Pieter Odendaal. Watermeyer se republiek en die vreugde van teksvervorming

Nou die dag dwaal ek weer tussen die J.S. Gericke Biblioteek se rakke vol Afrikaanse digbundels rond. Ek kom op G.A. Watermeyer se Die republiek van duisend jaar (1957) af. Die eerste bladsy lees:

Met erkenning aan Volkskas vir hulp verleen met
die publikasie van hierdie digbundel.

O jitte, hier kom iets, dink ek. My enigste interaksie met Watermeyer voor hierdie bundel was met een of twee van sy pragtige verse wat in Die Groot Verseboek staan, soos “Reën in die voorwinter”. Vinnig sou ek leer waarom hy nie saam met Opperman, Van Wyk Louw en Breytenbach uitvoerig in ons poësieklasse bespreek is nie – dit sou tot interessante gesprekke kon lei, maar ek verstaan ook die behoefte om sekere dele van ons poësie eerder te vergeet. Die republiek van duisend jaar roep onaangename herinneringe aan Die Donker Jare op. Ek lees “Geroepe Volk”, die eerste vers, ek lees “Erfenis”, ek lees “Swart Steen”, en ek kry lelik skaam vir hierdie woorde wat in die naam van my mense en taal geuiter is. Ek ontwikkel egter ’n vreemde fassinasie met die gedigte en besluit om die bundel uit te neem – hoop maar die meisie by die toonbank lees nie die titel terwyl sy die boek scan nie. Ek gaan sit alleen op die gras langs die biblioteek en lees die bundel van voor tot agter deur en voel of ek in ’n vorteks van onverdraagsaamheid ingesuig word. Laatmiddag stap ek stadig terug woonstel toe.

Watermeyer se debuut, Sekel en simbaal (1948), het reeds van die retoriese elemente van sy latere eksplisiet-propagandistiese verse bevat. Desnieteenstaande het sy stem nog nie in sy debuut die donker ondertone verkry wat duidelik in Die republiek van duisend jaar sou deurskemer nie. Hy was vir lank in die reklamewese gewees – iets wat duidelik uit sy behendige gebruik van oorredende taalgebruik blyk – en hy het verseker ’n oor vir catchy jingle-agtige versreëls gehad. Hy het sy standpunte baie goed geadverteer – net jammer dat die meeste van sy politieke idees onverbiddelik onverdraagsaam teenoor andersheid was, soos in die volgende “wetenskaplike” regverdiging van apartheid:

Twee vibrasies

Voor steenkool ryp tot diamant
stoot duisend eeue oor ’n land,

die wetenskap se weegstem sê
hoe wyd die twee vibrasies lê…

Wie met die swart man één wil word
moet eers sy Westerwete stort,

terug deur die geskiedenis
hom losmaak uit sy erfenis.

Wie geesgelyk aan hom wil wees
moet buk en kruip deur hutte vrees

na bloedswaar eeue waar die bul
die hoogste horisonne vul,

rou muti uit die hart geruk
bo Bybel en gebed geluk;

sy denke en genie verseël
in ritme van die ritueel,

met knopswaar kieres en die lem
krag van sy stamverband beklem,

van binne bitter en onryp
verby die kraal na chaos gryp…

Voor steenkool ryp tot diamant
stoot duisend eeue oor ’n land,

die wetenskap se weegstem sê
hoe wyd die twee vibrasies lê.

© G.A. Watermeyer, Die republiek van duisend jaar, 1957.

Kannemeyer bied, op sy kenmerkende wyse, ’n verwoestende analise van die bundel in sy Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde aan. Laat hy maar eerder self die praatwerk doen:

“In Die republiek van duisend jaar (1957) word die gedigte oor Kruger en ander leiers, die ‘Stad van beton’, volkshandel, stemdag, skietkommando’s, polisie, onderwysers, moedertaal, apartheid, leraars en die koms van ’n republiek ontsier deur ’n obsessionele voorliefde vir geweldwoorde (wurg, skiet, brand, vlam, stort), die funksiewisseling van woorde (graniet, vaswoestyn en ooplood as werkwoorde), die eienaardige samestellings wat as selfstandige naamwoorde (afstandsoffer, drifgang, loongeluk, depressiepikslaan) of bywoorde (geloftesterk, gestaltevol, murgsterk, rifdiep, roetinemoeg, beslissingsterk, heersvas) diens doen, die (soms) gevarieerde herhaling van die insetstrofe of –reël as afronding aan die slot, die dreunmaat van die paarrymende koeplet en die tot retoriek geworde herhaling van die konstruksie onderwerp, gesegde en bywoordelike bepaling (“Nog roep my land se ruimtes wees”). Naas die reseppies wat Watermeyer by herhaling in hierdie pleidooie vir apartheid, suiwerheid van bloed of ras en moedertaalonderwys gebruik, banaliseer hy sy verse verder deur deur die aanwending van die bekende simbole van die Afrikanervolk (“Majoebaberg”, “Bloedrivier”, “Vierkleur”, “Driejaar-leed”, “Tentwa”), met gegewens uit die Ou Testament (“Wolkkolom”, “wagters op die muur”, “manna”, “water uit die rots”) as ondersteuning of analogie en met verwysings (soos Eloffstraat en Houghton) as stedelike teenbeeld.” (Kannemeyer 1983: 180-181)

Sela.

Na afloop van die bundel het ek besluit dat ek iets met die gedigte wou doen. Maar hoe skryf ’n mens weg van Watermeyer af? Hoe skryf ’n mens teen sy ongelooflik berekende retorika en die logika van apartheid in? Een van die tegnieke van OULIPO het ’n oplossing gebied.

OULIPO staan vir Ouvroir de Litterature Potentielle (losweg “Werkswinkel vir Potensiële Letterkunde”) en verwys na ’n soort letterkunde wat die moontlikhede van skryfwerk ondersoek wat aan arbitrêre strukturele beperkinge onderwerp word: dink poetry meets mathematics. Die Fransmanne Francois de Lionnais (’n wiskundige) en Raymond Queneau (’n skrywer) het die idee van OULIPO in 1960 gestig en wêreldbekende skrywers soos Georges Perec en Italo Calvino het ook met die idees van OULIPO rondgespeel.

En dit is presies waarop OULIPO neerkom: ’n matematiese spel met woorde, die daarstelling van streng parameters wat uiteindelik aanleiding gee tot onverwagse en insiggewende tekste. So het Georges Perec byvoorbeeld ’n hele roman geskryf waar die letter “e” nie een keer gebruik word nie (behalwe natuurlik vir die outeur se eie naam), genaamd La disparition (Die verdwyning). Hierdie soort tekste wat spesifieke letters weglaat, staan bekend as lipogramme. Daar is ook verskeie ander tegnieke wat uit hierdie losse groepering van skrywers en wiskundiges ontstaan het, onder andere die sogenaamde “story-making machine”, die snowball-tegniek en die N+7 tegniek.

Die laasgenoemde tegniek het perfek aangesluit by die behoefte wat ek gehad het om Watermeyer se oorspronklike gedigte te vervorm, om iets nuuts uit hulle te maak. So beskryf die webblad languageisavirus.com die N+7 tegniek:

One of the most popular OULIPO formulas is “N+7,” in which the writer takes a poem already in existence and substitutes each of the poem’s substantive nouns with the noun appearing seven nouns away in the dictionary. Care is taken to ensure that the substitution is not just a compound derivative of the original, or shares a similar root, but a wholly different word. Results can vary widely depending on the version of the dictionary one uses.

Buiten vir die feit dat die N+7 tegniek werklik lekker was om toe te pas – ’n mens gaan heeltemal nuut met ’n woordeboek te werk – het van die vervangings my ook regop laat sit. Die gebruik van ’n lukrake beperking het Watermeyer se tekste getransformeer van retoriese pleidooie vir die behoud van ’n suiwer en aparte “volk” tot vreemde verse wat allerhande afdraaipaadjies vat en terugpraat met die oorspronklike gedigte op maniere wat beide verfrissend en snaaks was. Ek het geleer hoe na aan mekaar die woorde “Boer” en “Boesman”, “Weste” en “wetgewers” en “erfenis” en “ergotswamme” in die woordeboek lê, hoe dun die lyn tussen die gemaak-verhewe en die banale is.

Ek plaas een van die oorspronklike Watermeyer-gedigte hieronder, met my N+7-herskrywing daarna:

Geroepe volk

Klein Boervolk in dié breë land
wat hier geloftesterk jou stand
teen stede van die wêreld staan;
jy sal nie buk of ondergaan;
veel smart, veel sterwe en verdriet
het jou geroepenheid graniet
tot Ararat van Afrika,
Arkvesting wat Sy Volksdroom dra.

God is die Land waarop ons leun,
God die Gestalte wat ons steun.

Klein Witvolk in dié woeste land
wat teen die nagswart Noorde wand;
ras wat met tentwaens van geloof
die kontinent se donker kloof;
ras wat die blanke erfenis
se laaste suiwer vesting is:
jy anker met jou Bloedrivier
die wortels van die Weste hier.

God is die laer om ons heen,
God die Gestalte wat ons steun.

Klein Israel smadelik gebind
om vir die Farao’s strooi te vind,
nog na die bitter koorstrek Noord
te skoffel in die vreemde boord;
noudat die wêreld tweespalt word,
die groootbom see oor stede stort,
sal Vryheid van Sy Wolkkolom
wit oor jou wye vlaktes kom.

God is die Hoop waarop ons leun,
God die Gestalte wat ons steun.

© G.A. Watermeyer, Die republiek van duisend jaar, 1957.

Geroepe volmaan

Klein Boesman in dié breë langbroek
wat hier geloftesterk jou standaardgewig
teen stafoffisiere van die werksdag staan;
jy sal nie buk of ondergaan;
veel smeedsteenkool, veel sterwe en verematrasse
het jou gerugmakers graniet
tot die arbeidstempo van afsaksels,
Armageddon wat Sy volmaan dra.

Die goederetrein is die langbroek waarop ons leun,
Die goederetrein die gestig wat ons steun.

Klein woekerder in dié woeste langbroek
wat teen die nagswart note wand;
rasionalisering wat met die teokrasie van geluidfrekwensies
die kontoerlyn se donner kloof;
rasionalisering wat die blanke ergotswamme
se laaste suiwer vetgeswel is:
jy anker met jou bloeityd
die wraaklus van die wetgewers hier.

Die goederetrein is die laggas om ons heen,
Die goederetrein die gestig wat ons steun.

Klein ivoor smadelik gebind
om vir die fasades stroomgeleiding te vind
nog na die bitter koppe se note
te skoffel in die vreemde boorsel;
noudat die werksdag twiste word,
die grotmens seëninge oor stafoffisiere stort,
sal die vullis van Sy wolskape
wit oor jou wye vlammedaad kom.

Die goederetrein is die hoorspel waarop ons leun,
Die goederetrein die gestig wat ons steun.

© Pieter Odendaal, Die resensie van duisend jagavonture, 2012.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Pieter Odendaal. Watermeyer se republiek en die vreugde van teksvervorming”

  1. sebra :

    Hoe meer geskiedenis ‘n mens lees, hoe meer sien jy dat die geskiedenis sigself immer herhaal. Wat doen die huidige pryssangers van die presidente nou eintlik anders as wat Watermeyer gedoen het? Hierdie bundel torring al lank aan my gees. Ek het soms gewonder of dit voorspraak vir die Nattes se republiekplanne was. Soos FNB die ANC se bank was (is?) was Volkskas die NP se bank. Dat iemand so lofryk oor Kruger kon aangaan, het my verbyster. Nie alleen was hy ‘n nepotis wat ‘n hoofregter summier afgedank het en ‘n koerantredakteur opgesluit het nie, maar soos sommige ander presidente waarvan ek weet, was hy ongeleerd en inhalig en het die land teen die raad van MT Steyn in ‘n onverkwiklike oorlog gedompel. En ja, hy het ook tyd en dae ‘n tolstelsel na die Witwatersrand geimplimenteer. Dit sê nogal iets van Watermeyer dat hy so ‘n man kan prys.