Andries Bezuidenhout. Skrop
Sommer ʼn lawwe gedig vir die koue weer:
1. middeljare
bleskopstraat blink vanaand
reënvlaag brill cream olieslierte bo-oor vas,
was dan dreinlangs
(waarheen weet net die here en greenpeace)
2. singles bar
straatligte kom teer inspekteer
soek na rot, luis, ander gis- en kriewelgoed
wat boontoe borrel as die eerste reën
water – tentatief – met winter meng
3. bukowski in die steeg
wynvlieg trap ʼn prop plat
strompel, vloek, torring sy gulp oop
suur warm teen vingers, broek, muur
alles hier pappery met die eerste reën
4. ontknoping
seisoen se opdrifsels
verspoelde skilfers op kraag en mou
trek handskoene aan, mensdom
die tyd vir skrop is nóú








