrikaanse Skrywer in die toekoms wees wie se werke op Skool en Universiteite voorgeskryf word?

(CVdP): Ek is al op skool voorgeskryf, maar die ironie is dat dit gebeur hier op ‘n tydstip wanneer Afrikaans besig is om ‘n al kleiner impak te hê, waar leerlinge nie noodwendig dit meer as vak hoef te neem nie, waar dit op universiteit afgeskaal word. My tantièmestaat uit die werke is om van te lag!  

(RJP): Kluisenaarskap: Adam Small en nou Peter Snyders het kluisenaars geword en hulle penne is droog en hul stemme is stil. Sal jy ooit so mismoedig raak dat jy ook hierdie pad sal volg?

(CVdP): Ek was al byna dáár – na my vorige bundel en my skrywe, Fokofafrikaans – ‘n swanesang, was ‘n eerste tree op pad na die groot stilte. Niemand het ‘n enkele resensie oor die bundel gedoen nie. Soos alreeds vermeld, vermy ek deesdae so ver moontlik openbare optredes by feeste. Ek hou van die  outsiderskap, die buitestaander. Iemand in Nederland het na my verwys as “een buitenbeentje.” Maar, soms wil jy tog net “geweet van wees.” Dit is egter ontsettend moeilik om stil te bly in Afrikaans, want dit is so ‘n opwindende, aanloklike hoer van ‘n taal.

(RJP): Dankie Clinton vir ‘n eerlike onderhoud

Hieronder volg twee verse uit Flitse:

*** 

Oes

 

Ek gerf vir jou verse om in jou hand te pas

ek pak warm woorde in jou reistas

sodat jy my kan onthou

as jy alleen aan die strooihalms van ons liefde klou.

 

***

 

Duskant

 

Die splinters van hierdie droewe land

se kruis, sit nog vas in die palm van my hand,

iewers anderkant kleur

moet ons weer die gedeelde taal van menswees leer.

 

© Clinton V. du Plessis (Uit: Flitse, 2012: Ama-Coloured Slowguns)

 

 

Clinton V du Plessis

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Onderhoud met Clinton V. du Plessis”

  1. Marlise :

    Dankie vir hierdie eerlike onderhoud. Na aan die been. Clinton daar is skitterende gedigte in Flitse. Ek hoop die volgende een kom gou – dis broodafrikaans nodig!

  2. Clinton V du Plessis :

    Marlise, dankie dat julle die ruimte skep…

  3. Alfred Schaffer :

    Beste ClInton V. du Plessis
    Baie interessant om te lees. ‘n Wake up call ook, weereens.
    Ek onthou nog die eerste keer wat ek jou gedigte gelees het, in “Poskaarte”. Jou tekste was vir my van die lekkerste uit die hele boek.
    Sukses met jou werk
    Alfred Schaffer

  4. Dankie vir die onderhoud. In aansluiting, ‘n stuk oor musiek en digkuns in Guardian:
    http://www.guardian.co.uk/music/musicblog/2012/may/23/ts-eliot-poetry-pop-music

  5. Clinton V du Plessis :

    Alfred, Goed om van jou te hoor. Ek ry met Kooi in my kar rond – goeie pit- en padkos om aan te peusel! ” Tijd van leven, zo heb je ooit gelezen, wikt en weegt, tussen taal en wereld gaapt een afgrond vanjewelste.”

    Groete, a postcard from the edge…

    Clinton

  6. Alfred Schaffer :

    Sjoe Clinton, kar bestuur EN gedigte lees; ek hoop jy ry versigtig!

    Groete van
    Alfred