Leon Retief. Santiago Ramón y Cajal

Cajal

Santiago Ramón y Cajal (1852 – 1934)

Spanje het deur die eeue ‘n hele aantal bekende kunstenaars gelewer. In geen besondere volgorde nie kan ek nou dink aan Velasquez, Picasso, Goya, Lorca, Cervantes, Unamuno, Falla, Rodriguez, Albéniz en wie weet hoeveel ander wat aan my onbekend is.

Die grootste lewende Spanjaard is sonder twyfel Fernando Alonso (en ek gaan geen argumente tot die teendeel duld nie). Hierdie tweemalige F1 wêreldkampioen is beslis die beste jaer wat tans aan die F1 sirkus deelneem, iemand met ‘n verstommende talent wat Ferrari se redelike middelklas renmotor baie beter laat lyk as wat dit in werklikheid is. Wanneer iemand op hierdie vlak aan motorsport deelneem is hy veel, veel meer as net ‘n tegnikus – sulke jaers is ware kunstenaars. Ek sien motorsport as soortgelyk aan jazz – die kuns van die oomblik.

Fernando Alonso

Fernando Alonso

Nou ja goed, noudat ek eers iets oor een van my grootste passies kwytgeraak het, iets oor ‘n ander boorling van Spanje – kunstenaar sowel as wetenskaplike. Santiago Ramón y Cajal is ‘n tans bykans onbekende Spanjaard; ‘n histoloog en neuro-anatoom wat die grondslag gelê het vir die moderne neurowetenskap. Vandag is hy selfs vir neurowetenskaplikes nie veel meer as ‘n naam wat in stowwerige boeke oor die geskiedenis van hierdie vakgebied aangetref word nie. Ek het in my tweede jaar as mediese student die eerste keer van hom gehoor toe ons destydse professor in fisiologie, prof Pienkes Esterhuizen, wat ‘n belangstelling in neurofisiologie gehad het, ons van hom vertel het. Prof Pienkes het by my ‘n belangstelling in hierdie vakgebied aangewakker en die bekoorlike neurofarmakologie van narkosemiddels is waarskynlik een van die redes waarom ek in hierdie vakgebied gaan spesialiseer het.

Prof Pienkes het egter meer gedoen as om ons net van Cajal se navorsing te vertel – hy het ook aan ons afbeeldings gewys van sketse wat Cajal van sy preparate gemaak het. Destyds was daar nog nie kameras wat foto’s van mikroskopiese plaatjies kon neem nie en dus moes Cajal, net soos ander histoloë van daardie tyd, maar tekeninge maak van wat hy kon sien. Die intrinsieke skoonheid van die sketse het my destyds al gefassineer, maar ek het die saak jare lank daar gelaat totdat ek onlangs om een of ander rede weer begin kyk het na die geskiedenis van neurobiologie.

Cajal het dwarsdeur sy lewe ‘n opstandige geaardheid gehad en het op elfjarige ouderdom die dorpshek met ‘n selfgemaakte kanon platgeskiet, waarvoor hy ‘n tydjie in die tronk moes deurbring. Sy ideaal was om ‘n kunstenaar te word maar sy vader, professor in anatomie, het hom oorreed om ‘n loopbaan in medisyne te volg. Dit het egter eers gebeur nadat Cajal se rebelse gedrag sy pa gatvol genoeg gemaak het dat hy sy seun eers as vakleerling barbier en daarna as skoenmaker ingeskryf het.

Miskien net eers ‘n woordjie van verduideliking: wanneer ‘n stukkie weefsel vir mikroskopiese ondersoek voorberei word, word dit eers in paraffienwas ingebed waarna dit deur ‘n mikrotoom in baie dun snitte gesny word. Mens kan egter nie sulke snitte sommer net so onder ‘n mikroskoop gaan sit nie, want jy sal byna niks sien nie – die preparaat moet eers gekleur word met een of meer van ‘n verskeidenheid kleurstowwe wat sekere seltipes of organelle binne-in selle selektief kleur sodat hulle waargeneem kan word. (Ek praat natuurlik hier van ligmikroskopie en nie elektronmikroskopie nie).

Camillo Golgi (1824-1926), ook ‘n neurohistloog, het ‘n metode ontdek wat neurone selektief met silwernitraat kleur en Cajal het hierdie kleurstof ekstensief gebruik om neuro-argitektuur te bestudeer. Golgi en Cajal het in 1906 die Nobelprys vir medisyne en fisiologie gedeel.

Ek gaan nie Cajal se navorsing in enige detail bespreek nie, want dit sal waarskynlik albei lesers van hierdie bydrae verveel – dit is genoeg om net sy sketse te wys. As afbeeldings van mikroskopiese preparate is hierdie sketse al klaar iets besonders, maar vir my is hulle meer as dit – hulle is onafhanklike kunswerke in eie reg. Selfs al weet mens glad nie wat die sketse verteenwoordig nie het hulle ‘n intrinsieke skoonheid wat op eie bene kan staan. As mens kyk na die primitiewe mikroskoop in die eerste foto is Cajal se prestasies nog meer bewonderenswaardig.

Neuron in menslike retina

Neuron in menslike retina

Neurone in die olfaktoriese korteks

Neurone in die olfaktoriese korteks

Serebellêre neurone

Serebellêre neurone

Argitektuur van Purkinje-selle in die serebellêre korteks

Argitektuur van Purkinje-selle in die serebellêre korteks

 

  

Picture the Mind

Myra Sklarew

It’s not a pretty sight-Vesalius’s folded surface

of the brain. Or da Vinci’s ventricles, spinal cord

trailing down like a braided afterthought.

Or each hemisphere bed down in its cubicle,

parted by the corpus callosum, crossing guard

for traffic back and forth. Now Descartes comes

on stage, appoints the pineal gland-trusty messenger

between matter and mind. Hard to say when beauty

slipped into this equation. Axon and dendrite.

Molecules dancing across synaptic space.

Receptors hungry for their messages.

Cascade of ions in their chrysalis of light.

Bookmark and Share

Comments are closed.