Carina van der Walt. Nasr reageer – Gerrit Komrij (1944 – 2012)

  
Nasr reageer – Gerrit Komrij (1944 – 2012): buitestaander
  

(Aflewering 6 deur Carina van der Walt)

  

Op 5 Julie het die grootse Nederlandse digter, Gerrit Komrij, onverwags aan kanker gesterf. In twee dokumentêre films op televisie en in talle koerant artikels die afgelope naweek het die huldeblyke binne gestroom. Sy literêre nalatenskap is diep en breed. Nie net was hy die eerste Dichter des Vaderlands (2000 – 2004) nie, maar het hy ook die P.C. Hoofd-prys gekry (1993), is ‘n eredoktorsgraad aan hom uitgereik deur die Universiteit van Leiden, rig hy die literêre tydskrif Awater op en het hy die voortou geneem met die Turing Nationale Gedichtenwedstryd. Ondanks al hierdie prestasies en erkenning, was Komrij egter die ewige buitestaander wat hom agt-en-twintig jaar gelede in Portugal gaan vestig het.

Saam met sy lewensmaat, Charles Hofman, het hulle in 1984 verhuis na Alvides in die noorde van Portugal. Uiteindelik het die kleinburgerlike uitsigloosheid van die plek hulle onder gekry en het hulle na Villa Pouca da Beira vertrek. Hierdie dorpie lê in ‘n uitloper van die Serra da Estrela en hiér het hulle saam gebly tot sy dood verlede week. In die dokumentêre film De gelukkige schizo uit 2005 (gemaak deur Jan Lauret en Onno Blom) vertel Komrij dat ‘n digter geen liefdessorge, geldelike sorge of daaglikse sorge moet hê nie. Net dán kan hy in die juiste stemming kom waarby hy ‘n gedig kan skryf. Maar ten spyte daarvan dat hy hierdie ideale omstandighede nagejaag het, was daar tog ‘n periode van twintig jaar in sy lewe waartydens hy nie ‘n enkele gedig geskryf het nie. “Blijkbaar is het dichterschap geen constante toestand”, het hy volgens Arjen Fortuin gesê (NRC-Handelsblad, 6 Julie).

Tog het Komrij hom konstant met poësie besig gehou, onder andere as samesteller van opspraakwekkende bloemlesings, ook in Afrikaans. Poësie was vir hom baie dierbaar en die kern van sy bestaan. Tom Lanoye het dit pragtig verwoord in sy afskeidsbrief aan Komrij. Daarin beskryf hy hoe hy die eerste keer die woord “Poëzie” uit Komrij se mond gehoor het.

Komrij sien in homself die sametrekking van drie liminale of grensposisies: as digter, as homoseksueel en as immigrant. Al drie posisies sorg daarvoor dat mens onwillekeurig ‘n buitestaander bly in die samelewing waarin jy woon en werk. In De gelukkige schizo erken Komrij dat hy so langsamerhand die luste om die ongewone in alledaagse taal neer te skryf (en omgekeerd) onder bedwang het. Ook die luste om die onaanvaarbare van ‘n homoseksuele lewe in die samelewing aanvaarbaar te maak, het hy bemeester. Maar: “de lusten om als immigrant te overleven, ben ik nog volop aan het leren.” En: “Ik weet niet wat links of rechts is. Ik voel me niet vervreemd of verscheurd. Ik aanvaard de versplintering van de wereldbeelden als een godsgeschenk. Ik ben de eerste gelukkige schizo.”

Miskien is dit dan ook gepas dat die huidige Dichter des Vaderlands, Ramsey Nasr, se lykdig vir Gerrit Komrij die dag na sy dood in die NRC-Handelsblad verskyn het. ‘n Elegie komende van sy vierde opvolger as Vaderlandsdigter , terwyl Nasr eintlik nie vir Komrij geken het nie.

Hier volg die Afrikaanse vertaling daarvan:

  

Vir Gerrit

 

Hulle sê dat jy milder geword het.

Hy het sagter geword die laaste tyd

verdomp, en skop nie meer soos vroeër.

 

Ek ken jou weinig langer as vandag

het te laat gekom vir jou vyandskap

maar liewe Gerrit, noudat jy dan vir altyd

 

bedaard in jou gedigte woon

die reste uitgesaai tussen planke

noudat jy sonder stem, sonder koper stem

 

noudat jy naeltjieloos, nêrens jou stem –

kom dan digter, met jou teer afstand

gryp vas en vertak jou, gee ons hier

 

vir die laaste ondergrondse keer

jou donkere kus van die poësie.

As ek ooit in hierdie lewe wortelskiet

 

sal dit deur jou wees. Net op papier

vind die voëls reserwe neste

bou die mense vir hulleself ‘n land. 

 

Ek wou vandag ‘n reserwe dood bou

my dikke, dunne, sieke Komrij

om enkel die dood in op te vou.

 

 

Die oorspronklike Nederlandse teks kan gelees word op: http://www.ramseynasr.nl/web/Dichter-des-Vaderlands.htm

 

Luister hier na wat Komrij te sê gehad het oor die liefde op Saint Amour, 2007: http://www.youtube.com/watch?v=3R2tDm8pAjA

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Carina van der Walt. Nasr reageer – Gerrit Komrij (1944 – 2012)”

  1. Carina van der Walt :

    Die aangehegte filmpie is terselfdertyd hilaries en hartverskeurend. (haha) Miskien moet die aankondiging eerder na seks as na die liefde verwys het? Wat ‘n genot om nog steeds na die stem te kan luister. “Alles blijft”