Resensie: Flitse (Clinton V. du Plessis)

Flitse – Clinton V. du Plessis. Ama-Coloured Slowguns (Posbus 547, Cradock, 5880). ISBN 978-0-620-53231-0. 34 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal

Direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit

 

omslag

 “Twitter”-gedigte noem Clinton V. du Plessis die verse in hierdie sewende digbundel van hom. En haal HAT-omskrywings van die titelwoord (in die enkelvoud) voorin aan, waaronder: “Skielike, besonder helder gedagte of iets soortgelyks.”

Inderdaad is die 28 verse in Flitse bondig en pittig van aard, meermale kwatrynagtig in bou, meestal mét ryme, maar wat net hier en daar vaste patrone aanneem. Nie verniet nie word in “Knoop” (nie self ‘n kwatryn nie!) gewaarsku:

Die lewe is soms ‘n kwatryn

wat nie ‘n fok wil rym. 

Sodoende verryk Du Plessis sy digœuvre (hy is ook ‘n gepubliseerde prosaïs) met iets nogal nuuts vir hom. “Lewensloop” verklap waarskynlik iets van die ontwikkelingsgang wat sy eie digterskap gevolg het (hoewel hy self nog ‘n dekade weg van die ouderdom van sestig staan):

 

Op twintig

skryf ek versetverse

betrokke, breytenbachbriesend:

op veertig maak ek voetnotas

by die lewe:

soveel verlore kanse/liefdes en keuses:

op sestig soek ek in afgebrande biblioteke

besete na woorde, na grepe uit ons boeke.

 

Hoewel die gedigte nie in afdelings ingedeel word in die bundel nie, staan hulle tog min of meer tematies gegroepeer. ‘n Viertal openingsverse oor die digkuns en die digterskap word gevolg deur groepe oor die internetwêreld, oor sosio-ekonomiese kwessies, oor dood en verval en oor sosio-politieke vraagstukke.

Dan volg ‘n sestal gedigte met die name van Afrikaanse digters as titels, en waarin hierdie digters meestal ook aangespreek word. Treffend is die gestroopte kwatryn oor Adam Small, nie net in die lig van Small se digterlike swye van nou reeds tientalle jare nie, maar ook van Du Plessis se eie LitNet-blogskrywe van 2010 waarin hy Afrikaans as “fokof”-taal vaarwel sou toegeroep het :

Die kitaar

het geen snaar,

en die mond

is ‘n oop stil wond.

 

“Dirk”, wat onmiddellik op “Adam Small” volg, steek derhalwe opvallend af hierteen vanweë die beeldeenheidsgebrek en die sinsboustruikeling waaraan dit mank gaan:

Jy, Opperman van die woord

met jou wit stok

stap jy saans met Hom om die blok

tel jy jou woorde … kyk jy wrokkig noord?

 

Dan volg weer ‘n drietal gedigte oor die (eie) digterskap, met tot slot twee verse oor die menslike en aardse nietigheid (die heel laaste met funksionele benutting van rekenaarbeelde).

Du Plessis het al herhaaldelik sy onvrede met bepaalde aspekte van die Afrikaanse literêre sisteem te kenne gegee, wat syns insiens steeds deur ‘n “meesternarratief” van blankheid oorheers word. Vandaar dat hy, nadat sy debuutbundel geloofsbelydenis van ‘n kluisenaar in 1984 by Perskor verskyn het (en André P. Brink as kritikus geoordeel het dat die bundel liefs nooit as sodanig gepubliseer moes gewees het nie), telkens self sy bundels uitgee. En vandaar dat hy weier dat van sy gedigte in Groot verseboek (met Brink as samesteller) opgeneem word.

Dis na my oordeel ‘n jammerte. Eerstens word die sifting-en-slypingsbystand van keurders en redakteurs by die gevestigde uitgewerye ontbeer, sodat gedigte se volle potensiaal nie altyd verwesenlik word nie (soos Flitse op ‘n paar plekke wys). Voorts word die beskikbaarheid van Du Plessis se werk ietwat gekortwiek.

Slaan ‘n mens die vroeër gedigte van Du Plessis na wat wel in bloemlesings soos Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte (1999) en Ronel Foster en Louise Viljoen se Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1997) opgeneem is, kom ‘n mens agter hoeveel Afrikaanse poësieliefhebbers dreig om mis te loop.

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Flitse (Clinton V. du Plessis)”

  1. Inderdaad ‘n jammerte dat Clinton se werke nie geredelik beskikbaar is nie. Hy is ‘n knap digter en hy het my steun. Ek verstaan waarom hy nie sy gedigte vir die Groot verseboek beskikbaar wil stel nie. Ek sou dieselfde doen.

  2. Clinton V du Plessis :

    Selwyn
    Dankie vir jou opmerking.
    Na die onlangse dood van Willie Adams, haal hy, onder andere, Die Burger en word hy voorgelees op radio. En ek onthou Peter Snyders se vers, getiteld, Ek skryf ‘n gedig:

    “ ‘n mens raak famous ná jou dood.”

    Iewers grynslag Willie…